Verlore Jare deur Ans van der Merwe

Verlore jare
Dokter Tom bring sy luukse voertuig voor Astoria Kafee tot stilstand. Stram van die ver ry klim hy uit die voertuig, hy kyk die stil straatjie van die plattelandse dorpie op en af. Voor die supermark op die stoep sit ‘n klein vroutjie en bedel, erg verwaarloos.
Tom draai om. Hy stap die Astoria binne. Daar koop hy ‘n pastei met koeldrank, betaal daarvoor, klim in sy motor en ry na die Marico Hotel waar hy die aand gaan oornag.
Die vertrekkie is klein maar keurig gemeubileer. Tom eet eers sy pastei voor hy gaan stort om in die bed te gaan klim. Hy kan nie dadelik aan die slaap raak nie, opgewonde oor sy kort vakansie in sy geboortedorp.
Dokter Tom het in die vroeë sestigs hier gematrikuleer. Hy is daarna stad toe om in die medies te gaan studeer. Die een sukses het op die ander gevolg. Tom was nog jonk toe hy ‘n spesialis geword het. Harde werk met ‘n hunkering na sukses het gemaak dat Tom maar min platteland toe gekom het. Sy ouers is in sy vroeë dertigs kort na mekaar oorlede. Hy het na die begrafnis sy jonger sussie Amanda hier agtergelaat, hy is terug Kaap toe waar hy sy eie lewe gelei het.
Tom onthou nog hoe hy en Amanda, sondae vir die oumense in die ouetehuis gaan kuier het. Hy sien nog die blink ogies van die oues as hy op die klavier gespeel het en Amanda vir hulle in ‘n suiwer sopraan stem gesing het. Tom hoor weer die luide applous as hulle opstaan en soos wafferse musikante voor die oues van dae gebuig het. Die opregte waardering op die ou mense se gesigte kon hulle maar net nie weghou van die oumense nie.
Vandag het Tom na al die jare teruggekeer om na sy enigste suster te kom soek. Hy weet sy woon nog hier, hy hoop maar dat sy nog in hul ouerhuis woon.
Vroeg die volgende oggend is Tom vroeg op, klaar aangetrek vir die dag wat voorlê. In die eetsaal kyk almal hom nuuskierig aan terwyl hy smaaklik aan sy plaasontbyt smul.
Tom ry rustig in sy luukse voertuig die een straat op en die ander af. Zeerust het nie veel verander nie. So hier en daar is ‘n nuwe besigheid of ‘n huis gebou. Die ou supermark met sy duursame klerewinkel langsaan, bestaan nog al die tyd.
Die middag eet Tom sommer iets by die Astoria voor hy afsit na die Hoërskool se atletiekveld. Daar beleef hy weer sy laaste jaar se prestasies met die hekkies en rugby. ‘n Rilling gaan teen sy ruggraat af, as hy opkyk na die leë pawiljoen voor hom.
Tom ry na hul ou huis in Jean straat. Daar wag ‘n groot skok op hom. Van die eens groot netjiese tuin het net ‘n woeste oerwoud oorgebly. Die eens deftige herehuis se verf dop af, die stoep se een muurtjie het omgeval. Stene lê besaai oor die eens deftige blombedding wat sy ma so sorgvuldig met liefde behandel het.
Hy klop aan die deur staan terug om te wag, maar behalwe vir die voëls se gekwetter in die bome is dit grafstil op die stoep. Tom klop weer aan, dan stap hy om die huis. Hy kyk deur ‘n oop gordyn. Hy herken van sy ouers se ou meubels. Pyn lê duidelik sigbaar op sy gesig. Alles is verwaarloos, vuil skottelgoed lê die hele vloer vol, ‘n bedompige reuk kom by die half oop vensters uit. Tom voel hoe die naarheid in hom opstoot. Wat gaan hier aan, wonder hy, Amanda was altyd ‘n netjiese mens.
“Soek jy iemand meneer?” vra ‘n donkerkop meisie oor die draad.
“Ja dame, die vrou wat in die huis bly, Amanda,” antwoord Tom, hy verwonder hom aan die meisie se groot swart oë.
“Sy kom nie baie hier nie meneer, hoekom soek u haar?” vra die meisie aan Tom.
“Sy is my suster dame, ek …” sê Tom. Hy stomp sy gesprek af as hy die verbasing op die mooi meisie se gesig sien.
“Nee meneer, ek weet nie waar sy is nie,” sê die meisie, sy draai vinnig om en loop weg.
Verbaas kyk Tom die meisie agterna en wonder hoekom dit vir hom lyk of sy van hom af wegvlug.
Die aand aan etenstafel knoop Tom ‘n gesprek aan met ou Cooper die eienaar van die hotel.
“Mnr Cooper hoe lank is u nou in Zeerust?” vra Tom.
“Al veertig jaar lank dokter, ‘n leeftyd,” antwoord Cooper, sy lewendige ogies is skitterblink.
“Mnr ken nie dalk vir Amanda wat in Jean straat bly nie?” vra Tom hoopvol.
“Amanda? Hoekom dokter?” vra Cooper. Tom bespeur die agterdog in sy oë.
“Dit is my suster mnr Cooper, ons het met die jare vervreemd geraak,” antwoord Tom.
“Amanda, jou suster dokter?” vra mnr Cooper met ‘n frons tussen sy oë.
“Ja mnr Cooper, weet u waar ek haar kan kry?” vra Tom.
“Dokter jy moet jou oë oopmaak, jy is vandag ‘n paar keer op straat by haar verby,” sê mnr Cooper as hy te vinnig van Tom af wegstap.
Vanaand sukkel Tom om aan die slaap te raak. Hy kan nie glo hy kon by Amanda verbystap sonder om haar te herken nie, of kon hy, wonder Tom. Het sy dan soveel verander na al die jare.
Met ‘n gestoei raak Tom later aan die slaap, maar slaap baie onrustig. Te vroeg is hy wakker. Hy voel ‘n hoofpyn teen sy slape klop van die min slaap. Hy staan op, gaan stort, trek aan, klim in sy motor dan ry hy Schephtonsnek uit tot bo. Bo-op gaan hy by die uitkykpunt stop om te wag vir die dorp om aan die lewe te kom.
Nege uur ry hy stadig die nek af terug dorp toe. By Volkskas bank gaan trek hy eers geld en handel sy bankbesigheid af.
Tom voel dat hy honger is. Hy koop sommer ‘n broodjie en koffie by die Astoria. Hy bestudeer elke vrou wat die kafee inkom, maar nie een van hulle lyk soos Amanda nie. Mnr Cooper het tog gesê hy het gister by haar verby geloop op straat. Maar niemand lyk bekend nie.
In die verbyloop gooi Tom‘n muntstuk in die bedelaarsvrou se blikkie. Hy sien nie hoe sy opkyk met erkenning wat in haar oë opvlam nie. Tom weet nie van die trane wat sy vinnig met ‘n vuil sakdoek van haar wange afvee nie. Hy het net een doel voor oë, om vir Amanda op te spoor, sy is al wat hy na sy gejaagde lewe oor het.
Tom draai die motor se aansitter, hy sit die motor in rat. Hy skrik as hy die bedelaarsvrou skielik langs sy motor sien staan. Iets aan haar gesig laat hom weer na haar kyk. Skokgolwe trek deur sy liggaam.
Tom skakel die motor af. Stadig maak hy die motor se deur oop en klim uit. Ongeloof duidelik sigbaar op sy moeë gesig.
“Amanda?” vra hy.
“Ouboet, ja dit is ek. Ek is so jammer..” stotter Amanda terwyl haar smal skouertjies ruk soos sy snik. Trane vloei vrylik oor haar wange, sy doen nie meer moeite om dit af te vee nie.
Tom neem sy kleinsussie in sy arms. Hy lei haar na die passasiers kant van die motor.
“Toemaar kleinsus, alles is verby, ek is nou hier om na jou om te sien,” troos Tom. Hy help haar die motor in.
“Van nou af hoef jy jou nie meer oor enigiets te bekommer nie,” sê Tom terwyl hulle na hulle ouerhuis ry.
Tom help sy swak sussie bad en hare was. Hy kan sien dat sy deur die jare baie swaar gekry het, hy verwyt homself dat hy nie daar was vir haar nie. Wanneer sy skoon gebad en aangetrek is, met een van hul ma se ou rokke, kan hy hom vergaap aan sy kleinsus se skoonheid.
“En nou Ouboet, wat nou?” vra Amanda
“Nou gaan ek die eiendomsmakelaar sien om die huis in die mark te sit, dan vat ek jou hier weg,” sê Tom.
“Wanneer gaan ons weg Tom?” vra Amanda.
“Ons ry vanaand nog Amanda, as daar iets is wat jy wil saamneem moet jy dit nou inpak. Ek gaan net my klere by die hotel kry dan kan ons ry,” sê Tom
Tom besoek die eiendomsagent om die huis in die mark te sit. Hulle reël dat die meubels verkoop word. Tom stop by die hotel om sy klere te gaan haal.
“Totsiens mnr Cooper, dankie vir alles, my verblyf hier was aangenaam,” groet Tom die ou man vriendelik.
“Kom kleinsus, daar is baie verlore jare wat ek en jy sal moet inhaal,” sê Tom as hy vir Amanda die deur oophou om in te klim.
Al geselsend laat hulle die klein dorpie met al die jare se hartseer agter.
© ANS VAN DER MERWE 07/04/2017

Lewer kommentaar