Kry Leo by Groep 7

Hiermee ’n advertensie van my eerste boek, ’n wetenskapsfiksie-verhaal met ’n godsdienstige inslag.

Die boekindruk lui soos volg:

Wetenskapsfiksie met godsdienstige boodskap

Wat doen jy as jy een aand op ’n verlate plaaspad ’n vreemde wese in die pad sien staan? Jy sien dat hierdie wese beseer is en hulp nodig het – hulp wat jy kan gee omdat jy ‘n dokter is …

Só begin die verhaal van LEO, ’n ruimtewese wat deur sy eie nuuskierigheid en goedhartigheid te naby aan die aarde gekom het. As gevolg van sy “ongehoorsaamheid” moes hy sy tuig vernietig en is hy nou op die bose aarde gestrand. Waar hy vandaan kom bestaan wreedheid en “sonde” nie. Gaan hy hier op die aarde aanpas?
Anna van der Walt kry dit reg om met goeie woordgebruik en dialoog die verhaal van LEO aan ons te vertel. Die karakters word oortuigend geteken en die menslike gedrag – goed én sleg – word voortdurend uitgelig.

Alles wat dus met LEO en sy aardse vriende gebeur, is eg menslik. Veral vir hom is dit aanvanklik moeilik om aan te pas in hierdie “sondige” wêreld waarin hy hom nou bevind: “Omdat ek nie … mag teruggaan nie, moet ek … soos die aardmense word … een van julle.”

Ook moet sy nuwe aardse vriende aanpassings in hulle eie lewens maak.

Die verhaal word chronologies aangebied en bou op tot spanningsvolle gebeurtenisse wat die leser noop om aan te hou lees. Omdat hierdie gebeure in ’n doodgewone Suid-Afrikaanse stad en omgewing plaasvind, is alles geloofwaardig ten spyte van die psigiese kragte wat die ruimtewese kan gebruik om geregtigheid te laat seëvier.
Die skryfstyl is vloeiend en die aandag word behou deurdat hoofstukke só eindig dat die leser dadelik met die volgende hoofstuk wil begin. Die spanning bou voortdurend op, en deur slim van ander karakters gebruik te maak (die “gang” wat vir LEO moet beskerm) word hy ingelei in die aarde se lewenswyse.

Alhoewel die verhaal christelik godsdienstige temas bevat, kom dit nie soetsappig en dweperig voor nie. Dit is bloot gewoon-menslike lesse wat aan die leser oorgedra word – soos dat oortredings gevolge het. En: “Is dit nie die oerbron van al … die pyn en lyding op die aarde nie? Die begeerte om self te besluit wat goed is en wat kwaad?” (p.118)

Leo is ’n boek wat deur aanhangers van wetenskapsfiksie geniet sal word, maar ook deur almal wat graag vir ontspanning lees. Al speel verbeelding ’n baie groot rol, soos wat dit ook in wetenskapsfiksie tuishoort, en ruimtewesens (dalk) nie bestaan nie, is die gebeure geloofwaardig en menslik. Leo wys ons wat deernis en betrokkenheid kán beteken.

En wie sê dat dit nie tóg kan plaasvind nie – daar is deesdae al hoe meer berigte dat ons reeds met buiteaardse wesens kontak gemaak het …
©Martiens Fourie

Die is verkrygbaar by Groep7 en enige boekhandelaar kan ook verosek word om dit aan te koop vir enigiemand wat mag belangstel,

 21740484_488148474884950_2788225017058293886_n.jpg

Lewer kommentaar