Boekresensie: Die meisie op die dak – Cecilia Steyn

SKRYFUITDAGING 4: Boekresensie
Boekresensie: Die meisie op die dak – Cecilia Steyn
Debuut jeugverhaal gepubliseer deur Lapa uitgewers
Aangekoop te Exclusive books teen R134-00.

Ek moet bieg, Die meisie op die dak se buiteblad het my soos ‘n magneet aangetrek en toe ek haar eers in my hande hou, wel, kon ek haar nie net daar in die winkel los nie. Die pragtige omslag is ‘n wenner en maak jou sommer lus om die boek te lees. Ek is tans besig met navorsing oor jeugboeke en kan met gevoel sê, welkom tot die wêreld van jeugboeke meisie op die dak. Jy is geskryf vir die genot van lees.

Dit vertel die verhaal van Estelle, wat as matriekmeisie skielik uit haar bekende omgewing geruk word. Sy moet vrede maak met ‘n nuwe huis, giggelgeel kombuis, goorder buurt en die feit dat haar pa in die tronk beland het. Die nuwe huis bring egter ook ‘n lekker kuier-kat Cornelius (nee, eintlik toe Magenta), ‘n aantreklike donderkop buurseun Aiden met ‘n voorliefde vir dak kuiertjies en skilder. Toevallig ook die nuwe seun in haar matriek-klas.

Die verhaal werk, want die skrywer laat geen van die struikelblokke in Estelle se lewe oorneem nie. Haar aanslag is lig en lesers sal ingetrek word deur die ontluikende vriendskap tussen Estelle en Aiden.

Die boek is volgens Lapa-uitgewers gemik op kinders van dertien en ouer, maar enige iemand met ‘n romantiese hart sal dit baie geniet. Ouer mense mag dalk dink die einde kom darem maklik…maar as jy nog die hemelruim bewonder en ‘n wens maak tydens ‘n verskietende ster, dan is enige iets mos moontlik.

Ek kan nie wag om Cecilia se karakters in haar Tienerharte reeks te ontmoet nie. Boeke in die reeks; Hartklop, Hartbreker, Hartedief en nou ook Hartsnaar (Human&Rousseau).

Adele van Zyl. April 2017

17757161_10202882639025223_8148622300228843914_n.jpg

One thought on “Boekresensie: Die meisie op die dak – Cecilia Steyn

Lewer kommentaar