Pieter se Kerrie Frikkadelle – Ria Fourie

Resep met n storie

Ek sê ja op die ingewing van die oomblik. Soos die tyd nader kom skel ek myself, wil ek bel en kanselleer, sê dis teen my geloof, maar toe ek weer sien, is dit tyd en moet ek maar deurdruk. Ek is ingeboelie in ‘n “blind date” en nou klop hy aan my deur. Ons gesels dadelik land en sand. Ek bied my beste koffie aan. Ricoffy. Net om te hoor dat dit nie koffie is nie. Regte koffie is Kenna wat met n perkoleerder gemaak word. Griekse woorde vir hierdie vrou. Ons kuier die volgende aand weer. Die dag daarna word n ma se ruiker met affodille by my werk afgelaai. Ons kuier weer. Hy nooi my vir ete. Dis oor die resep wat die storie gaan. Wit Royal Albert borde op ‘n spierwit tafeldoek. Die man het styl. Ek voel bietjie uit my vaarwater. Ek wonder of het ek enige styl? Die een dag loop in die volgende een in. Saam ontdek ons nuwe wêrelde. Hy drink glad nie wyn nie. Maar ‘n nagevolg van grootword dinge met ‘n alkoholis pa en daarna met mevrou eks wat ook te veel elmboog gelig het. Ek is dol oor wyn. Ons gaan hou vakansie in die Kaap. Vir die eerste keer in my lewe bly ek in spoghotelle en eet ons cuisine. Ons proe wyn. Die wyn groei op hom, en hy groei op my.

Amper twee jaar na daardie blinde oomblik, trou ek en hy. Ons ontdek nuwe wêrelde. Ons gunsteling eetplek is Chez Patrice in Rivieria. Ons probeer alles wat anders is. Ons verken die wêreld en leer ons saamgestelde gesin van lekker kos, wyn en kuierplekke. So besluit ons een aand aan tafel om die hele kaboedel vir een week Kaap toe te vat. Die volgende aand vertrek die Kombi uit Pretoria met sewe insittendes. Francor op George waar die golf karretjies ons na ons kamers vervoer. Lanserac Hotel in Stellenbosch waar ons in n tipiese Maleise restaurant eet en my seun weier om met sy hande te eet. Victoria & Alfred Hotel op die Waterfront. So nuut, is nog nie eers gegradeer nie. Vyfster vakansie.

Dan tref die onheil. My pas geboude droomhuis word op ‘n veiling verkoop. Ons trek. Hy verloor sy werk. Ek begin kosmaak met al my kennis wat ek opgedoen het as ons so uiteet in eksotiese restaurante. Ons lewe ‘n ander lewe. Uiteet en duur vakansies vergete. Ons eet as familie sy spesiale dis, waaroor die storie gaan.

En dan begin die son weer skyn. Die finansies verbeter. Ons kan nou alweer onthaal. Die lewe is mooi. Tot een Dinsdag oggend. Chroniese limfatiese leukemie, Meneer. Presies een jaar na daardie dodelike uitspraak, word hy begrawe. Nege en veertig jaar oud. Hy kon die laaste vyf weke nie meer eet nie want die septisemia was aggressief.

En nog nooit, ooit weer, het ek na hierdie resep gekyk nie. Dit ook nog nooit weer gemaak of geëet nie.

Pieter se Kerrie Frikkadelle

1 dik sny witbrood geweek in 125ml melk

1 ui gesmoor in 10ml olie

15ml matige kerriepoeier – saam met ui geroerbraai. Laat afkoel

Meng kerrie mengsel by 500g gemaalde beesvleis en voeg geweekte witbrood en 1 eier hierby. Geur met sout en peper

Maak balletjies en pak in ‘n gesmeerde skottel sodat al die frikadelle langs mekaar lê.

 

Maak die sous:

Roerbraai 2 fyngesnyde uie in 30ml olie.

Voeg 15ml kerrie poeier by en roerbraai nog een minuut

Voeg die volgende alles by en geur met sout en peper:

125ml asyn

10ml borrie

30ml bruinsuiker

60ml appelkooskonfyt

Voeg 250ml water by en bring tot kookpunt. laat stadig prut tot vloeistof met die helfte verminder het.

Giet mengsel oor frikadelle en bak in voorafverhitte oond by 180 grade vir sowat 45 minute

Bedien met piesangskyfies en rys.

 

2 thoughts on “Pieter se Kerrie Frikkadelle – Ria Fourie

Lewer kommentaar