Raad van Ita Froneman

Ek deel graag op versoek van Philip Nel

Kommentare lewer riglyne:

Trap jul soms klei in hoe om kommentaar te lewer?

Ek deel graag met julle iets as riglyn. Laat weet in kommentaarruimte of dit van nut was?

Jy moet jou eie werke evalueer aan die hand van kennis waaroor jy beskik aan die hand van Digteorie, asook die selfvertoue hê om ander se werke te evalueer. Let wel, dit begin by selfevaluering. As jy jouself meet aan sekere standaarde dan sal jy ook kan uitspraak lewer oor ander se kuns.

Jy het al seker moes kommentaar lewer hier op ander digters se werke en miskien kon jy jouself sinvol verwoord.

Waarna kyk mens as jy ‘n gedig moet evalueer? Aan watter maatstawwe meet jy dit? Daar is werklik niks so sinneloos deur net te veralgemeen in jou kommentaar en te sê iets is “mooi “ of “goed” nie , want dis werklik so niksseggend, al is dit goeie maniere.

‘n Digter wil altyd sinvolle terugvoere hê, dis waaraan hy die sukses van sy skrywes kan meet. Dit waarvan jy hou, val dalk nie in iemand anders se smaak nie, of miskien het jy die bal heeltemal misgesit.

Deur slegs te besin het jy ‘n hele raamwerk van maatstawwe waaraan jy ‘n vers kan evalueer.

Alvorens die maatstawwe weer uitgelig gaan word as meetinstrumente, wil ek tog net die volgende wenke gee.
Onthou altyd dat jy met die kunstenaar se siel hier werk as jy evalueer. Daar is maniere om kritiek te lewer sonder om die persoon af te breek. Jy moet altyd motiveer wat jy sê as jy evalueer, nie net lukraak bewerings maak nie! ‘n Goeie tegniek om van gebruik te maak, is om die “toebroodjie-metode” aan te wend. Dit behels dat jy in jou kommentaar/kritiek eers iets positiefs sal noem wat gewerk het, daarna gee jy dit waarop die persoon kan verbeter met duidelike motiverings by en daarna sluit jy weer op positiewe noot af. Dus “verberg” jy jou kritiek van wat nie suksesvol was in die gedig nie, met die positiewe kommentaar aan die begin en einde. Selfs al het die gedig nie geslaag nie, is daar altyd iets positiefs te sê, al is dit net die skrywer se entoesiasme!

Kom ons besin vlugtig, sonder enige voorkeurorde, wat is die maatstawwe wat jy kan gebruik by evaluasie. Bestudeer die betrokke gedig en meet dit aan die volgende:

• Taalkundige versorging (spelling, sinstrukture, keurige aanbieding)
• Binne watter verwysingsraamwerk val die gedig?
• Wat was die skrywer se invalshoek en slaag dit?
• Op watter teikengroep is die gedig gerig?
• Watter genre is gebruik? Bv. is dit ‘n liriese vers, ‘n epos, ‘n sonnet, ‘n ode, is dit sosiale kommentaar, is dit ‘n haiku, ‘n liefdesgedig , ens.)
• Kan jy ‘n tema aflei uit die gedig?
• Wat merk jy aangaande woordkeuses, is dit raak verwoord?
• Tref die titel, hou dit verband met die versinhoud?
• Is hier enige verstegnieke aangewend? (is daar vergelykings, personifikasie, metafore, ens.?)
• Word die essensie weergegee met woordekonomie of is dit ‘n rompslomp van woorde?
• Word rym sinvol aangewend of is dit blote rymelary? ( het rym enige uitheffingsfunksie binne die gedig?)
• Is hier van enige uitheffingsmeganismes gebruik gemaak om gediginhoud verstegnies te ondersteun?
• Het die digter dalk woordvondse hier van nuwe woordskeppinge?
• Kon die digter daarin slaag om metafore aan te wend, is hele gedig dalk ‘n metafoor?
• Wat merk jy aangaande die tipografie van die gedig?
• Watter struktuurelemente het die gedig? (strofe verdeling, rym, ens. )
• Is hier sprake van sintuiglike waarneming?

Hierdie is slegs genoem om vir jou konkrete maatstawwe te gee waaraan jy jou evaluering kan meet. Mens kan seker nog aan baie ander dinge ook dink van hoekom ‘n gedig sou kon slaag al dan nie. Dis seker ook logies dat mens nooit al hierdie baie dinge saam sal noem binne jou evaluering nie! Aanvanklik is dit dalk net ‘n goeie riglyn van waarna jy moet kyk alvorens jy jou uitspreek oor iemand se werk.

Hoop dit het vir jou waarde

kopiereg – Ita Froneman

Lewer kommentaar