Nog wenke van Skryfgeheime

Julle sal agterkom ek is ‘n groot aanhanger van Janie Oosthuysen. Doen sommer vir die pret hierdie taak van haar.Poets jou skryftegniek
Skrywersblok?
Sukkel jy met jou storie? Dalk het jy “skrywersblok”, of dalk het jy jou storie neergesit en nou kan jy net nie weer “in dit in” kom nie? Hier is ’n plan: Skryf eers die einde, asook die hoogtepunt, m.a.w. die draaipunt of krisis.

Wonder jy hoekom?
1. Dit ruk jou uit jou gemaksone en stimuleer die skrywersenergie.
2. Dit dwing jou om verder as die karakter se voorkoms en agtergrond te kyk, en om na te dink oor hoe hy/sy gedurende die krisis sal optree.
3. Dit lei tot nuwe perspektiewe, insigte en idees.
4. Die karakter se optrede teen die einde bepaal hoe jy die karakter, die gebeure en die probleem of
doel aan die begin moet voorstel.
5. Deur die krisis, klimaks en einde te skryf stel jy aan jouself ’n doel waarop jy kan afstuur.
6. Die meeste skrywers herskryf die begin honderde kere en rammel die einde af. Deur die einde aan die begin te skryf sal jy dit meermale besoek en verfyn.
Taak: Skryf met gedagtes, aksies & lyftaal
Jou opdrag:
Lees elke keer die teks of opdrag en voltooi die take.

Lees paragraaf 1:
Mia knyp haar oë styf toe en skakel die televisie af. Om grillers te kyk wanneer jy alleen by die huis is, is geen grap nie. Nou is sy te bang om te gaan slaap. Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?

Beantwoord die vrae:
* Stem jy saam dat paragraaf 1 Mia se gedagtes, gevoelens en aksies/handeling weergee?
* Watter aksies en lyftaal help jou om te verstaan hoe Mia voel?
* Wat dink jy is die funksie van die retoriese vraag (Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?)?
* Stem jy saam dat die paragraaf goed geskryf en lekker leesbaar is met ’n skerp fokus op nodige inligting?

Lees paragraaf 2:
Eintlik moet haar broer, Justin, na haar kyk. Ma en Pa Louw is by ’n werksfunksie in die stad. Ongelukkig dink liefste broeder Justin nou dis die ideale geleentheid om saam met een of ander meisie te gaan fliek. Bewerig gaan lê Mia in haar bed. Haar oë is styf toe. Sy is te bang vir wat sy dalk sal sien as sy hulle oopmaak … en sy is te bang vir wat sy dalk gaan sien as sy droom.

Beantwoord die vrae:
* Dink jy paragraaf 2 is net so goed geskryf soos paragraaf 1?
* Of is dit stotterend met te veel inligting oor dinge wat nie regtig ter sake is nie?
* Wat dink jy is alles onnodig of oordrewe?
* En wat is nodig, maar nie interessant genoeg geskryf nie?

Voer nou hierdie taak uit:
Skryf paragraaf 2 oor sodat dit net so lekker vloei, en net so natuurlik klink, en net so diep in Mia se kop is soos paragraaf 1. Lees eers die riglyne.

Riglyne:
* Gebruik een of twee retoriese vrae asook verwyte en dreigemente wat die spanning sal uitbou en Mia se gedagtes eg sal laat voel, soos ’n tipiese tiener s’n.
* Raak ontslae van oorbodige inligting en verduidelikings wat lesers self uit die gegewe kan aflei.
Skryf nou paragraaf 2 oor.

Klaar geskryf?

Vergelyk jou werk met hierdie voorstel:
As Justin net hier was. Wie gee hom die reg om saam met ’n simpel meisie te gaan fliek en haar alleen by die huis te los? Wag maar. Sy gaan alles lekker vir Ma en Pa vertel wanneer hulle van die werksfunksie af kom. Maar wat help dit alles haar nóú? Hier lê sy alleen en bibber in haar bed met monsters wat haar wil gryp.

Verbeter nou jou eie paragraaf 2.

One thought on “Nog wenke van Skryfgeheime

Lewer kommentaar