BEMARK JOUSELF PRO-AKTIEF

deur Janie Oosthuysen

BEMARK JOUSELF PRO-AKTIEF

Daar is niks wat jou verhoed om met ’n voorstel vir ’n nuwe boek,  bundel of reeks na ’n uitgewer te gaan nie. Knoop ’n geselsie aan by ’n boekbekendstelling en volg dit op met ’n oproep of ’n e-pos, hoe anders moet hulle van jou weet? Gebruik elke moontlike geleentheid om uitgewers te leer ken en uit te vind wat hul voor- en afkeure is.

 

Met die Bessie Hemelbesem-reeks het ek die konsep ontwikkel en tesame met die eerste twee stories aan Lapa  voorgelê. Hulle het ’n geskikte kunstenaar gevind en

die gevolg was die eerste drie Hemelbesem-boeke.

 

Moenie vergeet om tydskrifte en koerante te nader met ’n voorstel nie. Martie Preller se suksesvolle Die Balkieboek het as ’n reeks kort tydskrifstories begin.

Die verhaaltjies is uiteindelik deur NB in boekvorm saamgevat.

 

 

Vonkfiksie deur NB Uitgewers (1999) is ’n bloemlesing[1] bestaande uit weninskrywings vir Human & Rousseau en De Kat se kort kortverhaalwedstryd.

 

 

Hierdie suksesverhale, en talle ander, sou nie “gebeur” het as die skrywers met gevoude handjies gesit en wag het nie. Ook jý moet publikasiegeleenthede sóék en jouself aktief bemark indien jy suksesvol wil wees. Woon slypskole, boekfeeste en boekbekend-stellings by, neem deel aan kompetisies, bevriend skrywers, digters, uitgewers en illustreerders, en hou jou kontakte warm, jy weet nooit waarheen dit kan lei nie.

 

 

PUBLIKASIEKANSE

Natuurlik sal dit wonderlik wees as jou eerste manuskrip deur ’n gevestigde uitgewery opgeraap word en ’n blitsverkoper word wat miljoene verdien. Nie dat jy hierop moet staatmaak nie. Wees eerder realisties en geniet die skrywery, sukses sal wel kom as dit moet gebeur.

 

Nie dat jy moet sit en niks doen nie! Die publikasiegeleenthede wat hieronder volg, is prettig en soms selfs lonend. Neem gerus daaraan deel.

 

Klik hier vir Rapport Vonkfiksie

Net 100 woorde.

 

Kontak Taalgenoot by: taalgenoot@atkv.org.za

 

Klik hier vir Tydskrif vir Letterkunde

 

Stuur jou gedigte na: die.reizigers@gmail.com

 

Stuur jou kortverhaal, ’n foto en ’n kort bio na: netfiksie@litnet.co.za en besoek litnet (http://www.litnet.co.za/) gereeld.

 

Koop en bestudeer tydskrifte soos Lig, Lééf, Vrouekeur, Huisgenoot e.a. Kyk watter soorte kortverhale en artikels elk publiseer. Maak ’n kort voorlegging aan die redaksie.

 

 

KOMPETISIES

Kyk uit vir kompetisies soos:

  1. Die ATKV se prosa- en gedigte-kompetisies
  2. Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse kompetisie. Vra die inskrywingsvorm aan by: bloemsv@yahoo.com en/of sluit by die vereniging aan.
  3. Besoek www.skryfgeheime.com vir nuus oor nuwe kompetisies

 

 

Vir volledige inligting oor en volle kontakbesonderhede van alle Suid-Afrikaanse uitgewers besoek PASA (Publishers’ Association of South Africa) by:

Webwerf: http://www.publishsa.co.za/members-and-freelancers/members/publishers/list/15/      

Stuur ’n e-pos of ’n brief met jou storie-idee of konsep aan daardie uitgewery wat jou oog vang.

 

’N PAAR BEKENDE UITGEWERS

Teen dié tyd behoort hierdie plaaslike uitgewers vir jou bekende name te wees.

 

Lapa Uitgewers

Klik hier vir manuskripvoorleggings: http://www.lapa.co.za/manuscripts

 

Malan Media

’n Opwindende nuwe uitgewery wat nou gevestig raak en ook kompetisies aanbied. Klik vir meer info: Malan Media – manuskripte

 

NB Uitgewers

Klik hier vir besonderhede oor manuskripvoorleggings:

Kinder- en jeugboeke

Satyn- en Hartklop-liefdesverhale

 

Drukname:

Kwela – voorleggings

Tafelberg – voorleggings

Human & Rousseau – voorleggings

Lux Verbi: http://luxverbi.co.za/Content/GeneralContent/manuscript-submissions

 

 

Protea Boekhuis

Proteaboekhuis – winkel

 

 

Besoek ook hierdie webwerwe:

http://www.theshortstory.org.uk/prizes/

http://www.fanstory.com/tour2fs.jsp?pu=0

http://www.howto.co.uk/writing/how-to-write-short-stories-for-magazines/

 

WAARSKUWING:  Loop lig vir uitgewers soos Raider, Dorrance Publishers, AuthorHouse, e.a. wat verwag dat jý moet betaal vir die “voorreg” om jou boek by hulle te publiseer.[2]

 

Kan jy nie ’n uitgewer of tydskrif se riglyne vir die voorlegging van manuskripte op die web kry nie? Bel hulle of stuur ’n hoflike e-pos en vra dit aan. Indien die uitgewery nie op jou oproep of e-pos reageer nie, moet jy die papierroete volg en jou manuskrip per landpos instuur vir oorweging. Dis ongelukkig so dat die meeste uitgewers oorval word deur manuskripte en gevolglik uitsoekerig is, én soms onhoflik voorkom.

 

♦♦     MY VOORLEGGING IS IN, WAT NOU?

In die geval van ’n bundel kortverhale, novelle of roman kan jy jou voorberei op ’n wagtydperk van tussen drie en ses maande, soms selfs ’n jaar of meer. Kortverhale wat aan tydskrifte voorgelê word, het ’n aansienlik korter wagperiode, en aanvaarding al dan nie verloop gewoonlik informeel per telefoon en/of e-pos. Skrywers

ontvang gewoonlik ’n enkelbedrag met die veronderstelling dat die verhaal daarna ten volle aan die tydskrif/koper behoort, m.a.w. kopiereg berus by die koper. Indien jy as skrywer nie hiermee tevrede is nie, moet jy dit met die betrokke tydskrif uitklaar vóórdat jy die enkelbedrag aanvaar.

 

Betreffende boeke is sake meer kompleks.

Neem in ag dat die meeste uitgewers:

  • toegegooi word onder manuskripte waarvan die meerderheid swak geskryf is
  • nie net op soek is na iets nuuts en kreatiefs nie, maar veral na daardie spesiale manuskrip met die nodige kommersiële potensiaal wat vir almal sal geld maak
  • mense is met persoonlike voorkeure en afkeure (ook wat stories en skrywers aanbetref) wat hul werk wil geniet en nie met moeilike voornemende skrywers wil sukkel nie
  • nie alléén die besluit neem nie, maar dat ’n hele reeks mense by keuring betrokke is, naamlik, keurders, redakteurs, uitgewers, boekwinkelaankopers, rekenmeesters, bemarkers, bibliotekaresses én potensiële lesers. As enige van hierdie ketting mense géén moontlikhede in jou storie sien nie, is die kanse skraal dat die uitgewer dit vir publikasie sal aanvaar.

 

Wees dus pragmaties en geduldig.

 

MAAR … as jy ná drie maande nog niks gehoor het nie, sal niemand jou verkwalik indien jy die telefoon sou optel en vriendelik sou vra of iemand al ’n besluit geneem het. Hanteer ’n negatiewe respons met grasie, al is dit moeilik. Onthou dat jy hierdie spesifieke uitgewer in die toekoms dalk weer sal wil nader.

 

 

Indien ’n uitgewer wel in jou kortverhaal/bundel/novelle/roman geïnteresseerd is, sal die volgende na alle waarskynlikheid gebeur:

  • Jy sal ’n telefoonoproep of e-pos ontvang wat jou sal inlig dat jou storie moontlikhede het en dat die uitgewer daaraan aandag gee.
  • Jy sal ’n keurdersverslag ontvang óf die redakteur of uitgewer sal jou per telefoon, e-pos of persoonlik inlig wat met die storie skort.
  • Daar sal van jou verwag word om veranderings te maak tot die manuskrip na die uitgewer, redakteur of keurder se sin is, óf tot iemand moed opgee, dalk selfs jy.
  • Wanneer die uitgewer voel dat die storie op ’n redelike standaard is, sal sy dit self verder redigeer/laat redigeer en/of aan haar span (bestaande uit ander uitgewers, keurders, bemarkers, lesers, boekwinkelaankopers, bibliotekaresses, ens.) voorlê vir verdere keuring.

 

In hierdie stadium kan jy die uitgewer vra om ’n skoon kontrak per e-pos aan jou te stuur sodat jy kan sien wat hul vereistes is. Moenie verwag dat ’n uitgewer in hierdie vroeë stadium ’n formele aanbod om te publiseer aan jou sal maak nie.

 

 

WAT IS MY REGTE?

Wanneer jy ’n uitgewerskontrak teken, gee jy aan die uitgewery verlof om sekere regte ten opsigte van jou werk te ontgin. Die uitgewery betaal jou vir die gebruik van hierdie regte terwyl die boek in druk is. Jou betaling kan die vorm aanneem van ’n eenmalige bedrag en/of outeursgelde.[3]

 

Hoewel alle kontrakte in beginsel onderhandelbaar is, besef die meeste skrywers gou dat die gewig by die uitgewery lê en dat die meeste nie sommer aan hul kontrak sal verander nie. Terwyl party skrywers regshulp inwin en soms selfs lang gevegte aanknoop, is ander huiwerig om ’n potensieel lonende skrywer-uitgewer-verhouding voortydig te versuur. Dikwels onderteken skrywers die kontrak daar en dan sonder om dit eens te lees. Maar om net alles klakkeloos te aanvaar is ook nie die regte benadering nie, aangesien jy lank met die kontrak sal moet saamleef.

 

 

Enkele belangrike aspekte:

  • Hoewel sommige uitgewers te kenne sal gee dat alle skrywers ’n standaardkontrak onderteken, is elke klousule in die teorie onder-handelbaar. In die praktyk is (veral nuwe) skrywers gelukkig as enkele klein veranderings aanvaar word.
  • Selfs in die hoofstroom is die kanse skraal dat neweregte (soos TV-, radio-, vertaal-, elektronies, ens.) ontgin sal word. Tog het die uitgewer gewoonlik ’n groter kans as die skrywer om byvoorbeeld ’n ko-produksie met ’n oorsese uitgewer te beding.

 

 

Let veral op klousules t.o.v. hierdie aspekte:

–          Kompeterende werke/Mededingende publikasies.  Hier stem die skrywer in om geen ander werk te produseer wat in kompetisie met die onderhawige titel sal wees nie. Probeer om dit te vermy. Ek het baie stories al oor en oor verkoop aan verskillende uitgewers met verskillende behoeftes en markte. Telkens het ek die storie in ’n ander formaat (lengte, moeilikheidsgraad, taal) aangebied.

–          Volgende boek/e. Moenie uit pure dankbaarheid dat die uitgewery bereid is om jou boek uit te gee onderneem om jou volgende twee of drie werke ook aan hulle voor te lê nie, daardie uitgewery is nie noodwendig die beste plek vir jou volgende manuskrip nie. Behou jou vryheid.

–          Kopiereg. Dit is ’n ingewikkelde saak, aangesien uitgewers in die meeste gevalle in die praktyk in elk geval alle regte rakende jou boek gaan beheer, sodat jou kopiereg feitlik net in naam bestaan. Dikwels sal hulle kopiereg in DIE VOLTOOIDE WERK (m.a.w. die finale boek as geheel) aan hulself toeken. Maar probeer nogtans om die kopiereg ten opsigte van jóú gedeelte van die werk te behou.

–          Basket of cross-accounting. Waak teen kontrakte waar kostes op ’n spesifieke titel teen die inkomste op ’n ander titel gedebiteer word. Byvoorbeeld: Dit kan gebeur dat die uitgewery die vertaler van jou boek nié uit die inkomste op die vertaling wil vergoed nie, maar wel uit die outeursgeld op die oorspronklike (Afrikaanse) weergawe. In daardie geval sal jy beslis aan die verloorkant wees.

–          Sommige uitgewers gebruik netto ontvangstes[4] as basis wanneer hulle outeursgeld bereken. Wees maar pragmaties in hierdie verband.

–          Hersienings. Dring aan op die reg om toekomstige hersienings van jou werk self te doen.

–          Boek uit druk. Met moderne tegnologie is dit teoreties moontlik dat ’n boek nóóit uit druk sal gaan nie. Probeer om ’n klousule in te voeg waarvolgens die boek uit druk sal wees nadat ’n bepaalde getal verkoop is, anders sit die uitgewery dalk jare op die regte sonder dat hulle die boek verder bemark.

–          Dis nie in ’n skrywer se belang om hierdie soort klousule te aanvaar nie:

Vertroulikheid. Die outeur onderneem om, ondanks die beëindiging van hierdie ooreenkoms, geen inligting of kennis rakende die sakebedrywighede of die eiendom van die Uitgewer te openbaar of dit regstreeks of onregstreeks wetend of onwetend te gebruik nie, tensy die kennis of inligting openbare kennis is.

 

Dis ’n omvattende klousule wat groot beperkings op die skrywer lê, maar nié op die uitgewer nie. In effek beteken dit dat die skrywer NIKS oor die uitgewer mag sê nie, selfs al sou die uitgewer amper ENIGIETS oor die skrywer kwytraak. Ingeval van ’n dispuut kan dinge lelik skeefloop vir daardie skrywer wat hierdie klousule klakkeloos aanvaar het.

 

 

Hanteer veranderings aan die kontrak soos volg:

Moenie veranderings op die kontrak self maak nie. Vat jou voorstelle en vrae in ’n hoflike brief saam en adresseer dit aan jou redakteur/uitgewer. Sy sal dit op haar beurt aan die kontrakte-afdeling stuur. Wees pragmaties. Neem in ag dat nie alle veran-derings toegestaan sal word nie, maar dat jy sekere toegewings sal moet maak, aan die begin waarskynlik heelwat, indien nie alles nie. Besluit wat werklik belangrik is en bespreek die saak op ’n hoflike manier sonder om onnodig moeilik te wees of jou humeur te verloor. Onttrek jou manuskrip vroegtydig per brief indien jy voel dat jy nie met die finale kontrak sal kan saamleef nie. Stuur jou manuskrip eerder aan ’n ander uitgewery.

 

Maar wees realisties. Gewoonlik verloop sake verbasend glad, ten spyte van die eensydige kontrakte waarop sommige uitgewerye aandring.

 

 

HOU JOU BOEK WARM

  • Vestig jouself in die mark wat jy betree het deur jou eerste boek op te volg met ’n tweede en ’n derde, aanvanklik minstens een elke twee jaar en verkieslik in dieselfde genre. Die rede is dat jy ’n groep getroue lesers wil opbou wat reikhalsend na jou nuwe boek sal uitsien.
  • Bemark self. Hoewel die uitgewery ’n groot belegging in jou boek gemaak het, gee die meeste elke jaar honderde titels uit. Dis onrealisties om te verwag dat hulle net so sterk oor jou boek sal voel soos jy. Dis in jou eie belang om jou vinger op die pols te hou en opvolgwerk te doen. Maak seker dat jou boek in elke moontlike katalogus en op elke moontlike leeslys verskyn. Vra die uitgewery se bemarkingsplan aan en kyk krities daarna. Gaan sien die bemarkingspan met voorstelle ten opsigte van bekendstellings, opvoerings of leesmarathons. Wees beskikbaar en woon hierdie sessies by. Vind ander markte, soos daardie boekhandelaars wat nie jou boek op hulle rakke het nie. Gesels met hulle. Moenie skroom om jou boek self bekend te stel by boekklubs en boekwinkels nie. Jou betrokkenheid sal help voorkom dat daardie boek waaraan jy so hard gewerk het ’n voortydige dood sterf.

 

 

OUTEURSGELD

Outeursgeld wissel tussen twee uiterstes. Aan die een kant 12% op die kleinhandelsprys minus BTW, bv. Lapa en Protea Boekhuis. M.a.w. as die boek R114 kos, kry jy 12% van R100, of R12 per boek. Die ander uiterste is ’n heelwat minder goeie 10% op netto ontvangstes wat jy ook soms met medeskrywers, vertalers en illustreerders moet deel. Dis in jou eie belang om uit te vind wat ’n uitgewer se outeursgeldstruktuur en bemarkingsplan is voordat jy vir hulle begin skryf.

 

 

 

 

DIE PAD VORENTOE …

Noudat jy jou manuskrip weggestuur het, wonder jy waarskynlik wat jou te doen staan. Jy het dalk selfs al besef dat jy nog maar aan die begin van jou vakleerlingskap as skrywer staan, dat skryf nie ’n maklike ambag is nie en dat daar nog talle komplekse vaardighede is wat jy moet bemeester en slyp.

 

Dis nóú dat selfdissipline ter sprake kom, want dis nóú dat jy wéér deur die kursusmateriaal moet werk. Smee die yster terwyl dit warm is. Baie dinge wat voorheen nie vir jou sin gemaak het nie, sal nou vir jou duidelik word. Gaan dan oor tot aksie, vind ’n nuwe storie-idee en bou dit uit volgens die beginsels wat jy gedurende kursus aangeleer het.

 

Jy het waarskynlik ook ander voorbehoude. Heel moontlik wonder jy of jou eerste manuskrip wel iewers ’n tuiste gaan kry. Indien nie, wéét dat jy nie alleen is nie. My eerste manuskrip is nooit gepubli-seer nie. Ek het dit elf keer na dieselfde uitgewer gestuur en elf keer teruggekry met die versoek om wéér daaraan te werk. Elke keer het ek my bes gedoen, maar dit op die ou end in die snippermandjie gegooi. Dit was egter ’n goeie leerskool, want my tweede storie is onmiddellik deur NB Uitgewers opgeraap.

 

Glo my, met ’n eerste probeerslag is bostaande die reël eerder as die uitsondering. Selfs die formidabele JK Rowling het erken dat sy ’n laai vol stories het waarop sy haar tande gesny het, maar wat nooit ’n huis sal kry nie. Aan die Harry Potter-reeks het sy vyf jaar lank beplan voordat sy begin skryf het. Ten spyte daarvan is die eerste Harry Potter-boek deur nege uitgewers afgekeur voordat dit uiteindelik vir publikasie aanvaar is.

 

 

Ingeval jy nou op Moedverloor se Vlakte sit,

lees hier wat John F. Kennedy op die vooraand van die

Apollo-ruimteprogram gesê het:

 

“We aim to go to the moon … We aim to achieve

this goal … Not because it is easy,

BUT BECAUSE IT IS HARD.”

 

Wie is jý dus om moed op te gee?

 

 

 

OM OP TE SOM:   Moenie die storie waaraan jy so hard gewerk het gedurende die laaste snikke laat struikel nie; lees dit nog ’n slag met ’n vergrootglas van voor tot agter deur. Plaas dan jou vertroue in jou manuskrip en stuur dit aan die uitgewery van jou keuse.

[1] Rubrieke, reisverhale, tydskrifstories, gedigte, ens. word ook by tye as bundels of bloemlesings saamgevat en uitgegee.

[2] Uitgewerye wat hul sout werd is, dra SELF die koste van die publikasieproses en betaal aan hul skrywers outeursgeld na gelang van verkope. Indien jy ooit ’n manuskrip of memoir self wil uitgee, kontak my gerus sodat ek die kontakdetail van betroubare vryskutte aan jou kan stuur.

[3] Hoewel so te sê elke oorsese uitgewery ’n voorskot sal betaal, is daar min plaaslike firmas wat dit uit vrye wil sal doen. Gevestigde skrywers kan ’n voorskot aanvra – en dit dalk kry. Oor die algemeen is dit ’n goeie idee om te probeer, aangesien jy tot drie jaar op jou outeursgeld kan wag. Moenie dat jou trots in jou pad staan nie – hoekom sal jy toelaat dat ’n uitgewery op geld sit wat jóú toekom?

[4] Netto ontvangstes is die kleinhandelsprys minus BTW sowel as ALLE kortings toegestaan aan boekwinkels en/of skole. Volgens hierdie metode kan die outeursgeld op bv. R40 bereken word, terwyl die boek dalk R100 kos.

2 thoughts on “BEMARK JOUSELF PRO-AKTIEF

Lewer kommentaar