En die wenner is…

WENNER!!! Die wenner van die Heidi Uitdaging. Onthou dat julle by die reesl hou wat gestel word:
Ek het die uitdaging so gestel:
Skryfuitdaging 7. Sluitingsdatum 30 Junie. Skryf n storie oor n dag in die lewe van Heidi en haar oupa in nie meer as 500 woorde nie. Hierdie Lyk vir my soos die plek waar hulle gebly het. Merk jou inskrywing: Heidi Uitdaging. Die wenner kry n geskenkie van Switserland af. Plaas op die blad en e pos n.a. elsabedebeer8@gmail.com

En die wenner is:.... Riana Barnard Matthee.

Inboks vir my jou posadres en ek stuur vir jou die geskenkie wat ek van Switzerland af gebring het:

SKRYFUITDAGING 7

HEIDI UITDAGING (681 woorde)

Die sneeu lê weer dik en skitterwit op die Alpe vanoggend. Oupa Alm U het die kaggel al van donker gestook en die koolstoof kreun ook al van ligdag af. Heidi kom vandag!!. Sy pragtige Heidi kom weer vir ‘n week by hom kuier. Hy is dankbaar dat hy nog in die lewe is en dat kleine Heidi nogsteeds sy lewe met vreugde vul. Daar het al soveel dinge verander hier in Frankfort. Heidi is noual ‘n jonge dame en reis die wêreld vol. Sy het ‘n skryfster geword en skryf stories oor al die plekke wat sy reg oor die wêreld besoek. Hy verjaar môre en daarom die feesmaal wat hy vir hulle berei. Die brode is al uit die oond en in die linnelappe toegedraai. Heidi sal netnou weer ‘n lekker dik sny warm brood en botter kan eet, net soos sy as klein dogtertjie gedoen het. Hy hoor die bokke en Peter se geroep en fluit en sit solank die blikbeker reg om vir hom ‘n warm beker koffie te gee. Hy kom vandag bietjie vroeër met die bokke van die berg af om vir Heidi in Frankfort te gaan haal. Sy sal eers van die stasie na Klara toe gaan en daar vir Peter wag. Ai die storie van Peter en Heidi en die pragtige Klara is so hartseer. Heidi is lief vir Peter soos wat sy al die jare vir haar kindervriend was maar Peter, ja Peter het baie dieper gevoelens vir Heidi. Hy het haar lief maar sy lag dit net altyd weg. Heidi se soeke na avontuur en nuwe stories is nog te sterk en daarom besef sy nog nie die erns van Peter se liefde nie. Klara het weer op haar beurt vir Peter innig lief. Sy het een dag aan hom gesê dat sy nooit sal trou as dit nie met Peter is nie. As die liefde tog nie verwydering bring tussen die drie jare lange vriende nie. Hy bid maar vir die drie kinders. Sy tyd is ook nie meer baie nie en wil net die bietjie tyd wat oor is geniet met sy geliefde Heidi. Hy is môre al 97 jaar oud en wil die dag spesiaal lekker maak vir die drie kinders want Klara kom ook elke jaar sy verjaarsdag saam vier. Dit is al amper vieruur en hulle sal nou enige oomblik hier wees…dan hoor hy dit. “Oupa!, oupa! My liewe dierbare oupa! Ek is hier oupa”. Sy klink nog net soos die klein dogterjie van ouds. “Heidi!!! Heidi my kind kom hier tot in my arms dat ek jou kan voel en weet jy is rêrig hier by my. Ek is rêrig hier by oupa. O ek is so bly en opgewonde oupa. Kom laat ons binnegaan uit die snerpende koue wind”. Peter kom aan met al haar bagasie. “Dit lyk mos vir my jy kom vir altyd terug as ek na die klomp bagasie kyk Heidi, spot Peter.” “Miskien, miskien nie”, speel Heidi saam.
Later, nadat sy lekker ingenestel is en die aandskottelgoed klaar gewas is, wat vanaand uit haar gunsteling warm brood en melkkos met baie kaneelsuiker bestaan het, gaan staan sy by Peter. “Liefste Peter en my liefste, liefste oupa, ons het vroeër sommer so ligweg daaroor gespot maar Peter voor al die mense môre hier is vir oupa se verjaarsdag en terwyl dit net ons drie hier bymekaar is wil ek graag vir jou sê, ja, ja Peter ek sal met jou trou. Ek wil nie weer van jou en oupa en die bokke af weggaan nie. Ek wil hê ons moet weer vir ons ‘n Josef kry en dan bly ons almal vir altyd hier saam. Jou bokboerdery het so groot uitgebrei en ek sal van hier af my stories skryf. Liefdesverhale hierdie keer”. “Heidi!!!!! Skree oupa en Peter amper saam. Is jy ernstig, bedoel jy wat jy sê?. Gaan jy rêrig nooit weer weg nie?”. Oupa Alm U staan op en met trane wat in sy spierwit baard afloop wens hy ons geluk. My wens is vervul en my gebede verhoor. Nou sal ek aanhou bid dat Klara ook ‘n jongman sal ontmoet vir wie sy lief sal word. “Nouja kinders môre is ‘n besige dag. Kuier julle nog maar lekker. Ek gaan nou inkruip”. “Nag oupa, my liefste oupa.
” Nag Peter, nag my dierbare klein Heidi”

Riana Barnard Matthee

 

Ontmoet die man agter die baard

Vertel ons wie is SYBIE KLEYNHANS

Sybie Kleynhans is gebore op Kleynhansrust, distrik van Kroonstad op 4 Maart 1951 waar hy opgegroei het en sy skoolloopbaan in Kroonstad voltooi het. Hy het reeds as kind die pen opgeneem en kortverhale en gedigte begin skryf, tot vermaak van vele familie en vriende. Sybie, ook bekend as Baardman, Baardbek, Leeuman  is ’n skrywer en digter van formaat en kom elke woord uit sy hart, hetsy van mens of dier. Sybie het sy eerste boek, Dieregiere en Goggageite in 2013 gepubliseer. In Maart 2015 het Madefu se Wêreld die lig gesien en later dieselfde jaar is ook sy unieke digbundel, Splinters uit my hart, gepubliseer. Gedurende Oktober 2015 is die roman Thola vrygestel en daarna ware staaltjies uit sy verlede, Gister se Pad, in Oktober 2016. In Desember 2016 het Sybie dan ook ‘n CD uitgebring waarop kortverhale en gedigte verskyn (Versamelwerke van Sybie Kleynhans.) Sybie het pas ‘n bundel, Koningin en die Kluisenaar en ander kortverhale vrygestel word. Gedagtes saam met die Barbaar volg later hierdie jaar asook ‘n nuwe bundel waarin net gedigte sal verskyn.

MADEFU FOTO.jpgSYBIE FOTO AGTER OP OMSLAG (2).JPG

Waaroor gaan jou boeke en waar kan ons dit kry om te lees?

SYBIE SE BOEKE

Ek het reeds ses boeke gepubliseer:

Dieregiere en Goggageite

Madefu se Wêreld

In hierdie twee boeke leef ek my uit om met die diere van die plaas en boswêreld te gesels, hulle van raad te voorsien en sommer net lekker saam met hulle te kuier.

Prys : R150,00 plus R50,00 posgeld indien nodig.Dieregiere en Goggageite prent.jpgMADEFU VOORBLAD KORREK.jpg

Thola

Is ‘n liefdesroman wat afspeel in die oorlogtyd.

Daar is ‘n weergawe wat ongesensord is (R18) en dan ook die ‘sagter’ een.

Prys : R180,00 plusR50,00 posgeld indien nodig.

Splinterwoorde van ‘n Swerwer

Hierdie is ‘n unieke handgemaakte digbundel op A4 grootte wat slegs gemaak word op bestelling

deur Lorraine Barnard.

Prys :  R250,00 plus R50,00 posgeld indien nodig.

Gister se Pad

Hierdie boek bestaan uit ware staaltjies uit my verlede.

Prys : R150,00 plus R50,00 posgeld indien nodig.GISTER SE PAD OMSLAG.jpg

Koningin in die Kluisenaar en ander kortverhale

‘n Lekker lywige boek van 315 bladsye bestaande uit ‘n verskeidenheid van kortverhale.

Prys : R200,00 plus R50,00 posgeld indien nodig.KONINGIN EN KLUISENAAR KORREK.jpg

Waar het die idee vir jou storie vandaan gekom?

My idees van stories en gedigte word gevorm soos wat my gemoed is, soms lig, soms meer matig, soms hartseer, soms bedruk. Ek probeer oor die algemeen altyd die leser in ag neem.

Hoe lank het jy aan die boeke gewerk?

‘n Boek word nie in een dag geskryf nie.  Dit vat maande se keuring, proeflesing en taalversorging om te verseker dat dit 100% is voordat ‘n boek drukkersgereed is.

Wat is die proses wat ‘n skrywer moet volg om ‘n manuskrip in ‘n gepubliseerde boek te verander?

Die boek moet ten eerste geproeflees en taalversorg word. Ek maak gebruik van Magda de Korte wat my boeke drukkersgereed maak in drukkersformaat en dit in ‘n gepubliseerde boek verander voordat dit na die drukkers gaan.

Is dit beter om ‘n boek self te publiseer of deur ‘n uitgewer soos bv Lapa?

Dit is regtig die skrywer se keuse.  Om ‘n boek self te laat publiseer kos heelwat aan drukkerskostes. Die voordeel daarvan is dat die fondse wat die skrywer in, vir sy eie rekening daarna is.

Om deur ‘n uitgewer te publiseer, kos die skrywer niks. Volgens inligting tot my kennis, as jy deur ‘n uitgewer soos bv Lapa publiseer, is jou boek eintlik hulle eiendom en kry die skrywer slegs ‘n minimale bedrag soos bv R12.00 per boek sou dit verkoop word, wat dan ook op ‘n drie-maandelikse basis aan die skrywer oorbetaal word.  Die uitgewer mag in die skrywer se boek verander soos hulle verkies en ja … dit is ook ‘n baie lang proses indien dit wel goedgekeur word.

Het jy enige kurses gevolg om jouself as skrywer te verbeter?

My kursusse was te Bloem Slypskool onder Francois Bloemhof, Leon van Nierop, Chanette Paul en Deon Meyer.

Wanneer en hoekom het jy begin skryf?

Ek skryf al vandat ek kan onthou, op papier neergesit, seker to 25 tot 30 jaar.  Dit was nog altyd in my bloed.

Het jy al ooit “writers block” gehad en hoe breek jy deur dit?

Ek glo enige skrywer ondervind ‘writer’s block’ op ‘n gereelde basis.  Die beste is om nie jouself te     dwing om daardeur te breek nie. Gee jouself spasie, vat dit rustig en laat jou gedagtes gaan. Die muse sal vanself terugkom.

Wanneer of waar skryf jy die beste?

Ek skryf op my lekkerste snags as ek nie kan slaap nie, of baie vroeg in die oggend.

Eintlik, vandat ek ‘n pensionaris is, pas enige tyd my.  As my woorde rol, rol my ink.

Watter raad sal jy vir ongepubliseerde skrywers gee?

My raad aan elke ongepubliseerde skrywers is dat dit ‘n mόét is om te publiseer, al is dit net eenmaal.  Die gevoel wanneer jy daardie eerste boek in jou hande vashou en jy weet dit is jόú werk, is absoluut onbeskryflik.

Dink jy social media help of hinder skrywers?

Dit hang af of dit die skrywer positief of negatief benader. Positiewe media is altyd ‘n pluspunt.

Vir ‘n bietjie pret, ons blitsvrae rondte:

Koffie of Tee?  Koffie

Watter seisoen verkies jy en hoekom?

Winter, heerlike tyd om voor ‘n warm vuur sit en skryf.

Gusteling kos en het jy ‘n lekker resep om met ons te deel?

Braaivleis is altyd ‘n wenner. Wat is nou lekkerder as ‘n skaaptjoppie, boerewors en ‘n pot pap met gebraaide tamatie en uie.

Kerrie-afval; Varsgebakte brood; Roly Poly as nagereg.

Watter kleur hou jy nie van?  Pienk

Biltong met of sonder vet? Beesbiltong met vetjie. Wildsbiltong sonder vet

Gunsteling liedjie/s

Solitaire : Niel Diamond

Sound of Silence : Simon en Garfunkel

Baie geluk Linda du Plessis

AANDAG!

Wenner Uitdaging 10

Sjoe, almal se gedigte was regtig puik, maar ek het veral baie gehou van dié een van:

Linda du Plessis

Baie geluk Linda. Inbox vir my jou posadres asb.

My liefdesklippies vir jou

Net soos ‘n handvol klippies word ons liefde gekoester
teen my vel, in my lewe en my hande gevorm, naby my hart
klippies rond gemaal deur die lewensmeul perfek gelouter
deur lief en leed, lag en traan, vreugde en smart
my dogter ek stuur vir jou my handvol klippies
klippies wat lag van vreugde skoon gebeitel van traandruppels
wat tapdans met klinkende vrolike liefdesklokkies
gawes en vrede wat ek om jou lieflike hals hang met suiwer pêrels
mag elke klippie deel wees van jou lewensverhaal
en as die lewensmeule jou rondskommel tot lieflike klippies
dit eendag jou lewensreis vertel as jou laaste dag oor jou daal
jy jou handvol klippies sal laat oorvloei na my kleinkinderhandjies

© Kopiereg Linda du Plessis 21/06/2017

Ken Jou Storie en skryf een

www.aros.ac.za

‘n inisiatief van Aros

in samewerking met Pretoria FM,
Maroela Media & Fontein Uitgewery

Gryp die geleentheid aan en stuur jou kinderstorie in!  Wie weet, jy kan die volgende beroemde kinderboek skrywer word!
‘n Kontantprys is op die spel & die wenboek word gepubliseer!

Skakel in op Pretoria FM vir insiggewende wenke oor kinderboeke en kinderontwikelling  deur kenners op die gebied!  Ons volgende gesprek is Woensdag 5 Julie @09:50!

Sluitingsdatum is 29 September 2017!

REëLS & INSKRYWINGSVORM

1. Deelnemers moet hulle eie, ongepubliseerde en oorspronklike stories instuur.
2. Illustrasies is nie ‘n vereiste nie.
3. Die storie moet in Afrikaans wees.
4. Maximum woorde: 4-6 jaar (5000) & 7-9 jaar (toepaslik vir ouderdomsgroep).
5. Inskrywings kan per e-pos (inskrywings@kenjoustorie.co.za) of geregistreerde pos (Posbus 31120, Totiusdal, 0134) gestuur word.
6. Inskrywings wat per pos gestuur word moet duidelik gemerk word vir die kompetisie.
7. Geen laat inskrywings word aanvaar nie.
8. Manuskrip, indien met die hand geskryf, moet duidelik leesbaar wees.
9. Elke inskrywing moet vergesel word deur ‘n volledig ingevulde inskrywingsvorm.
10. Deelnemers se name mag nie op die manuskrip verskyn nie.
11. Aros behou die kopiereg van die teks van die weninskrywings.
12. Die wenboek sal deur Fontein Uitgewery gepubliseer word.
13. Die pryswenner se naam sal op die gepubliseerde boek verskyn.
14. Inskrywings open 15 Junie 2017 en sluit op 29 September 2017.

LENTESKOOL MET SKRYFKOMPETISIE VIR SKRYWERS VAN ROMANTIESE FIKSIE — SKRYWERS SKRYF

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgew…er LAPA, bied van Donderdag 14 tot Saterdag 16 September 2017 ’n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan. Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie, verteenwoordigers van LAPA-uitgewery en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as gespreksleiers op. Liefdesverhaalsoorte soos die romanse en liefdesroman kom onder […]

via LENTESKOOL MET SKRYFKOMPETISIE VIR SKRYWERS VAN ROMANTIESE FIKSIE — SKRYWERS SKRYF

Storie Gym 2 & 3

‘n Hond se lewe

Ina Cantoni Storie van my lewe,

Hoekom is die hekkie se knippie so klein? My neus is te lank vir die gaatjie en poot te groot. Ek sal maar bietjie wag. Miskien kom my mense Pappa my haal.
Wag hier is my waterbak. “ siees. Die water is sleg en vol stof, ek moet vra vir skoon water” Met ’n dom pootjie word die bak omgekeer en Flaffie gaan langs die bak lê. Diep uit sy keel los hy nou ’n laaaang diep tjank wat al wat hond in die straat is wakker het. Die bure se honde val in en minute later is die koor op volle dreef.
“Ah” dink Flaffie as die deur oopgaan, nou gaan ek skoon water kry. Mense Mamma hardloop egter met ’n nat vadoek en raps my boud so hart dat ek tjank.
En sonder om my waterbak te sien gaan sy terug in die huis.
My hartjie is seer. Ek verlang na my mense om my koppie te vryf, my bal te gooi en my bak skoon te maak.
O wel ’n dag is te lank vir niks doen nie en as hulle nie met my wil speel nie, sal ek maar gister se gate in die gras gaan vêrder omdolwe. Die rooigrond ruik so lekker!
Nou kom my mense Pappa! Lekker hy gaan my bal gooi. Eina maggies, brand my boud waar hy my raps met sy skoen. Ek mag seker nie vandag gate grou nie?
Nog ’n dag van wegkruip in my hok? Miskien môre.

Sonja Brown “Ek sweer ek makeer iets… Ek kan net nie ophou krap nie! Dalk dermatitis. Dis wanneer my vel so jeukerig raak, en dan word dit rooi, en alles swel op en raak seer, en dan kry ek klein blasies. Dis so irriterend!” Duimpie krap aanhoudend oral, sy oë toe, en sy tong hang een kant van sy bek uit.
“Oe mammie, ek hoop nie dis brandsiek nie.” Hy gril merkbaar. “Parasitiese miete wat so onder ons honde se vel rond kruip en ons bloed suip! My pragtige lang hare gaan uitval! Helloooo! Wie maak pruike vir honde??”
“Dit kan…” hy krap weer woes agter sy oor… “ook ‘n allergie wees vir die nuwe kossies wat ek nou moet eet. Ek hoop nie so nie! Dis frieken lekker”!”
“As dit weer daai staphylococcus infeksie is hol ek weg en los my vel net hier. Die behandeling was aaklig, en die medisyne het soos duiwelsdrek geproe. My vel was rou geskrop, en ek moes daai groot plastiek ding om my nek dra. Wie kan nou slaap met so ding? En geen teef wou vir my kyk nie…”
“Ek weet darem dis nie kompulsiewe lek-siekte wat party van my vriende het nie, want my tong bly waar hy hoort: in my bek. Behalwe as ek warm kry.”
Duimpie byt angstig in die hare bokant sy stert, en voel iets tussen sy tande. Hy spoeg dit op die sement blad uit. “Ah, dank die pous! Haha,” lug hy sy bo-lip in ‘n glimlag. “Dis toe al die tyd net ‘n vlooi!”

Vallei Arts En Crafts Jackie-Poedel
Die poedel langsaan, Jackie, het ʼn regte brakke lewe gehad. Baas John en Mies Suzie is nie goeie mense nie, partykeer skop hulle haar sommer uit die pad. Nooit sal jy een tjank oor haar lippe hoor nie… in haar woorde: “ ʼn Rottweiler tjank nie, nooit nie.” (Sê ʼn poedel?)
Menige dae moes ons kos deel met haar (Jy is reg, ons honde kan deel en kommunikeer. Ons is nie net tande en grom nie) Hulle het soms vir weke weg gegaan sonder om eers ʼn krieseltjie kos agter te laat nie. Gelukkig lek die kraan agter in die erf in ʼn ou erdeskottel, maar daar is darem altyd genoeg om die dors te les. Haar ribbes en rug, bult deur haar dowwe droë pels. Met ʼn krom rug, weerspieëlende van ekstreme hongersnood probeer sy elke dag haar kop in die lug hou. Wanneer sy nader stap, probeer sy altyd vriendelik en opgewek klink, maar ons kon die moegheid en later die dood sien opkruip in hierdie pragtige oë en agter ʼn valse en ongelukkige glimlag. Ek en Boel het gegee soveel ons kon. Eers was ons oortuig dat die verskriklike mishandelde lewe wat sy gelei het die oorsaak was van haar toestand. Die laaste dag van hierdie vriendelik en altyd positiewe vriendin, roep sy ons nader en in ʼn growwe dog vriendelik stem sê sy: “Vriende, ek gaan julle mis. Moenie hierdie mense, wat ons as diere nie verstaan en respekteer nie, veroordeel nie. My dood lê baie dieper as net dit wat die oog kan sien. Ek het met Sheena Sheepdog aan die anderkant gepraat, sy dink dat dit moontlik is dat ek ʼn mense siekte het, wat hulle kanker noem.
“Dit was dan ook haar laaste woorde, ʼn hart van wie ons ongeëwenaarde vergifnis geleer het.

Alet de Hart Uitdaging: ń Hond se lewe

Van baas en hond kan mens baie sê. Soms is dit ń kwessie van wie is baas en wie is hond. En as die hond aan Mevróu Pieterse behoort, het die baas van die huis, beslis ‘n hond se lewe.

Die wit maltees sal oral ń wig inslaan tussen man en vrou. By die eet tafel sit hy glad op sy eie stoel om dieselfde vleisies te eet wat vir die familie voorgesit word. Word nogal afgerig om als met “etiket” te doen. ń Maltees is MOS meer kees as maltees.

Saans voor die TV sal maltees sy lê kom kry presies waar die stoel al die lekkerste “ingesit” is. Nie op die vloer waar honde hoort nie. Dit raak ‘n resies na ete om eerste op daai lekker gemaklike stoel te gaan sit. En as baas eerste is sal Mevrou van die kombuis skree.. “ag pappa, laat Prins Charles, daar sit.”

Hoe veg ‘n baas van die huis sy weg oop om die baas te bly, word gevra. Gelukkig kry hy nog nie sy kos uit die silver bakkie by die agterdeur nie. Hy kon net sowel, want PC gebruik dit nooit.

PC het sy naam gekry met die sprokies troue van lady Di. Daardie troue het Meneer Pieterse se hele lewe verander. Eers het hy saam gespeel en als was te oulik. Soos ń kind in die huis.

Toe die volgroeide Pieterse kinders die huis verlaat het om op hul eie voete hul toekoms te vestig, het PC gebly. Toe kon hy meer aandag kry. Die rolle het net daar heeltemal oor gedonder na die ander kant. ‘Pappa’ kry toe die hond se lewe en PC bly die prins van verlange. As die Prins van Wallis so droog gemaak het met die skone Prinses Di…sal Mevrou Pieterse sorg dat hierdie Prins Charles haar sprokies prins bly.

“Lekker slaap PC. ‘Pappa’ se honne”

Riana Barnard MattheeEen dag uitdaging
‘n hond se lewe

Wat gaan op hierdie werf aan vandag? Geen hoender kan homself hoor kekkel of kraai in die rumoer nie. Dit is vark wat die spul so aanhits vandag. Hy het blykbaar spesiale toestemming by Wuma gekry om vandag hier op die werf te oi oi. Hy het nou al vir kalkoen en gans ook aanmekaar en dit is waar die ergste lawaai vandaan kom. Vark prosedeer oor die onregverdigheid tussen die varke en honderas. Hy sê hy word eers vereer as hy dood is. Dan eers pryk hy op vername mense se tafels en of dit nie genoeg is nie word ‘n appel in sy bek gedruk net so asof hulle bang is dat hy nog vir oulaas ‘n geluid sal maak. Hy moet in modder bad en kry skille en oorskiet kos om te vreet. Hond darenteen, word met shampoo gebad. Spesiale pille en souse word vir hom gekoop en hy slaap in die huis. In die winter lekker warm voor die kaggel. Die verskil in klas en ras MUST FALL op hierdie plaas. Indien daar nie aan ons eise voldoen word nie gaan ons die mielielande verwoes. Ons het mos al mooi gesien hoe doen die mense dit. As hulle nie hulle sin kry nie verwoes hulle alles wat hulle aan die lewe moet hou. Nee ons het hulle goed dopgehou. Ons varke dring aan op die lewe van n hond!!!

Die Kortste Dag
Sonja Brown 267 woorde: Nes elke dag was dit vandag vroeg opstaan, koffie maak terwyl badwater intap, bad, tandeborsel, aantrek vir werk, grimering doen, kokketiel kos gee en ‘n kort geselsie aanknoop waar daar geblaas word wanneer jy die vars water insit (nes elke dag), ses honde voer en seker maak twee wat vol nonsies is eet wel, grou rond in die yskas vir iets om te eet by die werk, en stap dan kwart oor ses by die deur uit nadat jy al die ligte afgesit het.
Ry hoek toe, laai Brandon op (Malawiese seun wat elke dag saam ry skool toe), ry senuweeagtig in die donker op nou paadjies vol herwinningswerkers met brëe trollies wat nie vir jou kar padgee nie, en jy lê so effe links as daar ‘n trok aankom en hoop jou liggaamsbeweging gaan verhoed dat hy jou stamp omdat jy die trollies vermy, draai dan regs in ‘n hobbel teerpad wat voel soos die Big Dipper, -net sonder die lang afdraende wat jou wil laat opgooi-, tot by die hoofstraat, draai links en hoop jy kry al die verkeersligte groen want daardie pad is heng besig, en wraggies, hulle is vandag almal groen!, draai regs by die sportsaal nadat jy ‘n kansie moes vat tussen aankomende voertuie en voel hoe Brandon namens jou briek trap, waar jy dan weer met ‘n glimlag links draai en weer links voordat jy hom by die skool aflaai en dan al die pad weer terug slinger tot by die werk. Dit is al amper sewe uur, net ‘n halfuur voordat jy begin werk. Jimmel, waar is die tyd heen?

Skryfuitdaging 7 Sluitingsdatum 30 Junie

Skryf n storie oor n dag in die lewe van Heidi en haar oupa in nie meer as 500 woorde nie. Hierdie Lyk vir my soos die plek waar hulle gebly het. Merk jou inskrywing: Heidi Uitdaging. Die wenner kry n geskenkie van Switserland af. Plaas op die blad en e pos n.a. elsabedebeer8@gmail.com

18447100_10213395865075052_6487539634154327209_n.jpg

Storie Gym 1: Agter die duine

Na aanleiding van “Riana se tips” wat ons laas week geplaas het, het ons begin met ‘n skryf gym op ons Facebook groep. Elke tweede dag word ‘n titel geplaas en almal moet ‘n storie skryf wat nie langer as 300 woorde is. Die lede het dit baie geniet. Hier is ons eerste titel en stories.

“Agter die duine”

Hendie Grobbelaar : Agter die duine lê ‘n nuwe lewe. ‘n Skoon begin, ‘n vars bries.
Daar waar sy nou net hittegolwe kan sien ronddans en stippeltjies sien beweeg oor die horison; daar lê haar uitkoms.
Sy kom stadig orent en gooi die laaste hopie sand oor die aborteerde fetus en tel haar verslete rugsak op.
Anderkant die duine. Dis waar sy hoort.

Alet de Hart: Dis bietjie langer maar moet dit vertel. Eie storie.

Agter die Duine van Ponta do Oura

Met ‘n splinternuwe spier wit Volvo 122 en op “honeymoon” met die mooiste boeremeisie, wat sal ‘n man nie als doen om die bruid van sy drome te beïndruk nie.

Voor ons by Ponta do Oura kom, vat ons ‘n afdraai paadjie en stop ons net so onder ‘n vlak duin, om die see te kan sien, en ons stap tot bo. Die strand lê wit tussen ons en die blou gladde Indiese Oseaan.

Dit is asemrowend. Die hoogte punt van ons “huwelik, daar waar ons vir dae in die son en see gaan baljaar. Ek snak na my asem en hou dit op vir etlike sekondes. Dit is die mooiste mooi. Styf in mekaar se arms staan ons die wonderlike natuurskoon en bekyk. Natuurlik, ‘n kus van liefde, innig en baie spesiaal. Maande lank gedroom en beplan aan die oomblik.

Dadelik besluit hy, hy gaan my tot by die water bring met die Volvo. Wiele is breed genoeg, maksimum enjin krag onder die “bonnet”, as hy net oor die droë sand kan kom, wag daar pure pret op die nat sand al langs die strand af.

Die bande word effens afgeblaas. Ek is pasgetroud en doen wat gevra word. Maar so twintig meter verder val die wit motor in daai wit sand in tot by die “rims.

Nog agter die vlak duin en so ver ons kan sien is daar nêrens iemand in sig nie.

Skielik is die oomblik van volmaaktheid in ‘n ander dimensie. Ek met my minie rokkie – help grawe en soek klippe. “klippe op die strand van LM?. Nooit gesien nie”.

Dit kos ons om amper ń kilometer te stap – weg van die see af – om hulp te gaan soek. Al wat ons kon kry was ‘n bouperseel en 2 planke. Terug stap, soos twee brom bere. Stukkie vir stukkie grawe ons met ons hande en met die planke retireer ons die Volvo terug weer op vaste grond. Vir ń hele paar ure. Die “Honeymoon” het ‘n dag of twee geneem om weer op dreef te kom. Toe kon ons daaroor lag.

Baie jare later het ons darem die geleentheid gekry om op daardie selfde wit strand met ‘n 4X4 te ry. Nou na 44 jaar darem nog steeds saam.

@ Alet de Hart

Rosalee Meyer :Die mis sleep grillerig oor die koue duine. Sy ril, fluit saggies deur haar tande. Dis donkermaan en die komme maak donker skaduwees. Enige oomblik nou… Sy het dit verwag, maar skrik tóg toe ‘n sterk hand om haar enkel sluit en haar agter die duine intrek. ‘n Ferm hand klamp om haar mond, smoor haar gil. Sy rolval al hoe vinniger, maak haar lyf ‘n bondeltjie om die meeste sand uit haar gesig te probeer hou. Die gespierde lyf vou om hare, saam tol hul na onder. Nog in die momentum mik sy ‘n skop na sy been, maak kontak. Sy hoor hoe hy sy asem insuig om die pyn te absorbeer.
“Deksels, Ferreira, was dit nou nodig,”grom hy onthuts terwyl hy sy been vryf.
Sy bars uit van die lag: ” Dan is my opleiding seker nou suksesvol voltooi, nê, kollega?”
Speursersant Scheepers kan nie anders as om ook maar te glimlag nie.
“Jy slaag met vlieënde vaandels, kollega!”

Janet de Vaal Haar asem jaag, haar bors brand. Sy moet dit maak. Agter daardie duine lê haar hoop, haar lewe. Die son skroei op haar neer, sweet loop straaltjies teen haar moeë lyf af. Amper daar. Haar voete voel soos lood. Nee, skree dit binne haar. Dis nog net ‘n entjie. Agter die duin wag haar redding.
‘n Paar tree, dan plof sy neer; voel hoe die son alle lewe uit haar dreineer.
Vir die hoeveelste keer kyk hy op sy horlosie waar hy in die Landrover, agter die duin, vir haar wag.
“Sy het dit nie gemaak nie,” praat hy met homself. Die woestyn het nog ‘n slagoffer geneem.”
Hy skakel die Landrover aan; ry stadig weg; laat ‘n eensame figuur agter wat nou een word met die barre woestyn.

Vallei Arts En Crafts: Sandduin van my lewe
Agter die sandduine van my hart, lê die lewelose-sand van al my wense en strewes, verstrooi so ver as die oog kan sien. Storms kom en storms gaan, dit verskuif my duine herwaarts en derwaarts. Verander my wens, ʼn sandkorrel op ʼn slag.
As jong man was ek soos ʼn Sandmaster besig om elke sandduin te tem na my hand, maar helaas hoe meer ek die duine ry hoe meer besef ek dat ek nie die duine getem kry nie. Drome van ʼn jong seun om die grootste duin-branderplank ryer te wees vervaag soos die jare kom en gaan. Die eelte, skaaf en skuur merke kreukel my leë droë lewe. Die duine van my lewe, opgetel met die kragtige en verwoestende hande van die stormwinde van die lewe. Soos sandkorrels op getel in die warrelende dwarrelende windstrome verpletter teen enigiets wat hulle tref. Die vraag is egter altyd, hoe sterk is ek kan ek die aanslae hanteer, of hanteer die aanslae my?

Riana Barnard Matthee Jaftha Afrika is skaars begrawe en die mense trek en rek nogsteeds die storie uit. Lieg baie stukke aan maar , al was dit dan nou ook die dood, die mense kom bymekaar, vriend en vyand want niemand wil op ‘n sappige storie uitmis nie. Dat Jaftha nou so lelik verongeluk het. Sy bakkie het op die treinspoor gaan vrek. Hy het elke week by die winkel op die buurdorp kos en ander noodsaaklike items gaan koop en tot almal se frustrasie weet niemand wat hy daarmee gedoen het nie. Al die goed was nog op sy bakkie toe die trein hom getref het. Opslag morsdood!. Nou skinder almal weer oor die vreemde man met die vreeslike lelike litteteken oor sy gesig en die een glasoog. Waar sou hy eweskielik vandaan kom? Wat hulle nie weet nie is dat hy nou noodgedwonge sy lewensmiddele self moet aanskaf. Hy bly al so goeie vier jaar daar waar geen mens ooit kom nie, agter die duine.

Hansie Lategan Agter die duine
Dit was agter die duin wat ek jou die eerste keer gewaar het lief. Dit was ‘n helder maanligaand toe ek op die strand gestap het en toe ek oor die duin kom, sien ek jou.

Jy het met jou blink naakte lyf uit die see gestap. Jou kurwes was perfek. Alles was tog te pragtig. In die maanlig kon ek mooi sien hoe jy jou handdoek optel en jou begin afdroog. Jy was perfek my lief.

Later het ek agter gekom dat dit jou somer laataand ritueel was. Gaan swem in jou geboortepak in die see en ontspan dan in die maanlig . Jy is so verruklik dat ek seker is die maan gee nie om nie. Dit is hier waar ek jou ontmoet het en onmiddelik op jou verlief geraak het.

Dit is nou al drie jaar dat ek jou ken, my lief. Drie jaar wat ek ook die maanligroetine met jou deel. Drie jaar wat ek elke dag net liewer raak vir jou. Wie weet lief, miskien sal ek my eendag aan jou kom voorstel.

@Hansie Lategan (178 woorde)

Ina Cantoni: Duine…rondom, agter en my voor my! Duine wat almal eenders lyk. My tent, my slaapsak en ’n vuurtjie.. en ek..my gedagtes my verlange my smart. Ek probeer om hierdie jaar wat verby is in hierdie duin kom begrawe.
Miskien sal al die sand rondom my genoeg wees om die onthou te begrawe. Snags roep ek na die sterre. Hulle is so naby ek kan hulle pluk en ek wonder, is een van hulle dalk jy? Trane loop oor my wange, hoeveel dae is in een jaar? En ek bid saggies, laat hierdie smart agter hierdie duin agterbly?
Ek druk my vingers in my ore. Ek wil nie die knal van die skoot hoor nie! Ek druk my hande oor my oë. Ek wil nie die bloed sien nie.! Ek stop my vuiste in my mond. Ek wil nie weer gil nie!
Dan hardloop ek, hardloop oor hierdie duin, val staan op, hardloop weer, rol in die ondeindige sand, maar die onthou kom saam.
Uitgeput kom ek by my tentjie aan. Moeg seer en vol sand, maar nog steeds klou die onthou in my siel vas. My knieë is seer, van pleit en roep en bid.
“Here help my om dit te verstaan, want die vergeet sal nooit kom nie. Ek moet net aanvaar en verstaan”
Dan weet ek. Hy het my stem gehoor! Ek staan op, stap oor die duin en grawe ’n gat in die sand. Ek sit die foto raam van twee jong manne in die gat en gooi dit stadig toe.
My maat, my vriend my kameraad, rus in vrede. Ek aanvaar jou besluit. Jy wou nie langer lewe nie. Agter die duin het ek berusting gevind.