SA Stories Bundel 2 Tema

AANDAG – TEMA NUWE BUNDEL!!📚

Die tema vir ons volgende bundel is:

Kontrei-, platteland- en Karoostories.

Stories wat afspeel op die klein plekkies in ons land.

Maksimum 2000 woorde.

Sluitingsdatum: 30 September

Stories kan vanaf 1 Sept ge-email word vir keuring na elsabedebeer8@gmail.com
(NIE VOOR 1 SEPT NIE ASB)

Intussen kan julle dit op die blad plaas.

Lekker skryf!!

Baie geluk Anze

WENNER – UITDAGING 7: LIRIEK

Baie dankie vir die inskrywings wat ons ontvang het. Almal was pragtig en ek weet vir sommige van julle was ‘n liriek ‘n nuwe uitdaging. Onthou, rym en ritme is BAIE belangrik in lirieke. Gaan luister na ‘n paar liedjies met aandag en julle sal hoor wat ek bedoel.

Ons wenner se inskrywing het aan albei die kriteria voldoen. Baie geluk:

Anze Bezuidenhout

Jy ontvang ‘n digbundel van Ian Smit – Grenslose verse EN (hou julle harte vas) JOU LIRIEK GAAN GETOONSET WORD DEUR SIMON RIEKERT!!

Ons sal wanneer Simon daarmee klaar is – die klankbaan hier op die blad deel. Baie dankie Simon!! Dit gaan ‘n eerste wees op digblaaie! Ek sien ‘n digbundel gekombineer met ‘n CD – in dié blad se toekoms!!

Ek het besluit om ‘n naaswenner aan te kondig:

Annalize Booysen

Jou liriek verdien ook om genoem te word. Pragtig gedoen – julle moet net altyd onthou om die ritme van musiek ingedagte te hou. Jy wen ook een van Ian Smit se digbundels.

Nog ‘n wenner

WENNER PRETUITDAGING 4- PAROOLBRIEF

Baie dankie vir al die inskrywings. Ek wil net noem dat daar ‘n paar inskrywings was wat nie die voorgeskrewe reëls gevolg het nie. Die scenario is duidelik in die uitdaging geskets en die aantal woorde moet ALTYD nagekom word. Die inskrywings was almal van goeie gehalte, maar die een wat my die meeste beindruk het is die een van:

Rosalee Meyer

Baie geluk! Jou skryfvernuf word by die dag beter.

Gedigte van ons Facebook groep

Dwaalspoor

ek stap terug
op die dwaalspoor
van ontnugtering
soek na die rede vir
jou haastige vertrek
ek talm by die valsheid
van jou woorde
die skroeiende kyke
in jou raaisel-spieël oë

ek het jou slaafs gevolg
my laat lei deur jou hande
jou vals-liefde in my gekoester
niksvermoedend, verdiepgeraak
in jou manlikheid

nou soek ek na broodkrummels
wat in dié doolhowe
my terug moet neem
na ‘n veilge hawe
waar die verbond
van ons liefde
eens sin gemaak het

©Riana le Roux
27/05/2017

Moenie vergeet van INK

Is jy n skrywer, digter, liriekskrywer of sanger? Of geniet jy dit net om te lees? Dan ek wil jou uitnooi om te kom loer en aan te sluit by n nuwe webwerf vir Afrikaanse digters/skrywers/Musiek & liriek skrywers en sangers www.ink.org.za ons sal jou baie graag as lid daar wil verwelkom. Ink is selfoon en tablet vriendelik en daar gebeur opwindende dinge en kompetisies vir almal! Hierdie is n stem in Afrikaans waar ons groot talent ontdek en ontgin. Daar is n volledige biblioteek (gedigte, liegstories, kinderverhale en kinderrympies), Elektroniese FAK, (47)E-woordeboeke en kitaardrukke vir bekende Afrikaanse liedjies en Opleidingseksie as jy gratis aansluit. Kom adverteer jou reeds gepubliseerde publikasies in ons boekwinkel. Baie groot blootstelling vir ons lede. Indien jy belangstel om deel van die INKspan te word moet jy asb op die webwerf vir jou n profiel gaan registreer, dan sal jy toegang he tot die hele webwerf en kan rustig deur alles lees en besluit in watter mate jy betrokke wil wees. Kliek asb. op die skakel.14224822_247027319025015_9036647688614674682_n

Raad van Ita Froneman

Ek deel graag op versoek van Philip Nel

Kommentare lewer riglyne:

Trap jul soms klei in hoe om kommentaar te lewer?

Ek deel graag met julle iets as riglyn. Laat weet in kommentaarruimte of dit van nut was?

Jy moet jou eie werke evalueer aan die hand van kennis waaroor jy beskik aan die hand van Digteorie, asook die selfvertoue hê om ander se werke te evalueer. Let wel, dit begin by selfevaluering. As jy jouself meet aan sekere standaarde dan sal jy ook kan uitspraak lewer oor ander se kuns.

Jy het al seker moes kommentaar lewer hier op ander digters se werke en miskien kon jy jouself sinvol verwoord.

Waarna kyk mens as jy ‘n gedig moet evalueer? Aan watter maatstawwe meet jy dit? Daar is werklik niks so sinneloos deur net te veralgemeen in jou kommentaar en te sê iets is “mooi “ of “goed” nie , want dis werklik so niksseggend, al is dit goeie maniere.

‘n Digter wil altyd sinvolle terugvoere hê, dis waaraan hy die sukses van sy skrywes kan meet. Dit waarvan jy hou, val dalk nie in iemand anders se smaak nie, of miskien het jy die bal heeltemal misgesit.

Deur slegs te besin het jy ‘n hele raamwerk van maatstawwe waaraan jy ‘n vers kan evalueer.

Alvorens die maatstawwe weer uitgelig gaan word as meetinstrumente, wil ek tog net die volgende wenke gee.
Onthou altyd dat jy met die kunstenaar se siel hier werk as jy evalueer. Daar is maniere om kritiek te lewer sonder om die persoon af te breek. Jy moet altyd motiveer wat jy sê as jy evalueer, nie net lukraak bewerings maak nie! ‘n Goeie tegniek om van gebruik te maak, is om die “toebroodjie-metode” aan te wend. Dit behels dat jy in jou kommentaar/kritiek eers iets positiefs sal noem wat gewerk het, daarna gee jy dit waarop die persoon kan verbeter met duidelike motiverings by en daarna sluit jy weer op positiewe noot af. Dus “verberg” jy jou kritiek van wat nie suksesvol was in die gedig nie, met die positiewe kommentaar aan die begin en einde. Selfs al het die gedig nie geslaag nie, is daar altyd iets positiefs te sê, al is dit net die skrywer se entoesiasme!

Kom ons besin vlugtig, sonder enige voorkeurorde, wat is die maatstawwe wat jy kan gebruik by evaluasie. Bestudeer die betrokke gedig en meet dit aan die volgende:

• Taalkundige versorging (spelling, sinstrukture, keurige aanbieding)
• Binne watter verwysingsraamwerk val die gedig?
• Wat was die skrywer se invalshoek en slaag dit?
• Op watter teikengroep is die gedig gerig?
• Watter genre is gebruik? Bv. is dit ‘n liriese vers, ‘n epos, ‘n sonnet, ‘n ode, is dit sosiale kommentaar, is dit ‘n haiku, ‘n liefdesgedig , ens.)
• Kan jy ‘n tema aflei uit die gedig?
• Wat merk jy aangaande woordkeuses, is dit raak verwoord?
• Tref die titel, hou dit verband met die versinhoud?
• Is hier enige verstegnieke aangewend? (is daar vergelykings, personifikasie, metafore, ens.?)
• Word die essensie weergegee met woordekonomie of is dit ‘n rompslomp van woorde?
• Word rym sinvol aangewend of is dit blote rymelary? ( het rym enige uitheffingsfunksie binne die gedig?)
• Is hier van enige uitheffingsmeganismes gebruik gemaak om gediginhoud verstegnies te ondersteun?
• Het die digter dalk woordvondse hier van nuwe woordskeppinge?
• Kon die digter daarin slaag om metafore aan te wend, is hele gedig dalk ‘n metafoor?
• Wat merk jy aangaande die tipografie van die gedig?
• Watter struktuurelemente het die gedig? (strofe verdeling, rym, ens. )
• Is hier sprake van sintuiglike waarneming?

Hierdie is slegs genoem om vir jou konkrete maatstawwe te gee waaraan jy jou evaluering kan meet. Mens kan seker nog aan baie ander dinge ook dink van hoekom ‘n gedig sou kon slaag al dan nie. Dis seker ook logies dat mens nooit al hierdie baie dinge saam sal noem binne jou evaluering nie! Aanvanklik is dit dalk net ‘n goeie riglyn van waarna jy moet kyk alvorens jy jou uitspreek oor iemand se werk.

Hoop dit het vir jou waarde

kopiereg – Ita Froneman

En die wenner is…

WENSTORIE – DIE BLINDE TUINIER

DEUR: Melinda Du Plessis

Die blinde tuinier uitdaging (1499 woorde)

Sy draai op haar rug. Op haar ouderdom spring jy nie net meer op nie, jy strek ook nie sonder om dit te oordink nie. Die glimlag lê wyd om haar lippe. Vandag is dit tuindag.

“My lyf was nie seer is nie , my lyf is nie seer nie, my lyf gaan nie seer wees nie.” Mompel sy haar rympie. Een keer elke twee maande is dit haar tuindag, ja-ja, teoreties haar en Simon se tuindag, maar in haar hart hare. Tuindag is haar beste dag, die hoogtepunt van haar 88 jare op hierdie aarde.

Voel-voel staan sy op en reik na waar haar stap-karretjie voor die bed staan, stoot hom uit die pad. Haas haar stadig na haar kas, maak oop en voel verder. Haar tuinklere hang heel agter. Opgewonde verklee sy. Kam haar lang grys hare en vleg dit stewig, laat dit oor haar rug hang. Haar tande wag in die glas op die wasbak se rand, gesig was is sommer met ’n nat waslap. Waar het hulle haar vellies gebêre wonder sy. Sy voel versigtig by die voetenent van haar bed met haar toon, wraggies daar is hulle. Sy glip haar voete staan-staan in, dit voel soos huis, soos asemhaal, soos sonskyn. Nou nog net haar hoed wat hang agter haar kamerdeur. As sy iets vergeet gaan hulle haar terugstuur kamer toe en op tuindag is daar nie tyd te mors nie. Nou nog net haarself dwing om te gaan eet, anders mor hulle daaroor ook. Sy weet Simon sit al buite op die gras, al die tuingereedskap lê al langs hom. In 60 jaar was hy nog nooit laat nie.

Die warm koffie brand haar tong, maar sy’t dit nodig om die roosterbrood af te sluk. Wag vir koud word is vandag vir die ander oumense.

Uiteindelik help ’n versorger haar by die voordeur uit, druk die kode in en hou die deur oop sodat sy met haar karretjie kan deurstap.

“Simon?” Roep sy verwagtend.

“Hier Juffrou Bes.” Dit was altyd Mies Bes, maar dit behoort aan die vorige bedeling soos die mense nou sê. Sy gee nie om nie, dis net ’n naam. Hy is haar vriend, haar helper, haar geloofswerker. Sy van is Getrou, Simon Getrou, en hy doen sy naam gestand. Hy trek self ver in sy jare, ook al 78. ’n Onpaar paar in die tuingrond, hulle wêreld. Hy het haar gevolg van die groot kasarm van ’n plothuis ná Koos se tragiese afsterwe, toe na die veel kleiner meenthuis in die dorp, nou die afgelope 11 jaar na die aftreeoord al is sy blind gelaat na haar ongeluk . . . Elke keer daag hy op en kom sit op die gras en wag. Hy is God gestuur, dit weet sy, ’n engel van lig, God se lig.

Sy hoor hoe hy kreunend opstaan, dan voel sy sy hand onder haar elmboog.

“Die se kante toe Juffrou Bes, vir die sit saam Juffrou Bes.” Hy lei haar na regs. Saam sak hul af tot op die gras. Hul albei begin lag, dit raak al moeiliker om so te gaan sit en na hul beplanningsessie weer op te kom, maar dis hulle proses. Nog altyd gewees.

“Hoe gaan dit by die huis Simon?” Onthou sy om te vra.

“Juffrou weet mos maar, dis ’n anderster storie. Kom ons kyk liewerster wat gedoen moet word by die tuin. Hier is baie werk, jô . . . ” Simon sug.

In die volgende halfuur verf hy vir haar wat hy voor hom sien in elke denkbare detail. Hy vertel haar van die gras wat plek-plek dooie kolle het, en verduidelik hoe dit tussen die plaveisel begin ingroei; hoe lank en geel dit onder die twee groot ou koelte bome aan die voorkant by die pad is. Hy beskryf haarfyn aan haar van die aalwyne wat rooi en oranje in blom staan en hoe die Namakwaland vygies begin knoppies maak in die rotstuin in die hoek. Die malvas in die bedding by die deur sê hy het baie dooie blare en lyk verdroog. Sy hoor die tevrede glimlag in sy stem toe hy vertel van die kosmos wat hul laas keer geplant het al agterom die visdam in die ander hoek, in haar geestesoog sien sy hoe geil dit groei. Hoe hul gesiggies vrolik dans in die ligte windjie in die son. Sy hoor hy is nie gelukkig oor die potte langs die paadjie wat brak staan nie.

“Hier is baie werk ja. Iemand het seker lanklaas bietjie aandag gegee. Waar sal ons begin?” Vra sy opgewonde.

“By die malvas Juffrou Bes, jouse hande gaan hom goed kan ken die droë blare. Dan gaan ons die gras by die plaveisel uithaal. Jouse vingers sal dit ook sien. Volgende ek dink Juffrou Bes moet die bossies van die lavender plant by die bakke terwyl ek kunsmis by die gras gooi, en die lang gras daar onder die bome sny. Maar eers ek dink moet ek bietjie kunsmis daar by die potte ook inmeng en die grond nat maak. Of hoe dink Juffrou Bes?” Nog altyd het hy haar so betrek, haar nodig laat voel, haar goed genoeg laat voel, haar lewendig laat voel. Hy verstaan dat haar hart lewe wanneer haar vingers in die grond vroetel. Net hy glo dat haar hande kan sien. Sy word al die ander dae opgepas en opgepiep, maar op tuindag laat hul haar vry in Simon se sorg.

“Het ons beenmeel vir die malvas Simon? En waar kom die lavender vandaan?”

Hy antwoord so in die opsukkel. “Ja, Juffrou Bes, ons het nog beenmeel. Die lavender ek het hom gekry by Boer Pieter se tuin. Ek het hom gevra of ek vir Juffrou Bes ’n paar bossies kan uitgrawe sodat Juffrou Bes hom kan sien by die neus as Juffrou Bes gaan stap in die aand se wind.”

Sy glimlag. Tuindag is die moeite werd om twee maande voor te wag, dis nou behalwe dat dit amper solank neem om te herstel van haar dag in die tuin. Simon hoef nie dit te weet nie. Tuindag hou haar aan die lewe, hou haar drome lewendig. Tuindag maak seker dat die prente in haar kop nog helder bly. Sy haal diep asem en begin haar opdruk, vat haar karretjie se een handvatsel vas. Simon het haar aan die ander arm.

“Juffrou Bes, ek het die kussing gebring vandag, vir so op die grond rond skuiwe vir onse beendere.” Hy begin lag. “Ons is nie meer vandag se kjinners nie.”

“Simon, moenie vir jou laf hou nie. Op tuindag makeer ons op hierdie aarde niks.” Maar sy glimlag saam. “Help my asseblief na die malvas toe.” Hul los haar karretjie en begin die paar treë stap na die bedding. So sag moontlik laat hy haar sak op die kussing. Sy lig haar hande op en die oomblik toe die eerste stingel aan haar hand raak word sy weggevoer na die wêreld waar haar vrede en vreugde lê. Hier het niks verander nie, hier kan sy sien. Haar hande beweeg behendig oor die stingels en blare, die dooie blare word met gemak raakgevat en uitgebreek. Sy voel langs haar, ja, hier het Simon die swart sak neergesit. Sy gooi die dooie blare in die sak. Sy voel aan haar anderkant, sy glimlag, hier staan die tuinvurkie langs haar ingedruk en langs dit die roomysbak met beenmeel. ’n Lied borrel in haar op.

“Al die veld is vrolik . . . ” Begin sy sing en neurie verder soos sy al steunend langs die bedding af beweeg. Die grond rondom die plante word lekker los gespit met die vurkie en die beenmeel gestrooi, sy sweer daarby, malvas kan nie daarsonder nie. “Simon!” Roep sy. “Kom kyk met jou oë. Het ek gebrou?”

Sy hoor hom aankom. “Nee Juffrou Bes, dit lyk goed, sommer baie goed.”

“Ek wil eers die lavender plant, die gras uit grou tussen die plaveisel is ‘n vieslike rugbreek werk wat ons vir laaste hou.”

Hy help haar sukkel-sukkel tot by die eerste pot. Sit die kussing neer, laat sak haar daarop. Sy voel om haar, alles staan gereed. Die grafie, die plantjies en wat is die wonder sy toe sy die sak voel. Sy voel tot sy die gat kry, jou waarlik, ronde spoel klippe. Simon ken haar. Hy weet dat al kan sy dit nie sien nie, sy dit mooi sal wil hê vir die ander se oë. Die geur is vir haar, die mooi vir hulle. Sy kruip van pot na pot en sleep die kussing saam. Simon hou ’n oog en bring die res. Nog ’n uur is verby en hulle voel dit albei aan hul lywe maar sê niks.

Hul skuif saam oor na die plaveisel, sit langs mekaar. Hy maak die gras los met die tuinvurkie, sy wikkel dit los en trek dit uit. Vandag is die gesels min. Albei weet dis geleende tyd vir die blinde tuinier en haar maat.
© Melinda du Plessis 18/05/2017

Vandag op Woord en Noot

Hi digmaters…ek lees  die volgende gedigte en stories:

Hemelvaart – Hannes Snyman
Sondelas – Corri Badenhorst
Neem jou kruis – Douwlina Du Plessis
Vyf wonder tonele – Anze Bezuidenhout
Hemelvaart – Kobus Minnie
Die Offer – Douwlina Du Plessis
Loflied aan God – Riana Barnard Matthee
Ode aan God – Marietjie Erasmus
Lofsang aan God – Marlize Bezuidenhout Schutte
Ode aan God – Elsabe de Beer
My redder – Cassandra Rose
Jesus – Ria Fourie
In die stiltes – Beatrix Hooman
Ode aan my God – Elsabe de Beer
Hy is Jesus – Linda du Plessis
Loflied – Marietjie MJ Uys
Lof en dank – Ria Fourie
‘n Miljoen keer – Beatrix Hooman
‘n Nuwe begin – Linda du Plessis
Liefdesgedig – Rosalee Meyer
Hande Vat – Marietjie Uys
Ode – Ria Gert Fourie
Vaderhart van God – Marike Erasmus
God se liefde – Riana Barnard Matthee
Douvoordag – Cassandra Rose

Verhale:
Haar Samuel – Elsabe de Beer
Loflied- Rina Venter
Niks sonder God – Ina Cantoni