TAALWENKE 12

TAALSENTRUM UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH

GRAMMATIKA
12.1. Ontkennningsvorm
“Geen’ (of gʼn) of ‘geeneen’ word gewoonlik deur ʼn ‘nie’ aan die einde van die sin gevolg.
Geen aansoeke is ontvang nie,
Geeneen het geantwoord nie.
MAAR
Wie het geantwoord? Geeneen.
Dit het geen nut.

12.2. Byvoeglike naamwoorde met ‘-lik’
Byvoeglike naamwoorde wat op ‘-ig’ eindig, word net so as bywoord gebruik, sonder die agtervoegsel ‘-lik’.
Bloedig vererg (NIE: bloediglik)
Naarstig soek ( NIE: Naarstiglik)
Wettig verbind ( NIE: wettiglik)

12.3. Lidwoorde
‘Miljoen’, ‘miljard’ en ‘triljoen’ word deur ‘ ʼn ’ voorafgegaan, maar ‘duisend’, ‘honderd’ word daarsonder geskryf.
ʼn miljoen motors
ʼn miljard rand
ʼn triljoen sandkorrels
MAAR
Honderd motors
Duisend mense

12.4. Werkwoorde wat op ‘-eer’ eindig.
By werkwoorde wat met twee lettergrepe, met die klem op die tweede lettergreep, is daar ʼn keuse of die verledetydvorm van die werkwoord met of sonder die ‘ge-‘ geskryf word, tensy die werkwoord met ʼn voorvoegsel begin.
Hanteer of gehanteer
Studeer og gestudeer
Beseer ( NIE: gebeseer)
Vereer ( NIE: gevereer.
By werkwoorde met drie of meer lettergrepe, moet die verledetydvorm van die werkwoord met ‘ge-‘ geskryf word, tensy die werkwoord met die voorvoegsel ‘ver-‘ begin.
Geherstruktuereer
Geïgnoreer
Verkleineer ( NIE: geverkleineer.)

12. 5. Voltooide deelwoorde as byvoeglike naamwoorde
Wanneer ʼn voltooide deelwoord met ‘-eer’ as byvoeglike naamwoord gebruik word, moet dit met ‘ge-‘ geskryf word, tensy dit met ‘be-‘. ‘ont-‘, of ‘ver-‘ begin.
Gegroepeerde voorbeelde
Geïlustreerde bladsye
Verteerde kos (NIE: geverteerde kos)
Ontbeende vleis ( NIE: geontbeende vleis)

12. 6. Voornaamwoorde
12.6.1. Die uitsluitlike gebruik van die persoonlike voornaamwoord ‘hy’ ( of ‘sy’) of besitlike voornaamwoord ‘sy’ (of ‘haar’) wanneer ʼn persoon se geslag onbekend is, word as seksisties en misleidend beskou.
NIE: Daar word van ʼn bestuurder verwag om sy motor se vensters te was.
NIE: ʼn Kinderoppasser moet altyd betyds vir haar skof opdaag.
Die beste oplossing vir hierdie probleem is om die meervoudsvorm te gebruik.
Daar word van bestuurders verwag om hulle motors se vensters te was.
Kinderoppassers moet altyd betyds vir hulle skofte opdaag.

Indien die meervoudsvorm glad nie kan werk nie, kan ‘hy of sy’ en ‘sy en haar’ as laaste opsie gebruik word.
Help die pasiënt waar nodig. As hy of sy nie self kan loop nie, organiseer ʼn rolstoel.
ʼn Kinderoppasser moet altyd betyds vir sy of haar skof opdaag.
12.6.2. Die wederkerende voornaamwoord word dikwels verkeerdelik in plaas van die persoonlike voornaamwoord gebruik.
Die taak is deur my en die bestuur uitgecoer.
(NIE: Die taak is deur myself en die bestuur uitgevoer.)
Hy het hom bloedig vererg.
(NIE: Hy het homself bloedig vererg.)

WENK: Werkwoorde wat slegs wederkerend gebruik kan word, neem nie die wederkerende voornaamwoord nie, want uit die aard van die werkwoord is dit duidelik na wie verwys word. Byvoorbeeld: ‘bemoei’: ‘Ek gaan my nie daarmee bemoei nie.’ (NIE: Ek gaan myself nie daarmee bemoei nie,)
Werkwoorde wat wederkerend óf nie-wederkerend gebruik kan word, kan wel die wederkerende voornaamwoord neem om verwarring uit te skakel. Byvoorbeeld ‘gun’: ‘Ek gun myself ʼn dag verlof,’ of ‘Ek gun jou ʼn dag verlof.’

12.6. 3. Die gebruik van ‘hul’ en ‘hulle’.
Ons stel voor dat ‘hul’ slegs gebruik word waar ‘hulle’ ʼn tweede keer in ʼn sin sou voorkom, byvoorbeeld waar dit
as besitlike voornaamwoord gebruik word, of
as refleksiewe voornaamwoord gebruik word.
Studente word holisties ontwikkel, waartydens hulle die geleentheid kry ook hul intuïtiewe vaardighede te verfyn.
… waartydens hulle die geleentheid kry om nuwe dele van hulself te ontdek.

12.6.4. Maak seker dat dit altyd duidelik is waarna voornaamwoorde verwys. In die volgende sin is dit onduidelik waarna die voornaamwoord ‘dit’ verwys.
(NIE: Die maatskappy benodig akkurate data vir alle benamings. Dit is die taakspan se verantwoordelikheid.)
Ook die voornaamwoord ‘wat’ in die volgende sin werp geen lig nie.
NIE: Die maatskappy benodig akkurate data vir alle benamings, wat die taakspan se verantwoordelikheid is.

Die sin is duideliker as volg:
Die maatskapppy benodig akkurate data vir alle benamings. Die verskaffing van hierdie data is die taakspan se verantwoordelikheid.
12.7. Die gebruik van ‘byvoorbeeld’ en ‘ensovoorts’.
‘Byvoorbeeld’ en ‘ensovoorts’ word dikwels onnodig gebruik in sinne wat reeds ander woorde bevat wat in wese dieselfde beteken.
In die onderstaande voorbeeld word ‘ensovoorts’ oorbodig gebruik:
(NIE: By hierdie geleentheid sal die modelle van verskeie motorvervaardigers, byvoorbeeld Ford, Opel, BMW, ensovoorts, ten toon gestel word.)
Dit moet eerder as volg wees:
By hierdie geleentheid sal die modelle van verskeie motorvervaardigers, byvoorbeeld Ford, Opel en BMW, ten toon gestel word.
In die onderstaande sin kan óf ‘soos’ of ‘ byvoorbeeld’ weggelaat word:
(NIE: Ek haat groente soos byvoorbeeld uie, kool en pampoen.)

12.8. Parallelisme
Maak seker dat parallelle strukture in die dokument gebruik word.
In deel 1 van hierdie gids ondersoek ons die grondbeginsels van skryfwerk. In deel 2 sal ons die deugde van ʼn goeie skrywer bespreek.
(NIE: In deel 1 van hierdie gids ondersoek ons die grondbeginsels van skryfwerk, In die tweede deel sal ons die deugde van ʼn goeie skrywer bespreek.)

12.9. Telwoorde

‘Aantal’ verwys na ʼn onbepaalde hoeveelheid.
‘Getal’ verwys na ʼn bepaalde hoeveelheid wat getel is of getel kan word.
‘Hoeveelheid’ dui op iets ontelbaars.

Daar wa ʼn groot aantal mense op die strand. ʼn Klein getal mense het met strandballe gespeel. Die res het ʼn groot hoeveelheid kos verorber.

Lewer kommentaar