As Rooiwyne Mense Was – Hendrik Meyer

Daar was ‘n paar mense wat gevra het hulle wil Hendrik Meyer se wen-storie lees. Hier is dit!

As Rooiwyne Mense Was
As jy ‘n Kanonkop is, was jy voorheen ‘n hoof bestuurder by een van die Krygkorfiliale. Jou terroir is nou jou strandhuis op Jongensfontein, waar jy graag ‘n stukkie beeshaas op jou binnebraai gooi en lank oor die see uitstaar. Die meubels is keurig, die beste kwaliteit, maar so tien jaar uit die mode uit. Oral in jou huis staan aandenkings rond wat modelle is van tenks, vliegtuie en missiele. Jy ry ‘n nuwerige model Mercedes E klas, sal nie dood in ‘n kortbroek gevang word nie en speel van twaalf voorgee af. Jou kinders bly in London en Auckland en jou kleinkinders noem ‘n springbok ‘n kangeroe as hulle hom op ‘n foto sou sien.
As jy ‘n Meerlust is, kom jy uit die privaatsektor. Jy’s bo sewentig, maar dien nog op verskeie maatskappye se direksies. Jy het nog steeds ‘n kantoor en ‘n sekretaresse op die dorp, want as mens eers aan ‘n persoonlike assistent gewoond is… Jy bly in Stellenbosch en een van die raadsale by die universiteit is na jou familie vernoem. Jy’s elke Saterdag in die losie by Nuweland, en dra dan ‘n blou moulose trui met n WP wapen daarop geborduur, al is die hoe warm of koud. Jou huis het vele gewels, maar bitter min mense weet hoe dit binne lyk.
As jy ‘n Rupert en Rothchilds is, is jy wat genoem word ‘n soewereine individu. Jy is nie land gebonde nie. Jy eet ontbyt in New York en aandete in Parys, vlieg eersteklas en jy het ook ‘n sjef by elke huis. Jou huise het ‘n waghuisie by die oprit. Jy kom nie by al jou huise uit nie. Jy bestuur nie self nie, maar besit ‘n vloot duur motors. By hotelle boek jy nie in of uit nie, hierdie dinge word op die agtergrond gereël. Gemaklik aantrek is vir jou sportbaadjies en rooi dasse.
As jy ‘n Alto is, bly jy in Waterkloof. Jou huis het verskeie sekuriteitskameras wat jy enige tyd oor jou selfoon kan oproep. Jy rapporteer direk aan ‘n Meerlust of ‘n toekomstige Kanonkop by die werk. Jy ry met ‘n Land Rover Discovery, wat nog nooit modder gesien het nie. Jy hou vakansie in Portugal of Dubai.
As jy ‘n Laszlo is, is jy jonk en vol energie. Jy gym na werk, eet gesond en ry ‘n Polo. Jou kinders is tussen pasgebore en vyf jaar oud. Jy kan nie glo watse gemors het die vorige generasie vir jou gelos nie, maar as mense net jou raad volg kan dit nog gered word. Jou vrou draf graag, agter n baba waentjie met ekstra groot wiele. Jy oorweeg emigrasie.
As jy ‘n Tin Cup is, weet jy presies wat waarde vir geld is. Jy koop nooit nuwe motors nie, hou vakansie in ‘n woonwa en braai graag vleis. Jou braaitang het ‘n ingeboude LED flitsie. Jou kinders is op hoërskool en die skoolfonds druk jou dat jy knor. Jy wens jy het geëmigreer.
As jy ‘n Allesverloren is, is jy stadig besig om verder in jou oortrokke fasiliteit in te gly. Jou enigste troos was die Blou Bulle, maar dis ook nou hopeloos. Jou kinders ignoreer jou en jou vrou kyk na jou soos ‘n jokkie wat ‘n muil in die “July” moet ry. Jy maak self jou motors reg. Jy sê vir mense die tegnikuste foeter jou motor op, maar eintlik is jy te suinig.
As jy n Fat Bastard is, sien Allesverloren, vervang Blou Bulle met Cheetahs.
As jy Tassenberg is, is jy die sout van die aarde. Mense het stink-ryk geword met jou arbeid, waarvan jy niks gesien het nie. Jy gaan na winkels toe met “pay-day specials”. Jou vrou kan ‘n feesmaal kook met een hoender, ‘n hand vol rys en verlepte groente. Jy kan nie glo sy is so lief vir jóú nie.

2 thoughts on “As Rooiwyne Mense Was – Hendrik Meyer

Lewer kommentaar