Storie Gym 2 & 3

‘n Hond se lewe

Ina Cantoni Storie van my lewe,

Hoekom is die hekkie se knippie so klein? My neus is te lank vir die gaatjie en poot te groot. Ek sal maar bietjie wag. Miskien kom my mense Pappa my haal.
Wag hier is my waterbak. “ siees. Die water is sleg en vol stof, ek moet vra vir skoon water” Met ’n dom pootjie word die bak omgekeer en Flaffie gaan langs die bak lê. Diep uit sy keel los hy nou ’n laaaang diep tjank wat al wat hond in die straat is wakker het. Die bure se honde val in en minute later is die koor op volle dreef.
“Ah” dink Flaffie as die deur oopgaan, nou gaan ek skoon water kry. Mense Mamma hardloop egter met ’n nat vadoek en raps my boud so hart dat ek tjank.
En sonder om my waterbak te sien gaan sy terug in die huis.
My hartjie is seer. Ek verlang na my mense om my koppie te vryf, my bal te gooi en my bak skoon te maak.
O wel ’n dag is te lank vir niks doen nie en as hulle nie met my wil speel nie, sal ek maar gister se gate in die gras gaan vêrder omdolwe. Die rooigrond ruik so lekker!
Nou kom my mense Pappa! Lekker hy gaan my bal gooi. Eina maggies, brand my boud waar hy my raps met sy skoen. Ek mag seker nie vandag gate grou nie?
Nog ’n dag van wegkruip in my hok? Miskien môre.

Sonja Brown “Ek sweer ek makeer iets… Ek kan net nie ophou krap nie! Dalk dermatitis. Dis wanneer my vel so jeukerig raak, en dan word dit rooi, en alles swel op en raak seer, en dan kry ek klein blasies. Dis so irriterend!” Duimpie krap aanhoudend oral, sy oë toe, en sy tong hang een kant van sy bek uit.
“Oe mammie, ek hoop nie dis brandsiek nie.” Hy gril merkbaar. “Parasitiese miete wat so onder ons honde se vel rond kruip en ons bloed suip! My pragtige lang hare gaan uitval! Helloooo! Wie maak pruike vir honde??”
“Dit kan…” hy krap weer woes agter sy oor… “ook ‘n allergie wees vir die nuwe kossies wat ek nou moet eet. Ek hoop nie so nie! Dis frieken lekker”!”
“As dit weer daai staphylococcus infeksie is hol ek weg en los my vel net hier. Die behandeling was aaklig, en die medisyne het soos duiwelsdrek geproe. My vel was rou geskrop, en ek moes daai groot plastiek ding om my nek dra. Wie kan nou slaap met so ding? En geen teef wou vir my kyk nie…”
“Ek weet darem dis nie kompulsiewe lek-siekte wat party van my vriende het nie, want my tong bly waar hy hoort: in my bek. Behalwe as ek warm kry.”
Duimpie byt angstig in die hare bokant sy stert, en voel iets tussen sy tande. Hy spoeg dit op die sement blad uit. “Ah, dank die pous! Haha,” lug hy sy bo-lip in ‘n glimlag. “Dis toe al die tyd net ‘n vlooi!”

Vallei Arts En Crafts Jackie-Poedel
Die poedel langsaan, Jackie, het ʼn regte brakke lewe gehad. Baas John en Mies Suzie is nie goeie mense nie, partykeer skop hulle haar sommer uit die pad. Nooit sal jy een tjank oor haar lippe hoor nie… in haar woorde: “ ʼn Rottweiler tjank nie, nooit nie.” (Sê ʼn poedel?)
Menige dae moes ons kos deel met haar (Jy is reg, ons honde kan deel en kommunikeer. Ons is nie net tande en grom nie) Hulle het soms vir weke weg gegaan sonder om eers ʼn krieseltjie kos agter te laat nie. Gelukkig lek die kraan agter in die erf in ʼn ou erdeskottel, maar daar is darem altyd genoeg om die dors te les. Haar ribbes en rug, bult deur haar dowwe droë pels. Met ʼn krom rug, weerspieëlende van ekstreme hongersnood probeer sy elke dag haar kop in die lug hou. Wanneer sy nader stap, probeer sy altyd vriendelik en opgewek klink, maar ons kon die moegheid en later die dood sien opkruip in hierdie pragtige oë en agter ʼn valse en ongelukkige glimlag. Ek en Boel het gegee soveel ons kon. Eers was ons oortuig dat die verskriklike mishandelde lewe wat sy gelei het die oorsaak was van haar toestand. Die laaste dag van hierdie vriendelik en altyd positiewe vriendin, roep sy ons nader en in ʼn growwe dog vriendelik stem sê sy: “Vriende, ek gaan julle mis. Moenie hierdie mense, wat ons as diere nie verstaan en respekteer nie, veroordeel nie. My dood lê baie dieper as net dit wat die oog kan sien. Ek het met Sheena Sheepdog aan die anderkant gepraat, sy dink dat dit moontlik is dat ek ʼn mense siekte het, wat hulle kanker noem.
“Dit was dan ook haar laaste woorde, ʼn hart van wie ons ongeëwenaarde vergifnis geleer het.

Alet de Hart Uitdaging: ń Hond se lewe

Van baas en hond kan mens baie sê. Soms is dit ń kwessie van wie is baas en wie is hond. En as die hond aan Mevróu Pieterse behoort, het die baas van die huis, beslis ‘n hond se lewe.

Die wit maltees sal oral ń wig inslaan tussen man en vrou. By die eet tafel sit hy glad op sy eie stoel om dieselfde vleisies te eet wat vir die familie voorgesit word. Word nogal afgerig om als met “etiket” te doen. ń Maltees is MOS meer kees as maltees.

Saans voor die TV sal maltees sy lê kom kry presies waar die stoel al die lekkerste “ingesit” is. Nie op die vloer waar honde hoort nie. Dit raak ‘n resies na ete om eerste op daai lekker gemaklike stoel te gaan sit. En as baas eerste is sal Mevrou van die kombuis skree.. “ag pappa, laat Prins Charles, daar sit.”

Hoe veg ‘n baas van die huis sy weg oop om die baas te bly, word gevra. Gelukkig kry hy nog nie sy kos uit die silver bakkie by die agterdeur nie. Hy kon net sowel, want PC gebruik dit nooit.

PC het sy naam gekry met die sprokies troue van lady Di. Daardie troue het Meneer Pieterse se hele lewe verander. Eers het hy saam gespeel en als was te oulik. Soos ń kind in die huis.

Toe die volgroeide Pieterse kinders die huis verlaat het om op hul eie voete hul toekoms te vestig, het PC gebly. Toe kon hy meer aandag kry. Die rolle het net daar heeltemal oor gedonder na die ander kant. ‘Pappa’ kry toe die hond se lewe en PC bly die prins van verlange. As die Prins van Wallis so droog gemaak het met die skone Prinses Di…sal Mevrou Pieterse sorg dat hierdie Prins Charles haar sprokies prins bly.

“Lekker slaap PC. ‘Pappa’ se honne”

Riana Barnard MattheeEen dag uitdaging
‘n hond se lewe

Wat gaan op hierdie werf aan vandag? Geen hoender kan homself hoor kekkel of kraai in die rumoer nie. Dit is vark wat die spul so aanhits vandag. Hy het blykbaar spesiale toestemming by Wuma gekry om vandag hier op die werf te oi oi. Hy het nou al vir kalkoen en gans ook aanmekaar en dit is waar die ergste lawaai vandaan kom. Vark prosedeer oor die onregverdigheid tussen die varke en honderas. Hy sê hy word eers vereer as hy dood is. Dan eers pryk hy op vername mense se tafels en of dit nie genoeg is nie word ‘n appel in sy bek gedruk net so asof hulle bang is dat hy nog vir oulaas ‘n geluid sal maak. Hy moet in modder bad en kry skille en oorskiet kos om te vreet. Hond darenteen, word met shampoo gebad. Spesiale pille en souse word vir hom gekoop en hy slaap in die huis. In die winter lekker warm voor die kaggel. Die verskil in klas en ras MUST FALL op hierdie plaas. Indien daar nie aan ons eise voldoen word nie gaan ons die mielielande verwoes. Ons het mos al mooi gesien hoe doen die mense dit. As hulle nie hulle sin kry nie verwoes hulle alles wat hulle aan die lewe moet hou. Nee ons het hulle goed dopgehou. Ons varke dring aan op die lewe van n hond!!!

Die Kortste Dag
Sonja Brown 267 woorde: Nes elke dag was dit vandag vroeg opstaan, koffie maak terwyl badwater intap, bad, tandeborsel, aantrek vir werk, grimering doen, kokketiel kos gee en ‘n kort geselsie aanknoop waar daar geblaas word wanneer jy die vars water insit (nes elke dag), ses honde voer en seker maak twee wat vol nonsies is eet wel, grou rond in die yskas vir iets om te eet by die werk, en stap dan kwart oor ses by die deur uit nadat jy al die ligte afgesit het.
Ry hoek toe, laai Brandon op (Malawiese seun wat elke dag saam ry skool toe), ry senuweeagtig in die donker op nou paadjies vol herwinningswerkers met brëe trollies wat nie vir jou kar padgee nie, en jy lê so effe links as daar ‘n trok aankom en hoop jou liggaamsbeweging gaan verhoed dat hy jou stamp omdat jy die trollies vermy, draai dan regs in ‘n hobbel teerpad wat voel soos die Big Dipper, -net sonder die lang afdraende wat jou wil laat opgooi-, tot by die hoofstraat, draai links en hoop jy kry al die verkeersligte groen want daardie pad is heng besig, en wraggies, hulle is vandag almal groen!, draai regs by die sportsaal nadat jy ‘n kansie moes vat tussen aankomende voertuie en voel hoe Brandon namens jou briek trap, waar jy dan weer met ‘n glimlag links draai en weer links voordat jy hom by die skool aflaai en dan al die pad weer terug slinger tot by die werk. Dit is al amper sewe uur, net ‘n halfuur voordat jy begin werk. Jimmel, waar is die tyd heen?

Lewer kommentaar