Wenner Pretuitdaging 5

WENNER PRETUITDAGING 5:
Testament
Baie geluk aan Lettie Jordaan! Dit was kort en bondig maar met goeie suggestie.

Pretuitdaging 5: Testament van Johannes (Ore) de Jager

Aantal woorde: 318

Geskryf deur Elizabeth Jordaan

Hierdie is die laaste wil en testament van Johannes de Jager, woonagtig te Knoppiesdoring Aftree-oord, Modimole.

Aan my vyf lamsakkige kinders laat ek die volgende boeke uit my biblioteek na:

1.      Aan my oudste seun,Andries: dis nou al vir jare dat jy uitsonderlike swak skryfsels loslaat op die Afrikaanse leserspubliek. Ek bemaak aan jou “Die Afrikaanse Skryfgids”van Riana Scheepers en Leti Kleyn.

2.      Aan my dogter, Anna, wie se kosmaak-pogings meer is as wat vlees en bloed kan verduur: “Kook en Geniet”van SJA de Villiers.

3.      Aan my seun, Niklaas: te oordeel aan jou Facebook profiel, neem jou middellyf epiese proporsies aan. Jy kry die boek “Elders- die Camino 1025 km te voet”van Erns Grundling.

4.      Aan my dogter, Katryn, jou sosiale vaardighede laat nog steeds veel te wense oor ten spyte van al my en jou oorlede Ma se pogings. Jy kry “Goeie Maniere en Etiket”van Emsie Schoeman.

5.      Aan my jongste dogter, Miempie: ek was nog nooit seker waar jy aan jou gebrekkige Afrikaans gekom het nie. Aan jou laat ek die “Afrikaanse Gesegdes”van Jan Venter na.

Lees en word wys kinders.

6.      Die res van my boeke, uitgesonderd die een soos vermeld in klousule 8 hieronder, laat ek na aan die op-en-wakker leesklub van Knoppiesdoring Aftree-oord.

7.      Aan my goeie vriend en Scrabble- maat, Lang-Jan Eybers, laat ek my wyn versameling na, asook die Scrabble stel wat ons soveel aande se plesier verskaf het.

8.      Die restant van my boedel, roerend en onroerrend, laat ek na aan Suster Susan Benade, werksaam by Knoppiesdoring Aftree-oord. Ek het haar leer ken as ‘n vrou van vele talente en in haar geselskap het ek ure van genot deurgebring. Verder laat ek ook die boek “Fifty Shades of Grey” van E.L. James, na aan Suster Benade ter herinnering aan die goeie ou dae.

Geteken te Knoppiesdoring Aftree-oord, Molimole op hierdie vierde dag van Maart 2017.

Johannes (Ore) de Jager

2 thoughts on “Wenner Pretuitdaging 5

Lewer kommentaar