Kry jou gedig in ons digbundel

ONS EERSTE DIGBUNDEL!!!!

Hier volge die beplanning vir ons eerste digbundel:

Tema: LIEFDE

Enige gedig oor liefde, gebroke liefde, moederliefde, verstote liefde ens.

Julle kan die hele April gedigte plaas op die blad in die tema, onder die opskrif:
DIGBUNDEL
Ander gedigte steeds welkom.

Van 1Mei – 14 Mei, mag jy slegs jou twee beste gedigte e-pos na my OF Elsabe vir keuring:
elsabedebeer8@gmail.com
rianaleroux111@gmail.com

Vanaf 15 Mei sal ons gedigte keur vir die bundel, dit laat proeflees en dan na Groep 7 stuur vir die druk daarvan. Ons wil graag so veel van ons lede as moontlik in die bundel akkommodeer.

Lekker dig.

Riana le Roux

Diere

 

Elke liewe mens moet êrens diep binne in hul hart van verstand wel vir diere omgee. Selfs dié wat sê dat hulle lewens-styl nie plek het vir diere-versorging nie.

Kom ons besprek eers allergiëe: een in vyf mense ly aan een of ander allergie. Katte en honde stel ‘n allergie-belaaide proteïn genaamd Fel D (vir katte) en Can F1 (vir honde) vry. Dit gebeur wanneer hulle hulself oor hul pelse lek, en sodra die speeksel droog is, word dit in die lug vrygestel. Mense kan dit inasem, of dit deur hul vel of oë inneem. Vir julle is daar goeie nuus!

Daar is heelwat diere wat glad nie allergiëe veroorsaak nie. Visse, skilpaaie en reptiele het min onderhoud nodig, en hou jou nies op stal.

Daar is ook sekere soorte katte, soos die langhaar Siamees, Die Cornish Rex en Devon Rex, asook die Sphynx (heeltemal haarloos) katte wat geen reaksie ten op sigte van allergiëe toon nie. Hierdie katte skei byna geen Fel D proteïn af nie, en dit is so min dat dit nie mense affekteer nie.

Daar is geen hond wat nié die Can F1 proteïn afskei nie, maar sommige soorte, soos die Portugese Waterhonde, standaard Poedels, Labradoodle (kruising tussen Labrador en Poedel) en honde met krul hare, soos die Bichon Frise, het ‘n baie lae vlak van dié protein.

Studies het bewys dat die versorging van diere terapeuties is vir die homo sapiens. Wie kan dan nou vies bly vir die wederhelf of jou kinders as ‘n nat snoet teen jou been gedruk word vir ‘n vryfie? Of ‘n klein katjie wat soos Tarzan teen jou broekspyp opklouter? Oukei, kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die mikroskopies gaatjies wat hul naels in jou vel maak…

Diere verskaf kameraadskap, veral onder sieklike mense en ons ou mense, en meer en meer hospitale laat nou diere toe om by terminaal siek pasiënte in te loer.

Komaan mense, as jy nie reeds genoeg diere het nie, maak jou hart en jou huis oop vir EEN dier wat in ‘n plek soos die DBV of TAG, -om maar twee te noem-, siels-ongelukkig na liefde en ‘n familie verlang.

Sonja Brown

Trek jou storie netjies aan

Die laaste week lees ons baie navrae oor hoe ‘n storie moet “lyk” wanneer jy dit vir iemand stuur. Of dit nou op die radio gelees gaan word of op ‘n website gaan verskyn, hoe netjies jou storie lyk behoort net so belangrik te wees soos hoe goed die storie is.Jy sal nie in ‘n ou sweetpak opdaag vir ‘n werksonderhoud nie, so trek jou storie netjies aan. Ons het by al die groot uitgewers gaan loer en die kriteria is amper identies. Hier is wat ons gevind het:

 

Manuscrip Voorleggings

Voorleggingskriteria

Fiksie: romans, poësie, kortverhale, ens. (NB Uitgewers, Human & Rousseau)

Ons verkies voorleggings op harde kopie, gedruk op wit A4-papier en slegs op een kant van die bladsy. Dubbelspasiëring word verkies aangesien dit die maklikste is om te lees. Blaaie moet genommer wees en dit help om die titel van jou manuskrip as opskrif bo-aan elke bladsy te plaas.

Moet asseblief nie die enigste oorspronklike afskrifte van manuskripte stuur nie aangesien ons nie verantwoordelik gehou kan word om hulle terug te stuur nie.

Stuur asseblief ook die volgende:

• ‘n Begeleidende brief met ‘n kort beskrywing van die inhoud en die teikenmark.
• ‘n Kort biografie van die skrywer.

Rig asseblief jou voorlegging aan die uitgewer wat jy dink waarskynlik jou manuskrip sal publiseer. Kyk in boekwinkels of biblioteke om ‘n duidelike idee te kry van wat elke uitgewer publiseer.

Manuskripvoorleggings (LAPA Uitgewers) 

ALGEMEEN

  1. Manuskripte moet asseblief op wit A4-papier getik wees, in dubbelspasiëring, in ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman is verkieslik), net aan een kant van die bladsy, en met kantruimtes (margins) wat breed genoeg is om aantekeninge te maak (sowat 2 cm weerskante is voldoende). Manuskripte moet verkieslik nie gebind wees nie.
  2. Elektroniese voorleggings word nie vir die Niefiksie- en Fiksie-afdelings aanvaar nie. Pos jou manuskrip na: Posbus 123, Pretoria, 0001 of koerier dit na Bosmanstraat 380, Pretoria, 0002.
  3. Elektroniese voorleggings word vir die Kinder- en jeugafdeling aanvaar. E-pos jou manuskrip aan doretv@lapa.co.za
  4. Met ontvangs van jou manuskrip sal LAPA per gewone pos of e-pos ontvangs daarvan erken.
  5. Omdat LAPA baie manuskripte ontvang, kan dit tot vier maande neem om ’n keuring af te handel en oor publikasie te besluit. Indien jy ná vier maande vanaf ontvangserkenning nog geen terugvoering ontvang het nie, is jy welkom om met ons in verbinding te tree.
  6. Ons versoek skrywers vriendelik om nie ’n manuskrip aan ’n ander uitgewery voor te lê terwyl dit by LAPA onder oorweging is nie.
  7. Sluit asseblief ’n dekbrief by jou manuskrip in. Dit moet jou kontakbesonderhede, die titel van jou manuskrip, die teikenmark wat jy in gedagte het, ’n sinopsis en ’n kort publikasie-agtergrond, indien jy reeds gepubliseer het, bevat.
    • Voorsien die manuskrip van ’n titelbladsy, asseblief. Op die titelbladsy moet jou naam, adres, e-posadres en telefoonnommers wees asook die titel van die manuskrip. Dui ook jou manuskrip se woordtelling aan.
  8. Neem kennis dat LAPA nie manuskripte terugpos aan skrywers nie. Indien jy die manuskrip wil terughê, moet jy asseblief ’n selfgeadresseerde, gefrankeerde koevert saam met die manuskrip stuur.
  9. Let asseblief daarop dat alle manuskripte op die skrywer se risiko voorgelê word. Hoewel ons alle moontlike voorsorg tref met manuskripte in ons bewaring, kan ons nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige moontlike verlies of beskadiging nie. Dit is dus raadsaam om altyd ’n afskrif van ’n manuskrip te maak, en nooit oorspronklike illustrasies of ander oorspronklike grafiese materiaal by ’n voorlegging in te sluit nie.
  10. Kinderboekskrywers hoef nie illustrasies te voorsien nie. Die uitgewery sal self ’n illustreerder aanwys en vergoed indien ’n manuskrip vir publikasie aanvaar word.
  11. Uitgewers is onder geen verpligting om kommentaar op ’n manuskrip te lewer of redes vir die afkeuring daarvan te verstrek nie.

KINDER- EN JEUGBOEKE

  1. Elektroniese voorleggings word vir die Kinder- en Jeugafdeling aanvaar. E-pos jou manuskrip aan doretv@lapa.co.za
  2. Daar is geen voorgeskrewe lengte/woordtelling vir verskillende ouderdomsgroepe nie, en ons maak ook geen aanbevelings in hierdie verband nie.
  3. Skrywers hoef nie self illustrasies te voorsien nie. Ons verkies dit om manuskripte sonder illustrasies te ontvang. Indien jou manuskrip vir   publikasie aanvaar word, sal LAPA ’n geskikte illustreerder aanwys en vergoed om die illustrasies te doen. Sou jy illustrasies saamstuur, moet asseblief nie oorspronklike kunswerke stuur nie –LAPA aanvaar geen aanspreeklikheid vir materiaal wat verlore raak nie.
  4. Wat kortverhale en gedigte betref, kan ons slegs volledige bundels vir publikasie oorweeg. Ons beskik nie tans oor ’n publikasieplatform vir alleenstaande verhale en gedigte nie.
  5. Illustreerders is welkom om ’n portefeulje met voorbeelde van hul werk te stuur, of om ’n skakel na ’n aanlyn portefeulje elektronies aan te stuur. Belowende portefeuljes sal op lêer gehou en geraadpleeg word wanneer illustreerprojekte opduik, maar ons kan ongelukkig nie terugvoering oor illustrasievoorleggings verskaf nie. Moet asseblief nie oorspronklike kunswerke stuur nie – LAPA aanvaar geen aanspreeklikheid vir materiaal wat verlore raak nie.
  6. Dui asseblief in jou dekbrief aan op watter ouderdomsgroep/teikenmark jou voorlegging gemik is.
  7. Die indeling van ouderdomsgroepe is nie in beton gegiet nie, maar in die algemeen word daar tussen die volgende onderskei:

– Bababoeke (0-3 jaar): Duursame kartonboekies, of interaktiewe boeke met byvoorbeeld skwiekers, legkaarte, vat-en-voel-insetsels, of opblaas-badboekies. Omdat dit baie duur is om te produseer, word oorsese boeke vertaal en in koproduksie met groot oorsese uitgewerye uitgegee. Voorleggings in hierdie kategorie word dus ongelukkig nie ingewag nie.

– Prenteboeke (3-5 jaar): Die teks is min en eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hou in gedagte dat ’n standaardformaat-prenteboek gewoonlik 32 bladsye beslaan. ’n Prenteboekteks moet dus genoeg om die lyf hê om sinvol in hierdie formaat te kan uitgee. Voorbeelde: Babalela (Martie Preller en Andries en Erica Maritz), Moenie die knoppie druk nie (Jaco Jacobs en Chris Venter)

– Eerste leesboeke (5-7 jaar): Die teks is min en die taalgebruik eenvoudig, met volkleur-illustrasies wat help om die storie te vertel. Hierdie boekies is gemik op lesers wat pas self leer lees. Voorbeelde: Die Tippie-reeks (Jose en Reinette Palmer), Z is vir Zackie-reeks (Jaco Jacobs)

– Beginnerleesboeke (7-9 jaar): Kort, eenvoudige stories wat gewoonlik met volop illustrasies aangevul word. Die fokus is dikwels op prettige, opwindende en humoristiese storielyne. Voorbeelde: Die Oe la la, Lulu (Fanie Viljoen), My ouma is ’n rock-ster (Jaco Jacobs), Professor Fungus-reeks (Jaco Jacobs)

– Boeke vir intermediêre lesers (9-12 jaar): Humor, grilstories en avontuurverhale is onder meer gewild by hierdie ouderdomsgroep. Boeke het meestal swart-en-wit-illustrasies of soms geen illustrasies nie. Voorbeelde: Die Stalmaats-reeks (Lize Roux), die Sanri Steyn-reeks (Theresa van Baalen)

– Jeugboeke vir jonger tieners: (12-15 jaar): Boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel oor kwessies wat eie is aan die teikenmark se leefwêreld of tot tieners van hierdie ouderdom spreek. Voorbeelde: Die Thomas@-reeks (Carina Diedericks-Hugo), ’n Goeie dag vir boomklim (Jaco Jacobs), Middernagklub (Christien Neser)

– Jeugboeke vir ouer tieners (15-18 jaar): Lesers van hierdie ouderdom lees dikwels reeds boeke vir volwassenes, maar boeke vir hierdie ouderdomsgroep handel gewoonlik oor karakters van ’n ooreenstemmende ouderdom as die teikengroep. Voorbeelde: Al wat ek weet (Marita van der Vyver), Uit (Fanie Viljoen), Asem (Jan Vermeulen),

 

NIEFIKSIE

Algemene vereistes

  1. Manuskripte moet verkieslik so volledig as moontlik voorgelê word.
  2. Formaat: Daar is geen voorskrifte vir die lettertipe, lettergrootte en spasiëring nie. Manuskripte kan elektronies of per pos gestuur word. Geen hand-geskrewe manuskrip sal oorweeg word nie.
  3. Die manuskrip moet vergesel word van ’n kort (verkieslik 1-2 bladsye) CV van die skrywer met die nodige kontakbesonderhede.
  4. Die manuskrip moet die volgende insluit:
    • ‘n Voorwoord waarin die konsep verduidelik word en die doel van die boek asook die gehoor vir wie hierdie boek geskryf is, uiteengesit word.
    • ‘n Volledige inhoudsopgawe met ’n benaderde woordtelling per hoofstuk.
    • Ten minste 2 volledige hoofstukke, alhoewel ’n kwart van die manuskrip eerder verkies word.
  5. Illustrasies en foto’s moet saam met die manuskrip voorsien word, waar dit deel vorm van die manuskrip en in ander gevalle waar dit beskikbaar is.
  6. Die evalueringsproses kan tot 4 maande duur en manuskripte word nie teruggestuur nie tensy die manuskrip van ‘n gefrankeerde koevert vergesel word. Waar gemaakte artikels (soos in die geval van handwerkboeke) saamgestuur is, sal die artikels weer aan die skrywer terugbesorg word.

 

KOOKBOEKE

  1. ‘n Voorwoord waarin die konsep verduidelik word, hoe daar op die versameling resepte besluit is asook die gehoor vir wie hierdie boek geskryf is.
  2. Die manuskrip moet ’n volledige reseptelys insluit, opgedeel in kategorieë soos deur die skrywer gesien.
  3. Ten minste 100 resepte moet gelys word.
  4. Ten minste die helfte van die reseptelys moet volledige resepte insluit.
  5. Elke resep se bestanddele moet afsonderlik van die metode gelys word.
  6. Beide metrieke (g/ml) en koppie- en lepelmates moet gegee word.

HANDWERKBOEKE

  1. Die voorwoord soos uiteengesit onder punt 4a moet voorsien word.
  2. Addisioneel moet die skrywer verduidelik hoe hierdie boek van ander handwerkboeke, wat alreeds op die mark is, verskil.
  3. ’n Volledige inhoudsopgawe van die beoogde items moet voorsien word.
  4. Ten minste 5 projekte, verteenwoordigend van die verskillende afdelings, moet ingesluit word.
  5. Elke projek moet voorsien word van ’n foto van die finale produk of die produk self. Die uitgewer kan egter nie verantwoordelik gehou word vir skade aan die produkte wat tydens die evalueringsproses opgedoen is nie.
  6. Die uitgewer word ook nie verantwoordelik gehou vir enige kostes aangegaan in die maak van die artikels vir voorlegging nie.

TEGNIESE VERSORGING: FIKSIE EN ROMANZA

  • Dink ten minste drie titels uit, asseblief! Skryf onder die titel van die manuskrip ‘n hofie “Alternatiewe titels” en voeg dan jou ander twee voorstelle daarby. Bly weg van titels wat te liries is, te lank is, of te outyds klink. Twee tot vier woorde is genoeg.
    • Onthou om bladsye te nommer.
  • Lettertipe: Gebruik altyd Times New Roman 12 pt of Arial 12 pt.
  • Tik manuskripte in dubbelspasiëring.
  • Laat ’n kantlyn van ongeveer 15 tot 20 mm aan beide kante van die bladsy toe vir die keurder se aantekeninge.
    • Elke nuwe hoofstuk begin bo-aan ’n nuwe bladsy.
  • Die eerste paragraaf van elke hoofstuk begin teenaan die kantlyn, die ander paragrawe moet 15 mm inkeep.
    • Die held se perspektief word van die heldin se perspektief geskei deur ’n nuwe paragraaf.
  • Daar mag nie ’n skoon reël tussen paragrawe wees nie. Dit word nét tussen tyd- en plekspronge gebruik.
  • Tik net een spasie ná ’n punt of enige ander leesteken.
  • Moenie Page breaks instel nie. Die teks loop vanself oor na die volgende bladsy.
  • Moenie Macros of Symbols gebruik om leestekens of spesiale karakters te verkry nie. Sien die kodes in die onderstaande tabel. Onthou dat die NUM-lock geaktiveer moet wees, en hou die ALT-sleutel in terwyl die kode getik word. Waar skootrekenaars nie hierdie funksie het nie, kan daar wel van Insert/ Symbol gebruik gemaak word.

ROMANZA-REEKS

Die Romanza-reeks bestaan uit vier nuwe boeke wat elke maand verskyn.

  • Lengte: 44 000 woorde
  • Die manuskrip moet in die derde persoon en uit die heldin se perspektief geskryf word. Dit fokus op die stadig ontwikkelende verhouding tussen die held en heldin – vandat die chemiese reaksie tussen hulle ontstaan tot en met die kulminasie van hul liefde.
  • Opregte en eerlike emosies vorm die basis van die romanse. Die kern van die reeks is innerlike konflik. Deel daarvan is dalk dat die heldin stry teen haar gevoel vir die held, want sy wil haarself eers bewys en nie nou al trou en kinders kry nie.
  • Hoewel seksuele spanning ’n noodsaaklike element is, is seksuele omgang nét toelaatbaar wanneer die twee hoofkarakters committed is. Die klem is altyd op die heldin se emosionele belewing, met geen eksplisiete of grafiese beskrywing van die seksdaad self nie. Die leser wil meegesleur word deur die delikate en sensuele ondertone. Sy wil die uitgestelde begeerte, die romantiese afwagting en die misterie van die liefde saam met die heldin ervaar en veral sáám met haar op die held verlief raak. Sy wil deel wees van die emosionele struikelblokke tussen die hoofkarakters en hoe hulle dit uiteindelik oorkom om ware geluk te vind in ’n romanse wat die toets van die tyd sal deurstaan.
  • Hoewel die reeks in realiteit gesetel is, bied Romanza meesleurende, moderne en eietydse fantasieë vir die leser. Daar is ruimte om relevante en kontemporêre issues wat vandag se vrou raak, te ontwikkel – solank dit binne die parameters van die romanse val.

VERSKILLENDE ROMANSE-KATEGORIEË

  1. In hierdie storie is dit gewoonlik die heldin se eerste ervaring van volwasse liefde. Sy is in haar twintigs, is reeds in ’n beroep, bly op haar eie en is onafhanklik. Sy is lewenslustig, interessant en het hope belangstellings. Hoewel sy maagdelik is, is sy nie naïef nie. Die held is ietwat ouer en meer ervare, sjarmant en in beheer van die situasie. Hy is suksesvol, seker van homself, weet presies wat hy wil hê . . . én hoe om dit te kry.
  2. Die heldin is ietwat meer gesofistikeerd en het besliste idees oor die lewe in hierdie storie. Sy is in haar dertigs, vurig en onafhanklik, dalk ietwat skepties oor die liefde? Sy kan moontlik geskei wees, ’n kind hê en/of ’n beroepsvrou wees. Die manlike geslag beïndruk haar nie sommer nie, want she’s been around. Dit beteken nie dat sy moet oorkom as ’n aartsfeminis nie, sy is net meer deurleef as haar suster van twintig. Dié storie word ook in die derde persoon en uit die heldin se perspektief geskryf.
    Die held is dinamies, charismaties, het ’n sin vir humor, is suksesvol en verstaan die heldin se diepste behoeftes. In hom kom sy haar moses teë, want hy sien deur haar en wéét hoe om haar te hanteer.
  3. Hierdie storie is ’n kombinasie van humor en romanse. Die heldin is regtig funny. Sy trek bv. die verkeerde klere na formele onthale toe aan, sê dinge sonder om daaroor te dink, en neem haarself of die lewe nie te ernstig op nie. Baie soos Jilly Cooper se heldinne, in Octavia, Bella en Emma. Witty woordewisselings en misverstande tussen die held en heldin is deel van die storie. Die held kan moontlik met afgryse vervul wees met die lomphede wat die heldin aanvang soos in Bridget Jones. Of hy is dalk laid back en hoogs geammuseerd, soos die held in Laws of Attraction. Hoe ook al, hy is in beheer van die situasie en vind die heldin verfrissend anders. Die held moet voldoen aan al die vereistes vir die ideale held, met dié verskil dat hy dalk ietwat meer eksentriek is – sonder om heeltemal weird te wees.

 

Proeflees vs Redigering

Dankie Leoni van SA Vryskutskrywer

Inligtingsdokument

PROEFLEES vs REDIGERING

 

  1. Wat behels redigering?

 

Kopie- of teksredigering is ‘n proses wat verseker dat teks korrek is in terme van spelling, grammatika, kliektaal, punktuasie, terminologie, semantiek en formaat.

Kopieredigering verseker ook dat die idee wat ‘n skrywer aan die leser wil oordra akkuraat en duidelik is en dat enige wetlike kwessies wat dalk uit die teks mag voortspruit, onder die uitgewer se aandag gebring word.

 

Teksredakteurs of redigeerders sal ‘n geskrewe stuk bestudeer om te sien of die skryfwyse vlot en dat die teks sin maak. Hulle kan ook die teks verkort om dit volgens die publiseerder se formaat-huisstyl aanvaarbaar te maak.

 

Redigeerders kan dikwels ook verantwoordelik wees vir koppe, voetnotas, foto-onderskrifte en hoofopskrifte.

 

Vanaf die redigeerder gaan die teks na die proefleser vir die finale kontrolering om te verseker dat die teks algeheel foutloos is.

 

Kopieredakteurs benodig ‘n aantal bekwaamhede waaronder ‘n uitstekende taalaanleg, die vermoë om feitelike foute te identifiseer, ‘n fyn aanvoeling vir detail en kritiese denke wat hulle help om wisselvallighede in die werk raak te sien.

 

 

 

  1. Wat doen ‘n proefleser?

 

Proeflees is, in wese, die finale stadium van die redigeringsproses van ‘n geskrewe stuk en behoort slegs gedoen te word nadat alle ander hersienings en redigerings reeds afgehandel is.

 

‘n Proefleser lees proewe deesdae meestal elektronies, hoewel veral boeke se finale proewe steeds in papiervorm nagegaan word.

 

Wanneer ‘n proefleser die finale proewe nagaan voordat dit na die drukkers gestuur word, merk hy enige foute in die teks sodat dit reggestel kan word voordat die manuskrip gedruk word.

 

Die belangrikste foute waarna in die proefleesstadium gekyk word, is onder meer:

– verkeerde spelling

– punktuasie

– grammatika

– spasiëring

– tipografies

– formaat

– lettertipe en styl

© 2017. www.savryskutskrywer.co.za

 

 

Ontmoet die skrywer van Leo

Anna1.jpg

Wie is jy en waar vandaan kom jy?

Anna van der Walt, gebore 17 Mei 1944 in Magaliesburg. Grootgeword in Bloemfontein, dogter van ’n NG-predikant, later professor in Wysbegeerte. Moeder Duits-onderwyseres en later dosent. Matrikuleer in 1959. Verwerf kwalifikasies aan die UOVS, BA, BA-honneurs (Engels), BA-honneurs (Wysbegeerte), UOD. Vyf jaar as Engels-onderwyseres (1965-1969). Getroud met Hugo van der Walt (NG-predikant), Desember 1968. Twee kinders: dogter Tina) en seun (Landró)/ Werk 35 jaar aan die UV as taalpraktisyn. Hugo oorlede in 2012. Woon tans in Welgedacht-aftreeoord.

Wanneer het jy begin skryf en hoekom?

Omdat ek altyd baie gelees het, wou ek graag skryf. Selfvertroue het egter ontbreek. Het in die 1980’s begin skryf, maar elke manuskrip net aan een uitgewer gestuur. Niks gepubliseer nie. Het daarna moed opgegee en eers weer na aftrede en Hugo se dood begin skryf. Het die boek Leo slegs op aandrang van my oudste kleinseun, Jaco, aan Thompson gestuur.

Wat het jy geskryf wat ons kan lees?

Twee wetenskapsfiksieboeke, Leo, gepubliseer deur Thompson (2016) en die opvolgverhaal, Stellamarie, selfpublikasie nadat Thompson gesluit het (2016). ’n Kortverhaal As jy net terug kan kom, verskyn binnekort in ’n versamelbundel Lief en leed. ’n Verhaal oor ’n mishandelde kind Donker pad na dagbreek is tans onder oorweging deur Kreativ SA.

Waaroor gaan jou boek/stories en waar kan ons dit kry om te lees?

Die twee wetenskapsfiksieverhale gaan oor ’n buiteaardse wese en ruimtevaarder uit ’n volmaakte wêreld, wat die reël om nooit met die aarde kontak te maak nie verbreek omdat hy ’n moord op aarde probeer verhoed en dus in sonde val. Hy kan nie weer terugkeer na sy wêreld nie. Die eerste boek gaan oor sy aanpassing op aarde en die vind van sy groot liefde. In die tweede boek, Stellamarie word sy dogtertjie gebore (half-buiteaards, half-mens). Die boeke is verkrygbaar by Groep7 Drukkers en enige boekhandelaar kan ook versoek word om die boek of boeke te bestel.Stellamarie_omslag-14. LEO – buiteblad

Wat is jou groot droom?

Ek is ’n bietjie oud vir groot drome. Wil graag nog enkele verhale skryf en aan my kinders en kleinkinders nalaat.

Wie of wat inspireer jou?

Die grootste inspirasie in my lewe was my pa, P de B Kock. Hy het my hele godsdienstige en lewensbeskouing gevorm. My oorlede man was ook een van sy studente en is ook in ’n hoë mate deur hom gevorm.

Behalwe vir skryf, watter ander belangstellings het jy?

Ek lees graag, ook op die internet. Was baie lief vir tuinmaak, maar sukkel nou ’n bietjie, veral met die waterbeperkings. Kweek ’n klompie orgideë in hangmandjies onder my afdak.

Gunsteling boek en skrywer en hoekom?

Onmoontlike vraag. Te veel om op te noem. In Engels lees ek veral graag Dean Koontz, Mary Stewart, Georgette Heyer, Ruth Rendell en Agatha Christie se boeke. Gunstelingskrywers in Afrikaans sluit in Dalene Matthee, Deon Meyer en Christine le Roux.

Watter plek sal jy nog wil besoek of selfs gaan bly?

Sal nie meer veel kan reis nie. Die jare tel teen my. Bloemfontein is maar my tuiste en die plek van my hart.

Waar en wanneer skryf jy die beste?

Skryf maar aan en af deur die dag op my rekenaar in my huis.

As jy môre die lotto wen, wat sal jy doen?

Die meeste van die geld vir my kinders gee en genoeg belê om seker te wees ek kan myself tot die einde van my lewe onderhou.

Watter belangrike lewensles(se) pas jy in jou lewe toe?

Hou vas aan geloof. Dit dra jou deur beproewings. Wees tevrede met wat jy het. Om gelukkig te wees, is ’n wilsbesluit.

Wat laat jou lekker lag en wat maak jou ongelukkig?

Sommer alles wat snaaks is. Ek raak ongelukkig as my kinders of kleinkinders ongelukkig is.

Skryfwenke: Leestekens

LEESTEKENS

DIE KOMMA

  1.  TUSSEN TWEE GESEGDES:
  • Toe ek weer sien, verdwyn hy deur die venster.
  • Wat hy vir jou gesê het, is baie waar.
  • Toe ek daar kom, was hy al skool skool toe.
  1.  NA ‘N REEKS SELFSTANDIGE NAAMWOORDE, BYVOEGLIKE NAAMWOORDE,

    WERKWOORDE:

  • Op my lessenaar is daar boeke, potlode, penne, uitveërs en liniale. (Selfstandige naamwoorde)
  • Ouma is ‘n goedhartige, voorbeeldige, hardwerkende en hoflike mensie. (Byvoeglike naamwoorde)
  • Die kindertjies skreeu, lag, gil, spring en dans van pure opgewondenheid. (Werkwoorde)
  1.  NA ‘N UITROEP WAT SY KRAG VERLOOR HET:
  • Sjoe, ek weet regtig nie wie dit gedoen het nie.
  • Werklik, jy moet my glo.
  • Gits, ek het hom regtig nie gesien nie.
  • Ja, ek ken daardie outjie regtig nie.
  • Wag, laat ek jou gou vertel.
  1.  VOOR OF NA DIE NAAM VAN ‘N PERSOON WAT DIREK AANGESPREEK WORD :
  • Dewald, bring asseblief my gholfstokke.
  • Kom help my gou hier, Marius.
  • Sal jy, Bianca, asseblief die tee bring.
  • Wagter, bring gou die bal.
  1.  VOOR VOEGWOORDE WANT, MAAR EN DOG:
  • Ek gaan nou slaap, want dit is al tienuur.
  • Sy kan vinniger hardloop, maar sy wil nie gereeld oefen nie.
  • Hy het my gewaarsku, dog ek wou nie luister nie.
  1.  VOOR EN NA SINNE OF SINSNEDES WAT INGELAS WORD (PARENTESE):
  • Pieter is, wat my betref, ‘n baie goeie leier.
  • Elizma moes, om nie te val nie, baie styf vashou.
  • Gerhard moet, of hy nou daarvan hou of nie, die werk doen.
  • Ons weet almal dat, as dit nie reën nie, die boere verliese gaan ly.
  1.  VOOR EN NA ‘N BYSTELLING:
  • Vanessa, ons netbalkapteine, is ‘n baie knap speelster.
  • Marco, die seun met die breë skouers, is so sterk soos ‘n bees.
  • Johann, die seun met die lang bene, hardloop baie vinnig.
  • Midde-Afrika is, volgens die skrywer, ‘n land van kontraste.
  1.  WAAR WOORDE UITGELAAT IS OM HERHALINGS TE VOORKOM:
  • Hy is die vriendelike; sy broer, die norse.
  • Hy is die gierigaard; sy pa, die vrygewige.

ONTHOU: ONS GEBRUIK NIE KOMMAS NIE:

  • Voor die voegwoord “en”.
  • Voor die volgende voegwoorde: dat, sodat, omdat, nadat, voordat.
  • Tussen die voornaamwoorde “julle julle”, “hulle hulle”, “ons ons”.

DIE KOMMAPUNT

  1.  WAAR DIE VOEGWOORD (WANT, MAAR, EN) UITGELAAT IS:
  • Ek gaan nou dorp toe; jy bly by die huis.
  • Ons moet nou vertrek; ons motor is egter ‘n bietjie stukkend.
  • Juan is nie tuis nie; hy is vir belangrike sake Durban toe.
  • Anton gee voor dat hy my vriend is; hy sal dit eers moet bewys.
  1.  VOOR DAARENTEEN, DAARNA, DAAROM, DERHALWE, DUS, GEVOLGLIK, INTEENDEEL,

    NIETEMIN, NOGTANS, TROUENS, TOG:

  • Ek werk baie hard; daarenteen hou jy heerlik vakansie.
  • Chris is ernstig siek; daarom bly hy in die hospitaal.
  • Wilco is nou weer blakendgesond; dus sal hy nou weer skool toe kom.
  • Dit het uiteindelik baie gereën; gevolglik sal die water nie meer beperk word nie.
  • Hy is nie lui nie; inteendeel, hy werk soos ‘n eseltjie. (Na “inteendeel” en “trouens” kom altyd ‘n komma)

DIE DUBBELPUNT

  1.  VOOR DIE DIREKTE REDE:
  • Michelle sê: “Ek sal môre begin met my werkstukkie.”
  • Franco het gevra: “Waar bly julle so lank?”
  1.  DUI ALTYD AAN DAT IETS GAAN VOLG OF VERDUIDELIKING VAN ‘N GEDAGTE:
  • Julle moet onthou: ons het nie almal dieselfde talente nie.
  • By die see het ek die volgende gesien: vissies, seeskilpaaie en robbe.
  • Na Christine se toespraak was een aspek baie duidelik: sy gaan haar verkiesbaar stel.

Onthou:   Altyd ‘n kleinletter na die dubbelpunt.

AANHALINGSTEKEN

  1.  MENSE SE DIREKTE WOORDE:
  • Jannie het hard geskreeu: “Hardloop vinniger!”
  • Emari het gesê: “Ek sal jou vanaand skakel.”
  1.  AANHALINGS UIT GEDIGTE OF BOEKE:
  • “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, lees ons in die Bybel.
  • “Ek kan die grap nie vang nie”, is ‘n Anglisisme.
  1.  WAAR IRONIE (TEENOORGESTELDE WAT JY BEDOEL) TER SPRAKE IS:

Jou geliefde popster “sing” weer vanaand in die skoolsaal.

  1.  ‘N WOORD UIT ‘N ANDER TAAL:
  • “Speaker” is ‘n leenwoord uit Engels.
  • Almal “worry” deesdae oor alles.
  1.  DIE NAAM VAN ‘N BOEK OF ARTIKEL:
  • Almal wil graag “Kringe in ‘n Bos” van Dalene Matthee lees.
  • Ek het nie van “In die Groot Bokskryt” gehou nie.
  1.  AANHALINGS BINNE ‘N AANHALING WORD MET EEN AANHALINGSTEKEN GESKRYF:
  • Henk het vertel: “Toe ek daar kom, het my maatjie gesê: ‘Jy is weer laat.’”
  • Mnr. Swart het gesê: “Otto, jy het die woordjie ‘ingenieur’ verkeerd gespel.”

DIE UITROEPTEKEN

  1.  OM ‘N GEVOEL/EMOSIE STERK  UIT TE DRUK, OF VERBASING OF VERONTWAARDIGING:
  • “Pasop!” skree Chanell.
  • Dit is ‘n skreiende skande!
  • As ek tog net geweet het!
  1.  BY ‘N BEVELSIN:
  • Bly stil!
  • Gaan nou!

DIE VRAAGTEKEN

AAN DIE EINDE VAN ‘N VRAAG KOM ‘N VRAAGTEKEN:

  • Hoeveel geld skuld ek jou?
  • Het ek nie al met jou oor jou gedrag gepraat nie?
  • Waar het julle verlede Desember vakansie gehou?

DIE AANDAGSTREEP

  1.  VOOR DIE VOEGWOORDE SELFS, VERAL, AL:
  • Ek sal my vriende enige tyd help – selfs al bel hulle my na middernag.
  • Jy moet in elk geval gaan – al vra hulle jou glad nie.
  • Maak tog seker dat jy fiks is – veral vir die 400m.
  1.  OM DIE EERSTE DEEL VAN ‘N SIN IN DIE TWEEDE DEEL TE BEKLEMTOON:
  • Daar was wanorde in die saal – totale chaos!
  • Hy het uiteindelik hier opgedaag – moeg en afgemat!
  • Die eerstespan het hulle wedstryd gewen – voorwaar ‘n puik prestasie.
  • Oom Bertie het gekry waarna hy gesoek het – ‘n pragtige vrou!

ELLIPS

  1.  BY ‘N ONVOLTOOIDE AANHALING:
  • “Die lewe is . . . “
  • “Die werkers wil heeldag . . .”
  • Ek het gewonder . . .
  1.  OM ‘N POUSE AAN TE DUI:
  • Hy loop suutjies nader . . . wat sien hy?
  • Ek het onder die boom gaan sit . . . alleen.
  1.  OM TYDSDUUR TE SUGGEREER:
  • Hy loop en loop en loop . . .
  • Hy hou aan en aan . . .

ASTERISK (*)

‘n Asterisk/sterretjie in ‘n teks verwys na ‘n aantekening of verwysing onderaan die bladsy (wat ook met ‘n asterisk aangetoon word); so ‘n aantekening kan iets in die teks verder omskryf of verduidelik.

 

Dankie aan Meneer Marcelle Stander.
Groete,
Martelize Faber