SA Stories gesels met die skrywer van Kruispad

 

Vertel ons wie is Willie Johan Botes?

untitled2.png

Willie J Botes is gebore in Pretoria in 1967, het grootgeword in verskeie dele van Suid-Afrika onder andere Potchefstroom waar hy in 1985 matrikuleer het aan Potchefstroom Gimnasium.

Na skool het hy soos enige ander jong seun van daardie tyd sy militêre diensplig voltooi.  Daarna by verskeie staatsinstellings gewerk.  Later jare het hy oorgeskakel na die privaat sektor waar hy ’n  gespesialiseerde It rigting gevolg het met MCSE (Microsoft Certified System Engineer) agter sy naam.

In 2010 publiseer hy sy eerste genealogiese boek en in 2013 die tweede.  Hierdie twee boeke spruit uit intensiewe genealogiese navorsing sedert die vroeë 1990’s.

Vroeg in 2014 besluit hy om iets nuuts aan te pak en begin skryf aan sy eerste roman. Op daardie stadium was daar nog nie ’n naam vir hierdie roman nie, maar dit was die geboorte van die eindproduk Kruispad.   Kruispad is Willie se eerste roman en is in Maart 2016 deur Groep 7 Uitgewers gedruk en publiseer.

Die fiksie skryf gogga het hom behoorlik beetgepak en middel 2016 begin hy werk aan sy tweede roman wat ’n opvolg sal wees van Kruispad.

Die waardevolle skryf en navorsing kennis wat hy opgedoen het tydens die voorbereiding van die twee genealogiese boeke word vandag effektief deur Willie aangewend in die manier waarop hy ’n roman skryf.

Kruispad is tans net in Afrikaans en aanlyn beskikbaar by sy uitgewer Groep 7 Uitgewers.

Willie bly in die Pretoria omgewing. Sy passie is navorsing en skryf.

Waaroor gaan jou boek? untitled3.png

Wie het opdrag gegee om Esmé te laat vermoor? Wat het Esmé bedoel met haar laaste woorde aan Karel: “Ek is jammer.”

Karel laat sy plaas Lientjie Vlei agter, in sy getroue werker Johannes se bekwame hande en begin sy soektog na die waarheid. ‘Kruispad’ speel in een van die mees asemrowendste gedeeltes van Suid-Afrika af naamlik Mpumalanga. Karel kom ook by ʼn kruispad… watter rigting gaan hy op besluit. Ons almal kom in ons lewens by ʼn kruispad en ons weet nie altyd watter rigting die beste opsie is nie en net soos wat ons op ons instink vertrou, so vertrou Karel sy intuïsie in ‘Kruispad’.

Karel ontdek ʼn brief tussen Esmé se dokumente en hy besluit om na dié gastehuis te gaan waar Esmé vir Blanche moes ontmoet het. Maar wie is hierdie Blanche, want Esmé het nooit van haar gepraat nie. Hy ontmoet die beeldskone Kate en sy sluit by Karel aan na sy soeke oor die waarheid agter Esmé se dood. Maar is Kate werklik wie sy sê sy is. Wie en wat is inspekteur Tito? Hoe weet inspekteur Tito altyd waar die volgende misdaad gaan plaasvind en hoe kry hy dit reg om altyd eerste op die misdaad toneel te wees?

Kate se broer Johan daag uit die bloute op… Hoe het hy geweet waar om vir Kate en Karel op te spoor. Wat sluit die sleutel oop wat Johan vir Kate gee het, net voordat hy ook vermoor is en wat het hy ook bedoel met die woorde: “Ek is jammer.”

Karel weet nie meer wie hy kan vertrou nie, want almal het hulle eie agendas. Hy besluit om sy goeie vriendin inspekteur Lizelle Joubert in te roep om hom te help. Saam krap hulle ʼn enorme byenes oop van militêre intelligensie se spioenasie en wetenskaplike navorsing.

Waar kan ons dit kry om te lees?

Kruispad is beskikbaar by :

  1. Bargain Books Boekwinkels
  2. Protea Boekwinkels
  3. Exclusive Books Boekwinkels
  4. Graffiti Boekwinkel
  5. Groep 7 Uitgewers
  6. Kobo Books as E-Boek

Waar het die idee vir jou storie vandaan gekom?

My gedagtes is so aan mekaar gesit dat dit gereeld soek na moontlike sameswerings in ons daaglikse samelewing. Kruispad se storie is ‘n uitvloeisel van hierdie gedagtes, plekke wat ek besoek het in die verlede en mense met ek gesels en te doen gekry het.

Ek het op ‘n dag laat in 2014 voor my rekenaar gaan sit en soos alle begin skrywers na die skoon wit bladsy voor my gestaar. Toe onthou ek wat my oom Tienie (was skrywer en vertaler) my eendag vertel het. As die bladsy na jou staar moenie terug staar nie skryf hom vol met jou idees wat jy vir jou storie bymekaar gemaak het.

Ek het daar en dan al my idees wat ek geberg het begin skryf (tik). Kort daarna kon ek net nie ophou nie. Hoe meer idees ek begin skryf (tik) hoe meer het nuwe idees gestalte gekry.

Hoe lank het jy aan die boek gewerk?

Ek het +- 18 maande aan Kruispad gewerk. Elke keer met die herlees het ek natuurlik veranderinge aangebring tot ek tevrede was met dit wat ek ingedagte gehad het van die begin af.

Wat is die proses wat ‘n skrywer moet volg om ‘n manuskrip in ‘n gepubliseerde boek te verander?

  1. Skryfkuns en Opstelling – Verstaan die kuns van skryf. Opstelling is die basies uitleg van jou boek vanaf die eerste blad as die boek oop gemaak word. Dit bestaan gewoonlik uit :
  1. Titel blad
  2. Algemene Inligting blad
  3. Opgedra aan blad
  4. Erkennings blad
  5. Inhoudsopgawe blad
  6. Voorwoord blad
  7. Inleiding en hoofstukke blad
  8. Bibliografie/Profiel van skrywer (opsioneel)
  9. Jou Storie
  1. Taalkundige versorging en vertaling indien jy as skrywer ‘n ander teikengroep in gedagte het.
  2. Bladuitleg is die fisiese uitleg van die inhoud van jou boek. Dit is baie belangrik aangesien dit die drukproses van jou boek beinvloed.
  3. Boekomslag Ontwerp.
  4. Druke en bind jou boek.

Hoe jy te werk gegaan om jou boeke in groot winkeltakke te kry?

As selfuitgewer is dit natuurlik baie moeiliker as by gewone uitgewers wat alles namens die skrywer hanteer.

As jy die selfuitgewer roete wil volg maak seker dat jou uitgewer by groot boekwinkels geregistreer is as uitgewer. Daardie boekwinkels sal dan meer gretig wees om jou boek op hulle rak te vertoon. Mits daar natuurlik ‘n aanvraag vir jou boek is.

My uitgewer Groep 7 is by verkeie boekwinkels geregistreer so dit maak dit effe makliker om jou boek op hulle rak te sien. Onthou die blote feit dat jou uitgewer by die boekwinkels geregistreer is verseker nie altyd dat dit op hulle rak sal wees nie.

Ek het as selfuitgewer die taak op myself geneem en met van die groot boekwinkels kontak gemaak. Op die manier kon ek verseker dat my boek op hulle rak verskyn asook deur hulle direk van my uitgewer bestel kan word.

Het jy al ooit “writers block” gehad en hoe breek jy deur dit?

“Writers block” het die geneigtheid om op te duik net wanneer jy dink jy skryf nou die beste storie van jou lewe.  Ja dit gebeur met my ook. Wanneer dit opdaag probeer ek nie om daar en dan deur te breek nie.

Gewoonlik sit ek my rekenaar af en gaan hou my gedagtes besig met total iets anders as skryf of stories uitdink.  Wanneer daar wel ‘n gedagte opduik maak ek eenvoudig net ‘n kort nota daarvan en gaan aan met wat e kook al mee besig was.

“Writers block” is nie gekoppel aan tyd nie. Dus kan so iets dae lank aan hou. Aan die begin het gedink daar is dit nou ek kan nie skryf nie, ek het dan niks om te skryf nie.

Nee. Nie so haastig nie. Ek bly eenvoudig net notas maak. Dit is my manier hoe ek daardeur kom. Op ‘n stadium maak al die notas net sin en word daar nuwe lewe in jou storie geblaas. Dit is dan wanneer ek die lekkerste skryf. Ek glo nie daaraan om tyd te koppel van wanneer my volgende boek klaar moer wees nie.

Wanneer of waar skryf jy die beste?

Ek is gemaklik daarmee om enige tyd van die dag of nag in my studeerkamer te skryf. Verkieslik sonder enige storing of geraas. Die feit dat ek nie ‘n tydskaal aan my boek koppel nie maak dit maklik om op die manier te skryf.

Watter raad sal jy vir ongepubliseerde skrywers gee?

Skryf, skryf en hou aan skryf. Moet nooit dink jy is nie goed genoeg nie. Moet nooit dink jou storie sal nie goed genoeg wees nie.  Glo in jouself, glo in jou storie en glo dat jy en jou storie suksesvol gaan wees.

Moenie jou stories op ‘n rak laat stof opgaar nie. Skryf hulle klaar. Stuur dit vir iemand om te lees. Aanvaar die kritiek wat daarmee saamkom want daardie kritiek is jou dryfveer tot verdere sukses. Leer uit daardie kritiek. Moenie dit sien as ‘n blok om jou enkel nie. Gebruik dit om beter stories te skryf.

Wat verkies jy selfpubliseer of deur uitgewer?

Selfpublikasie is baie goedkoper maar dit is baie moeiliker om jou as skrywer te vestig. Jy moet self bemarking doen van jou boek.

Tans verkies ek selfpublikasie en hoop om eendag deur ‘n groot uitgewer genader te word.

Het jy enige graad of kursus in skryf gedoen?

Nee. Geen graad en geen kursus nie. Ek glo skryf moet van binne kom. Ja jy kan dit aanleer en ‘n kursus kan net voordelig wees maar ek glo tog dat as dit van binne jouself kom jou stories meer oorspronklik sal wees.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Om ‘n kursus of graad in die rigting te doen kan beslis help om jou ‘n beter skrywer te maak veral waar dit kom by die skryfkuns self.

As jy ‘n dag saam enige iemand kon spandeer, wie sou dit wees en hoekom?

Ek sal graag ‘n dag (wedren naweek) saam met Fernando Alonso (Grand Prix jaer) wil spandeer.

Ek is ‘n groot Grand Prix aanhanger en volg letterlik alles wat hulle doen. Ek lees gereeld oor Grand Prix. Wil altyd op hoogte bly van al die nuwe gebeure in die sport.

Lewer kommentaar