En die wenner is…

WENSTORIE – DIE BLINDE TUINIER

DEUR: Melinda Du Plessis

Die blinde tuinier uitdaging (1499 woorde)

Sy draai op haar rug. Op haar ouderdom spring jy nie net meer op nie, jy strek ook nie sonder om dit te oordink nie. Die glimlag lê wyd om haar lippe. Vandag is dit tuindag.

“My lyf was nie seer is nie , my lyf is nie seer nie, my lyf gaan nie seer wees nie.” Mompel sy haar rympie. Een keer elke twee maande is dit haar tuindag, ja-ja, teoreties haar en Simon se tuindag, maar in haar hart hare. Tuindag is haar beste dag, die hoogtepunt van haar 88 jare op hierdie aarde.

Voel-voel staan sy op en reik na waar haar stap-karretjie voor die bed staan, stoot hom uit die pad. Haas haar stadig na haar kas, maak oop en voel verder. Haar tuinklere hang heel agter. Opgewonde verklee sy. Kam haar lang grys hare en vleg dit stewig, laat dit oor haar rug hang. Haar tande wag in die glas op die wasbak se rand, gesig was is sommer met ’n nat waslap. Waar het hulle haar vellies gebêre wonder sy. Sy voel versigtig by die voetenent van haar bed met haar toon, wraggies daar is hulle. Sy glip haar voete staan-staan in, dit voel soos huis, soos asemhaal, soos sonskyn. Nou nog net haar hoed wat hang agter haar kamerdeur. As sy iets vergeet gaan hulle haar terugstuur kamer toe en op tuindag is daar nie tyd te mors nie. Nou nog net haarself dwing om te gaan eet, anders mor hulle daaroor ook. Sy weet Simon sit al buite op die gras, al die tuingereedskap lê al langs hom. In 60 jaar was hy nog nooit laat nie.

Die warm koffie brand haar tong, maar sy’t dit nodig om die roosterbrood af te sluk. Wag vir koud word is vandag vir die ander oumense.

Uiteindelik help ’n versorger haar by die voordeur uit, druk die kode in en hou die deur oop sodat sy met haar karretjie kan deurstap.

“Simon?” Roep sy verwagtend.

“Hier Juffrou Bes.” Dit was altyd Mies Bes, maar dit behoort aan die vorige bedeling soos die mense nou sê. Sy gee nie om nie, dis net ’n naam. Hy is haar vriend, haar helper, haar geloofswerker. Sy van is Getrou, Simon Getrou, en hy doen sy naam gestand. Hy trek self ver in sy jare, ook al 78. ’n Onpaar paar in die tuingrond, hulle wêreld. Hy het haar gevolg van die groot kasarm van ’n plothuis ná Koos se tragiese afsterwe, toe na die veel kleiner meenthuis in die dorp, nou die afgelope 11 jaar na die aftreeoord al is sy blind gelaat na haar ongeluk . . . Elke keer daag hy op en kom sit op die gras en wag. Hy is God gestuur, dit weet sy, ’n engel van lig, God se lig.

Sy hoor hoe hy kreunend opstaan, dan voel sy sy hand onder haar elmboog.

“Die se kante toe Juffrou Bes, vir die sit saam Juffrou Bes.” Hy lei haar na regs. Saam sak hul af tot op die gras. Hul albei begin lag, dit raak al moeiliker om so te gaan sit en na hul beplanningsessie weer op te kom, maar dis hulle proses. Nog altyd gewees.

“Hoe gaan dit by die huis Simon?” Onthou sy om te vra.

“Juffrou weet mos maar, dis ’n anderster storie. Kom ons kyk liewerster wat gedoen moet word by die tuin. Hier is baie werk, jô . . . ” Simon sug.

In die volgende halfuur verf hy vir haar wat hy voor hom sien in elke denkbare detail. Hy vertel haar van die gras wat plek-plek dooie kolle het, en verduidelik hoe dit tussen die plaveisel begin ingroei; hoe lank en geel dit onder die twee groot ou koelte bome aan die voorkant by die pad is. Hy beskryf haarfyn aan haar van die aalwyne wat rooi en oranje in blom staan en hoe die Namakwaland vygies begin knoppies maak in die rotstuin in die hoek. Die malvas in die bedding by die deur sê hy het baie dooie blare en lyk verdroog. Sy hoor die tevrede glimlag in sy stem toe hy vertel van die kosmos wat hul laas keer geplant het al agterom die visdam in die ander hoek, in haar geestesoog sien sy hoe geil dit groei. Hoe hul gesiggies vrolik dans in die ligte windjie in die son. Sy hoor hy is nie gelukkig oor die potte langs die paadjie wat brak staan nie.

“Hier is baie werk ja. Iemand het seker lanklaas bietjie aandag gegee. Waar sal ons begin?” Vra sy opgewonde.

“By die malvas Juffrou Bes, jouse hande gaan hom goed kan ken die droë blare. Dan gaan ons die gras by die plaveisel uithaal. Jouse vingers sal dit ook sien. Volgende ek dink Juffrou Bes moet die bossies van die lavender plant by die bakke terwyl ek kunsmis by die gras gooi, en die lang gras daar onder die bome sny. Maar eers ek dink moet ek bietjie kunsmis daar by die potte ook inmeng en die grond nat maak. Of hoe dink Juffrou Bes?” Nog altyd het hy haar so betrek, haar nodig laat voel, haar goed genoeg laat voel, haar lewendig laat voel. Hy verstaan dat haar hart lewe wanneer haar vingers in die grond vroetel. Net hy glo dat haar hande kan sien. Sy word al die ander dae opgepas en opgepiep, maar op tuindag laat hul haar vry in Simon se sorg.

“Het ons beenmeel vir die malvas Simon? En waar kom die lavender vandaan?”

Hy antwoord so in die opsukkel. “Ja, Juffrou Bes, ons het nog beenmeel. Die lavender ek het hom gekry by Boer Pieter se tuin. Ek het hom gevra of ek vir Juffrou Bes ’n paar bossies kan uitgrawe sodat Juffrou Bes hom kan sien by die neus as Juffrou Bes gaan stap in die aand se wind.”

Sy glimlag. Tuindag is die moeite werd om twee maande voor te wag, dis nou behalwe dat dit amper solank neem om te herstel van haar dag in die tuin. Simon hoef nie dit te weet nie. Tuindag hou haar aan die lewe, hou haar drome lewendig. Tuindag maak seker dat die prente in haar kop nog helder bly. Sy haal diep asem en begin haar opdruk, vat haar karretjie se een handvatsel vas. Simon het haar aan die ander arm.

“Juffrou Bes, ek het die kussing gebring vandag, vir so op die grond rond skuiwe vir onse beendere.” Hy begin lag. “Ons is nie meer vandag se kjinners nie.”

“Simon, moenie vir jou laf hou nie. Op tuindag makeer ons op hierdie aarde niks.” Maar sy glimlag saam. “Help my asseblief na die malvas toe.” Hul los haar karretjie en begin die paar treë stap na die bedding. So sag moontlik laat hy haar sak op die kussing. Sy lig haar hande op en die oomblik toe die eerste stingel aan haar hand raak word sy weggevoer na die wêreld waar haar vrede en vreugde lê. Hier het niks verander nie, hier kan sy sien. Haar hande beweeg behendig oor die stingels en blare, die dooie blare word met gemak raakgevat en uitgebreek. Sy voel langs haar, ja, hier het Simon die swart sak neergesit. Sy gooi die dooie blare in die sak. Sy voel aan haar anderkant, sy glimlag, hier staan die tuinvurkie langs haar ingedruk en langs dit die roomysbak met beenmeel. ’n Lied borrel in haar op.

“Al die veld is vrolik . . . ” Begin sy sing en neurie verder soos sy al steunend langs die bedding af beweeg. Die grond rondom die plante word lekker los gespit met die vurkie en die beenmeel gestrooi, sy sweer daarby, malvas kan nie daarsonder nie. “Simon!” Roep sy. “Kom kyk met jou oë. Het ek gebrou?”

Sy hoor hom aankom. “Nee Juffrou Bes, dit lyk goed, sommer baie goed.”

“Ek wil eers die lavender plant, die gras uit grou tussen die plaveisel is ‘n vieslike rugbreek werk wat ons vir laaste hou.”

Hy help haar sukkel-sukkel tot by die eerste pot. Sit die kussing neer, laat sak haar daarop. Sy voel om haar, alles staan gereed. Die grafie, die plantjies en wat is die wonder sy toe sy die sak voel. Sy voel tot sy die gat kry, jou waarlik, ronde spoel klippe. Simon ken haar. Hy weet dat al kan sy dit nie sien nie, sy dit mooi sal wil hê vir die ander se oë. Die geur is vir haar, die mooi vir hulle. Sy kruip van pot na pot en sleep die kussing saam. Simon hou ’n oog en bring die res. Nog ’n uur is verby en hulle voel dit albei aan hul lywe maar sê niks.

Hul skuif saam oor na die plaveisel, sit langs mekaar. Hy maak die gras los met die tuinvurkie, sy wikkel dit los en trek dit uit. Vandag is die gesels min. Albei weet dis geleende tyd vir die blinde tuinier en haar maat.
© Melinda du Plessis 18/05/2017

4 thoughts on “En die wenner is…

Lewer kommentaar