Taalwenke 7

Taalwenke 7 ( Met erkenning aan Leoni Benghiat van SA Vryskutskrywers)

Woorde is die noodsaaklikste bestanddele van stories, maar skrywers raak dikwels só vasgevang in hul idees en stories dat hulle skoon van die basiese beginsels vergeet. Dis dán wanneer hul skryfwerk vaal en kragteloos opeindig.
Die beste stories word geskep deur ʼn gebalanseerde verhouding tussen die grondbeginsels – korrekte taalgebruik en woordkeuses.
Hier’s ʼn kort gids om jou te help om die regte bestanddele bymekaar te kry:
Agtervoegsel:
Byvoeglike naamwoorde kry die agtervoegsel -s wanneer hulle volg op die woorde iets, enigiets, veel, weinig, min en niks:
Daar is veel/min/weinig/niks goeds te sê oor die plan nie, of dit is iets moois/nuuts/onbekends/suurs.
Betreklike voornaamwoorde:
• Die betreklike voornaamwoord wat word ten opsigte van mense, diere en dinge gebruik:
Die deur wat klap.
Die hond wat blaf.
Die vrou wat (NIE: wie) in die straat loop..

• Wie word slegs saam met se gebruik waar besit ter sprake is, of saam met ʼn voorsetsel:
Die man vir wie hy geld skuld, is…
Die vrou wie se hoed afgewaai het, het….

• Gebruik van wie, oor wie, deur wie, ens., is vir mense, en waarvan, waaroor en waardeur vir dinge, diere en abstrakte begrippe:

Die insittendes van die motor waarvan die band gebars het, is ernstig beseer.
Die kommissie het nege lede van wie sewe deur die regering benoem is.
Die opgewondenheid waaroor gister berig is, het al effens bedaar.

Dieselfde geld vir onder wie, waaronder, met wie, en waarmee.

Sinskonstruksie:
• Dubbele ontkenning.
Sy het geen ander uitweg as om vir die verversings te gaan teken nie. Uitsondering: lang sinne waar die tweede nie uiteindelik bygelas word; dan moet liefs vroeër na die eerste nie volg: Sy het geen ander uitweg nie as om maar…

• Wat en sy gebruike.
• Wat moet met ander voorsetsels as waar gekombineer word: nie vir wat nie, maar waarvoor.
• Wat/waaroor, ens. hoort waar moontlik dadelik na die selfstandige naamwoord, wat gewoonlik beteken dat die werkwoord na agter moet skuif.
• Verkieslik: Hulle is onder die farao wat die dinastie gestig het, verenig. Vermy dus: Hulle is verenig onder die farao wat…of Hulle is onder die farao verenig wat…’n Mens wil egter juis ʼn opstapeling van werkwoorde vermy en hierdie reël moet dus soms maar gebuig word.
• ʼn Moontlike komma voor wat hang van die konteks en betekenis af. Dink aan die verskil tussen die volgende:

Die studente wat geslaag het, gaan universiteit toe.
Vs
Die studente, wat geslaag het, gaan universiteit toe.

• Die eerste sin beteken dat slegs die studente wat geslaag het, universiteit toe gaan. Die tweede sin gee te kenne dat al die studente geslaag het.

• Los- of vasskryf van woorde:

• Skryfwyse – los/vas – Gebruik telkens die eerste inskrywing in die jongste uitgawe van die AWS as daar ʼn keuse gemaak moet word.

AWS bl 111. Reël 14.1. Afsonderlike woorde word los geskryf.
14.2. Terwyl woorde los van mekaar geskryf word,
word woorddele vas aan mekaar geskryf.
Verbindings word vas aan mekaar geskryf:
Aapstert
14.3. Samestellings word vas geskryf:
Ankertou. Blombedding,skroewedraaier, bosbok.

• Letterlike vs figuurlike betekenis van woorde: let op onderskeid tussen skeef loop (letterlik skeef loop) skeefloop ( figuurlik – planne wat skeefloop). Waar so ʼn onderskeid nie moontlik is nie, skryf vas.
• Voornaamwoorde plus self word los of vas geskryf
Ek self of ekself is albei korrek. Die algemene gebruik is om self weg te laat indien dit vanselfsprekend is, maar let op;
Ek het my gewas teenoor Ek het myself of my self gewas (iemand ander het my nie gewas nie en hier kan die self nie uitgelaat word nie)

• Byvoeglike naamwoorde en graadwoorde : gewoonlik los
Plaaslik vervaardigde steeds groeiende
Teenoor
Andersdenkende goedgesinde
Halfongemaklike

Lewer kommentaar