Ons gesels met die skrywer van Potskerwe

hendie4.jpgVertel ons wie is Hendie Grobbelaar?

Ek is in my vyftigs, ‘n ma van twee seuns en nou al vir amper 34 jaar getroud met my eie McGyver, Blackie Grobbelaar. Ek het ‘n lang, harde korporatiewe pad gestap van ‘n tikstertjie by die Johannesburg Hospitaal tot waar ek semi-afgetree het in 2015 as ‘n kommunikasiebestuurder- en konsultant vir ‘n internasionale maatskappy. Nou is ek ‘n huisvrou. Ek waag dit soms om myself ‘n skrywer te noem!

Ek is so bietjie van ‘n “tree hugger” en ‘n minimalis wat glo in ervarings bo besittings. Daarbenewens is ek gek oor reis en die belewenis om ander kulture en geskiedenis te leer ken. My idee van pret is om in stowwerige boekwinkels, eeu-oue hobbelstraatjies en museums rond te loop en myself te verplaas na ‘n ander era.

 

Wat het jy geskryf wat ons kan lees?

My debuut kortverhaalbundel, Potskerwe is in 2016 gepubliseer deur Malherbe Uitgewers. Dan het ek ook kortverhale in verskeie saamgestelde bundels van hierdie uitgewer asook ‘n paar verhale wat deur Vrouekeur gepubliseer is en nog in die pyplyn is vir publikasie.

Een van my kortverhale is ook in die US Woordfees se 2017 bundel opgeneem saam met 23 ander verhale van skrywers, bekend en onbekend.

Ek publiseer gereeld opinie-stukke op my eie “Potskerwe en ander woordnuus” Facebook blad. Onlangs het ek ‘n reeks artikels begin oor my eersdaagse reis na Griekeland wat ek noem “Op soek na Zeus.”

In die begin het ek kort stories vir die WOES webwerf geskryf. Ek het selfs ‘n e-pos sertifikaat met ‘n storie losgeslaan! Dit was ‘n klein maar baie belangrike oorwinning en rigtingwyser vir my pad.

 

Waaroor gaan jou boek en waar kan ons dit kry om te lees?

Potskerwe is ‘n versameling verhale van mense wat my eie- en ander van my hartsmense, se lewens deurkruis het. Dit is verhale van gewone mense met hul eie hartseer, geite en gewoontes, wat deur hulle teenwoordigheid en een of ander insident, ‘n blywende indruk op my gemaak het. Hierdie mense en hulle stories het my denkwyses beinvloed en gehelp om my te vorm tot die Hendie wat ek vandag is.

Ek nog so ‘n paar eksemplare beskikbaar @ R120 wat mense kan bestel deur ‘n e-pos te stuur na: hendie.grobbelaar@gmail.com.  Ek weet my uitgewer het ook nog een of twee en dan is die e-boek natuurlik ook by haar beskikbaar @ R60. Gaan kyk gerus op die webwerf: www.malherbe-uitgewers.co.zaPotskerwe (1).jpg

 

Waar het die idee vir jou storie vandaan gekom?

Die stories het lank in my hart se kamers weggekruip, totdat my pa van 84 jaar eendag weer losgetrek het met sy kleintydstories. Hy is ‘n baie goeie storieverteller met ‘n ongelooflike geheue. Ek het op daardie tydstip aan korporatiewe-ontrekkingsimptome begin lei na my bedanking by my laaste kliënt, en het besluit om van die karakters uit my jeug te begin neerpen op papier. Deels om iets vir my kinders na te laat maar ook om my eie duiwels te verdrink.

Hoe lank het jy aan die boek gewerk?

Die boek het net meer as ‘n jaar geneem vanaf die skryf van die eerste storie tot die dag wat ek die kartondoos oopgemaak het om die pers boekie te aanskou. Dit was soos om geboorte te gee en die piepklein mensie vir die eerste keer vas te hou. Louter vreugde!

 

Wat is die proses wat ‘n skrywer moet volg om ‘n manuskrip in ‘n gepubliseerde boek te verander?

Daar is soveel hulp en advies daarbuite dat ek as ‘n groentjie, die laaste een is om te sê wat die regte manier is om ‘n boek te publiseer.

Al wat ek kan sê, is: Lees so wyd moontlik, doen navorsing en praat met ander skrywers voordat jy enige besluite neem, jou naam op ‘n kontrak sit en jou storie die wêreld in te stuur. Ek weet die begeerte om jou eie boek vas te hou en visioene van boekbekendstellings kan oorweldigend wees. Onthou jou boek en jou storie is vir ewig daarbuite, met sy foute en sy tekortkominge. Maak seker jy stuur die beste produk waarop jy trots kan wees, uit in die heelal.

Ek sal egter altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat mense en platforms bied vir beginners soos ek. Dit is nie ‘n maklike proses nie maar elke oorwinning, hoe gering ookal, is noodsaaklike olie in ‘n mens se kruik van selfvertroue.

 

Het jy al ooit “writers block” gehad en hoe breek jy deur dit?

Daar is baie advies en raad oor hoe om te skryf en struikelblokke te oorkom. Ek het meeste gevolg en sommige werk vir my, ander nie. Ek kry nie “writers block” as sulks nie, want ek skryf wanneer ek voel ek het ‘n storie. Ek is in die gelukkige posisie dat ek nie onder druk voel om enigiets te skryf nie en ek het nie saktye soos mense wat teen ‘n sekere tyd iets MOET skryf nie. Ek het wel ‘n persoonlike doelwit om teen die einde van 2017 my tweede bundel vry te stel en ten minste halfpad met ‘n roman te wees. Vir inspirasie vlug ek see toe of gaan soek vir ervarings buite die huis.

Ek droom oor stories, sien ‘n prentjie, hoor ‘n verhaaltjie, lees baie nuus en verslind baie boeke. Al hierdie dinge kom saam om my idees te gee en of om my stories die vleis te gee wat nodig is. Dan gryp ek my swart idee-boek en skryf ‘n opsomming van die idee asook die einde. Ek laat die idee gewoonlik vir ‘n dag of twee prut voordat ek begin skryf, redigeer en weer skryf.

Ek weet nie of dit die regte of verkeerde manier is nie, maar dit werk tans vir my.

 

Watter raad sal jy vir nuwe skrywers gee?

Ek sien myself ook nog as ‘n relatiewe nuwe skrywer, maar as ek ‘n paar wenke kan gee is dit die volgende:

Lees so wyd as moontlik. Lees om te verstaan en te leer hoekom die skrywer sekere dinge gedoen het.

Moenie op jou geheue staatmaak nie; skryf jou idee neer en skryf dan jou eerste storie. Stuur hom vir iemand wie se oordeel jy vertrou en as jy seker is jy sien kans vir die gedoente en pyn van skryf, neem jy dit verder.

Leer soveel jy kan van die bedryf, doen ‘n paar kursusse en koop ‘n paar goeie hulpmiddels soos boeke uit die Pharos-reeks. Sluit aan by platforms wat jou help en blootstelling gee – soveel moontlik.

Toets die water met verskillende tipe stories totdat jy dié vind waarin jy gemaklik voel. Ons kan nie almal spioenasiestories of liefdesverhale skryf nie. Net jy sal weet wat werk vir jou.

As jy ‘n mentor in die bedryf kan kry, gryp dit met albei hande aan. Dit is gewoonlik mense wat niks het om te verloor om jou te kritiseer nie, en wat die waarde van eerlike en opbouende kritiek begryp. Jou familie en vriende sal altyd vir jou vertel jy is oulik. Glo hulle, maar soek ‘n onpartydige kennersoog.

Neem deel aan skryfkompetisies en waag dit om jou pennevrugte met ander op groter platforms te deel. Dit is wat dapper mense doen. Hulle ontbloot hul siele en loop die gevaar om soos vertrapte vis en skyfie-papiere, anderkant uit te kom. As jy hierna nog kans sien en die bloed is droog, sal jy oorleef.

Behou jou humorsin en moenie jouself té ernstig opneem nie. Geniet jou nuwe talent en die vryheid van ons pragtige taal.

Laastens – proeflees, redigeer, lees jou storie asof jy dit vir iemand voorlees, verander en proeflees weer. Moenie op jou standerd vyf Afrikaanse juffrou se lofprysing van een opstel, staatmaak nie. Daar is iets soos die korrekte spelling en reëls en jy moet dit ken om dit later sinvol te kan breek. Waag dit om sekere reëls te buig, slegs as die storie en karakter dit vereis.

 

As jy ‘n dag saam enige iemand kon spandeer, wie sou dit wees en hoekom?

‘n Droom word waar in April wanneer ek ‘n kursus in Griekeland gaan doen onder leiding van Marita van der Vyver en Frederik de Jager. Ek hoop om so baie te leer en terug te ploeg in my volgende kortverhaalbundel waarvan ek al ‘n klompie stories het. Marita het my aangegryp vandat ek as jong vrou “Griet skryf ‘n sprokie” gelees het. Sy is nie bang om woorde en ‘n storie, vas te gryp, om te draai en in jou gesig te smyt om jou sodoende uit te daag of asemloos te laat nie.

Daarbenewens gaan groot geeste soos Karin Brynard en Joan Kruger ook saam op die kursus en ek kan nie wag om hulle wenke en stories te hoor nie.

Op ‘n ligte noot – ek sou wat wou gee om vir ‘n dag saam met ‘n regte hippie van die sestigerjare deur te bring. “Love, peace, music and many a story!” Ek voel soms ek was vyftien jaar te laat gebore!

 

 

2 thoughts on “Ons gesels met die skrywer van Potskerwe

Lewer kommentaar