Kom kuier saam die 29ste Julie

SANTIE VAN DER MERWE, bekende skrywer – van boeke soos “Ver in die wêreld Kittie”, “Anderkant vergeet” ens is ons spreker by ons PTA boekbekendstelling – 29 Julie!
Sien vreeslik uit om haar te ontmoet! Dis gawe, gewone mense soos sy wat my laat besef – “If she can do it… so can I”!

Wenner van Diguitdaging 12

Wenner Uitdaging 12: Liriek🎉🎼🎧

Baie geluk aan:

Werner Wehmeyer

Dankie vir pragtige inskrywings! Almal verstaan liedjie-lirieke baie goed.

Liefde lê die melkweg vol – liriek

Die volmaan hang oor die karoo
Tussen duisend miljoen sterre daar bo
Met aandwind wat sag oor ons draai
Dan verder oor die veld wegwaai

Ons liefde lê die melkweg vol
As ons lywe teen mekaar rol
Uit n wingerd vol in elk se glas
Drink ons liefde in ons harte vas
Ons liefde dans al om die maan
Ons liefde wat vir ewig bly staan

Die volmaan kruip oor die kambro
Waar teleskoop loer na sterre daar bo
Met aandblom wat blom uit ons lyf
Word liefde met ink vasgeskryf

Ons liefde lê die melkweg vol
As ons lywe teen mekaar rol
Uit n wingerd vol in elk se glas
Drink ons liefde in ons harte vas
Ons liefde dans al om die maan
Ons liefde wat vir ewig bly staan

Die volmaan sak oor die karoo
Waar son sy rooikop vlammend lig na bo
Met oggend dou blink in ons oog
Word liefde die mooiste reënboog

Ons liefde lê die melkweg vol
As ons lywe teen mekaar rol
Uit n wingerd vol in elk se glas
Drink ons liefde in ons harte vas
Ons liefde dans al om die maan
Ons liefde wat vir ewig bly staan

Groot Nuus!

SKRYFKOMPETISIE

VIR SKRYWERS VAN ROMANTIESE FIKSIE

 

 

2017 se Lenteskool gaan met ’n kompetisie vir voornemende inskrywers gepaard. Die wenner hiervan sal die Lenteskool GRATIS kan bywoon. Indien jy vir hierdie prys in aanmerking wil kom, moet jy verklaar dat jy nog nie voorheen ’n romanse gepubliseer het nie; en ’n eerste hoofstuk (sowat 5 000 woorde) van ’n romanse met jou inskrywingsvorm aan ons by onderstaande e-posadres stuur om ons op die laaste op Vrydag 11 Augustus 2017 te bereik. Inskrywingsvorms kan aangevra word by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel. 018 299 1783).

 

 

Taal wenke

TERMINOLOGIE: WOORDSOORTE

  1. Werkwoord: Die aksiewoord in die sin. Ook bekend as die gesegde.

Jan skop die bal.

  1. Hulpwerkwoord: ’n Woord wat die werkwoord ondersteun en aanvul, bv. het, sal, moet, sou, ens.
  • Hulpww van tyd: het, is , sal, sou.
  • Modale hulpwerkwoord: Druk sekerheid of waarskynlikheid uit, bv. moes, kon, moet, sou, sal.
  • Skakelwerkwoord: begin, bly.
  1. Bywoord:  ’n Woord wat die werkwoord omskryf.

Voorbeelde:   Anja eet stadig.

Die seun skop die bal hoog.

TOETS vir so ’n bywoord: HOE eet Anja? HOE skop die seun die bal?

 

Bywoorde vertel jou meer oor drie ander woordsoorte:

1.    ’n Werkwoord:                             Anja eet stadig.  ( Hoe eet sy?)

2.    ’n Ander bywoord:                               Anja eet baie stadig. ( Hoe stadig eet sy?)

3.    ’n Byvoeglike naamwoord:                 ’n Verskriklike lang vrou. ( Hoe lank is sy?)

 

Verduideliking:

Lang en gewonde is byvoeglike naamwoorde wat jou meer vertel oor die selfstandige naamwoorde: vrou en soldaat.

·         Verskriklike en ernstig is bywoorde wat jou meer vertel oor die byvoeglike naamwoorde lang en gewonde.

     Let wel: Daar kom GEEN komma tussen twee bywoorde nie, bv. baie stadig. Ook nie tussen ’n bywoorde en ’n byvoeglike naamwoord nie, bv. verskriklike lang.

 

 

Dig wenk vir die week

Rym en gedigte gaan hand aan hand. Deesdae beweer die vrydigters dat dit nie meer nodig is om gedigte te laat rym nie en dat alle voorgeskrewe reëls nie meer geld nie. Wenk vir die week: Lees gereeld ander digters se werk. Jy sal gou agterkom waarmee jy gemaklik voel en waarmee nie. Skep dan jou eie basis vir jou skryfwerk. Onthou net, hoe vry jy ookal verkies om te skryf, reëls geld nog in sekere instansies.

Dinsdag op die radio

Digmaters, Dinsdag lees ek die volgende digters se gedigte oor Aroma/Geure,voor. Ek speel ook van hulle se gunsteling liedjies:

Sonja Brown
Annalize Booysen
Hannes Snyman
Linda du Plesiss
Lilian Jonker
Elna Kruger
Marlize Bezuidenhout Schutte
Salvia Ockhuis
Susan Tiervlei
Marietjie Uys
Hantie de De Beer
Philip Nel

Die volgende “Nuwelinge” se gedigte gaan ook voorgelees word. Dit het niks met die tema te doen nie maar ek wil dit graag lees:
Pierrie du Preez
Albert Wee Harmse
Marcus Jorin Peters
Louisa van Vliet
Gert Strydom
Hestie Greyling
Erika Viljoen
Susanne Pike
Pierre Rossouw
Lilian Venter
Roeline
Pieter Krige
Magda de Magda De Korte

Dan is daar Madre se rubrieke sonder brieke
en twee Basjan stories deur:
Rosalee Meyer en Riana Barnard Matthee

Skryf vir LAPA

Ek daag alle kortverhaalskrywers van SA Stories uit om hieraan deel te neem: LAPA Uitgewers het in 2016 ’n RomanzaLiefde-tydskrifomnibus begin implementeer.
Hierdie tydskrif is ’n samestelling van drie liefdesnovellettes deur geliefde en nuwe skrywers
en een bonus kortverhaal. Dit is ’n bekostigbare produk wat in Checkers, Clicks, Pick ’n Pay
en CNA te koop is en verskyn kwartaalliks.
Hierdie is ’n werkdokument, en stel riglyne beskikbaar vir skrywers wat belangstel om vir
hierdie omnibus te skryf.
RomanzaLiefde is romanses wat lekker en vlugtig lees vir lesers wat nie tyd het om te
ontspan met ’n roman of selfs ’n Romanza nie. Lesers kan dit in die motor, op die Gautrain
of in ’n taxi/bus op pad werk toe lees.
Die formaat is 200 mm x 260 mm en die bladsyaantal is 96. Die woordtelling is:
• Novelette: 15 000-20 000 woorde
• Kortverhaal: 2 000-2 500 woorde.
Die vier romanses wat ons elke maand uitgee in die Romanza-reeks is elkeen 208 bladsye,
107 x 170 mm en die woordtelling is 44 000. SuperRomanza se formaat is 198 mm x
129 mm en die bladsyaantal is 304. Die woordtelling is 75 000 tot 85 000 woorde.
Beskou dus RomanzaLiefde as Romanza en SuperRomanza se ongekompliseerde jonger
sussie wat haar eie weg probeer vind.
Die sentrale verhaalelemente vir RomanzaLiefde is die volgende:
• ’n Sterk sentrale romanse met sterk geloofwaardige karakters.
• ’n Emosionele belewenis wat die leser dadelik in die verhaal intrek. Die verhaal is
karaktergedrewe.
• Die leser moet kan identifiseer met die karakters en hul situasies. Geloofwaardigheid
is ononderhandelbaar. Die leser moet haar kan vereenselwig met die karakters se
reaksies.
• Die algemene gevoel kan wissel van lighartigheid tot baie diep emosioneel. Die
kompleksiteit van die storielyn is die belangrikste; asook die diepte van karakters en
die unieke, kontemporêre hantering van die verhaalgegewe.
• ’n Sterk verhouding tussen die held en heldin. Daar moet geen twyfel by die leser
wees dat die held en heldin mekaar verdien nie.
• Geloofwaardige interaksie. Daar is nie ruimte vir terloopse ontmoetings en toevallige
bymekaarkom-kuiers tussen die held en heldin nie. Interaksie moet oortuigend en
gemotiveerd wees – sonder om geforseerd voor te kom. Elke interaksie moet die
verhouding voort du.
• Sterk konflik en emosionele belewenis is ’n moet om die lesers te boei. Konflik is
baie belangrik, onthou dit moet hulle vir 14 000 van die 20 000 woorde uitmekaar se
arms hou.
• Meer showing as telling.
• Emosioneel volwasse karakters.
• Goeie, sterk en moderne dialoog.
• Aktiewe woordgebruik in die teenwoordige tyd.
• Afgeronde einde: Die skrywer moet die drade van die verhaal (liefdesbetuigings,
oplossing van konflik en om mekaar van hul ware liefde vir mekaar te oortuig) vroeg
genoeg begin saamtrek. Die einde moet goed beplan en geloofwaardig wees vir die
leser om die ekstase enduit te beleef. Indien die verhaal se einde te vinnig en
onvoltooid is, is die hele verhaal ’n anti-klimaks, want die leser voel beroof.
• Die donker kant van die lewe is taboe, omdat die essensie van dié genre idealisme
en fantasie is.
• Kortverhale hoef nie noodwendig ’n liefdestema te hê nie, maar moet die nodige
diepte hê om die leser emosioneel aan te raak.
• Kortverhale moet ’n sterk begin, ekonomiese taalgebruik en ’n verrassende slot hê.
Nie kriteria nie, maar ekstras wat leesgenot sal bevoordeel
 Lekker sin vir humor
 Herkenbare omgewing. Skrywers vergeet soms dat hoewel die liefdesverhouding sentraal
staan, die karakters nie teen ’n wit agtergrond leef nie. Kleur die storie in, sonder om die
verhaal in ’n reisbrosjure te verander.
 Wees verteenwoordigend van die tydsgees. Heldinne in die 1990’s kon in hul vroeë twintigs
al besighede besit het, omdat hulle direk ná die skoolbanke die arbeidsmark betree het. Dit
is in baie gevalle nie meer so nie, baie 22/23 jarige vroue verlaat op hierdie ouderdom
universiteit/kollege en begin aan die onderste trap van die loopbaanleer.
 Daar is nuwe loopbanne soos blogging en besighede wat op sosiale media soos Facebook,
Instagram en YouTube bedryf word. Skrywers moet ook die invloed van sosiale media op
die samelewing in ag neem. Jy kan byna enige persoon op Facebook vind, as ’n karakter
dus nie in jou verhaal opgespoor kan word nie, moet dit goed gemotiveer word.

Die Wenner is…

Die wenner van die Basjan se Geheim uitdaging is;;;; Rosalee Meyer. Baie geluk, Rosalee, jou storie word outomaties in ons Kontreibundel opgeneem.

KORTVERHAALUITDAGING 1

BASJAN SE GEHEIM

Basjan kyk skreef-oog na die blakerende son wat genadeloos neerbak op die dorre aarde. Daar vorm ‘n diep kommerplooi bokant sy yl wenkbroue.
“Maar siejy nou so korrel vat op ons!”
Hy skel sommer luidkeels op die son. Sy stem klink grinterig, hy gee ‘n aamborstige kuggie.
“Ka’ jy nie sien die niks groei al klaar heuphoogte hier innie Keroo nie!”
Hy wys met ‘n benerige vinger in die windpomp se rigting, hervat sy kwaai monoloog terstond :
” En jy, jy beter begin draai. Almiskie, jy’s nie net daar vir mooi lyk’ie!” 1
Vir ekstra effek druk hy nog ‘n paar gate in die lug, soos hy woes verder beduie.
Die windpomp lyk berouvol.
“Tssk!” klik Basjan.

“Ma’, Basjan, wat op aarde? Jy sta’ sommer soos jou vinger hier en praat ‘n groot praat”.
Basjan wip soos hy skrik. Skrik hom sommer in ‘n hoesbui in. Hy staan koponderstebo, skep asem:
“Hiert! Mieta, jy ka’ mossie ‘n man soe sta’ en bekruip nie! Netnou raak ek ‘n lelike woord kwyt en ek is ‘n kerkmens.”
Mieta vou dubbeld van die lag, slaan liefdevol ‘n mollige arm om haar seningmaer man.
“Jy ka’ mossie die windpomp so skel nie, da’ waai’ie eers ‘n windjie nie”.
Basjan skud sy kop.
“Die skaap kry swaar, my vrou.”
Hy beduie oor die vlakte.
“Da’ is niks nie. Nie ‘n grasspriet nie, nie een pol oor nie. Water is skaarser as hoennertanne”. Sy stem word dik in sy keel.
“Ons liewe Heer wéét wat ons nodig, Hy sal sôrre. Hy het nog altyd”.
Mieta se stem klink vas en seker.
Basjan haal sy verflenterde hoedjie af, rig sy oë na Bo.

Sag vat Mieta hom aan die arm.
“Basjan, Rooikoos wat op Klipverdriet bly, sê hy sal jou betaal as jy water aanry vir die boere van die grootdam af. Sy jongste het aans da’ aangekom met ‘n boodskap. Hy wag hoeka dat jy moet kom sê of dit reg is.”
Basjan gryp vir Mieta om die lyf, dans ‘n vastrap in die rooi stof.
“Ma se kinners!” juig hy.
Ekstra geldjies sal baie gate toe-stop. Hy gryp weer sy hoedjie vas, frommel dit in sy verweerde hande.
Hy prewel ‘n vinnige dankgebed na Bo.
Nog ‘n hoesbui maak hom vraagtekenkrom.
Vrees roer in sy hart.
Hy sal vir Mieta moet sê…

“Bassie?” Mieta se stem is agterdogtig.
“Is jy orraait? Dis ‘n altevol lelike hoes daai!”
Basjan draai sy rug op sy vrou se vrae, vat nog ‘n waterkan stewig vas en laai dit met ‘n kreun op die donkiekarretjie. Na die derde kan moet hy asemskep. Hy buk om kamstig sy skoenriem vas te maak. Na ‘n rukkie kom hy regop en gaan voort met sy taak.
Mieta kyk hom peinsend aan. Iets skort.
Hoekom is Basjan so ontwykend?

“Kom-kom, julle lui vaaljasse! Die son trek water!”
Basjan skel sy spannetjie langore uit volle bors.
Die donkies balk en steun, maar die spulletjie vorder stadig.
“Toe-toe, oubaas se ou vaalpensies, Klipverdriet lê nie ommie draai nie, ” nou praat Basjan mooi.
Die donkies lug hulle koppe en beur vorentoe.
Basjan lag wyd, net elke tweede tand is daar in volle glorie.
“Nou kyk, dinge raak nou lekke!” Nou vorder hul alte fluks.
Mieta skuif sommer nader aan Basjan en plant ‘n skuins soen op sy sonverskroeide wang.
Hulle kan sommer al sien hoe rol die blink munte in hul beursie in.
Dis net Genade van Bo dat die hul nederige ou huisie die naaste aan die grootdam is.

Moeg, maar tevrede span hulle uit net toe die eerste ster homself kom vasspeld aan die Karoo se inkswart naghemel.
Basjan klop sy donkies op die rug, gee sommer ‘n ekstra graaf voer. Drie ritte is harde werk!
Hy dink aan sy beursie wat bult en glimlag tevrede.
Hy is moeg. Die son het vandag dooierus gevat op hulle. Hy gaan nou sommer inkruip. Môre, net môre se dag sal hy met Mieta praat.

Mieta kry hom op sy knieë langs die windpomp net toe die son rooiwang oor die einders kop uitsteek. Sy kniel sag langs hom. Haar rok maak voue in die rooi grond. Sy luister na die diep stem wat so kosbaar is vir haar. Hoor hoe hy dringend sy Hemelse Vader smeek vir reën. Mededoë vul haar hart. Mens en dier kry swaar in die droogte se wurggreep.
“Amen!” klink sy stem op.
Hy trek haar op, druk sy koue hande in haar nek.
“Hier jy, jou swerkater!” Sy skel hom, maar hul oë lag saam.

Die donkies se voete sleep deur die stowwe. Hulle is moeg na die vierde waterrit.
Basjan sit versonke op die bankie, wieg net heen-en-weer saam met die donkiekarretjie.
Mieta het tuis gebly vandag. Sy gedagtes loop ver paaie.
Oor en oor weerklink ou dokter Giel se woorde deur sy kop.
Basjan swaai sy vuis ten hemele. Roep uit met sy gebroke hart in elke woord.
“Hoekom, Here?”
Die veld word stil om hom.
Die donkies se ore roer senuagtig.
Die sagte influistering voel soos ‘n koel briesie.
“Ek is hier, my kind. Ek is by jou.”
‘n Groot vrede spoel deur Basjan.

“Mieta!”
Sy steek vas met die aandkos nog in haar hande. Twee hooggelaaide borde bredie bly hang in die lug.
Die kersvlam flikker trek lang, onheilspellende skadu’s teen die muur.
Sy stem vibreer met emosie.
Haastig gaan sy nader, trek die houtstoel uit.
Die stoel wat Basjan met soveel liefde gemaak het, voel vanaand swaar onder haar hand.
Sy kyk verbaas af op haar bewende hande.
Basjan sluk aan die knop in sy keel.
Hy kyk af. Skraap moed bymekaar.
Uiteindelik hou hy Mieta se bruin oë gevange met sy eie.
Uiteindelik tuimel die verdoemende woorde oor sy droeë lippe.
“Dokter Giel sê ek het longkanker.”
Die woorde skeur haar hart aan flarde.
Die kamer se mure wurg haar.
Sy kry nie asem nie. Haar ore suis.
Basjan se arms is om haar. Hy probeer die seer wegstoot.
Ou-nag sit hul nog so in mekaar se arms.

Die reën stroom teen die ruite af, die dag toe die Here haar Bassie kom haal. Die Skepping ween saam. Dis net drie weke later. Drie skrale wekies, dis al.
Basjan glimlag sag, liefkoos haar vir oulaas met sy oë.
Hy druk haar hand. ‘n Laaste sug.
“Die Here wéét, Mietatjie. Hy sál sorg”.
Toe is hy weg.