Digwenke

Digwenke en idees vir die week deur Caren Kearley

Kom ons kyk die week na die begrip rym. Hiermee word verwys na die herhaling, gereeld of ongereeld van sekere klanke. Rym word nie net in digkuns gebruik nie maar ook in die gewone daaglikse spreektaal. Ek dink spesifiek aan spreekwoorde soos:
– Hy het by die blou dam vakansie gehou
– Oos, Wes, tuis bes

Die rym verleen aan hierdie spreekwoorde ‘n seggingskrag sodat mens dit beter kan onthou. In digkuns moet die rym ook so ‘n uitheffingsfunksie hê. Dit mag nooit as ‘n blote versiering aangewend word nie, want dit klink dan gedwonge. Dit is nie toevallig dat daar soms van swak poësie as rymelary gepraat word nie. Enige digter moet volgens my opinie dus daarteen waak om rym te oordoen.

En tog het rym nie altyd ‘n belangrike rol gespeel nie. Die tipiese Griekse en Latynse digters het nie van rym gebruik gemaak nie, terwyl die Germane weer slegs van alliterasie (of Stafrym) gebruik gemaak het. Dit egter ‘n feit dat rym steeds ‘n belangrike rol speel in digkuns. Hierdie toenemende populariteit van die rym moet waarskynlik toegeskryf word aan die geleidelike verdringing van die mentum deur groter ritmiese vryheid.

Rym is ook nie sommer net rym nie. Daar word onderskei tussen:
1. Volrym en halfrym – dit is wanneer klinkers en die daaropvolgende medekinkers van een lettergreep van ‘n woord ooreenkom met die klinkers en medeklinkers van die daaropvolgende word. Gewoonlik staan sulke rymwoorde aan die einde van ‘n versreël en dan praat on sook van eindrym.
2. Binnerym is wanneer woorde binne ‘n versreël rym met die vorige versreël se eindwoord Soms word na alliterasie en assonansie ook verwys as binnerym
3. Beginrym is wanneer rymwoorde aan die begin an versreëls voorkom
Oor al die verskillende rymvorme kan mens behoorlik ‘n boek skryf, maar ek gaan nie nou verder daarop uitbrei nie. Sekere digvorme soos die sonnet, limeriek, kwatryne en vele ander vereis baie streng en spesifieke rympatrone.

Volgende keer bespreek ons die funksie van rym.
Lekker dig en onthou om sommer baie te lees ook.

Bron: Woord en wonder van A.P Grové

Lewer kommentaar