Stellamarie is nou beskikbaar

Die boek wat op Leo volg, is Stellamarie. Dis ook verkrygbaar by Groep 7.

Nadat Leo, die buiteaardse wese op planeet aarde beland het, het hy en sy redder (‘n mediese dokter) verlief geraak en is later getroud. Alhoewel dit ‘n logiese uitvloeisel in die storielyn is, wag daar op hulle ‘n hele aantal buitengewone avonture. En natuurlik, met die geboorte van hulle dogter, Stellamarie, wat ook buitengewone kragte van haar pa erf, kan dit net lei tot verdere spanningsvolle situasies waar die aarde se soms wrede en sondige natuur blootgelê en beveg moet word …
Die goeie woordgebruik en dialoog van Leo word hier voortgesit. Al die gebeure volg logies op mekaar en is baie na aan die werklikheid soos ons dit ken – al is dit wetenskapsfiksie. Die storie spring nie onnodig rond tussen verlede hede nie. Uit die aard van die saak word sekere gebeure uit Leo soms kortliks herhaal om die leser net weer op die spoor te bring.
Weer eens word spanning knap opgebou sodat die leser altyd wil weet wat uiteindelik gaan gebeur en of Leo en Stellamarie in hierdie wêreld sal en kan oorleef. Soos reeds gesê word die verhaal in keurige Afrikaans vertel. Christelike waardes word subtiel sonder oordrewe melodrama aangebied. Dit wat in die samelewing verkeerd en wreed en onmenslik plaasvind word sonder pretensie aangespreek. Die leser leer gaandeweg ‘n paar lesse rakende menseverhoudings. Waarom al hierdie dinge gebeur weet ons nie, maar sekerlik is die manier waarop ons dit hanteer uiters belangrik vir medemenslike saambestaan. Enkele aanhalings ter ondersteuning is die volgende: “Die aardbewoners het hulle verset teen die gedagte van verskeidenheid, weer besluit om self te bepaal wat goed is en wat kwaad en gaan saamtrek by Babel, selfs met die doel om die woonplek van die Skepper te bestorm.”
“Mense praat dikwels dieselfde taal en verstaan mekaar steeds nie. Dit lei tot vervreemding, misverstand, oorlog en geweld, wat nooit die oorspronklike doel van verskeidenheid was nie.”
Die temas is aktueel, ons lees en hoor daagliks daarvan in die pers. Ons kan nie verstaan waarom hierdie dinge gebeur nie, maar tog is daar die hoop dat wreedheid en onchristelike aksies uitgeroei sal kan word – veral as die mens werklik kan ontwikkel soos wat buiteaardse wesens moontlik al in ‘n positiewe rigting ontwikkel het.
Stellamarie is ‘n baie leesbare boek met baie spanning en intriges wat die leser voortdurend aan die wonder het. Die ontknoping is vars en laat die leser dink oor ons doel op hierdie sondige aarde. “Ons word letterlik gebore met ’n soort skild teen die aarde se gebrokenheid en, soos ons groter word, word dit dikker en sterker, by party mense so dik dat hulle naderhand heeltemal gevoelloos raak.”
Die leser sal ook na die lees van die boek wonder: Hoe het Stellamarie se lewe op aarde verder verloop …?
©Martiens Fourie

Image may contain: 1 person, text

Lewer kommentaar