Ou Vlakkie deur Sybie Kleynhans

Ou Vlakkie
Gistermiddag sit ek voor my lessenaar, skaats deur my kluis van gister se verse en stories. Ek stuur vir my Wipsie wat sy kan skaaf en ander laat ek in die niet verdwyn. Selfs dié wat volgens my aanvaarbaar was maar deur FB vrinne geïgnoreer is, dié het ek vernietig. Sommiges was nie eers opgesit nie maar dit sterf onder my vingers.
Maar sit so ek en dink terwyl ek vernietig en verbeel my ek hoor ‘n bees of iets wat snork. Die plaas is egter vol snorkers, dus ek gaan voort. Ek hoor die snork nader kom en op dieselfde wysie. Ek maak die deur oop en my baard daal ‘n ent na benede. Voor my staan ‘n vlakvarkman en ‘n netjies knaap daarby. Hy het ‘n vaal wolsafaripak aan en Lion-rugbykouse. Sy voorvoete het pienk Addida-spykerskoene aan en die agterstes geel waterskoene. Daar is ‘n blou strikdas, ‘n vilthoed met ‘n groen rek van ‘n Jockey-onderbroek om die bol.
Hy steek sy regterpoot uit en ek vat versigtig, weg van die spykers af, en ons skud poot.
“Oom Madefu?” Ek knik my kop en druk die verbasing in my baard. “Ek’s Vlakkie de Vlakvarkes van Geenkerk.”
“Oom Madefu van die Metodiste Kerk,” antwoord ek hom terwyl ek effe in deur my baard blaas. Dit val my by dat ek nog nie in Potch se kerk was nie en voeg haastig by. “Kroonstad se Metodiste Kerk. Aangename kennismaking.”
Ek trek my hand terug en loer vinnig daarna, sien geen bloed nie. “Kan ek help, Vlakkie?”
“Asseblief, oom Madefu.” Hy kyk rond vir sitplek en ek kyk na sy spykerskoene en die stert wat halfmas hang. Julle weet seker almal dat ‘n vlakvarkman se broek twee gulpe het, om verstaanbare redes.
Ek sleep ‘n bierkrat nader. Hy gaan sit, kruis sy gespierde bene en ek sien sy beenhare is geskeer of dalk af ge-Nair.
“Jy lyk nie siek nie, ou Vlakkie “ Ek sien hy kry so pyntrekkie op sy gesig, wat baie trekke van ‘n buurland se Eerste Minister het. “Wat is die probleem ou Rob … eh … ek bedoel, ou Vlakkie?”
“Oom Madefu, jy is so bekend onder die diereryk. Jy is soort van ‘n legende en dit is nie oor jou geneeskundige suksesse nie, maar jou empatie en begrip van ons vier-beeniges se dilemmas en versugtinge, ” snork ou Vlakkie.
“Huh?” Ek voel hoe val my gryshare uit en word vervang deur blondes. “Ou Vlakkie, ek het net so ‘n draai by UNISA gemaak, so ek dink ons moet die algemene Varkkaans praat, asseblief.” Ek voel my wange raak warm. Dit is nie maklik om te erken dat jy nie die hogere woorde van ‘n taal ken nie en dit nogal van ‘n vark af.
“Skuus, oom Madefu, dit is soos ons gegradueerdes maar praat,” hou hy vir hom baie slim.
“Ek neem aan jy het … watter graad, ou Vlakkie?” vra ek geïnteresseerd.
“Ek het ‘n Phd.VVO grade, Oom en dan ook ‘n diploma in Snuffelkunde.”
“Sjee, dok Vlakkie, wat is ‘n VVO graad?”
“Vlarkvark Vroetel Opinies, Oom.”
Ek lyk beïndruk, maar isi regtig nie. “Nou laat ek dan in eenvoudige spreektaal hoor wat pla, Vlakkie?” Ek bekyk sy bekkerasie so effens. “Dalk ‘n appel, piesang of Oros-koeldrank?”
“Nee dankie, oom Madefu.” Hy aarsel. “Oom het nie dalk ‘n dosyn of ses wat hier rondlê nie?”
Ek knoop my wenkbroue. “Watse dosyn of ses, Vlakkie?”
“Koeksisters, Oom.”
Verbaas kyk ek na sy pekaneut oë en sien hy’s wragtag ernstig. “Skuus ou Vlakkie. ek het niks behalwe wat ek genoem het nie.” Sy hele astoriejaait.
“Dan sal ek niks neem . Eh … vat nie, dankie Oom”
Vlakkie haal ‘n gevoude stuk papier uit sy sysak, en uit die bosak ‘n rondeglas brilletjie. Hy lyk nie soos John Lennon nie maar steeds soos ou Bob …
“Oom Madefu, met jou reputasie as ‘n eerlike en opregte tweebeen, wil ek jou iets baie persoonliks vra? Trouens jou reputasie is so vlekloos, jy kon enige tyd ‘n vlakvark gewees het.”
Ek sluk my skok en en staan op. “Skuus Vlakkie, ek sukkel nog met die asma, wil net my meds se water kook.”
“Is reg, oom Madefu. Ek gaan effe buite sit en ‘n dampie die hoogte instuur.” Hy stap uit, stof ‘n groot klip af en gaan sit.
Ek sit die ketel op die Cadactjie en loer skelm na buite. Hy is besig om lustig aan ‘n Meerschaumpyp te rook, sulke vuilblou dampe en ek weet hy rook gedroogte plakkersreste.
“Verdamns, ek gaan nie daai asem in my kamer laat vertoef nie!” en ek loer na buite. “Vlakkie sit gerus dáár, dis baie warmer as binne. Ek bring my dinkstoel, dan gesels ons sommer daar.”
“Goed oom Madefu,” damp hy so tussen sy woorde deur.
Ek maak my koffie, vat die stoel en gaan sit buite. Hy’s jintel-vark genoeg om sy pyp te bere, met sy linkerpoot spyker hy ‘n peppermint en bek dit.
“So ja, wat hinder, ou Vlakkie?”
Met sy linkerpoot zuum hy sy bril in posisie, loer op die papier en praat dan met ‘n onderwyserstem: “Oom Madefu, dit is juis daardie aanspreekvorm wat my en my rasgenote warm onder onse strikdasse maak.”
“Die naam vlakvark, maak jou … eh … julle vies?” Ek skuif my no 9’s effe dat ek beter en stewiger kan sit, bang vir omtiep. “Nou hoekom . . . eh Dok?”
“Oom, die woord vlak is baie bedrieglik en onjuis.”
“Hiekom?” As ek daai woord gebruik, dan is dit gewoonlik wanneer die rooileeus in my baard roer.
“Oom, dit is karakterskending en so aan.”
“Hiekom?”
“Want dit beteken ons is vlak van begrip en verstand. Ons tuistes is ook nie vlak nie, trouens dit is diep ondergrond. Vierbeen kan maar sê ons het twee-drievêrdiep-in huise.”
“Ek verstaan, dok,” lieg ek ewe vroom en met my regterhand vryf ek die glimlag in my baard in.
“Kan Oom dit asseblief die wêreld instuur, deur FB of whatsapp. Of dalk laat julle TV mense dit beeldsend?”
Ek staan op, slaan my khakiekleurige oge na bowe. “Ek kan probeer, dok. Wat moet julle voortaan genoem word?”
Hy staan ook op, lyk belangrik en vernaam as hy die naam gee en ek kry ‘n asmalose hoesbui.
“Baie dankie, oom Madefu en ‘n heerlike Saterdag vir u.” Ons hand/spykerspoot mekaar.
“Mooi loop .. . eh …. ou Gattie.”
En ek blaas deur my baard. Die geleerdes is soms effe snaaks en onverstaanbaar. Van vlakvark na gatvark?
Sjee.
©Sybie

One thought on “Ou Vlakkie deur Sybie Kleynhans

Lewer kommentaar