Ongewone bygelowe

deur Sonja Brown

Mense, ons het nie nou hier te doen met ‘n swart kat wat jou pad kruis, of iemand wat waarsku: ‘moenie onder deur ‘n leer loop nie’. My ma het veral ‘n ongewone bygeloof: iemand wat twee houers drinkgoed dra mag dit nooit oorkruis aangee nie. Die draer moet eers een beker of glas oorhandig, dan in die rondte draai sodat die arms ‘ont-kruis’ voordat die tweede persoon hul lafenis kan ontvang. Anders gaan die twee drinkebroers of susters baklei. Dis nou volgens my ma…

Daar is eienaardige gelofies onder verskillende nasies.

Die Britte is die voorlopers van bygelowe wat uit die middel-eeue dateer en steeds gevolg word. Vir donkiejare al glo die vroue dat hul net akkers in hul sakke hoef te dra om jonk te bly en lank te lewe. Of dit nou werk is ‘n goeie vraag. Gedurende die 19de eeu het Engelsmanne blaarslaai soos die pes vermy want hulle het vas geglo dat blaarslaai mans kon steriel laat. Vandag steeds glo die Engelse dat as jy vir iemand ‘n paar handskoene present gee, hy of sy vir jou iets moet terug gee in ruil, anders ry die ongeluk julle albei bloots. As jy ‘n handskoen laat val en jy tel dit self op, is dit ook sleg vir jou. Die dames in Brittanje het in die tyd van toet handskoene laat val in die hoop dat hulle beoogde minnaar dit sou optel.

In Spanje moet jy presies om middernag druiwe eet. Twaalf slae van die horlosies is gelyk aan 12 maande se geluk.

Die Turke glo dat jy dooies se vlees eet wanneer jy na son-onder aan kougom kou.

Woensdae, so glo die ou mense, was die beste dag om hospitaal toe te gaan. Maandae was die beste dae om die hospitaal te verlaat, maar as jy op ‘n Saterdag sou moes gaan, sou jy blykbaar gou weer terug wees.

Belangrike vergadering? Vat ‘n bok saam met jou. Hulle absorbeer glo negatiewe energie en sal vir jou voorspoed bring.

Watter interessante bygelowe sit wydsbeen om julle nekke?

Dit is darem nie vandag Vrydag die 13de nie, my linker handpalm jeuk nie, en al het ek my gelukkige haaspootjie, gaan ek nou op hout klop, en maar my vingers kruis in die hoop dat niemand vandag ‘n sambreel in my huis sal oop maak nie…

©Sonja Brown

Diere

 

Elke liewe mens moet êrens diep binne in hul hart van verstand wel vir diere omgee. Selfs dié wat sê dat hulle lewens-styl nie plek het vir diere-versorging nie.

Kom ons besprek eers allergiëe: een in vyf mense ly aan een of ander allergie. Katte en honde stel ‘n allergie-belaaide proteïn genaamd Fel D (vir katte) en Can F1 (vir honde) vry. Dit gebeur wanneer hulle hulself oor hul pelse lek, en sodra die speeksel droog is, word dit in die lug vrygestel. Mense kan dit inasem, of dit deur hul vel of oë inneem. Vir julle is daar goeie nuus!

Daar is heelwat diere wat glad nie allergiëe veroorsaak nie. Visse, skilpaaie en reptiele het min onderhoud nodig, en hou jou nies op stal.

Daar is ook sekere soorte katte, soos die langhaar Siamees, Die Cornish Rex en Devon Rex, asook die Sphynx (heeltemal haarloos) katte wat geen reaksie ten op sigte van allergiëe toon nie. Hierdie katte skei byna geen Fel D proteïn af nie, en dit is so min dat dit nie mense affekteer nie.

Daar is geen hond wat nié die Can F1 proteïn afskei nie, maar sommige soorte, soos die Portugese Waterhonde, standaard Poedels, Labradoodle (kruising tussen Labrador en Poedel) en honde met krul hare, soos die Bichon Frise, het ‘n baie lae vlak van dié protein.

Studies het bewys dat die versorging van diere terapeuties is vir die homo sapiens. Wie kan dan nou vies bly vir die wederhelf of jou kinders as ‘n nat snoet teen jou been gedruk word vir ‘n vryfie? Of ‘n klein katjie wat soos Tarzan teen jou broekspyp opklouter? Oukei, kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die mikroskopies gaatjies wat hul naels in jou vel maak…

Diere verskaf kameraadskap, veral onder sieklike mense en ons ou mense, en meer en meer hospitale laat nou diere toe om by terminaal siek pasiënte in te loer.

Komaan mense, as jy nie reeds genoeg diere het nie, maak jou hart en jou huis oop vir EEN dier wat in ‘n plek soos die DBV of TAG, -om maar twee te noem-, siels-ongelukkig na liefde en ‘n familie verlang.

Sonja Brown

‘n Dag in die lewe van ‘n “wanna be ” skrywer

Deur Sonja Brown

Elmarie swets en klap die deksel van haar skootrekenaar toe. Sy trek aan haar menthol sigaret en blaas ‘n straal rook in die plafon se rigting. “Fôkit, deadlines is nie vir my nie. Wat het my besiel om die opdrag te aanvaar?”

Sy vou weer die rekenaar oop. Niks. Daar is net niks waaraan sy kan dink om oor te skryf nie. Humoristies, sê die opdrag. Laat jou leser vir dae daarna skater.

Pieter Cloete, begin sy tik, en druk dan die backspace knoppie tot daar niks letters oor is nie. Pieter Cloete, tik sy weer, verneuk sy vrou. Dan staan sy op voordat die naarheid haar oorweldig. Sy moet uit die huis uit kom. Haar kop skoon kry. Terug kom en skryf. Haar artikel moet môre in.

Die straat is stil. Sy stap stadig met die gekraakte sypaadjie langs, diep ingedagte. ‘n Toeter ruk haar terug na die hede. En dan volg daar ‘n lang wolwefluit voordat die donkerkop man haar stip in die oë kyk en dan sy een oog knip voordat hy om die draai verdwyn.

“Gmf!” brom Elmarie maar heimlik voel sy skielik weer goed. Lewendig. Sexy. Sy drafstap huis toe.

“Pieter Cloete se moer!” sê sy hardop en trek die skootrekenaar nader.

Maar sy vrou glo in ‘n oog vir ‘n oog, tik sy verder. Sy tof haarself op so goed as wat sy kan met klein-dorpie-klere en grimering, en stap met haar nuwe maar stokou kurkhakke na die dorp se drinkplek. Dis net twee blokke van haar huis af, maar sy koop drie stukke sement, -betaal met knie-velle-, voordat sy kop omhoog by ‘n tafeltjie in die hoek gaan sit.

Die kelner bring haar dubbel whiskey op ys en sy ruik eers daaraan voordat sy ‘n proe waag. Haar oë traan toe die brand haar keel rasper maar sy weier om te wys dat sy nie asem kry nie. Haar neus loop nou en sy het nie eers ‘n tiesjoe nie…

Elmarie hou van waar die storie heen lei.

“Is dit…? Kan nie wees nie!” Pieter Cloete stap by die kroeg in, hand aan hand met… ‘n ander man!

Sy vrou loop tot by sy tafel, stel haarself aan die ander man voor. “Ek is Pieter se eks. Bly te kenne.”

“Nou net attach, en stuur,” lag Elmarie. My deadline is gemaak! Met of sonder betaling was dit die ervaring, en moeite, werd!