Storie Gym 1: Agter die duine

Na aanleiding van “Riana se tips” wat ons laas week geplaas het, het ons begin met ‘n skryf gym op ons Facebook groep. Elke tweede dag word ‘n titel geplaas en almal moet ‘n storie skryf wat nie langer as 300 woorde is. Die lede het dit baie geniet. Hier is ons eerste titel en stories.

“Agter die duine”

Hendie Grobbelaar : Agter die duine lê ‘n nuwe lewe. ‘n Skoon begin, ‘n vars bries.
Daar waar sy nou net hittegolwe kan sien ronddans en stippeltjies sien beweeg oor die horison; daar lê haar uitkoms.
Sy kom stadig orent en gooi die laaste hopie sand oor die aborteerde fetus en tel haar verslete rugsak op.
Anderkant die duine. Dis waar sy hoort.

Alet de Hart: Dis bietjie langer maar moet dit vertel. Eie storie.

Agter die Duine van Ponta do Oura

Met ‘n splinternuwe spier wit Volvo 122 en op “honeymoon” met die mooiste boeremeisie, wat sal ‘n man nie als doen om die bruid van sy drome te beïndruk nie.

Voor ons by Ponta do Oura kom, vat ons ‘n afdraai paadjie en stop ons net so onder ‘n vlak duin, om die see te kan sien, en ons stap tot bo. Die strand lê wit tussen ons en die blou gladde Indiese Oseaan.

Dit is asemrowend. Die hoogte punt van ons “huwelik, daar waar ons vir dae in die son en see gaan baljaar. Ek snak na my asem en hou dit op vir etlike sekondes. Dit is die mooiste mooi. Styf in mekaar se arms staan ons die wonderlike natuurskoon en bekyk. Natuurlik, ‘n kus van liefde, innig en baie spesiaal. Maande lank gedroom en beplan aan die oomblik.

Dadelik besluit hy, hy gaan my tot by die water bring met die Volvo. Wiele is breed genoeg, maksimum enjin krag onder die “bonnet”, as hy net oor die droë sand kan kom, wag daar pure pret op die nat sand al langs die strand af.

Die bande word effens afgeblaas. Ek is pasgetroud en doen wat gevra word. Maar so twintig meter verder val die wit motor in daai wit sand in tot by die “rims.

Nog agter die vlak duin en so ver ons kan sien is daar nêrens iemand in sig nie.

Skielik is die oomblik van volmaaktheid in ‘n ander dimensie. Ek met my minie rokkie – help grawe en soek klippe. “klippe op die strand van LM?. Nooit gesien nie”.

Dit kos ons om amper ń kilometer te stap – weg van die see af – om hulp te gaan soek. Al wat ons kon kry was ‘n bouperseel en 2 planke. Terug stap, soos twee brom bere. Stukkie vir stukkie grawe ons met ons hande en met die planke retireer ons die Volvo terug weer op vaste grond. Vir ń hele paar ure. Die “Honeymoon” het ‘n dag of twee geneem om weer op dreef te kom. Toe kon ons daaroor lag.

Baie jare later het ons darem die geleentheid gekry om op daardie selfde wit strand met ‘n 4X4 te ry. Nou na 44 jaar darem nog steeds saam.

@ Alet de Hart

Rosalee Meyer :Die mis sleep grillerig oor die koue duine. Sy ril, fluit saggies deur haar tande. Dis donkermaan en die komme maak donker skaduwees. Enige oomblik nou… Sy het dit verwag, maar skrik tóg toe ‘n sterk hand om haar enkel sluit en haar agter die duine intrek. ‘n Ferm hand klamp om haar mond, smoor haar gil. Sy rolval al hoe vinniger, maak haar lyf ‘n bondeltjie om die meeste sand uit haar gesig te probeer hou. Die gespierde lyf vou om hare, saam tol hul na onder. Nog in die momentum mik sy ‘n skop na sy been, maak kontak. Sy hoor hoe hy sy asem insuig om die pyn te absorbeer.
“Deksels, Ferreira, was dit nou nodig,”grom hy onthuts terwyl hy sy been vryf.
Sy bars uit van die lag: ” Dan is my opleiding seker nou suksesvol voltooi, nê, kollega?”
Speursersant Scheepers kan nie anders as om ook maar te glimlag nie.
“Jy slaag met vlieënde vaandels, kollega!”

Janet de Vaal Haar asem jaag, haar bors brand. Sy moet dit maak. Agter daardie duine lê haar hoop, haar lewe. Die son skroei op haar neer, sweet loop straaltjies teen haar moeë lyf af. Amper daar. Haar voete voel soos lood. Nee, skree dit binne haar. Dis nog net ‘n entjie. Agter die duin wag haar redding.
‘n Paar tree, dan plof sy neer; voel hoe die son alle lewe uit haar dreineer.
Vir die hoeveelste keer kyk hy op sy horlosie waar hy in die Landrover, agter die duin, vir haar wag.
“Sy het dit nie gemaak nie,” praat hy met homself. Die woestyn het nog ‘n slagoffer geneem.”
Hy skakel die Landrover aan; ry stadig weg; laat ‘n eensame figuur agter wat nou een word met die barre woestyn.

Vallei Arts En Crafts: Sandduin van my lewe
Agter die sandduine van my hart, lê die lewelose-sand van al my wense en strewes, verstrooi so ver as die oog kan sien. Storms kom en storms gaan, dit verskuif my duine herwaarts en derwaarts. Verander my wens, ʼn sandkorrel op ʼn slag.
As jong man was ek soos ʼn Sandmaster besig om elke sandduin te tem na my hand, maar helaas hoe meer ek die duine ry hoe meer besef ek dat ek nie die duine getem kry nie. Drome van ʼn jong seun om die grootste duin-branderplank ryer te wees vervaag soos die jare kom en gaan. Die eelte, skaaf en skuur merke kreukel my leë droë lewe. Die duine van my lewe, opgetel met die kragtige en verwoestende hande van die stormwinde van die lewe. Soos sandkorrels op getel in die warrelende dwarrelende windstrome verpletter teen enigiets wat hulle tref. Die vraag is egter altyd, hoe sterk is ek kan ek die aanslae hanteer, of hanteer die aanslae my?

Riana Barnard Matthee Jaftha Afrika is skaars begrawe en die mense trek en rek nogsteeds die storie uit. Lieg baie stukke aan maar , al was dit dan nou ook die dood, die mense kom bymekaar, vriend en vyand want niemand wil op ‘n sappige storie uitmis nie. Dat Jaftha nou so lelik verongeluk het. Sy bakkie het op die treinspoor gaan vrek. Hy het elke week by die winkel op die buurdorp kos en ander noodsaaklike items gaan koop en tot almal se frustrasie weet niemand wat hy daarmee gedoen het nie. Al die goed was nog op sy bakkie toe die trein hom getref het. Opslag morsdood!. Nou skinder almal weer oor die vreemde man met die vreeslike lelike litteteken oor sy gesig en die een glasoog. Waar sou hy eweskielik vandaan kom? Wat hulle nie weet nie is dat hy nou noodgedwonge sy lewensmiddele self moet aanskaf. Hy bly al so goeie vier jaar daar waar geen mens ooit kom nie, agter die duine.

Hansie Lategan Agter die duine
Dit was agter die duin wat ek jou die eerste keer gewaar het lief. Dit was ‘n helder maanligaand toe ek op die strand gestap het en toe ek oor die duin kom, sien ek jou.

Jy het met jou blink naakte lyf uit die see gestap. Jou kurwes was perfek. Alles was tog te pragtig. In die maanlig kon ek mooi sien hoe jy jou handdoek optel en jou begin afdroog. Jy was perfek my lief.

Later het ek agter gekom dat dit jou somer laataand ritueel was. Gaan swem in jou geboortepak in die see en ontspan dan in die maanlig . Jy is so verruklik dat ek seker is die maan gee nie om nie. Dit is hier waar ek jou ontmoet het en onmiddelik op jou verlief geraak het.

Dit is nou al drie jaar dat ek jou ken, my lief. Drie jaar wat ek ook die maanligroetine met jou deel. Drie jaar wat ek elke dag net liewer raak vir jou. Wie weet lief, miskien sal ek my eendag aan jou kom voorstel.

@Hansie Lategan (178 woorde)

Ina Cantoni: Duine…rondom, agter en my voor my! Duine wat almal eenders lyk. My tent, my slaapsak en ’n vuurtjie.. en ek..my gedagtes my verlange my smart. Ek probeer om hierdie jaar wat verby is in hierdie duin kom begrawe.
Miskien sal al die sand rondom my genoeg wees om die onthou te begrawe. Snags roep ek na die sterre. Hulle is so naby ek kan hulle pluk en ek wonder, is een van hulle dalk jy? Trane loop oor my wange, hoeveel dae is in een jaar? En ek bid saggies, laat hierdie smart agter hierdie duin agterbly?
Ek druk my vingers in my ore. Ek wil nie die knal van die skoot hoor nie! Ek druk my hande oor my oë. Ek wil nie die bloed sien nie.! Ek stop my vuiste in my mond. Ek wil nie weer gil nie!
Dan hardloop ek, hardloop oor hierdie duin, val staan op, hardloop weer, rol in die ondeindige sand, maar die onthou kom saam.
Uitgeput kom ek by my tentjie aan. Moeg seer en vol sand, maar nog steeds klou die onthou in my siel vas. My knieë is seer, van pleit en roep en bid.
“Here help my om dit te verstaan, want die vergeet sal nooit kom nie. Ek moet net aanvaar en verstaan”
Dan weet ek. Hy het my stem gehoor! Ek staan op, stap oor die duin en grawe ’n gat in die sand. Ek sit die foto raam van twee jong manne in die gat en gooi dit stadig toe.
My maat, my vriend my kameraad, rus in vrede. Ek aanvaar jou besluit. Jy wou nie langer lewe nie. Agter die duin het ek berusting gevind.

 

 

Lewer kommentaar