Petro se Klavier deur Elsabe de Beer

My storie:
Petro se klavier.
Sy loop deur die eetkamer, haastig op pad kombuis toe. Haar oog vang die plek waar haar geliefde klavier jare gelede altyd gestaan het…Die tafeltjie met die mooi tafeldoekie en ornament maak nie die gat in haar hart toe nie…
Dit was deel van haar lewe vandat sy onthou. Die klavier wat haar pa by sy ma gekry het toe hy so tien jaar oud was. Sy onthou hoe sy en haar boetie, André, aand vir aand langs die klavier staan as hulle pa
‘Aandlied van die voëls’ en ‘ Oh, Danny Boy’ speel. Saam sing hulle nog steeds in haar onthou-beelde daar op die Vrystaatse plaas.
Hulle Kersfeeste vol klavierspel en saamwees is diep in haar gedagtes afgeëts. Pa, Ma, André en Petro, en soms ander familie ook, wat uit volle bors Kersliedere saamsing langs die klavier.
Met hulle pa se afsterwe op ‘n jong ouderdom, trek hulle dorp toe, die klavier trek natuurlik saam. Petro begin self ook speel en geniet dit. Neem selfs les.
Na haar ma se dood twintig jaar later vind sy en André op elke waardevolle item een van hulle se naam daarop geskryf, aan die binnekant van die klap van die klavier staan duidelik uitgekerf: ‘Petro’.
“ Petro, ek en ‘n paar pêlle gaan Saterdagaand na ‘n partytjie toe, wil jy nie saam kom nie? Ek dink dit sal jou goed doen,” sê Deon, ‘n universiteitsvriend een middag vir haar.
Hulle het gegaan en daar sien sy toe dié man! Die man waarvan Petro altyd gedroom het, sterk in die lyf en mooi aan inbors, soos haar pa altyd gesê het. Sybrand Niemand het nie tyd om te mors nie, hy het sy sielsmaat gekry, en die November haak hulle elkeen by sy maat in en maak die kanselbelofte in Bloemfontein se NG Kerk.
Met die trekkery Secunda toe, waar Sybrand sy eerste pos as geoloog kry, is daar nog geen huise op Secunda beskikbaar nie, hulle bly op ‘n plaas in die distrik waar hulle ‘n huis huur.
“ Sybrand, weet jy, ek weet ons het nie baie nie, maar ons het mekaar, dit is al wat ek nodig het, en natuurlik my klavier wat daardie groot oop kol toemaak waar daar seker nog banke en stoele kon gestaan het, as ons dit gehad het,” sê Petro een aand vir hom na ete. Hy sit en koerant lees terwyl sy sit en borduur. Petro se hande is altyd besig, iets wat sy by haar ma geleer het, ‘n vrou sit nie met handjies gevou nie!
“ My liefste Petro, ek weet hoeveel daardie klavier vir jou beteken, ek belowe jou daar sal altyd ‘n plek wees vir hom in enige plek waar ons bly,” belowe Sybrand.
Oral waar hulle in hulle saamwees lewe heen trek, word daar met moeite spesiale aandag gegee aan die klavier.
In Middelburg word groot planne gemaak om die klavier te maak pas, die huis is nie paleis groot nie, veral nadat hulle sommer in ‘n paar jaar drie kinderstjies ryker geword het.
‘n Paar jaar later trek hulle Johannesburg toe agter Sybrand se werk aan, en hy koop vir Petro haar droomhuis, naby die skool en in ‘n goeie buurt. Daar maak hulle drie kinders groot, laat hulle studeer en laat hulle trou. Kinders,skoonkinders en kleinkinders maak nou hulle lewe vol.
Petro woel een oggend in haar naaldwerkkamer terwyl Sybrand in sy studeerkamer besig is. Sy het net begin om die lappe en lintjies uit die kas te pak om ‘n bietjie orde te probeer skep, toe hy haar roep.
“Petro, kom gou saam, ek wil bietjie kwekery toe ry, plantjies koop vir die tuin, dit word nou lekker warm, ons kan doen met ‘n paar nuwe goed vir die tuin,” sê hy.
Waar kom dit nou vandaan? Sybrand wat nie eers hou van ‘n kwekery nie, en beslis nie juis omgee oor plantjies in die tuin nie.
“ Nee man, ek is besig, ek wil nie nou ry nie, ek het baie werk. Ons kan op ‘n ander dag kwekery toe gaan as jy dan nou so graag wil gaan plantjies koop. Ek weet in elk geval nie waar jy dit wil plant nie, hier is nêrens plek in die tuin vir nuwe plantjies nie,” slaan sy sommer ‘n dikbek-atmosfeer in.
“ Maar sal jy nou vir my luister? Kom ry net saam, ek wil kwekery toe en ek wil hê jy moet saam met my gaan. Toe, gaan poeier jou neus en kom net,” sien sy hy gaan nie teenstand duld nie.
Nege uur in die oggend wil die man nou gaan plantjies soek, wat gaan aan met hom? Sou hy besig wees om kens te word?
Sy trek maar ewe gedweë iets anders aan en klim saam met hom in die kar, met ‘n broeierigheid wat in haar binneste woed. Hy ry reguit kwekery toe, hulle loop oral deur al die mooi nuwe plante en struike, alles is so pragtig dat Petro tog bly is sy het saamgery.
Maar Sybrand loop doelloos rond, lyk nie soos iemand wat van plan is om plantjies te koop nie. Hy sien skaars die pragtige rose wat sy vir hom wys, raak.
“Nee wat, kom ons ry, ons het tyd gemors hier. Jy’t mos gesê jy het werk om te doen by die huis, kom ons gaan huis toe,” raak hy man-moeilik. .
Toe hulle by die huis stop, staan al hulle kinders se karre in die oprit. Elkeen van die kinders het ‘n afstandbeheer toestel vir die hek en ook sleutels vir die huis.
“Ag nee, wat soek hulle almal nou so vroeg op ‘n Donderdagoggend hier? Ek is nie nou lus vir ‘n gekuier nie. Het jy geweet hulle kom?” vra Petro, sommer dikbek.
“ Weet van niks, kom ons gaan hoor maar wat hulle wil hê.”
Binnegekom, sien sy al drie haar kinders, haar twee pragtige meisiekinders en haar seun, Bartel is by die eetkamertafel bymekaar, dit is oorlaai met teegoed en eetgoed, maar almal kyk haar met groot verwagting aan. Hulle loer aaneen na die muur van die eetkamer.. maar…daar staan die klavier! Pragtig toegedraai in ‘n bloedrooi strik soos hulle maak wanneer ‘n mens ‘n nuwe kar koop.
“ Hoe?… Wat?” is al wat Petro kan uitkry. Stomgeslaan stap sy na die klavier toe en streel oor die hout, bekyk dit in ongeloof en kan haar trane nie keer nie.
“Hoe het dit hier gekom, en waarom is julle almal hier?” wil sy nou weet.
“ Waar kom die klavier nou vandaan? Ons het dit dan twintig jaar gelede aan die skool verkoop.”
Hulle het die pragtige huis gekoop, toe nog baie bekostigbaar, maar met die rentekoerse wat in 1992 so hemelhoog styg, raak hulle al hoe meer bekommerd. Petro spring in en maak kinderklere om te verkoop, probeer op enige manier geld inkry om die huis te red.
“Mina, ek weet nie wat gaan gebeur nie, sê nou ons kan nie die rentekoerse byhou om die huis te behou nie? Sybrand werk hom dood aan ekstra werk, maar daar is net nie genoeg om al die gate toe te stop nie,” sê sy eendag vir haar vriendin terwyl hulle sit en teedrink in die kombuis.
“ Het jy gehoor meneer Fouché by die hoërskool soek ‘n klavier om te koop? Ek weet jou klavier is jou hartsliefde, maar dink daaroor.” Petro dink lank daarna nog aan die idee van die klavier, wik van ja, doen dit tot nee, moenie.
“ Meneer Fouché, dis Petro Niemand wat praat, ek verstaan u soek na ‘n klavier om te koop vir die skool. Ek het een wat u by my kan koop,” neem sy een Maandagoggend die dapper stap, sonder om vir Sybrand te sê.
Toe meneer Fouché en ‘n ander onderwyser die klavier kom haal is sy opmerking,” Mevrou, jy het ‘n baie goeie ding gedoen, dink net aan al die plesier wat die klavier vir so baie kinders gaan verskaf!” Seker maar net om haar beter te laat voel.
“Hoe kon jy dit doen, Petro?” is Sybrand se reaksie toe sy hom die aand vertel wat sy gedoen het, maar hy is tog verlig om ‘n paar gate toe te stop en die verband ‘n hupstootjie te gee. Vir die kinders vertel hulle die skool het die klavier geleen, en hulle was nogal trots dat ‘meneer’ hulle klavier geleen het, tot hulle later self agtergekom het die klavier kom dan nie terug nie.
“Ma moet nie eers vra nie, was dit nou ‘n mission! “ is Wenda se eerste opmerking. “ Ons het so ses maande gelede besluit om dit vir ma terug te kry, betyds vir ma se verjaardag, maar ons het nogal gesukkel, hoor!”
“ Ja, Wenda het eerste vir meneer Fouché gaan vra of ons nie die klavier kan terugkoop nie, “ voeg Aldi by. Sy vryf oor haar hare soos sy nog altyd gemaak het as sy opgewonde is.
“ Het jy vir meneer Fouché dit gaan vra, Wenda? En wat sê hy toe?” wil Petro weet.
“Ma, hy was baie gaaf, en hy’t gesê dis ‘n baie mooi ding wat ons wil doen hy sal ons graag wil help, maar hy weet regtig nie waar die klavier is nie, hulle het intussen al ‘n hele paar nuwe klaviere aangekoop vir die saal. Ek was eers moedeloos, maar toe kom Aldi met ‘n ander plan,” vertel haar oudste en mooiste dogter vir haar.
“ Ja, ek het toe onthou van juffrou Marais wat daai tyd die klavier gespeel het in die saal, en ek het by Ignatius, haar seun, uitgevind waar sy nou bly. Dit is sommer hier naby. Sy was maar te gewillig om my te gaan help soek na die klavier, sy was seker dit was iewers in ‘n stoorkamer weggebêre.”
“ In elke stoorkamer het ons ou dromme, konsert versierings, skool tafels, stoele, hier en daar ‘n ou kantoorstoel, maar ons kon nie die klavier kry nie!” vertel Aldi ingenome.
“ Uiteindelik het hulle toe die klavier gekry, Ma. In die klein stoorkamertjie onder die verhoog, daar waar alles uit die verlede onder die stof gelê en wag het om te vergaan!” skaar Altus, Wenda se man, hom nou ook by die verduideliking. Vir Petro word dit al hoe duideliker dat hierdie klompie kinders van haar kop-in-die-mus was om hulle ma te verras!
“ Meneer Fouché was baie bly dat ons die klavier gekry het, en wou dit summier vir ons teruggee, maar hy sê toe die Skolewet bepaal hy moet alles wat op sy eiendomstaat elke jaar vir die Departement verklaar, en as die klavier nie daar is nie, sal hy in groot moeilikheid wees, so ons sal die klavier moet vervang sodat hy dit op sy staat kan wys,” kom Bartel, Petro se seun ook nou in op die storie.
“Nou was julle dan almal by meneer Fouché?” wil Petro weet. Sy loop op en af in die eetkamer, hande agter haar rug, frons op haar voorkop.
“Ja, my pop, dit was ‘n familie poging, ons het almal saamgewerk om jou klavier vir jou terug te kry, ek onthou nog al die jare my belofte daar op die plaas naby Secunda,” verseker Sybrand haar. “ Selfs my besoek aan die kwekery was deel van die plan,” sê hy breëbors.
“ Maar julle het dan nou my klavier terug?” wil sy weet. Haar familie maak haar nou baie paniekerig, hoe het hulle al die dinge reggekry? Sy het lankal vrede gemaak daarmee dat sy nie meer haar klavier het nie en nooit weer sal hê nie.
“Bartel het ‘n advertensie op Gumtree gesien van iemand wat ‘n klavier, baie soos Ma s’n, te koop aanbied. Ons het gaan kyk en ooreengekom met die prys. Maar was dit nou ‘n ding om die klavier daar uit te kry! Dit was in ‘n musiekkamer op die boonste vloer van ‘n dupleks eenheid. Ons moet dit met toue laat afkom!” vertel Aldi verder.
Petro gaan sit die volgende oggend vroeg voor haar klavier, maak die klap oop en sien vir die soveelste keer daar staan duidelik “Petro’ aan die binnekant, vryf liefderik oor die patrone op die bokant. Sy stap na haar gangkas, gaan haal haar musiekboeke wat sy twintig jaar tevore gebêre het.
Die volgende oomblik klink die klanke van “Oh, Danny Boy” deur die hele huis. Sybrand hoor hoe sy speel en sing, en sak behaaglik terug teen die kussings.

© Elsabe de Beer 2016

Lewer kommentaar