Die prys vir Roem deur Driekie Grobler

Droom ons almal nie maar van kleins af om eendag beroemd en ryk te wees nie? Om geken te wees as iemand wat uitmuntend presteer in dit wat ons doen? Heel bo aan die suksesleer te wees. Met selfvertroue ‘n taak aan te pak en te weet dit gaan suksesvol wees? Te kan doen wat ons wil, wanneer ons wil en te gaan waar ons wil sonder bekommernis oor finansies of té harde werk.

Waar kom daardie begeerte dan vandaan? Meeste van ons behaal nooit daardie status of gemak van kommerlose dae in ons lewe, of selfs daardie roem waarna ons strewe nie.

Die media is die grootste bron van begeerte wek by die mens. Ons koop tydskrifte, kyk na rolprente en sien op TV hoe glansryk die bekendes, vernames en rykes  lewe. Hoe suksesvol mede-skrywers & digters is. Ons sien dus net die eindresultaat (of buitekant) van iets wat dalk lank gelede begin en ‘n groot prys langs die pad gevra het.

Nou onlangs, sien ek ‘n foto op facebook van twee paar voete. Die een paar in sagte sy balletskoene, en die ander sonder die skoene, vol knobbelrige tone en eelte, rooi geskaaf van jare se dans. Die prys wat ‘n ballerina moet betaal vir die glorie en glansryke bewegings en salige voorkoms. Agter daardie droombeeld lê baie ure se bloedsweet, opofferings, pyn en lyding. Seer voete wat mettertyd heeltemal misvorm word.

Nou wonder ek: Sal ons nog so gretig ander se sukses begeer as ons weet wat die prys daarvoor is?

Ek twyfel sterk. Want sien, baie van ons is nie bereid om sulke opofferings te maak nie. Ons is dalk waar ons is in die lewe omdat ons bang is om te waag. Bang om té veel moeite te doen. Bang ons misluk of ons word teleurgestel. Ons bly dus maar aan die veilige kant waar die lewe nie té veel van ons vra of verwag nie.

Vir dié wat wel waag om uit hul “comfort zone” te beweeg, hard te werk, vas te byt en deur te druk, ten spyte van – is die vrug van sukses soet en sappig.

Driekie Grobler

Logo finaal

SKRYFGENRES – Ronél Dunn

Ek het nou die dag probeer uitwerk hoeveel skryfgenres bestaan en ek was nogal verstom hoeveel ek kon opnoem en dan het elkeen ook nog onderafdelings. Kom ons begin by prosa:

Daar is eerstens kortverhale, essays, kort prosa, novella, die roman en selfs die vertaling van prosa.

Maar kyk net wat kom alles voor onder die Fiksiegenre: misdaadfiksie, fantasie, wetenskapfiksie, rillers en grillers, romantiese ontspanningsfiksie (liefdesverhale), chick-lit is seker die babasussie in fiksie se huis, maar is ook nog historiese romans en Christelike romans.

Enige skrywer wat steeds nie tevrede voel met bostaande afdelings nie, wat dan van kinder- en jeugverhale? Selfs kinder- en jeugpoësie. Moenie vergeet dat drama en televisie en film ook skrywers verg nie, sowel as radio wat nog deur baie mense geluister word.

In die Media, wat ook al gedigitaliseer is, kry ons rubrieke, resensies, artikels vir koerante en tydskrifte, reisverhale, blogs – soos die een!

Ons het nog nie eers aan nie-fiksie geraak nie: biografieë, outobiografieë, handboeke, handleidings, kursusse … al ooit daaraan gedink dat kopieskryf, rekenaarspeletjies en die stripkuns ook kreatiewe skrywers nodig het. Daar is selfs iemand gewees wat die aanwysings vir jou nuwe strykyster geskryf het en ook die voubiljet in die hoofpynpillepakkie. Hierdie is nog net ‘n proesel van wat ontdek kan word. Dalk kan ons so mettertyd van hierdie groot skatkis se inhoud van nader beskou.

Ronél

Rubriek skryf – Madre verduidelik

Vir al ons rubriekskrywers en voornemende skrywers in besonder Mantiewat hieroor navraag gedoen het. In ‘n rubriek skryf jy die waarheid. Punt.

Dit mag ‘n persoonlike ervaring wees wat jy met lesers wil deel, of jou mening oor ‘n situasie wat tans nuuswaardig is. Jy sê wat jy wil sê en stop.

Jy is beperk met woordtelling. Die algemene norm is sowat 400 woorde. As jy dus iets wil vertel wat die publiek aangryp moet elke woord tel. Dit kan frustrerend raak, want jy wil nog soveel sê!

Dit in ‘n neutedop is die verskil tussen fiksie en rubrieke skryf. En trek jou krokodil-pakkie aan, want lesers gaan jou werk soms uitmekaar skeur.

Maar skryf!, want dit is waarom ons rubriekskrywers is.

SA Courant

Het jy ‘n storie om te vertel? Iets wat jy dink bewusmaking verdien? Dit kan komies wees, iets wat jou pla of selfs ‘n verlange na dinge wat was. Skryf dit vir ons in ‘n rubriek van ongeveer 400 woorde” Of iets dergelik, dit moet egter Simon Riekert se goedkeuring ook wegdra.Sluit dadelik aan by SA Courant.

SA Courant

Pandjieswinkel se stille stories

Pandjieswinkel se stille stories

Deur Madré van Tonder 26 Augustus 2014 02:00

Madré van Tonder

 

ONLANGS loop ek hier in ’n pandjieswinkel op Brandfort rond. Buite op die stoep is ’n asbes-posbus, miniatuur- windpomp en ’n ou boekrak.

Binne die winkel is ’n stowwerige reuk. Mense se verlede, uitgestal op rakke. ’n Show case op gebalde pote het ’n versameling ornamente, juweliersware en ’n dasspeld met Rex Diamonds 1975 – 1985 – Good Housekeeping agterop gegraveer. ’n Stel elektriese haarkrullers staan op ’n toonbank langs ’n asbak op ’n plastiek-olifantpoot. ’n Net-sakkie met albasters hang van ’n kapstok langs twee gebruikte sambrele. Ek tel twee ghoens en ’n bloedrooi cat’s eye in die sakkie.

Op ’n ander tafel is kombuisware op ’n geel, gehekelde tafeldoek. ’n Drukkoker met rooi handvatsels wat duidelik vasgegom is en ’n pienk teestel, die koppies se ore met goud oorgeblaas. ’n Stokou vleismeul is met ’n skroef onder die tafel vasgemaak, die houtslinger blink van jare se gebruik.

Viskatrolle, hoeke, vis-kassies en skepnette deel ’n ander tafel met gebruikte bore, hamers en tweedehandse boeke. Ena Murray, André P. Brink en Stephen King se Misery wag om weer gelees te word. Onder die tafel is ’n laai klerehangers met gehekelde oortreksels. Eenkant staan ’n masjientjie wat die staal-kramme in tamatiekassie ingeslaan het. Teen die muur hang die Seun-met-’n-traan-wat-afloop.

Ek begin wonder: Wie het die hangers se oortreksels gehekel – en die tafeldoek? Hoeveel kilogram vleis is in die silwer meultjie gemaal vir boerewors? Hoeveel kinders was eienaars van die sakkie albasters? Het die eienaar van die elektriese krullers elke dag haar hare in ’n krulbol omskep?

Hoeveel karpe en babers het die visstokke uit die Erfenisdam gevang, en is hulle daarna gebraai op die driepoot-braaiertjie? Ek ruik die boontjiesop wat in die winter in die drukkoker gekook het, en proe die tee uit die pienk teestel.

Maar wat ek graag wil weet: Wie was die eienaar van die dasspeld? Ek besluit dis ’n mynwerker wat trots een aand op ’n spoggerige onthaal sy Good Housekeeping-dasspeld ontvang het. Sy vrou met gekrulde hare het trots hande geklap. By die huis het ouma gehekel aan hanger-oortreksels terwyl sy die kinders oppas terwyl hulle met albasters speel. Die volgende dag het almal by die dam gaan visvang en die aand karpe gemaal met die silwer meultjie vir viskoekies. Die tamatiekis-krammertjie was vir die plasie wat hulle eendag sou koop.

Voor slaaptyd was Ena Murray gelees en is die sigarette se as afgetik in die asbakkie op die olifantpoot. Buite het die miniatuur-windpompie langs die posbus gestaan en in die sitkamer het die seuntjie sy ewige traan gepink.

 

‘n Sprokie met ‘n stertjie

’n Sprokie met ’n stertjie deur Tanita Da Silva

Die partytjie ruk. Almal wat genooi is, is daar. Van die ongenooides het stilletjies ingesluip. Die ander wat hulle in die venue geforseer het, is die centre of attraction.

In die kombuis is Plesierig, Ordentlik en kie besig om lekkergoedjies vir die gaste voor te berei. Plesierig spike die voggies en Ordentlik kyk dat die soet en sout nie meng nie. Sy vee die soutkorreltjies wat nog op die raisins is een vir een met ’n servet af en rangskik die peanuts en southappies in ’n hartvorm. Hulle bedien die gaste asof dit die laaste minuut van oordeelsdag is. En die gaste, veral die ongenooides, gaan uit hulle pad uit om die twee passievol rond te order.

Die rook dwarrel in die onthaalkamer. Daar is ietsie vir elkeen en daar is oorvloed. Dis stoppe, poeiers, bulbs en pilletjies. Jan Rap en sy maats is op ’n high en val, skree, tiep en breek alles wat kan kraak. Kansvat is van die min ouens wat nog op sy voete kan staan. Sy oë en ore werk oortyd, want die werf is wyd en die bruilof groot. Hy sukkel om sy tande toe te hou en sing ’n mantra, “’cause tonight’s gonna be a good night, ‘cause tonight’s gonna be a good, good night.” Etiket kyk alles wat soos ’n kat lyk uit die bome uit. Soos die walms tussen haar breinvoue begin insyfer, raak haar sig swakker. Na ’n rukkie lyk die wasigheid in die vertrek vir haar na ’n droomwêreld. Ene waar sy die prinses is. Toe Versoeking per ongeluk aan haar raak so in die verbyloop, sien sy dit as ’n uitnodiging. Sy knipoog en pout en kry die stomme Versoeking aan sy designer buckle beet. Sy sleep die getroue slaaf trappe op na ’n kamer op die derde verdieping.

Ordentlik swoeg met ’n lap in die gatsak, besem in die een hand, mop in die ander en probeer red wat daar nog te redde is. Haar eeltevoete pyn, die lyf is lam en die keel is kurkdroog. Plesierig bied haar ’n lang glas met trane aan die buitekant en skoon alkohol en ys binne aan. Sy glimlag liefies en slurp die inhoud in minder as twee sekondes op. Na die derde drankie is sy slaggereed om die mansion uit te turn. “Verskriklik baie dankie,” sê sy toe Kansvat die skyf vir haar aangee. Sy skreeulag toe sy ses netjiese gate in die swart leerbank brand.

Jan Rap en al sy maats vorm ’n kring om Wangedrag en Maniere wat mekaar aan die kele beetkry. Hulle maak die kombuislaaie leeg en gooi al wat ’n steek- en snyding is vir die twee vegters. Die spul kan dit later nie hou nie. Soos wafferse WWE-entertainers gryp hulle die naaste persoon en baklei vir punte.

Moraliteit wat soos ’n skim sy cool gehou het, kry uiteindelik sy cue. Hy gryp die naaste remote en begin druk. Ag nee, dis die aircon. Die sweetdruppels loop die gaste af. In die yskas begin die ys en vleis smelt. Geweld is in die wolke toe hy die water- en bloedmengsel oor die wit teëlvloer sien stroom. Hy skaats soos ’n professional oor die gladde vloer, verloor sy bewussyn en kan vir die res van die aand nie onthou wat hy by die partytjie kom maak het nie. Die rokers, pruimers, snuifers en drinkers raak op ’n streep naar. Vraatsug sê sowaar nee-dankie vir die free drank en vrete. Verkeerde knoppie, sug Moraliteit. Hy druk weer, gryp die ander remotes en druk en druk. Waar de  hel is die interkom? Oorverdowende musiek ruk die fondasie en die vensters begin bewe. Van die slag skrik Etiket haar tot haar sinne. Sy stoot Versoeking wat uiteindelik reg is vir aksie tot op die grondvloer. Hy beland in Plesierig se arms.

Alle vingers wys na Kansvat toe hulle besittings soos mis voor die son verdwyn. Integriteit is  poedelnakend. Haar lace lingerie en egte leerstewels wat ver bokant die knieë kom, is skoonveld. Ordentlik kan nie ’n woord uitkry toe sy Spoggerig reg bekyk nie. Dis nie omdat daar nie meer ’n enkele bling aan die arme siel se liggaamsdele hang nie. Die misdadiger het ook Spoggerig se ore van sy kop af gesteel. Moraliteit kry ’n derde asem en sit Nkosi sikel’ iAfrika in. Maar daar kom nie ’n woord uit nie. Korrupsie wat heelnag ’n lae profiel handhaaf het, sit sy twintig plus oorvol streepsakke met ’n bang neer. Hy gryp die mikrofoon en sing kliphard op Moraliteit se wysie:

“ ’cause dit is my beurt dié, finish en klaar

maak asof jy niks weet, daar’s nog vir jou

Hiersô is als myne, ‘cause I say so

Conflict gaan nie werk nie, my sak is vol, sorg maar vir jou”

Word altyd vervolg…

Ewebeeld

Deur Madré van Tonder 05 Desember 2015 00:10

AS MARIA DIE DAG HAAR GLADDE PRUIK OP HET EN HAAR SWARTRAAM-PEP-BRIL DRA, LYK SY VIR MY NET SOOS WINNIE MANDELA.

Verlede Saterdag sien ek Dozi se ewebeeld by ’n robot bedel in Bloemfontein. Gelukkig was die lig rooi en ek roep hom nader om ’n geldjie in sy blikkie te gooi. In die hoop dat hy gaan lostrek met “Oooo Ryperd . . .”. Maar sy helderblou oë staar my stip aan. “Dankie dame, God seën jou.” En hy salueer.

Definitief nie Dozi nie.

Hoe moet dit voel om soos iemand anders te lyk? In 2013 het Huisgenoot ’n kompetisie gehad vir mense wat Worsie, Molly, Blabsie en Vaatjie van Molly en Wors die beste kan naboots. Dames het hul hare in Molly-kapsels laat tooi, die manne het laat waai met bier en hamburgers om die perfekte Wors-magie te kry. Die inskrywings het ingestroom. Dit was darem net ’n kompetisie en hopelik het almal ná die tyd na hul eie voorkoms teruggekeer.

Maar nie almal kan van dié obsessie ontslae raak nie. In Engeland loop ene Heidi Agan rond en boots Kate Middleton na. Ewebeeld van die blou rokkies tot die bruin lokke. Rooi tapyte word vir haar oopgesprei en mense buig knieë as sy haar verskyning maak. Sy verlustig haar skaamteloos in al die aandag.

Nelson Mandela se ewebeeld Ayanda Mbatyoth lyk nie slegs soos Madiba nie, hy praat, lag en dans presies soos die ontslape president. Sy voorkoms het blykbaar “baie deure” vir hom oopgemaak. Maar ongeag ’n hegte vriendskap met Madiba is hy nie toegelaat om sy ewebeeld se begrafnis by te woon nie. Die media het in Qunu op hom toegesak toe hy buite die begrafnis-tent een van Madiba se toesprake namaak.

In Amerika het Reggie Brown gewig afgeskud, sy gesig donkerder gemaak en dra Obama-pakke en -dasse. Hy het selfs die president se kenmerkende wysvinger-vorentoe gebaar aangeleer en sy tande laat bleik. ’n Kursus het hom geleer hoe om presies soos president Obama te praat.

As Maria die dag haar gladde pruik op het en haar swartraam-Pep-bril dra, lyk sy vir my net soos Winnie Mandela.

Iemand sê nou die dag vir my hier loop darem ’n hele paar “wildtemmers” in Brandfort rond. Ek begin oplet en sowaar, hulle is oral. Bebaard, met woeste hare en in oopgeknoopte hemde bewandel hulle ons strate.

Gandhi se dubbelganger woon ook in Brandfort. As hy nie op sy motorfiets rondry nie, braai hy worsbroodjies in die hoofstraat vir liefdadigheid.

Elkeen van ons het glo ’n dubbelganger. Ek het genadiglik nog nie myne raakgeloop nie. Of sy is nie bekend genoeg nie. Dit moet sekerlik ook ’n kruis wees om soos ’n bekende te lyk. Tot vandag toe moet my arme boetie aan vreemdelinge verduidelik dat hy nie Hans Strydom is nie!

Seisoene en Mense

dc46c36ce168ccdfd55a5258bb4f8443.jpgDeur Sonja Brown

Seisoene kan ‘n invloed hê op hoe mens voel en optree. Dit affekteer sosiale gedrag, energie vlakke, en slaap sowel as eet patrone. Nie almal word op dieselfde skaal deur seisoen geaffekteer nie.

Kom ons begin byvoorbeeld by lente. Nuwe bloeisels op die bome, groen gras sprietjies wat kop uitsteek, en die gevoel dat mens jou huis wil skoon maak van kop tot tone (‘spring cleaning’). Lui dit ‘n klokkie? Lente kan ook baie rëen bring, wat mens se emosies wipplank laat ry. Party mense is mal oor rëen, en party mense voel ingehok wanneer die wolke oop maak.

Na lente volg somer. Dit is asof jou brein na ‘vakansie-mode’ (ek noem dit sommer luigat-geit) oorskakel en alles om jou raak rustiger. Jy bring nou meer tyd buite deur, en voel in die algemeen baie goed.

Herfs is die seisoen wanneer die meeste mense gediagnoseer word met depressie. En g’n wonder nie. Alles wat die oog kan sien begin van kleur verander. Die son begin later opkom, bome raak kaal, wat mense ook ontbloot laat voel in hul onderbewussyn. Die liggaam begin nou reeds hunker na soet goed.

Winter seisoen is die ergste vir die mensdom. Bladwisselende bome is nou heeltemal kaal, winde is onvriendelik en koud, en die son skyn vir ‘n korter tydperk deur die dag. Meeste mense gaan werk toe in die donker, en keer weer terug huis toe indie donker. Niks lekker nie! Winter bring koue hande, nog kouer voete, en die hunkering om gekoester te word. Gedurende winter, vertel jouself gedurig dat winter die moeder is van lente. Soos Shakespeare sê “Moenie dink aan die lugruim as gedeeltelik bewolk nie, dink eerder daaraan as gedeeltelik sonnig…”. Kyk komedies. Lag is goed vir jou wanneer alles om jou vaal is.

Sodra jy bewus word van hoe die seisoene jou laat voel, kan jy ‘n bewuste besluit neem oor hoe jy dit kan verwerk.

Flaters

Deur Antoinette Venter
So begaan ek nou die dag een van die grootste flaters wat ’n wannabe skrywer kan begaan – of altans só reken die Facebook taal-polisie.

Ek is besig om vir die honderdste maal verveeld deur my e-posse te blaai terwyl ek wag om die taksman se gesant te spreek wanneer die e-pos waarvoor ek as aspirant skrywer so lank my tande slyp deurkom – ons aanvaar jou kortverhaal vir plasing. Maggies maar jy is oulik! Klop ek myself op die skouer en in my waas van euforie gryp ek my Samsung nader. Die nuus moet ek nóú met die wêreld deel. En dit is net daar waar ek toe die ding aanvang. Met bewende vingers tik ek op my Facebook-blad, nogal op ’n helder pers agtergrond (en ek haal die presiese woorde aan.) Sopas gehoor hulle het my kortverhaal vir plasing aanvaar . . . blah; blah; blah . . .

Die res van die dag sweef ek op ’n wolkie van geluk. Ek vererg my nie eens toe die taksman se gesant my na twee ure se gewag in die ry onverrigte sake terug stuur nie. Op die stadium is ek nog heeltemal onbewus van die taboe wat ek gepleeg het . . .

By die huis aangekom lees ek deur al die kommentare op my Facebook plasing en met elke “mooi” “pragtig” “oulik” swel my kop nog ’n bietjie meer. En toe sien ek die gewraakte kommentaar: “in my dae is so pas as twee woorde gespel.” Ek voel sommer hoe ek koud word. Die persoon kon net sowel gesê het: “Jy wil stories skryf, maar jy kan nie eens so pas reg spel nie. Hoe lyk die verhale wat jy die wêreld instuur? Seker vol taal- en spelfoute.”

“Berge val op my en bedek my,” prewel ek saggies by myself terwyl ek soos ’n verwoede leeu op die internet rondsoek of ek nie iets kan vind wat mens die groen lig gee om so pas maar as een woord te skryf nie. Het die AWS nie iewers al besluit dat enige van die twee weergawes reg is nie? Nee! Ek is in my kanon in. Daar is nêrens ’n weggesteekte reël wat my uit die penarie gaan red nie. Ek oorweeg dit vir ’n oomblik om my foon se autocorrect die skuld te gee. Gelukkig onthou ek betyds dat ek so week of twee gelede ook iets in helder pers uitgeblaker het wat die gewraakte woordjie of altans twee woorde bevat. Ek blaai met ingehoue asem af. “Asseblief, sê vir my ek het dit op die vorige geleentheid reg gespel,” stuur ek ’n nood gebedjie op. Helaas nie. En só is my autocorrect verskoning ook daarmee heen en ek besluit om vir eers die kommentaar te ignoreer. Hier sal ek moet mooi dink om uit die penarie te kom.

Teen die tyd wat manlief van die werk afkom is ek briesend. “Wie de ongeluk dink die oom is hy? Hy is nie eens op my vriende lys nie!” tier ek in my arme niksvermoedende wederhelf se ore, “ek gaan vir hom sê dink hy as mens ’n storie wil skryf dit maak van jou ’n blerrie taalkenner? Ek het belasting geswot, nie tale nie. In elk geval, voor ’n storie geplaas word, word dit eers geredigeer en geproeflees.” Eintlik in retrospektief gesien, was ek nie naastenby so kwaad vir die oom wat die kommentaar gelewer het as wat ek vir myself was nie . . .

Manlief laat ook nie op homself wag nie en gaan beantwoord die man se kommentaar, iets in die lyn van: “Ag sjame, is dit lekker om ander mense aan te val?” Net daar besef ek. Hier gaan nou ’n oorlog op my blad uitbreek en ek delete my man en die oom se kommentaar. Ek stel die gewraakte woord reg en edit die plasing sodat net my Facebook vriende dit kan sien. Probleem opgelos.

In retrospektief gesien. ’n Mens maak foute op al die gebiede in die lewe. Dit is nie die einde van die wêreld as mens ’n fout begaan het nie solank mens daaruit kan leer (ek sal nóóit weer so pas verkeerd spel nie.)
Al wat ek wens is dat mens alle foute in die lewe net met ’n delete knoppie kon regstel.

Ns. Alhoewel ek ’n HAT, AWS en Pharos besit is die skrywe hierbo moontlik vol foute. Jammer daaroor.

Disleksiese aanvalle kan jou lagspiere knou

 

Deur Madré van Tonder 18 Oktober 2016 00:04

Madré van Tonder

 

Op ’n Saterdagoggend staan ek in ’n kafee in Brandfort agter ’n konstruksiewerker. In sy hand is ’n oopgemaakte hoofpynpoeier.

In die rukkie dat ons wag dat die eienaar vir hom ’n glas water bring, vertel hy my: (1) Hy het nog nooit so erg babelas gehad nie; (2) Hy “werk hom dood” om sy dogter, haar baba en haar verloofde te onderhou; (3) Die dogter is 70% seker dat die verloofde wel die kind se pa is.

En my lagspiere tree onwillekeurig in werking. Hy het darem saam gelag!

Hoekom is dit so moeilik om nie te lag oor dinge wat vir ander mense nie snaaks is nie? Maria vertel my een oggend sy gaan ’n operasie kry om haar “moer” te verwyder. En sy kyk my skewekop aan oor ek uitbars van die lag oor die nuwe naam vir ’n baarmoeder.

’n Paar dae later daag Izak by die werk op met sy fiets wat hy stoot. Kort daarna kom vra hy vir pynpille. Waarvoor? Vra ek. “Die bicycle sy saal het gebreek nou het ek baie seer hier . . .” En hy beduie tussen sy bene en lag verleë saam toe ek begin skaterlag.

Epilepsie word gediagnoseer by ’n vrou in Brandfort se seun. Ek loop haar raak en verneem na sy welstand. “Nee jong, die dokter sê hy gaan die res van sy lewe disleksiese aanvalle kry.” Ek kry dit reg om nie te lag nie, maar maak haastig verskoning en verkas.

Op hoërskool was ek erg beenaf op ene Robert, wat in die slaghuis gewerk het. Op ons eerste afspraak vra ek hom of hy ook hou van lees, en of hy al Konsalik se boeke gelees het. “Ja, ek is mal oor Speedy Konsalik.”

En hy begin kriewel toe my lagspiere die oorhand kry. Daar was nie ’n volgende afspraak nie.

’n Werklose man lui my deurklokkie. “Dame, toe ek vanoggend geld wou trek, sien ek iemand het plagiaat gepleeg. Daar is nie ’n sent in my rekening nie.”

Ek gaan vinnig in die huis om ’n geldjie te kry en die lagbui onder beheer te kry.

Iemand in Brandfort met ’n kleurryke verbeelding vertel my een oggend iemand het hom die vorige dag met opset probeer doodry met sy motor. My lagbui veroorsaak dat die storie ’n stertjie bykry. ’n Speurder het onverwags op die toneel opgedaag en die bestuurder uitgeskel: “Kyk, nou moet die arme man op die sypaadjie loop! Jy kan bly wees ek sluit jou nie toe nie!” Die trane loop soos ek lag.

In ’n eetplek in Bloemfontein hoor ek ’n gesprek by die tafel agter ons. “As daai smokkelaar weer dié Kersfees sonder sy eie vleis opdaag, jaag ek hom weg!” My man begryp nie hoekom ek onbedaarlik begin giggel nie.

Dis ’n onophoudelike stryd om nie te lag wanneer jy nie moet nie. Maar ons is net mense. En ons laat mekaar lag, selfs al was dit nie bedoeling nie.

Lagspiere het nie brieke nie!