Wat is Elektroniese Publisering?

Enige skrywer se droom is om hul skrywes gepubliseer te sien. Tot onlangs was die droom beperk tot gedrukte boeke wat (indien dit deur ‘n uitgewer gepubliseer is) redelik buite die skrywer se beheer was of (indien die skrywer dit self laat druk het) op ‘n koffie tafel in die sitkamer op ‘n stapeltjie gelê het vir die volgende vriend of familielid wat ‘n eksemplaar wil aankoop.
Met die tegnologiese revolusie het die wêreldwye web egter daardie grense ook vir skrywers verskuif. Elke skrywer kan nou hul skrywes die elektroniese lug laat sien.
Ek self is ‘n elektroniese gepubliseerde skrywer, en alhoewel ek al ‘n paar skewe kyke gekry het (omdat dit nie “regte” publisering is nie), het my boeke bo my eie verwagting verkoop. Vriende en vreemdes in Amerika, Australië en Europa kon met die kliek van ‘n knoppie my boeke aflaai en lees sonder dat ek fisies met een van hulle in aanraking gekom het.
In Amerika was daar ‘n duidelike verhoging van elektroniese boek aankope gesien tussen 2008 (1$ uit elke 100$ van boek aankope was elektroniese aankope, teenoor in 2014 se 23$ uit elke 100$) Dit is ‘n 2200% verhoging in 6 jaar!
Selfs opvoedkunde het drasties begin beweeg na elektroniese handboeke wat weer ‘n geweldige besparing vir ouers teweeg gebring het op die gebied.
Maar, hoekom sou ‘n skrywer elekroniese publikasie verkies?
– Tyd: Die tyd wat dit neem om ‘n manuskrip te publiseer is aansienlik minder as mens die elektroniese roete neem
– Beheer: Die skrywer het meer beheer oor die verkope en die tantieme is in meeste gevalle beter
– Minder uitgawes: Die uitgawes is radikaal minder as mense elektronies publiseer
– Meer toeganklik: Jou boek is wêreldwyd beskikbaar vir enige iemand om te lees.
Wat verhoed mense om elektronies te publiseer?
– Vrees vir die onbekende: Meeste skrywers met wie ek gesels het is skrikkerig vir elektroniese publisering. Moenie wees nie, as jy nie waag nie, gaan jy nie wen nie!
Wat is die geheim tot elektroniese publisering / in watter gevalle werk dit?
– Daar is twee geheime tot elektronies publisering:

1. Kry ‘n betroubare persoon om dit vir jou te doen

2. BEMARKING – indien jy nie vir die wêreld gaan vertel dat jou boek beskikbaar is nie, gaan niemand dit koop nie. Stuur vir mense Whatsapp boodskappe met die skakels, plaas advertensies op Facebook, sluit aan by Klubs, doen alles wat jy kan om jou boek te bemark, dan sal jy sukses behaal! Jy moet jou lesers gewoond maak aan die idee dat hulle jou boek elektronies kan aankoop, herinner hulle dat hul nie noodwendig ‘n Kindle toestel nodig het nie, maar wel op selfone, skootrekenaars en gewone rekenaars die boek kan aflaai en lees.

Uitgewers begin deesdae die elektroniese publisering as deel van hul pakkette aanbied en daar is ook individue wat jou kan help om elektroniese te publiseer.
As skrywer kan ek elektroniese publisering aanbeveel, jou boek mag dalk ‘n topverkoper word, of jou vriendin in Australie gaan die geleentheid kry om jou boek te lees. Hoe dit ook al sy, dit is die moeite werd om te probeer.

– Juanita Swart

 

4 thoughts on “Wat is Elektroniese Publisering?

Lewer kommentaar