Disleksiese aanvalle kan jou lagspiere knou

 

Deur Madré van Tonder 18 Oktober 2016 00:04

Madré van Tonder

 

Op ’n Saterdagoggend staan ek in ’n kafee in Brandfort agter ’n konstruksiewerker. In sy hand is ’n oopgemaakte hoofpynpoeier.

In die rukkie dat ons wag dat die eienaar vir hom ’n glas water bring, vertel hy my: (1) Hy het nog nooit so erg babelas gehad nie; (2) Hy “werk hom dood” om sy dogter, haar baba en haar verloofde te onderhou; (3) Die dogter is 70% seker dat die verloofde wel die kind se pa is.

En my lagspiere tree onwillekeurig in werking. Hy het darem saam gelag!

Hoekom is dit so moeilik om nie te lag oor dinge wat vir ander mense nie snaaks is nie? Maria vertel my een oggend sy gaan ’n operasie kry om haar “moer” te verwyder. En sy kyk my skewekop aan oor ek uitbars van die lag oor die nuwe naam vir ’n baarmoeder.

’n Paar dae later daag Izak by die werk op met sy fiets wat hy stoot. Kort daarna kom vra hy vir pynpille. Waarvoor? Vra ek. “Die bicycle sy saal het gebreek nou het ek baie seer hier . . .” En hy beduie tussen sy bene en lag verleë saam toe ek begin skaterlag.

Epilepsie word gediagnoseer by ’n vrou in Brandfort se seun. Ek loop haar raak en verneem na sy welstand. “Nee jong, die dokter sê hy gaan die res van sy lewe disleksiese aanvalle kry.” Ek kry dit reg om nie te lag nie, maar maak haastig verskoning en verkas.

Op hoërskool was ek erg beenaf op ene Robert, wat in die slaghuis gewerk het. Op ons eerste afspraak vra ek hom of hy ook hou van lees, en of hy al Konsalik se boeke gelees het. “Ja, ek is mal oor Speedy Konsalik.”

En hy begin kriewel toe my lagspiere die oorhand kry. Daar was nie ’n volgende afspraak nie.

’n Werklose man lui my deurklokkie. “Dame, toe ek vanoggend geld wou trek, sien ek iemand het plagiaat gepleeg. Daar is nie ’n sent in my rekening nie.”

Ek gaan vinnig in die huis om ’n geldjie te kry en die lagbui onder beheer te kry.

Iemand in Brandfort met ’n kleurryke verbeelding vertel my een oggend iemand het hom die vorige dag met opset probeer doodry met sy motor. My lagbui veroorsaak dat die storie ’n stertjie bykry. ’n Speurder het onverwags op die toneel opgedaag en die bestuurder uitgeskel: “Kyk, nou moet die arme man op die sypaadjie loop! Jy kan bly wees ek sluit jou nie toe nie!” Die trane loop soos ek lag.

In ’n eetplek in Bloemfontein hoor ek ’n gesprek by die tafel agter ons. “As daai smokkelaar weer dié Kersfees sonder sy eie vleis opdaag, jaag ek hom weg!” My man begryp nie hoekom ek onbedaarlik begin giggel nie.

Dis ’n onophoudelike stryd om nie te lag wanneer jy nie moet nie. Maar ons is net mense. En ons laat mekaar lag, selfs al was dit nie bedoeling nie.

Lagspiere het nie brieke nie!

 

3 thoughts on “Disleksiese aanvalle kan jou lagspiere knou

  1. Schoetbooks says:

    Om nie te praat van selfoon tikfoute nie. My dogter vertel my nou die anderdag per watsapp dat sy ‘n pakkie by die piskantoor moes gaan haal. 

    Sent from Yahoo Mail. Get the app

Lewer kommentaar op sastoriesblog Kanselleer die reaksie