Janie se wenke

Janie se wenke vir die skryfproses:
Ons was bevoorreg om vir Janie Oostuysen van Skryfgeheime by ons Kaapse boekbekendstelling te hê op Saterdag 9 September.
Sy het nie haar kursusse geadverteer nie, maar ek gaan! Doen ʼn skryfkursus by haar, sy gee vir jou al die “tools” om korrek te kan skryf.
Eerstens het sy gepraat oor die verskillende tipes skrywers wat jy kry;
Wat-skrywers; Wie-skrywers; woorde-skrywers ens. Sy sê ek is ʼn woorde skrywer, my kop is vol idees, maar ek sukkel om dit in min genoeg woorde te skryf, dit borrel net uit! Ek dink baie van ons is so.
Om jou storie of roman te beplan: Janie sê jy moet jou idee kry, gaan sit en net skryf, skryf, skryf. Op hierdie stadium steur jy jou nie aan taalfoute, leestekens ens nie. Jy skryf net alles wat in jou kop kom. Jy eindig dalk met 100 000 woorde. Nou het jy jou GROOT prentjie oor waaroor jou storie gaan.
Dan los jy hom. Na ʼn paar dae gaan jy terug en begin uithaal wat jy voel nie werk nie, verander soos jy dink die leser sal dit wil lees. Onthou, jy skryf om jou gedagtes uit jou sisteem te kry, maar jy skryf vir ʼn spesifieke teikenmark.
Volgende stap is: Haal alle onnodige en irriterende woorde uit, soos te veel en,en,en kan ʼn storie sink. Haal alle onnodige byvoeglike naamwoorde uit. Moenie sê “Die lang man staan baie stadig op langs die hoë groen boom.” nie, eerder: “Die lang man staan stadig op langs die hoë boom.”
Besluit uit watter oogpunt jy jou storie wil skryf:
Die eerstepersoonverteller – ek. M.a.w. jy vertel die storie, maar jy kan nie sien of weet wat ander dink nie, jy moet uit hulle reaksies toon wat hulle voel en dink.
Die tweede persoonverteller – hy/sy: jy vertel dit uit iemand anders in die stories se oogpunt. Hierdie verteller kan nie sien wat die hoofkarakter dink of voel nie, dit moet in optrede geteken word.
Die alom-teenwoordige verteller: Hy sien die storie uit ʼn ander oogpunt en weet wat elkeen dink en voel en beskryf dit.
Jou storie moet ʼn spanningslyn hê. Die leser moet aan die einde kan dink: “Ooo dis waarom die armband aan die begin moes wegraak” of so iets.
Sodra jy tevrede is met jou storie-idee, na ʼn lang geswoeg, kondenseer jy dit in 2,000 of 1,500 woorde vir ʼn kortverhaal of ongeveer 60 000 woorde vir ʼn roman.
ʼn Kortverhaal is soos ʼn klein vergrootglas op ʼn klein stukkie van iemand se lewe.
Janie, ons sê vir jou baie, baie dankie.
Alhoewel ek alles wat Janie gesê het, soos ʼn spons opgesuig het, is daar dalk iets wat julle ander gehoor het wat ek vergeet het. Plaas asseblief dan dit ook hier!

Lewer kommentaar