Elsabe se taalwenke

Vir die van julle wat nie gereeld die blog besoek nie. My taalwenke vir die week:
1. Woordkeuse:
1.1 In meerderheid gevalle word ‘ontleding’ as vertaling vir ‘analysis’ verkies. ‘Analise’ is egter heeltemal aanvaarbaar as vertaalekwivalent en word veral in wiskundige of suiwer wetenskaplike tekste gebruik. Wanneer altwee woorde in ‘n teks voorkom, moet daar ter wille van konsekwentheid op een gebruik besluit word.
1.2 Let op die verskil tussen woorde wat dieselfde lyk, maar tot verskillende woordsoorte behoort en/of verskillende betekenisse het, byvoorbeeld ‘politieke’ (byvoeglike naamwoord) en ‘polities’ (bywoord); ‘vervelig’ (byvoeglike naamwoord en bywoord) en ‘verveeld’(byvoeglike naamwoord); ‘kritiek’ (selfstandige naamwoord, (byvoeglike naamwoord en bywoord) en ‘krities’( byvoeglike naamwoord en bywoord); ‘stereotiep’
(byvoeglike naamwoord) en ‘stereotipe’(selfstandige naamwoord.)
1.3. Sommige bronne tref ‘n onderskeid tussen ‘na’ sonder aksent (dui rigting aan) en ‘ná’ met aksent (dui die tyd aan). Dit is egter volgens die HAT nie ‘n reël nie en word nie wyd toegepas nie. Tref gerus die onderskeid in gevalle waar moontlike verwarring voorkom moet word.
“Ons het na die onthaal toe gery” (waarheen?)
“Ons het ná die onthaal huis toe gery”(wanneer?)
1.3. Skryfwyse- los en vas
1.3.1. Skryf ‘senior’, ‘junior’ en ‘privaat’ los want hulle is byvoeglike voornaamwoorde.
junior lektor
Senior Direkteur: Studente- en Akademiese Steun
Privaat sak X1
privaat sektor ( of private sektor)
Uitsondering: Privaatreg
1.3.2. Skryf ‘aanlyn’ los.
aanlyn registrasie
aanlyn weergawe
‘Aanlyn’ is ‘n saamgestelde byvoeglike naamwoord wat, behalwe sy attributiewe
byvoeglike funksie (aanlyn registrasie), ook selfstandig as predikatiewe byvoeglike
naamwoord kan optree ( die registrasie is aanlyn) óf as bywoord ( registrasie vind die
hele dag aanyn plaas) gebruik kan word. Vir die teenoorgestelde geval, kyk 1.3.4.
1.3.3. Let op die hantering van ‘minimum’ en ‘maksimum’.Hierdie twee woorde word los geskryf
wanneer hulle as byo eglike naamwoorde gebruik word.
Die minimum werk is gedoen ( twee woorde)
Die maksimum temperatuur was 15 o C. ( twee woorde)
Maar wanneer ‘n woordgroep van ‘n byvoeglike naamwoord + selfstandige naamwoord
(wat op sigself nie gekoppel word nie) in ‘n samestelling as ‘n bepaler by ‘n selfstandige
naamwoord optree, word al drie elemente vas aan mekaar geskryf:
Hy word in ‘n maksimumveiligheidsgevangenis aangehou. ( een woord)
1.3.4. Let op dat die woorddeel ‘reuse-‘ nie ‘n byvoeglike naamwoord is nie. Die ‘-e-‘ in ‘reuse’ is
‘n verbindingsklank en nie ‘n verbuiging nie. ‘Reuse’ kan ook nie predikatief of bywoordelik
gebruik word nie en word dus vas geskryf.
reusevliegtuig
reuseverrassing
Samestellings met ‘reuse-‘ kry ‘n koppelteken slegs indien die skrifbeeld verwarring kan
Veroorsaak. Ons skryf dus ‘ reuse-ete’ (nie ‘reuseete’ nie), maar ‘reuseaandeel.’
1.3.5. Skryf ‘n eienaamverbinding wat as eienaam optree, vas; met ‘n koppelteken ( gebruik die
kleinletter na die koppelteken) ; of sonder ‘n koppelteken.
Die Taaldiens verskaf die volgende skryfwyse:
DF Malam-sentrum
H.F.Verwoerd-hospitaal
1.3.6. Skryf ‘n eienaamafkorting + soortnaam wat as eienaam funksioneer los van mekaar en die
tweede woord met ‘n aanvangshoofletter:
US Rektor
US Raad
US Argief
1.3. 7. Skryf ‘n eienaamafkorting + soortnaam wat as ‘n soortnaam funksioneer met ‘n koppelteken en
die tweede woord met ‘n aanvangskleinletter:
US-navorsers
US-geboue
US-toekennings
GI-beleid
HEQC-oudit
1.3.8. Verbindings met syfers of simbole word met ‘n koppelteken geskryf:
Kategorie A-navorser
A-kategorienavorser
100m-wedloop
R100-noot
Graad 12-leerders
Gr. 11- en 12- leerders
Bekende probleemgevalle:
menslike hulpbronne maar menslikehulpbronbestuur
maatskaplike werk maar maatskaplikewerkstudent, of maatskaplikewerk-student.
NIE: maatskaplike-werkstudent

Die Kliphuis deur Riana le Roux

DIE KLIPHUIS
(Deur Riana le Roux)
Hy het al vergeet hoe steil die koppie agter die huis op die plaas is. Sweet pêrel reeds op Tertius se voorkop en dis nog ‘n hele ent tot bo. Hy was jare laas daar bo. Het dit die afgelope paar keer wat hy kom kuier het hier op sy erfplaas, Ruitersbos, vermy. Hy wou liewer nie onthou nie. Hy moes vergeet en hy hét probeer, maar nou moet hy daar kom. By die kliphuis. Hy moet vandag ‘n besluit neem. Die waarheid, of die dood.
Wanneer hy ‘n halfuur later eindelik uitasem die bopunt bereik, stop hy vir ‘n oomblik en kyk uit oor die vallei. Die uitsig van hier, bly asemrowend. Net soos hy dit telkemale in sy geestesoog opgeroep het. Hoeveel van sy kinderjare het hy nie daagliks hier bo spandeer nie. Hy ken elke klip. Elke Kiepersol en elke skeur tussen die rotse. Hier het hy en sy beste maat, Leon, die buurseun van die plaas Geluksvlei, hul dae omgespeel, gesels en later hul siele gedeel. Hy loop verder. Verby die groot rots wat teen die hang van die krans uittoring. Dit is steeds daar! Die kliphuis. Sy en Leon se kliphuis. Hy maak sy oë vir ‘n oomblik styf toe. Nie net om die dreigende trane te keer nie, maar om te onthou. Hy moet onthou. Hy wil vandag onthou.
“Help my met die klip, Tertius. Die ding is flippen swaar!” Leon sug terwyl hy probeer om eiehandig die reuse klip bo-op die ander te pak. Tertius sit hand by en die klip sak met ‘n harde plofgeluid op die ander neer. Hulle kliphuis is nou voltooi. Tel seker eerder as ‘n kraal, maar dit is hulle den. Hulle plek.
Hulle verskil net ‘n jaar. Tertius is sewentien en Leon sestien. Albei is hul ouers se oudste en enigste en vanaf geboorte, onafskeidbaar.
“Gaan jy jou ma-hulle vertel?” Tertius het intussen gaan sit op die groot plat klip wat soos ‘n balkon oor die muur van hul kliphuis hang.
“Ek wou, maar my pa sal uitfreak! Hy praat al klaar asof ek eendag gaan boer in sy plek op Geluksvlei. Ek dink hy slaan my dood as hy moet weet.” Leon leun met sy rug teen die kant van die klipmuur. “En jy?” Hy kyk Tertius vraend aan.
“Nee. Ek weet nie of ek dit ooit sal kan doen nie. Ek dink my ma weet, maar sy vermy die onderwerp soos die pes. My pa sal my onterf en wegjaag soos ‘n sleg hond. Dis net jy wat weet.” Tertius ril vir ‘n oomblik as hy sy pa se streng gesig voor hom oproep. “Belowe my jy sal niks vir jou ma-hulle sê oor my nie?” Hy kyk Leon stip in die oë.
“Ek belowe, jy weet mos jy kan my vertrou. Ek is lief vir jou. Jy hoef nooit daaroor te worry nie.” Leon draai weg en verander die onderwerp tot hulle veel later saam-saam die steilte aandurf, al glyende met die voetpaadjie langs na onder.
Tertius maak sy oë oop en vee die lastige natigheid onder sy oë weg. Dit is seker al agt jaar gelede. Jimmel, kan dit wees? Wanneer hy by die groot skeur langs die klipmuur kom, waar die groot Kiepersolboom nou ‘n heerlike koelte gooi, soek hy met sy hand na die blik waarin hulle altyd hul geheime goed versteek het. Dis wragtig nog daar. Hy sukkel vir ‘n rukkie om dit tussen die rotswande van die skeur uit te trek. Dis verroes en hy huiwer vir ‘n oomblik voor hy die deksel oopforseer. Hy trek sy asem skerp in as sy vingers streel oor die inhoud. Die briewe, die knipmes, die vere. . . alles is nog daar! ‘n Snik ontsnap skielik uit sy keel en hy klap die deksel met mening toe. Hy moes nie hierheen gekom het nie! Daardie vreeslike dag speel nou soos ‘n fliek voor hom af. ‘n Vreesaanjaende riller!
Hulle kon nie wag om mekaar weer te sien nie. Dit was eers in die Aprilvakansie wat hy vir die eerste keer kon huis toe kom daardie jaar. Hy was in sy tweede jaar op Tukkies en Leon het op aandrang van sy pa op die plaas gebly om te help met die boerdery. Oom Hans was sieklik en al wou Leon eintlik graag ‘n Chef-kursus gaan doen, kon hy dit nie oor sy hart kry om sy ouers teleur te stel nie. Die omhelsing en soen in die kliphuis was die eerste normaliteit wat hulle albei ervaar het die hele jaar. Hier kon hulle die maskers van voorgee afhaal en net wees wat hulle was. Lief vir mekaar.
“Kom ons vertel ons ouers Tertius. Ek kan nie meer met hierdie geheim saamleef nie. My ma karring elke dag aan my dat ek vir Marietjie moet uitvat fliek toe of saamneem kerk toe. Ek is al moeg om verskonings uit te dink! My pa spot al openlik met my voor die mense op die dorp!” Tertius kon sien Leon is na aan trane.
“Nee, die tyd daarvoor is nog nie reg nie. Laat ek eers klaarmaak met my studies, sodat ek ‘n werk kan kry. My pa sal my defnitief wegjaag, jy weet dit tog!” Tertius skree byna en sien die skielike woede in Leon se oë.
“Wel, ek kan nie meer so leef nie! As jy skaam is vir wie jy is of vir my, is dit jou probleem! Ek gaan hulle vanaand vertel. Basta met die gevolge!” Leon staan vurig op vanwaar hy op die balkonklip gesit het om huiswaarts te keer.
“Wag nou Leon, jy moet mooi dink! Jy gaan ons albei se lewens verwoes as jy nie geduldig gaan wees nie!” Tertius gryp Leon nou vas aan sy een arm om te keer dat hy loop.
“Nee! Ek is moeg vir die leuens!” Hy ruk hom los uit Tertius se greep, maar verloor in die proses sy balans en val agteroor teen die krans af.
Stom van skrik vries Tertius vir ‘n oomblik, tot die realiteit hom tref. “Leon!” Hy gil nou soos ‘n besetene, terwyl hy oor die klippe onbeheersd afhardloop. Trane en stof besmeer sy gesig en wanneer hy uiteindelik by Leon kom, besef hy met een kyk, dat dit te laat is. Hy sak op sy knieë lang Leon neer en vee die bloedstraaltjie wat by Leon se neus uitloop sag met sy vingers af. Wat het hy gedoen! Hoe gaan hy aangaan sonder Leon?
Trane stroom nou oor Tertius se gesig, terwyl hy die geroeste blik vasklou. Hy weet dit was net ‘n ongeluk, maar hy droom steeds gereeld daarvan. Hy sien steeds Leon se lewelose, gebreekte lyf tussen die klippe aan die voet van die koppie. Sy Leon! Sy sielsgenoot en beste vriend. Nooit sou hulle weer in die kliphuis sit en droom oor ‘n toekoms saam nie. Nooit sou hy hom weer teen hom kom vasdruk en soen nie. Dit was verby. Die kliphuis stil en verlate. Tot vandag.
Na Leon se begrafnis is hy terug universiteit toe. Hy het homself begrawe in sy studies en soos ‘n robot voortgegaan met sy lewe. Eendag selfs besluit om teen sy beterwete ‘n meisie na ‘n sokkie te neem en uiteindelik ses maande gelede, ‘n week voor sy vyf-en-twintigste verjaardag, is hulle getroud. Janine. Sy ouers is natuurlik in ekstase oor hul nuwe skoondogter. Maar gisteraand het die pendulum uiteindelik geswaai.
“Wanneer het jy gedink kan ons met ‘n gesin begin Tertius?” het Janine ernstig gevra. Hy het in daardie oomblik geweet dat hy ‘n massiewe fout begaan het. Hy het na haar gekyk en in daardie oomblik geweet, dat hy homself (en Leon) verraai het. Nou sit hy hier, alleen in die kliphuis na al die jare en hy weet hy moet ‘n besluit neem.
Sy ouers en Janine gaan almal platgeslaan wees, maak nie saak wat hy vandag hier besluit nie. Of hy nou die moed bymekaar skraap om hulle in die oë te kyk en die afkeur daarin te sien as hy hulle vertel dat hy gay is en of hy die bottel pille drink. Die effek sal dieselfde wees. Sy ouers gaan steeds kinderloos wees , want hy weet sy pa sal hom wegjaag. Janine is gelukkig jonk. Of sy nou geskei is of ‘n jong weduwee is – sy sal wel gou iemand kry wat sy plek sal kan volstaan.
Dinge kon so anders uitgedraai het as hy daardie dag die moed gehad het om uit die kas te kom en sy ouers te vertel. Leon het meer guts gehad as hy. Hy was ‘n lafaard en dit het Leon sy lewe gekos. Maar dit vat meer guts om ‘n einde aan alles te maak, dan nie? So sal sy ouers, Janine en Leon se ouers nooit die waarheid weet nie en sterf hul geheim hier in die kliphuis saam met hom.
Hy lees vir oulaas die briewe wat hulle vir mekaar geskryf het. Bêre die blik terug, diep in die skeur en haal die bottel water en slaappille uit sy rugsak. Dan sluk hy twee hande vol pille weg en gaan sit op die randjie van die balkonrots en kyk uit oor die vallei.
“Ek is jammer dat ek nie daardie dag die guts gehad het nie, Leon. Ek is jammer ek het jou verraai. Miskien is daar waar jy nou is ook ‘n kliphuis, waar ons saam net onsself kan wees? Wag vir my . . . ek kom.” Tertius begin nou baie lomerig voel en later tuimel hy stadig vooroor.
Die kliphuis is nou net ‘n murasie van geheime en onvervulde drome . . . .
© Riana le Roux

Wenk van Elsabe

Ek het wonderlike raad van Janie Oosthuysen gekry:

Koop vir jou skoolhandboeke en LEER die voorsetsellyste. Voorsetsels is eintlik baie logies. Hy kan tog nie op die pad aanry/kom nie, maar hy kan wel met die pad langs aanry/kom.

Koop elke woordeboek wat jy kan kry en LEES dit van voor tot agter, maak lyste van alles wat vir jou nuut is en lees daardie lyste een keer elke aand. Dieselfde geld vir goeie Afrikaanse boeke. Skryf dinge en stelwyses wat jou tref neer, en lees daardie lyste een maal elke dag. Dis die kortpad na sukses.

SA Stories en Digters se eerste boeke

20431288_696008447276715_2382178608995965778_n

Pretoria boekbekendstelling “done & dusted”! Was regtig heerlik! Julle is almal wonderlik. Dankie vir ‘n heerlike kuier!!

Goeiemore almal! Ek wil ook net sê wat ‘n wonderlike voorreg dit vir my was om gister by die boekbekendstelling te kon wees en ook om my storie voor te lees. Dit was perfek beplan en uitgevoer en ons het dit vreeslik geniet.Ek is sommer weer van voor af geinspireer om te skryf. Dit was so spesiaal om almal te ontmoet. Dankie aan die admin vir die liefde en deernis waarmee julle hierdie projek/blad aanpak. Ek dink nie julle weet regtig wat julle vir almal beteken nie. Santie en Driekie, dankie vir julle raad ook. Dit het ook baie beteken. Lekker skryf en dig almal.

Juanita Swart

 

Elsabe vertel

Goeiemore almal, na ‘n heerlike bekendstelling gister wil ek net ‘n bietjie oordra aan die wat nie daar was nie, wat ek sal onthou:
1. Ons het VREESLIKE talentvolle skrywers en digters op ons groepe – en julle is almal sommer grhend mense!
2. Santie van der Merwe sê ‘n skrywer MOET elke dag 2,000 woorde skryf!!! (En dan wil Janie Oosthuysen ook nog hê ek moet ‘n woordeboek deurlees)
3. Driekie het gesê ‘n gedig moet ‘n GROOT storie vertel in so min as moontlik woorde – en jy moet hom oor en oor herlees voordat jy hom iewers plaas!
Vir almal wat nie daar was nie, julle het baie gemis. En vir die wat daar was, baie geluk, en dankie! Julle is sulke oulike mense!!!

Ou Vlakkie deur Sybie Kleynhans

Ou Vlakkie
Gistermiddag sit ek voor my lessenaar, skaats deur my kluis van gister se verse en stories. Ek stuur vir my Wipsie wat sy kan skaaf en ander laat ek in die niet verdwyn. Selfs dié wat volgens my aanvaarbaar was maar deur FB vrinne geïgnoreer is, dié het ek vernietig. Sommiges was nie eers opgesit nie maar dit sterf onder my vingers.
Maar sit so ek en dink terwyl ek vernietig en verbeel my ek hoor ‘n bees of iets wat snork. Die plaas is egter vol snorkers, dus ek gaan voort. Ek hoor die snork nader kom en op dieselfde wysie. Ek maak die deur oop en my baard daal ‘n ent na benede. Voor my staan ‘n vlakvarkman en ‘n netjies knaap daarby. Hy het ‘n vaal wolsafaripak aan en Lion-rugbykouse. Sy voorvoete het pienk Addida-spykerskoene aan en die agterstes geel waterskoene. Daar is ‘n blou strikdas, ‘n vilthoed met ‘n groen rek van ‘n Jockey-onderbroek om die bol.
Hy steek sy regterpoot uit en ek vat versigtig, weg van die spykers af, en ons skud poot.
“Oom Madefu?” Ek knik my kop en druk die verbasing in my baard. “Ek’s Vlakkie de Vlakvarkes van Geenkerk.”
“Oom Madefu van die Metodiste Kerk,” antwoord ek hom terwyl ek effe in deur my baard blaas. Dit val my by dat ek nog nie in Potch se kerk was nie en voeg haastig by. “Kroonstad se Metodiste Kerk. Aangename kennismaking.”
Ek trek my hand terug en loer vinnig daarna, sien geen bloed nie. “Kan ek help, Vlakkie?”
“Asseblief, oom Madefu.” Hy kyk rond vir sitplek en ek kyk na sy spykerskoene en die stert wat halfmas hang. Julle weet seker almal dat ‘n vlakvarkman se broek twee gulpe het, om verstaanbare redes.
Ek sleep ‘n bierkrat nader. Hy gaan sit, kruis sy gespierde bene en ek sien sy beenhare is geskeer of dalk af ge-Nair.
“Jy lyk nie siek nie, ou Vlakkie “ Ek sien hy kry so pyntrekkie op sy gesig, wat baie trekke van ‘n buurland se Eerste Minister het. “Wat is die probleem ou Rob … eh … ek bedoel, ou Vlakkie?”
“Oom Madefu, jy is so bekend onder die diereryk. Jy is soort van ‘n legende en dit is nie oor jou geneeskundige suksesse nie, maar jou empatie en begrip van ons vier-beeniges se dilemmas en versugtinge, ” snork ou Vlakkie.
“Huh?” Ek voel hoe val my gryshare uit en word vervang deur blondes. “Ou Vlakkie, ek het net so ‘n draai by UNISA gemaak, so ek dink ons moet die algemene Varkkaans praat, asseblief.” Ek voel my wange raak warm. Dit is nie maklik om te erken dat jy nie die hogere woorde van ‘n taal ken nie en dit nogal van ‘n vark af.
“Skuus, oom Madefu, dit is soos ons gegradueerdes maar praat,” hou hy vir hom baie slim.
“Ek neem aan jy het … watter graad, ou Vlakkie?” vra ek geïnteresseerd.
“Ek het ‘n Phd.VVO grade, Oom en dan ook ‘n diploma in Snuffelkunde.”
“Sjee, dok Vlakkie, wat is ‘n VVO graad?”
“Vlarkvark Vroetel Opinies, Oom.”
Ek lyk beïndruk, maar isi regtig nie. “Nou laat ek dan in eenvoudige spreektaal hoor wat pla, Vlakkie?” Ek bekyk sy bekkerasie so effens. “Dalk ‘n appel, piesang of Oros-koeldrank?”
“Nee dankie, oom Madefu.” Hy aarsel. “Oom het nie dalk ‘n dosyn of ses wat hier rondlê nie?”
Ek knoop my wenkbroue. “Watse dosyn of ses, Vlakkie?”
“Koeksisters, Oom.”
Verbaas kyk ek na sy pekaneut oë en sien hy’s wragtag ernstig. “Skuus ou Vlakkie. ek het niks behalwe wat ek genoem het nie.” Sy hele astoriejaait.
“Dan sal ek niks neem . Eh … vat nie, dankie Oom”
Vlakkie haal ‘n gevoude stuk papier uit sy sysak, en uit die bosak ‘n rondeglas brilletjie. Hy lyk nie soos John Lennon nie maar steeds soos ou Bob …
“Oom Madefu, met jou reputasie as ‘n eerlike en opregte tweebeen, wil ek jou iets baie persoonliks vra? Trouens jou reputasie is so vlekloos, jy kon enige tyd ‘n vlakvark gewees het.”
Ek sluk my skok en en staan op. “Skuus Vlakkie, ek sukkel nog met die asma, wil net my meds se water kook.”
“Is reg, oom Madefu. Ek gaan effe buite sit en ‘n dampie die hoogte instuur.” Hy stap uit, stof ‘n groot klip af en gaan sit.
Ek sit die ketel op die Cadactjie en loer skelm na buite. Hy is besig om lustig aan ‘n Meerschaumpyp te rook, sulke vuilblou dampe en ek weet hy rook gedroogte plakkersreste.
“Verdamns, ek gaan nie daai asem in my kamer laat vertoef nie!” en ek loer na buite. “Vlakkie sit gerus dáár, dis baie warmer as binne. Ek bring my dinkstoel, dan gesels ons sommer daar.”
“Goed oom Madefu,” damp hy so tussen sy woorde deur.
Ek maak my koffie, vat die stoel en gaan sit buite. Hy’s jintel-vark genoeg om sy pyp te bere, met sy linkerpoot spyker hy ‘n peppermint en bek dit.
“So ja, wat hinder, ou Vlakkie?”
Met sy linkerpoot zuum hy sy bril in posisie, loer op die papier en praat dan met ‘n onderwyserstem: “Oom Madefu, dit is juis daardie aanspreekvorm wat my en my rasgenote warm onder onse strikdasse maak.”
“Die naam vlakvark, maak jou … eh … julle vies?” Ek skuif my no 9’s effe dat ek beter en stewiger kan sit, bang vir omtiep. “Nou hoekom . . . eh Dok?”
“Oom, die woord vlak is baie bedrieglik en onjuis.”
“Hiekom?” As ek daai woord gebruik, dan is dit gewoonlik wanneer die rooileeus in my baard roer.
“Oom, dit is karakterskending en so aan.”
“Hiekom?”
“Want dit beteken ons is vlak van begrip en verstand. Ons tuistes is ook nie vlak nie, trouens dit is diep ondergrond. Vierbeen kan maar sê ons het twee-drievêrdiep-in huise.”
“Ek verstaan, dok,” lieg ek ewe vroom en met my regterhand vryf ek die glimlag in my baard in.
“Kan Oom dit asseblief die wêreld instuur, deur FB of whatsapp. Of dalk laat julle TV mense dit beeldsend?”
Ek staan op, slaan my khakiekleurige oge na bowe. “Ek kan probeer, dok. Wat moet julle voortaan genoem word?”
Hy staan ook op, lyk belangrik en vernaam as hy die naam gee en ek kry ‘n asmalose hoesbui.
“Baie dankie, oom Madefu en ‘n heerlike Saterdag vir u.” Ons hand/spykerspoot mekaar.
“Mooi loop .. . eh …. ou Gattie.”
En ek blaas deur my baard. Die geleerdes is soms effe snaaks en onverstaanbaar. Van vlakvark na gatvark?
Sjee.
©Sybie

Ons groepe soos volg

AANDAG!!
Net om aan al ons nuwe en ou lede weer die plasings op ons verskillende blaaie te verduidelik:
SA Stories = plasing van kortverhale
SA Digters = plasing van gedigte
SA Digters Afrondingsblad = vir plasing van gedigte waarop jy kritiek/hulp wil hê
SA Skrywers Boekeblad = slegs vir plasing van bundels/boeke vir advertering en verkope.
Dankie vir jul samewerking.