Skryfgeheime wenke

‘n Paar wenke van Skryfgeheime:

Nuwe skrywers wil dikwels weet hoe lank hulle manuskrip moet wees. Hulle het maande lank geworstel met karakterontwikkeling, intrige en die skryfwerk self en reken hoe langer hoe beter, want kyk hoe dik is die meeste boeke op die winkelrakke dan.

Kyk weer. Onthou, dik boeke is gewoonlik werke deur gevestigde skrywers. Hulle het al die skryfkuns onder die knie en het gereelde lesers opgebou wat nie genoeg van hulle skryfwerk kan kry nie — met die gevolg dat hulle uitgewers dikker werke verwag.

As jy nog dieper kyk, sal jy sien dat ook hierdie skrywers se eerste boeke aansienlik dunner as hulle latere werke is. So vorder die Twilight-reeks progressief van 118,501 na 132,807, 147,930 en 192,196 woorde.

Nuwe skrywers moet besef dat lengte een van die hoofredes is waarom hulle manuskripte afgekeur word. Dikwels is die intrige net te kompleks en ongeloofwaardig, die tempo net te stadig, die skryfwerk net te woordryk, en lang verhalende gedeeltes en agtergrondsgeskiedenis net te volop. Die gevolg is ‘n lang, stadige, onbevredigende manuskrip.

Hoe word woordtelling in die industrie bereken? Die rekenaarprogram waarmee jy skryf, bereken die woordtelling outomaties en akkuraat. Uitgewers gebruik egter ’n ander metode, naamlik 250 woorde per bladsy, gewoon omdat hulle oor die algemeen met gedrukte manuskripte werk. Maar moenie dink ’n klein font is die oplossing nie, gebruik Times New Roman 12 pt as jy nie wil hê jou manuskrip moet summier afgekeur word nie.

Hoe lank moet beginners se manuskripte verkieslik wees?
Dit hang alles af van die tipe storie wat jy vertel.

Hier is ’n paar riglyne:
Kort kortverhale en tydskrifstories: minder as 2,500 (vra die spesifieke tydskrif se riglyne aan)
Kortverhale: 2,500 tot 7,500
Kort novelles: 7,500 tot 20,000
Novelles (ook liefdesverhale of romanses): 20,000 tot 50,000
Romans (dik, komplekse boeke) 70,000 tot 90,000
Genre beïnvloed ook storielengte:
Tienerboeke is korter, van 50,000 tot 80,000 woorde.
Wetenskapfiksie en fantasieë is gewoonlik langer, tot 125,000 woorde.
Jy het beslis al dikker boeke as dit gelees, maar dit was na alle waarskynlikheid gevestigde skrywers se werke. As nuwe skrywer moet jy jou manuskrip verkieslik kort hou en die riglyne hierbo volg. Waak veral teen woordrykheid en skrap alles wat oorbodig, herhalend of vervelig is. En sorg dat jou manuskrip netjies en goed versorg is voordat jy dit aan ’n uitgewer stuur, want langer is nou wel nie altyd beter nie, maar eerste indrukke tel steeds.

Lewer kommentaar