Hallo Esmarié

untitled2.png

My naam is Esmarié Friedrichs, ek het begin skryf op aanmoediging van twee dierbare vriendinne nadat ek in 2014 probeer selfmoord pleeg het. Ek het al my seer in my gedigte ingeploeg. Baie mense het dit nie verstaan nie, maar tog was daar mense wat aanklank daarby gevind het. Dit het my aangemoedig om meer te skryf. Stadig maar seker het dit my gees begin optel. Ek het eintlik lank voor dit al geskryf. Op hoërskool het ons ‘n juffrou gehad wat as straf vir ons die onmoontlikste onderwerpe gekies het om gedigte oor te skryf indien ons nie ons huiswerk gedoen het nie. Nodeloos om te sê, ek het omtrent nooit my huiswerk in haar klas gedoen nie. Daar het ek ook geleer om per tema te dig. Na skool het ek my talent vir baie jare heeltemal weggesluit. Ek geniet dit om my gevoelens op papier weer te gee. Maar soms sukkel ek om by die ware gevoelens uit te kom omdat ek dit so lank moes wegsteek. Ek was vir elf jaar vasgevang in ‘n huwelik waar ek en my dogtertjie emosioneel en geestelik mishandel was.

Laas jaar Desember het ek uiteindelik die moed bymekaar geskraap om my man te los en ‘n nuwe lewe vir my en my dogtertjie te probeer uitwerk. Dis nie maklik nie, maar ek kom agter in my nuwe gedigte dat daar baie meer positief as negatief weerspiëel word. Daarvoor is ek baie dankbaar. Ek glo dat eendag sal die Here my heeltemal genees en kan ek tot Sy eer vertel van die pad wat ek moes loop om tot op daardie punt te kom.

Ek het nog nie my eie bundel gepubliseer nie, finansies is die groot sondebok vir daardie gebrek. Maar daar is al van my gedigte in van Heleen Malherbe se saamstelbundels opgeneem en ook in een van Myra Lochner se projekbundels. Waaroor ek baie geëerd voel om saam met sulke groot geeste in een bundel te kan wees. Dis vir my ‘n groot voorreg. Daar is ook al van my gedigte op Hosa Radio en Uitsaaines voorgelees. Ek plaas meeste van my gedigte op verskeie van die Bakkiesblad Diggroepe, waar ek goed ontvang word. Dit motiveer my om weer te begin skryf, na ‘n stilswye van ‘n hele paar maande weens die trauma van die opbreek van my huwelik en ook nie gereelde toegang tot internet nie. Hopelik sal ek in die toekoms weer gereeld kan plaas.

Aan al die mense wat my gedigte lees en iets daaruit kry wil ek opreg en nederig dankie sê, want hierdie is ‘n talent wat God vir my gegee het. Uit myself en sonder julle ondersteuning kan ek dit nie doen nie.

‘n Bietjie meer oor Esmarie in haar eie woorde:

Ek het vir ‘n groot gedeelte van my lewe op ‘n klein myndorpie met die naam Gravelotte gebly, daar het ek skool gegaan tot in Std 5. Baie beskut groot geword en nie vreeslike blootstelling aan die ‘buite wêreld’ gekry nie. Daarna is ek koshuis en hoërskool toe, op ‘n naburige dorp (Tzaneen), waar ek dan ook my blootstelling aan poësie gekry het. Ons het Raka behandel en vele gedigte van A. G. Visser, Totius, C. Louis Leipoldt, N. P. van Wyk Louw en D. J. Opperman. Die gedig wat tot vandag toe nog vir my uitstaan, is ‘Vergewe en Vergeet’ van Totius.

Ek was altyd baie lief vir skryf en het op skool ‘n ou kaapse verhaal begin skryf (wat nou nog nie voltooi is nie). My liefde vir dig het begin toe my Afrikaanse onderwyseres  vir ons as straf laat gedigte skryf het as ons nie ons huiswerk gedoen het nie. Sy het die snaakste en onmoontlikste onderwerpe gekies en daar het ek sommer ook geleer om per tema te kon dig. Nodeloos om te sê, ek het bitter min huiswerk in haar klas gedoen, net om te kan gedigte skryf

Vir jare na skool het ek my skryftalent verwaarloos en heeltemal ontken. Die lewe het met my snaakse en harde draaie geloop en my in ‘n stryd met depressie gedoop. Dit het so erg geraak dat ek September 2014 probeer selfmoord pleeg het. Maar die Here het ander planne met my gehad en ek het oorleef. Na aanmoediging van twee dierbare vriendinne het ek weer begin skryf, meestal gedigte oor my eie emosies, toe begin ek weer om per tema te dig. Ek het op ons geliefde Bakkiesblad (Facebook) kom rondkrap nadat my een vriendin vir my aan een digblad voorgestel het. So het ek begin soek na nog digblaaie, tans behoort ek aan meer as 45 digblaaie en plaas my gedigte op meeste van hulle.

Ek wou al sny aan my digblaaie, maar ek het sulke dierbare vriende en vriendinne op elkeen dat ek werklik nie kan kies waar om te sny nie.

Ek skryf gedigte wat ten alle tye rym (jammer Louis Naude, ek weet jy hou nie daarvan nie), maar vir my persoonlik is ‘n gedig nie ‘n gedig as hy nie rym nie. Vir my kom rym so maklik en natuurlik dat ek nie anders kan skryf nie. Ek kry glad nie reg om ‘n ‘vrydig’ gedig te skryf nie. Ek moet ook erken dat baie keer lyk die vrydig gedigte vir my eerder na prosa as ‘n gedig. (Jammer) Maar vir ander mag dit baie goed werk en ek gun dit vir julle, maar vir my werk dit nie. Vir my is dit ook belangrik wanneer jy kommentaar op ander se gedigte lewer, dat jy nie die digter se styl probeer verander na jou eie styl en smaak nie, maar wel hom/haar attent kan maak op dig- en spelreëls en so die digter lei om hul werk te kan slyp, maar tog hulle eie styl en stempel te behou.

Ek mag dalk nie ‘n kenner wees nie, ek het beslis nog baie om te leer maar, ek eer die Here vir die talent waarmee Hy my geseën het en daarom sal ek nooit weer ophou skryf nie. Ek sal altyd uit my hart uit skryf en nie met my kop nie. Ek baklei nog elke dag die stryd teen depressie, maar om te kan skryf bring vir my verligting.  Vandag staan ek dalk op die drumpel om my droom te bewaarheid om my gedigte te publiseer, daar het reeds van my gedigte in saamgestelde digbundels verskyn, en ek hoop om dalk in die toekoms my eie bundel te publiseer.

Ek het onlangs weer voltyds begin werk en asgevolg van die lang ure en die min tyd wat ek by my gesin kan wees het ek nie meer so baie tyd om te skryf nie, en glo my, ek mis dit vreeslik baie en geniet en benut elke oomblik wat ek die kans kry om wel te kan skryf. Ek voel ook geëerd om saam met sulke dierbare en bekende digters en digteresse skouers te kan skuur. Lank lewe die digkuns!

2 thoughts on “Hallo Esmarié

  1. Ronel says:

    Doe zo voort, Esmarié. Om te skryf hou baie voordele in – vir die skrywer, maar ook vir lesers en ander skrywers.

Lewer kommentaar