Die Kliphuis deur Riana le Roux

DIE KLIPHUIS
(Deur Riana le Roux)
Hy het al vergeet hoe steil die koppie agter die huis op die plaas is. Sweet pêrel reeds op Tertius se voorkop en dis nog ‘n hele ent tot bo. Hy was jare laas daar bo. Het dit die afgelope paar keer wat hy kom kuier het hier op sy erfplaas, Ruitersbos, vermy. Hy wou liewer nie onthou nie. Hy moes vergeet en hy hét probeer, maar nou moet hy daar kom. By die kliphuis. Hy moet vandag ‘n besluit neem. Die waarheid, of die dood.
Wanneer hy ‘n halfuur later eindelik uitasem die bopunt bereik, stop hy vir ‘n oomblik en kyk uit oor die vallei. Die uitsig van hier, bly asemrowend. Net soos hy dit telkemale in sy geestesoog opgeroep het. Hoeveel van sy kinderjare het hy nie daagliks hier bo spandeer nie. Hy ken elke klip. Elke Kiepersol en elke skeur tussen die rotse. Hier het hy en sy beste maat, Leon, die buurseun van die plaas Geluksvlei, hul dae omgespeel, gesels en later hul siele gedeel. Hy loop verder. Verby die groot rots wat teen die hang van die krans uittoring. Dit is steeds daar! Die kliphuis. Sy en Leon se kliphuis. Hy maak sy oë vir ‘n oomblik styf toe. Nie net om die dreigende trane te keer nie, maar om te onthou. Hy moet onthou. Hy wil vandag onthou.
“Help my met die klip, Tertius. Die ding is flippen swaar!” Leon sug terwyl hy probeer om eiehandig die reuse klip bo-op die ander te pak. Tertius sit hand by en die klip sak met ‘n harde plofgeluid op die ander neer. Hulle kliphuis is nou voltooi. Tel seker eerder as ‘n kraal, maar dit is hulle den. Hulle plek.
Hulle verskil net ‘n jaar. Tertius is sewentien en Leon sestien. Albei is hul ouers se oudste en enigste en vanaf geboorte, onafskeidbaar.
“Gaan jy jou ma-hulle vertel?” Tertius het intussen gaan sit op die groot plat klip wat soos ‘n balkon oor die muur van hul kliphuis hang.
“Ek wou, maar my pa sal uitfreak! Hy praat al klaar asof ek eendag gaan boer in sy plek op Geluksvlei. Ek dink hy slaan my dood as hy moet weet.” Leon leun met sy rug teen die kant van die klipmuur. “En jy?” Hy kyk Tertius vraend aan.
“Nee. Ek weet nie of ek dit ooit sal kan doen nie. Ek dink my ma weet, maar sy vermy die onderwerp soos die pes. My pa sal my onterf en wegjaag soos ‘n sleg hond. Dis net jy wat weet.” Tertius ril vir ‘n oomblik as hy sy pa se streng gesig voor hom oproep. “Belowe my jy sal niks vir jou ma-hulle sê oor my nie?” Hy kyk Leon stip in die oë.
“Ek belowe, jy weet mos jy kan my vertrou. Ek is lief vir jou. Jy hoef nooit daaroor te worry nie.” Leon draai weg en verander die onderwerp tot hulle veel later saam-saam die steilte aandurf, al glyende met die voetpaadjie langs na onder.
Tertius maak sy oë oop en vee die lastige natigheid onder sy oë weg. Dit is seker al agt jaar gelede. Jimmel, kan dit wees? Wanneer hy by die groot skeur langs die klipmuur kom, waar die groot Kiepersolboom nou ‘n heerlike koelte gooi, soek hy met sy hand na die blik waarin hulle altyd hul geheime goed versteek het. Dis wragtig nog daar. Hy sukkel vir ‘n rukkie om dit tussen die rotswande van die skeur uit te trek. Dis verroes en hy huiwer vir ‘n oomblik voor hy die deksel oopforseer. Hy trek sy asem skerp in as sy vingers streel oor die inhoud. Die briewe, die knipmes, die vere. . . alles is nog daar! ‘n Snik ontsnap skielik uit sy keel en hy klap die deksel met mening toe. Hy moes nie hierheen gekom het nie! Daardie vreeslike dag speel nou soos ‘n fliek voor hom af. ‘n Vreesaanjaende riller!
Hulle kon nie wag om mekaar weer te sien nie. Dit was eers in die Aprilvakansie wat hy vir die eerste keer kon huis toe kom daardie jaar. Hy was in sy tweede jaar op Tukkies en Leon het op aandrang van sy pa op die plaas gebly om te help met die boerdery. Oom Hans was sieklik en al wou Leon eintlik graag ‘n Chef-kursus gaan doen, kon hy dit nie oor sy hart kry om sy ouers teleur te stel nie. Die omhelsing en soen in die kliphuis was die eerste normaliteit wat hulle albei ervaar het die hele jaar. Hier kon hulle die maskers van voorgee afhaal en net wees wat hulle was. Lief vir mekaar.
“Kom ons vertel ons ouers Tertius. Ek kan nie meer met hierdie geheim saamleef nie. My ma karring elke dag aan my dat ek vir Marietjie moet uitvat fliek toe of saamneem kerk toe. Ek is al moeg om verskonings uit te dink! My pa spot al openlik met my voor die mense op die dorp!” Tertius kon sien Leon is na aan trane.
“Nee, die tyd daarvoor is nog nie reg nie. Laat ek eers klaarmaak met my studies, sodat ek ‘n werk kan kry. My pa sal my defnitief wegjaag, jy weet dit tog!” Tertius skree byna en sien die skielike woede in Leon se oë.
“Wel, ek kan nie meer so leef nie! As jy skaam is vir wie jy is of vir my, is dit jou probleem! Ek gaan hulle vanaand vertel. Basta met die gevolge!” Leon staan vurig op vanwaar hy op die balkonklip gesit het om huiswaarts te keer.
“Wag nou Leon, jy moet mooi dink! Jy gaan ons albei se lewens verwoes as jy nie geduldig gaan wees nie!” Tertius gryp Leon nou vas aan sy een arm om te keer dat hy loop.
“Nee! Ek is moeg vir die leuens!” Hy ruk hom los uit Tertius se greep, maar verloor in die proses sy balans en val agteroor teen die krans af.
Stom van skrik vries Tertius vir ‘n oomblik, tot die realiteit hom tref. “Leon!” Hy gil nou soos ‘n besetene, terwyl hy oor die klippe onbeheersd afhardloop. Trane en stof besmeer sy gesig en wanneer hy uiteindelik by Leon kom, besef hy met een kyk, dat dit te laat is. Hy sak op sy knieë lang Leon neer en vee die bloedstraaltjie wat by Leon se neus uitloop sag met sy vingers af. Wat het hy gedoen! Hoe gaan hy aangaan sonder Leon?
Trane stroom nou oor Tertius se gesig, terwyl hy die geroeste blik vasklou. Hy weet dit was net ‘n ongeluk, maar hy droom steeds gereeld daarvan. Hy sien steeds Leon se lewelose, gebreekte lyf tussen die klippe aan die voet van die koppie. Sy Leon! Sy sielsgenoot en beste vriend. Nooit sou hulle weer in die kliphuis sit en droom oor ‘n toekoms saam nie. Nooit sou hy hom weer teen hom kom vasdruk en soen nie. Dit was verby. Die kliphuis stil en verlate. Tot vandag.
Na Leon se begrafnis is hy terug universiteit toe. Hy het homself begrawe in sy studies en soos ‘n robot voortgegaan met sy lewe. Eendag selfs besluit om teen sy beterwete ‘n meisie na ‘n sokkie te neem en uiteindelik ses maande gelede, ‘n week voor sy vyf-en-twintigste verjaardag, is hulle getroud. Janine. Sy ouers is natuurlik in ekstase oor hul nuwe skoondogter. Maar gisteraand het die pendulum uiteindelik geswaai.
“Wanneer het jy gedink kan ons met ‘n gesin begin Tertius?” het Janine ernstig gevra. Hy het in daardie oomblik geweet dat hy ‘n massiewe fout begaan het. Hy het na haar gekyk en in daardie oomblik geweet, dat hy homself (en Leon) verraai het. Nou sit hy hier, alleen in die kliphuis na al die jare en hy weet hy moet ‘n besluit neem.
Sy ouers en Janine gaan almal platgeslaan wees, maak nie saak wat hy vandag hier besluit nie. Of hy nou die moed bymekaar skraap om hulle in die oë te kyk en die afkeur daarin te sien as hy hulle vertel dat hy gay is en of hy die bottel pille drink. Die effek sal dieselfde wees. Sy ouers gaan steeds kinderloos wees , want hy weet sy pa sal hom wegjaag. Janine is gelukkig jonk. Of sy nou geskei is of ‘n jong weduwee is – sy sal wel gou iemand kry wat sy plek sal kan volstaan.
Dinge kon so anders uitgedraai het as hy daardie dag die moed gehad het om uit die kas te kom en sy ouers te vertel. Leon het meer guts gehad as hy. Hy was ‘n lafaard en dit het Leon sy lewe gekos. Maar dit vat meer guts om ‘n einde aan alles te maak, dan nie? So sal sy ouers, Janine en Leon se ouers nooit die waarheid weet nie en sterf hul geheim hier in die kliphuis saam met hom.
Hy lees vir oulaas die briewe wat hulle vir mekaar geskryf het. Bêre die blik terug, diep in die skeur en haal die bottel water en slaappille uit sy rugsak. Dan sluk hy twee hande vol pille weg en gaan sit op die randjie van die balkonrots en kyk uit oor die vallei.
“Ek is jammer dat ek nie daardie dag die guts gehad het nie, Leon. Ek is jammer ek het jou verraai. Miskien is daar waar jy nou is ook ‘n kliphuis, waar ons saam net onsself kan wees? Wag vir my . . . ek kom.” Tertius begin nou baie lomerig voel en later tuimel hy stadig vooroor.
Die kliphuis is nou net ‘n murasie van geheime en onvervulde drome . . . .
© Riana le Roux

2 thoughts on “Die Kliphuis deur Riana le Roux

Lewer kommentaar