Wat skud op SA Skrywers Facebook groep?

Onthou van ons verskillende bene op SA Skrywers:
1. Kort stories (essays) 500 woorde elke week word een voorgelees deur Ria Fourie op Rainbow Gospel Radio. E-pos aan my en aan Ria direk by woordennoot@gmail.com met die opskrif essay.
2. Stuur ‘n kort, grappige storie van so 500 woorde aan egafrikaans by D@anie.co.za
2. Die roman wedstryd van die US Woordfees.Sluitingsdatum 30 September
3. Skryf ‘n kinderverhaal vir 6- 13 jariges Julle hoef nie prentjies by te he nie.. E-pos vir elsabedebeer8@gmail.com
4. Ons uitdaging vir ons Kontreibundel; ons trek nou by Uitdaging 14. Begrafnis op Reddersburg. Nie meer as 2 000 woorde nie. Onthou, dit moet op ‘n klein, plattelandse dorpie afspeel.

Terugvoer: Uitdaging 13

Terugvoer oor skryfwerk : Uitdaging 13
Dankie vir elke inskrywing. Daar was baie goeie storie-idees.
Enkele opmerkings:
• Vermy langdradige handeling, dit verbreek die spanning van die storie en laat die leser se gedagtes afdwaal.
• Skryf vir jouself eers ‘n “backstory”, dit help jou om jou karakters te leer ken. Wat is die kern van jou storie? Wat wil jy aan die leser oordra?
• Dink mooi oor ‘n uitdaging, bv. Boere-opskop op Bitterfontein. Hoe klink dit vir jou? Is dit ‘n storie oor ‘n lekker opskop vol lewendige karakters of net ‘n vertelling van gebeure wat plaasgevind? Vra jouself vrae voor jy wegspring om te skryf.
• ‘n Kortverhaal het min woorde, passop vir te veel onnodige karakters. “Head-hopping is hinderlik.
• Mooiskrywery, het ek reeds voorheen genoem.
Hou aan skryf, dit is hoe mens jouself herontdek en beter raak. Dit hou nooit op nie, enige skrywer kan ALTYD verbeter. Ek praat met myself ook!

Digwenk

Digwenk vir die week. Probeer gerus goeie sinnonieme gebruik vir die holrug geryde woorde. n Goeie Afrikaanse Verklarende Woordeboek kan help hiermee. So leer jy nuwe woorde en gee n dieper dimensie aan jou gedig.

Taalwenke 4

Ek stel voor dat julle hierdie uitdruk en BAIE goed bestudeer:
TAALWENKE 4
4.1: Ontkenningsvorm
‘Geen’ (of gʼn) of ‘geeneen’ word gewoonlik deur ʼn ‘nie’ aan die einde van die sin gevolg.
Geen aansoeke is ontvang nie.
Geeneen het geantwoord nie.
MAAR:
Wie het geantwoord? Geeneen.
Dit het geen nut.
4.2. Byvoeglike naamwoorde met ‘-lik’
Byvoeglike naamwoorde wat op ‘-ig’ eindig, word net so as bywoord gebruik, sonder die agtervoegsel ‘-lik’
Bloedig vererg (NIE: bloediglik)
Naarstig soek (NIE naarstiglik)
Wettig verbind (NIE: wettiglik)
4.3. Lidwoorde
‘Miljoen’,’ miljard’ en ‘triljoen’ word deur ‘ ʼn’ voorafgegaan, maar ‘honderd ‘ en ‘duisend’ word daarsonder geskryf.
ʼn miljoen motors
ʼn miljard rand
ʼn triljoen korrels sand
MAAR:
honderd motors
duisend mense
4.4. Werkwoorde wat op ‘-eer’ eindig
By werkwoorde met twee lettergrepe, met die klem op die tweede lettergreep, is daar ʼn keuse of die verledetydsvorm van die werkwoord met of sonder ‘ge-‘ geskryf word, tensy die werkwoord met ʼn voorvoegsel begin.
Hanteer of gehanteer
Studeer of gestudeer
Beseer (NIE: gebeseer)
Vereer (NIE: gevereer)
By werkwoorde met drie of meer lettergrepe. Moet die verledetydvorm met ‘ge-‘ geksyf word. Tensy die werkwoord met die voorvoegsel ‘ver-‘ begin.
Geherstruktureer
Geïgnoreer
Verkleineer (NIE: geverkleineer)
4.5. Voltooide deelwoorde as byvoeglike naamwoorde
Wanneer ʼn voltooide deelwoord met ‘-eer’ as byvoeglike naamwoord gebruik word, moet dit met ‘ge-‘ geskryf word, tensy dit met ‘be-, ont-‘ of ‘ver-‘ begin.
gegroepeerde voorbeeld
geïllustreerde bladsye
verteerde kos (NIE: geverteerde kos)
ontbeende vleis )NIE: geontbeende vleis)
4.6. Voornaamwoore:
4.6.1. Die uitsluitlike gebruik van die persoonlike voornaamwoord ‘hy’ of ‘sy’ of besitlike voornaamwoord ‘sy’ (of ‘haar’) wanneer ʼn persoon se geslag onbekend is, word as seksisties en misleidend beskou.
(NIE: Daar word van ʼn bestuurder verwag om sy motor se vensters te was.)
(NIE: ʼn Kinderoppasser moet altyd betyds vir haar skof opdaag.)
Die beste oplossing vir hierdie probleem is om die meervoudsvorm te gebruik.
Daar word van bestuurders verwag om hulle motors se vensters te was.
Kinderoppassers moet altyd betyds vir hulle skofte opdaag.
Indien die meervoud glad nie kan werk nie, kan ‘hy ‘ of ‘sy of haar’ as laaste opsie gebruik word.
Help die pasiënt waar nodig. As hy of sy nie self kan loop nie, organiseer ʼn rolstoel
ʼn Kinderoppasser moet altyd betyds vir sy of haar skof opdaag.
4.6.2. Die wederkerende voornaamwoord word dikwels verkeerdelik in plaas van die persoonlike voornaamwoord gebruik.
Die taak is deur my en die bestuurder uitgevoer.
(NIE: Die taak is deur myself en die bestuurder uitgevoer.)
Hy het hom bloedig vererg.
(NIE: Hy het homself bloedig vererg.)
WENK: Werkwoorde wat slegs wederkerend gebruik kan word, neem nie die wederkerende voornaamwoord nie, want uit die aard van die werkwoord is dit duidelik na wie verwys word. Byvoorbeeld ‘bemoei’. ‘Ek gaan my nie daarmee bemoei nie’ (NIE: ‘Ek gaan myself nie daarmee bemoei nie.’)
Werkwoorde wat wederkerend óf nie-wederkerend gebruik kan word, kan wel die wederkerende werkwoord neem om verwarring uit te skakel. Byvoorbeeld ‘gun’ ‘Ek gun myself ʼn dag verlof’ OF ‘Ek gun jou ʼn dag verlof.’
Die woord ‘self’ kan ook terwille van nadruk gebruik word, soos in die sin ‘Ek het self al hoeveel keer dit gedoen’, om te beklemtoon dat jy van jouself en niemand anders praat nie.

Nuus van die Facebook groep

Onthou net almal wat my ge inboks het oor die 500 woorde skrywes, gaan voort om die vir my te stuur, asseblief. Ria gaan dit uitsaai! Skryf ‘n kort skets of iets interessant in nie meer as 500 woorde nie, en e-pos na my elsabedebeer8@gmail.com. Daar is nie ‘n sluitingsdatum nie, dit sal ‘n aanhoudende proses wees. Of julle kan sommer direk vir Ria e-pos by woordennoot@gmail.com

AANDAG!!
Dit blyk na aanleiding van ‘n vorige post dat daar lede is wat vrae het oor hoe ons die finansies rondom ons bundels hanteer?
Eerstens sal ons dit waardeer dat lede eerder die vrymoedigheid sal neem om my en Elsabe persoonlik te kontak, as om ‘n kabaal op die blad (deur ‘n “spooklid”) op te skop!
Op die oomblik werk dinge met ons bundels as volg:
– Ons gee julle GRATIS blootstelling in ons bundels. Ja, daar was wel R50 gevra vd proeflees van jou storie in Nostalgie bundel, maar ons moes daarna R1900 betaal vd her-proeflees van albei bundels omdat die standaard nie ons goedkeuring weggedra het nie.
– In die toekoms word die proeflees en redigering deur Elsabe en myself hanteer – GRATIS EN VERNIET- nadat ons geld betaal het vir kursusse om onself daarin te bekwaam.
– Die R50/60 wat julle betaal by Groep 7 per bundel, dek maande se keuring, proeflesing, bladuitleg, aankoop van buitebladfotos en ISBN nr asook die druk van die bundels.
– Tans dra ek, Elsabe en Groep 7 al die onkostes van bladpryse, uitgawes tov boekbekendstellings en spandeer ons met dis hulp van admin ure aan e-posse, oproepe ens daagliks om ons bundels blootstelling te gee.
– Lede betaal dus kosprys vir bundels wat hul dan self teen ‘n wins kan verkoop – R120
– Ons en ons admin doen gratis die blog en oorskakeling na e-boeke wat normaalweg vir kou tot R750 per bundel kan kos en ons hanteer die finansiële bestuur daarvan.
– Die wins op ‘n e-boek is min of meer R70, wat as ons dit deur 27 skrywers moet verdeel, skaars op R3 per persoon sal uitkom! Ons HET op die blad almal se toestemming gevra, of ons voorlopig die geld in ons groep-kitty kan hou vir die aanwending van pryse ens? Die antwoord was JA.
– Ons het tot op hede 6 e-boeke verkoop! Maw R18@ skrywer!! Ons glo julle sal verstaan dat die admin en uitbetalibg van sulke bedraggies verspot is??
– Ons belowe egter dat, sou die verkope van ons bundels drasties toeneem, ons wel later tantieme sal oorweeg!!
– Ons groepe bestaan nou 7 maande en die realiteit is ons is ALMAL onbekende skrywers wat blootstelling wil hê en op die stadium is ons uitsluitlike doel om SA SKRYWERS/DIGTERS op die MAP te kry.
– Indien hierdie reëlings nie op hierdie stadium vir jou as lid aanvaarbaar is nie, is jy welkom om jou skrywes op ander groepe en op jou eie manier te pubiseer.
– Ek en Elsabe het nog altyd oop kaarte gespewl oor hoe ons dinge doen op ons blaaie en julle almal probeer deelmaak van meeste besluite. Indien jy enige navrae het, is jy welkom om persoonlik met ons in verbinding te tree.
Dankie vir die luister.
Riana en Elsabe

 

http://uitmypengse.blogspot.co.uk/2017/08/resensie-van-sa-stories-se-nostalgie.html

Het van julle al Lynelle Engelbrecht Clark se resensie gelees van ons Nostalgie Bundel… pragtig laat my hart sommer tjoklits klop. Baie dankie Lynelle.

Nuwe Uitdaging: Skryf vir die Jeug

Kom ons probeer ‘n SA Skrywers Jeug afdeling:
Skryf ‘n storie geskik vir;
6-13 jariges- om en by 800 woorde.
Merk duidelik JEUG , plaas op die blad, en stuur vir my by elsabedebeer8@gmail.com voor 31 Oktober 2107. Kom ons kyk of julle belangstel

Verlore Jare deur Ans van der Merwe

Verlore jare
Dokter Tom bring sy luukse voertuig voor Astoria Kafee tot stilstand. Stram van die ver ry klim hy uit die voertuig, hy kyk die stil straatjie van die plattelandse dorpie op en af. Voor die supermark op die stoep sit ‘n klein vroutjie en bedel, erg verwaarloos.
Tom draai om. Hy stap die Astoria binne. Daar koop hy ‘n pastei met koeldrank, betaal daarvoor, klim in sy motor en ry na die Marico Hotel waar hy die aand gaan oornag.
Die vertrekkie is klein maar keurig gemeubileer. Tom eet eers sy pastei voor hy gaan stort om in die bed te gaan klim. Hy kan nie dadelik aan die slaap raak nie, opgewonde oor sy kort vakansie in sy geboortedorp.
Dokter Tom het in die vroeë sestigs hier gematrikuleer. Hy is daarna stad toe om in die medies te gaan studeer. Die een sukses het op die ander gevolg. Tom was nog jonk toe hy ‘n spesialis geword het. Harde werk met ‘n hunkering na sukses het gemaak dat Tom maar min platteland toe gekom het. Sy ouers is in sy vroeë dertigs kort na mekaar oorlede. Hy het na die begrafnis sy jonger sussie Amanda hier agtergelaat, hy is terug Kaap toe waar hy sy eie lewe gelei het.
Tom onthou nog hoe hy en Amanda, sondae vir die oumense in die ouetehuis gaan kuier het. Hy sien nog die blink ogies van die oues as hy op die klavier gespeel het en Amanda vir hulle in ‘n suiwer sopraan stem gesing het. Tom hoor weer die luide applous as hulle opstaan en soos wafferse musikante voor die oues van dae gebuig het. Die opregte waardering op die ou mense se gesigte kon hulle maar net nie weghou van die oumense nie.
Vandag het Tom na al die jare teruggekeer om na sy enigste suster te kom soek. Hy weet sy woon nog hier, hy hoop maar dat sy nog in hul ouerhuis woon.
Vroeg die volgende oggend is Tom vroeg op, klaar aangetrek vir die dag wat voorlê. In die eetsaal kyk almal hom nuuskierig aan terwyl hy smaaklik aan sy plaasontbyt smul.
Tom ry rustig in sy luukse voertuig die een straat op en die ander af. Zeerust het nie veel verander nie. So hier en daar is ‘n nuwe besigheid of ‘n huis gebou. Die ou supermark met sy duursame klerewinkel langsaan, bestaan nog al die tyd.
Die middag eet Tom sommer iets by die Astoria voor hy afsit na die Hoërskool se atletiekveld. Daar beleef hy weer sy laaste jaar se prestasies met die hekkies en rugby. ‘n Rilling gaan teen sy ruggraat af, as hy opkyk na die leë pawiljoen voor hom.
Tom ry na hul ou huis in Jean straat. Daar wag ‘n groot skok op hom. Van die eens groot netjiese tuin het net ‘n woeste oerwoud oorgebly. Die eens deftige herehuis se verf dop af, die stoep se een muurtjie het omgeval. Stene lê besaai oor die eens deftige blombedding wat sy ma so sorgvuldig met liefde behandel het.
Hy klop aan die deur staan terug om te wag, maar behalwe vir die voëls se gekwetter in die bome is dit grafstil op die stoep. Tom klop weer aan, dan stap hy om die huis. Hy kyk deur ‘n oop gordyn. Hy herken van sy ouers se ou meubels. Pyn lê duidelik sigbaar op sy gesig. Alles is verwaarloos, vuil skottelgoed lê die hele vloer vol, ‘n bedompige reuk kom by die half oop vensters uit. Tom voel hoe die naarheid in hom opstoot. Wat gaan hier aan, wonder hy, Amanda was altyd ‘n netjiese mens.
“Soek jy iemand meneer?” vra ‘n donkerkop meisie oor die draad.
“Ja dame, die vrou wat in die huis bly, Amanda,” antwoord Tom, hy verwonder hom aan die meisie se groot swart oë.
“Sy kom nie baie hier nie meneer, hoekom soek u haar?” vra die meisie aan Tom.
“Sy is my suster dame, ek …” sê Tom. Hy stomp sy gesprek af as hy die verbasing op die mooi meisie se gesig sien.
“Nee meneer, ek weet nie waar sy is nie,” sê die meisie, sy draai vinnig om en loop weg.
Verbaas kyk Tom die meisie agterna en wonder hoekom dit vir hom lyk of sy van hom af wegvlug.
Die aand aan etenstafel knoop Tom ‘n gesprek aan met ou Cooper die eienaar van die hotel.
“Mnr Cooper hoe lank is u nou in Zeerust?” vra Tom.
“Al veertig jaar lank dokter, ‘n leeftyd,” antwoord Cooper, sy lewendige ogies is skitterblink.
“Mnr ken nie dalk vir Amanda wat in Jean straat bly nie?” vra Tom hoopvol.
“Amanda? Hoekom dokter?” vra Cooper. Tom bespeur die agterdog in sy oë.
“Dit is my suster mnr Cooper, ons het met die jare vervreemd geraak,” antwoord Tom.
“Amanda, jou suster dokter?” vra mnr Cooper met ‘n frons tussen sy oë.
“Ja mnr Cooper, weet u waar ek haar kan kry?” vra Tom.
“Dokter jy moet jou oë oopmaak, jy is vandag ‘n paar keer op straat by haar verby,” sê mnr Cooper as hy te vinnig van Tom af wegstap.
Vanaand sukkel Tom om aan die slaap te raak. Hy kan nie glo hy kon by Amanda verbystap sonder om haar te herken nie, of kon hy, wonder Tom. Het sy dan soveel verander na al die jare.
Met ‘n gestoei raak Tom later aan die slaap, maar slaap baie onrustig. Te vroeg is hy wakker. Hy voel ‘n hoofpyn teen sy slape klop van die min slaap. Hy staan op, gaan stort, trek aan, klim in sy motor dan ry hy Schephtonsnek uit tot bo. Bo-op gaan hy by die uitkykpunt stop om te wag vir die dorp om aan die lewe te kom.
Nege uur ry hy stadig die nek af terug dorp toe. By Volkskas bank gaan trek hy eers geld en handel sy bankbesigheid af.
Tom voel dat hy honger is. Hy koop sommer ‘n broodjie en koffie by die Astoria. Hy bestudeer elke vrou wat die kafee inkom, maar nie een van hulle lyk soos Amanda nie. Mnr Cooper het tog gesê hy het gister by haar verby geloop op straat. Maar niemand lyk bekend nie.
In die verbyloop gooi Tom‘n muntstuk in die bedelaarsvrou se blikkie. Hy sien nie hoe sy opkyk met erkenning wat in haar oë opvlam nie. Tom weet nie van die trane wat sy vinnig met ‘n vuil sakdoek van haar wange afvee nie. Hy het net een doel voor oë, om vir Amanda op te spoor, sy is al wat hy na sy gejaagde lewe oor het.
Tom draai die motor se aansitter, hy sit die motor in rat. Hy skrik as hy die bedelaarsvrou skielik langs sy motor sien staan. Iets aan haar gesig laat hom weer na haar kyk. Skokgolwe trek deur sy liggaam.
Tom skakel die motor af. Stadig maak hy die motor se deur oop en klim uit. Ongeloof duidelik sigbaar op sy moeë gesig.
“Amanda?” vra hy.
“Ouboet, ja dit is ek. Ek is so jammer..” stotter Amanda terwyl haar smal skouertjies ruk soos sy snik. Trane vloei vrylik oor haar wange, sy doen nie meer moeite om dit af te vee nie.
Tom neem sy kleinsussie in sy arms. Hy lei haar na die passasiers kant van die motor.
“Toemaar kleinsus, alles is verby, ek is nou hier om na jou om te sien,” troos Tom. Hy help haar die motor in.
“Van nou af hoef jy jou nie meer oor enigiets te bekommer nie,” sê Tom terwyl hulle na hulle ouerhuis ry.
Tom help sy swak sussie bad en hare was. Hy kan sien dat sy deur die jare baie swaar gekry het, hy verwyt homself dat hy nie daar was vir haar nie. Wanneer sy skoon gebad en aangetrek is, met een van hul ma se ou rokke, kan hy hom vergaap aan sy kleinsus se skoonheid.
“En nou Ouboet, wat nou?” vra Amanda
“Nou gaan ek die eiendomsmakelaar sien om die huis in die mark te sit, dan vat ek jou hier weg,” sê Tom.
“Wanneer gaan ons weg Tom?” vra Amanda.
“Ons ry vanaand nog Amanda, as daar iets is wat jy wil saamneem moet jy dit nou inpak. Ek gaan net my klere by die hotel kry dan kan ons ry,” sê Tom
Tom besoek die eiendomsagent om die huis in die mark te sit. Hulle reël dat die meubels verkoop word. Tom stop by die hotel om sy klere te gaan haal.
“Totsiens mnr Cooper, dankie vir alles, my verblyf hier was aangenaam,” groet Tom die ou man vriendelik.
“Kom kleinsus, daar is baie verlore jare wat ek en jy sal moet inhaal,” sê Tom as hy vir Amanda die deur oophou om in te klim.
Al geselsend laat hulle die klein dorpie met al die jare se hartseer agter.
© ANS VAN DER MERWE 07/04/2017

Wenners! Baie Geluk

AANDAG!!!
DIE VOLGENDE RILLERS/SPOOKSTORIES WORD OPGENEEM IN ONS “BOE” – RILLERBUNDEL! (Gekies uit 41 inskrywings)
Zombie Republiek – Juanita Swart
Aan die einde vd reënboog – Bronwyn Meyer
Asem – Alma Swart
Bloeddrif – Ina Cantoni
Die Droomvanger – Louis J Nell
Die Losieshuis – Rosalee Meyer
Die Rooikat – Maritza du Preez
Die seun van Malawi – Lianda vd Merwe
Die Skildery – Lettie Jordaan
Eindelose Nag – Anita de Kock
Kliphuis – Hante du Toit
Laaste rusplek – Marion Low
Laksmansberg – Pieter van Loggerenberg
Morning after – Douwlina du Plessis
Reddersburg Hotel – Noddy Schutte
Skaakmat – Martelize Faber
Siembamba – Sonja Brown
Vleuels – Pieter Saayman
Volmaan – Lana Lubbe
Die Ontgroening – Riana le Roux
Die dood van Kaalvoet Faan – Hanlia Dippenaar
Wanneer die tyd reg is – Riana Barnard Matthee
Vervloeking – Hannes Snyman
DIE WENSTORIE IS:
Die Seun van Malawi – Lianda vd Merwe
Baie geluk! Douwlina du Plessis het die wenstorie gekies en die prys geborg. Baie dankie daarvoor.

Taalwenke 3

TAALWENKE:
Taalwenke 3
3. Adresse en telefoonnommers
3.1.1. In Afrikaans volg die straatnommer op die straatnaam, en die nommer van ‘n woonstel op
die gebou se naam. (In Engels is dit omgekeerd)
Andringastrrat 23
Dahliahof 7
3.1.2. In geval van verskillende plekke met dieselfde naam word die provinsie se naam nie in die
adres op ‘n koevert vermeld nie; dit kan wel in ‘n sin bygevoeg word.
Sy bly in Heidelberg, Wes-Kaap, waas sy as dokter praktiseer. (let op die komma na
‘Wes-Kaap’)
3.1.3. Die voorsetsel saam met ‘n spesifieke straatadres in ‘n sin is ‘by’ (NIE: in/te)
Riki van der Merwe woon by Mimosastaat 18.
MAAR: Die huis wat te koop is, is in Mimosastraat.
Uitsondering: Die gebou is aan die Buitengracht/Heernengracht/Buitenkant in Kaapstad.
3.2. Skryfwyse van adress- los en vas.
3.2.1. ‘n Straatnaam wat uit ‘n soortnaamverbinding bestaan, word slegs vas geskryf.
Kerkstraat
Bloedstraat
3.2.2. Eienaamsamestellings wat ‘n eienaam vorm, kan los of vas geskryf word.
“Die Taaldiens verkies om straatname wat eienaamelemente bevat, vas te skryf, behalwe in
gevalle waar die straatnaam meer as een eienaamelement bevat. Dan gebruik ons ‘n koppel-
teken tussen die laaste eienaam en die aanduider, byvoorbeeld ‘-straat’ of ‘-rylaan’.
Nelson Madela-rylaan
Die koppelteken word ook ingespan waar dit werklik nodig is om leesbaarheid te verhoog:
Rosemary-rylaan
3.2.3. Straatname waarin rangtelwoorde voorkom, kan óf los óf vas geskryf word:
Vierde Straat of Vierdestraat
Sesde Laan of Sesdelaan
3.2.4. As die rangtelwoorde gedeeltelik in syfervorm weergegee word, word die verbinding los
geskryf.
26ste Straat of 26e Straat
3.3: Hoofletters en kleinletters:
3.3.1. Wanneer ‘n straatnaam met ‘n syfer begin, begin die tweede deel met ‘n hoofletter.
Vierde Laan
25ste Straat of 25e Straat
3.3.2. Wanneer die adres in blokvrom op ‘n koevert of boaan ‘n brief geskryf word, word die naam
van die plek of poskantoor in hooflettes geskryf.
Dr DS Nel
Posbus 567
HATFIELD
0083
3.4. Afkortings:
3.4.1 . Rangtelwoorde kan óf met die syfer plus ‘-de’ of ‘-ste’ eindig.
19de of 19e
25ste of 25e
100ste of 100e
3.4.2. ‘Straat’ word nie afgekort nie.
Sewende Straat (NIE: Sewende Str.)
3.4.3. Die afkorting ‘h.v’ word gebruik vir ‘op die hoek van’. In ‘n sin word dit egter uitgeskryf.
h.v.Crozier-en Andringstraat ( NIE: h/v Crozier-en Andringstrate )
Die gebou is op die hoek van Crozier-en Andringstraat.
3.4.4. Die afkorting ‘p.a’ word gebruik vir ‘per adres’.
p.a. Deidre Jonck (NIE: p/a Deidre Jonck)
Kerkstraat 14
3.5. Punktuasie
3.5.1 In ‘n sin word ‘n adres met kommas geskei.
Die kantoor is by Birdstraat, Stellenbosch.
3.5.2 Geen komma kom voor die poskode in ‘n volledige sin nie.
Stuur aansoeke na: Die Taalsentrum, Privaat sak X1, Matieland 7601.
3.5.3 Wanneer die adres in blovorm op ‘n koevert of boaan ‘n brief geskryf word, word
daar geen kommas of punte na die reëls ingevoeg nie.
Dr DS Nel
Posbus 576
HATFIELD
0083
3.6 Telefoonnommers:
3.6.1. Die gebiedskode word eerste geplaas, deur die eerste drie en dan die laaste vier syfers. Selfooonommers word soortgelyk gespasieer. Geen hakies of koppeltekens word gebruik nie.
021 808 2213
082 413 8465
3.6.2. Tolvrye nommers word anders gegroepeer.
0800 40 30
08600 220 224
3.6.3. Uitbreidings word as volg geskryf (‘Uitbreiding’ kan ook uitgeskryf word):
012 433 6635 uitbr.456 (na werk)
3.6.4. Wanneer oorsese lesers deel van ‘n dokument se teikengroep is, word die nommer deur
Suid-Afrika se kode (+27) voorafgegaan en word die nul van die gebiedskode weggelaat.
+27 11 975 6503