Egafrikaans

Ons stories is op egafrikaans! ( Ja, ‘n mens skryf dit so.)
Sluit aan by hulle, dan kan jy elke week die nuusbrief ontvang.

Hallo Vriende,

Moenie hierdie geselsbrief lees, sonder om die Oordenking aan die einde te lees nie, dit gaan oor die huwelik.

HULP MET STAALTJIES:

Soos lesers van hierdie geselsbrief sekerlik al gesien het is ek gedurig besig om na staaltjies te soek wat ek kan gebruik en in verlede week kontak Elsabe de Beer my en bied aan dat ons van hulle skrywers se kostelikhede kan gebruik. Jy kan meer oor hulle gaan lees by – SA Stories op facebook. Na Corinus se gesegdes, plaas ek van die bydraes wat ek van Elsabe ontvang het.

((o)) 000ooo000 ((o))

Vandag is Corinus weer eerste aan die woord en met hierdie bydrae van Corinus, sal jy mooi moet lees van ou idiome. Geniet dit! Dis kostelik en miskien, net miskien moet jy dit meer as eenkeer lees om dit te waardeer.

GESEGDES VAN DIE VOLK – Corinus

Praat mens deesdae van die “volk”, verdink almal jou dadelik van rassisme of dat jy so ver regs in die politiek staan dat jy Orania as ‘n oorgeblewe kommunistiese vakansie-oord beskou. Hierdie keer handel “volk” egter oor daardie kultuurskatkis wat vinnig besig is om uitgedien te raak en gevaar staan om dood te loop, naamlik idiome en segswyses. So onlangs as sestig jaar gelede was al die gesegdes hieronder deel van die Afrikaanse omgangstaal. Soms was dit as streekstaal in minstens twee van die ou provinsies gereken, maar elke matrikulant sou meeste daarvan geken het.

Op skool, nou seker al 50 jaar gelede, is die goed in my ingevoeter. Deesdae mag onderwysers nie meer die lat inlê nie, alhoewel ek opmerk dat veral die onderwysers in die Weskaap maar goed besig bly om maer bokke te dip – blykbaar die meeste van al die provinsies. Ek kan my indink dat kinders na so ‘n pak slae al vrywend oor hul boude vir mekaar sal vra: “Het die by kwaai gesteek?” of “Vandag het die onnie ons dadels gegee” of selfs (afhangende hoe hard daar geslaan is) “Ons het vandag op ons diederiks gekry” of “Meneer het frikkadel van ons gemaak.”

Van ons politici (van wie meeste skynbaar dink hulle leef in die land van Kokanje) en staatsamptenare (wat dit my mos lyk meeste van Koerland se vleis geëet het) se bankrekenings groei sterk van al die duimkruid en handesmeer wat hulle kry, aangehelp deur geleentheid wat geneentheid gee. Word iemand wel uitgevang, is dit gesang velskoen, vers vadoek, sing. So nou en dan word iemand darem wel skuldig bevind en moet hy hoenderspoor dra. Net jammer ons grondwet verbied deesdae die straf waar ‘n regter ‘n moordenaar of verkragter se keel kan laat weet hoe swaar sy agterent weeg.

Lyk my hulle hou deesdae heeltyd konsistorie in die parlement, want dis mos lekker om van anderman se leer breë rieme te sny. Het jy nodig om by ‘n staatsdepartement iets te moet gaan doen, lyk dit of meeste daar Maandag hou. Luister ek so na ons ministers, klink dit my mos alteveel of van hulle met die nagskuit gekom het. In die dae van olim was daar ook maar oliekoeke in die parlement, maar deesdae lyk die kafbale in die meerderheid, veral as ek luister hoe hulle ‘n staatspresident probeer beskerm wat nie die abc ken rondom Nkandla nie. Lyk my hoeka die Speaker het oë soos ‘n tjokkerbekaasvoël nodig om ‘n oog in die seil te hou wanneer veral die EFF padlangs praat en die praathuis op stelte sit. Kyk mens deesdae na ons einste genoemde agbare president, lyk dit publiek of hy die vyselstampers en die kriewelkrappers het sodra iemand “Nkôndla” sê.

As Prins Charles nie met die linkerhand getrou het nie, was hy heel moontlik nou nog met sy eerste vrou getroud en was haar naam beslis nie Diana nie.

Na die matriekeindeksamen is al die ouers bang dat hulle kinders op Margate se strand te veel vir Saartjie gaan soen sodat hul tee te sterk gaan wees of hulle hoog veertien op die strand rondlê en heeltyd net Engels praat. Dit, terwyl almal ook gaan ystervark slaan, en ons weet van drukkies en soentjies kom kousies en skoentjies.

En les bes, vra maar vir enige getroude man, al is skoonmoeder hoe gesuiker, sy bly maar suur. Almal wat Lotto speel, gooi ‘n spiering uit om ‘n kabeljou te vang.

(Verwysings: Afrikaanse Spreekwoorde Gesegdes, ens. Sewende druk, 1936; Afrikaanse Spreekwoorde Gesegdes en ander Uitdrukkings, Derde druk, 1954 (net ingeval ‘n politikus sou dink ek skel hom))

((o)) 000ooo000 ((o))

WHATSAPP: Wil jy twee keer per week ‘n klankgreep (Audio clip) op jou slimfoon ontvang, doen die volgende:

Maak die volgende nommer een van jou kontakte op jou foon – +27626708246 (Maak 100% seker dat die nommer korrek is.)

Nadat jy dit ‘n kontak gemaak het, stuur ‘n Whatsapp aan daardie nommer met die woord – KLANK en jou noemnaam.

En dan wag jy geduldig. Binne ‘n dag of wat gaan jy van my hoor.

Ek wil dit baie duidelik stel, dat hierdie NIE ‘n groep in Whatsapp is nie. Met ‘n groep kan almal wat deel is van die groep vir mekaar Whatsapp boodskappe stuur. Dit is soms baie ongemaklik. Ek gebruik ‘n ander opsie in Whatsapp en met daardie opsie kan jy NIE vir almal boodskappe stuur nie. Sou jy wel op ‘n Whatsapp boodskap reageer, gaan net ek dit ontvang en nie almal nie.

NB. Die week se eerste klankgreep gaan oor Morsekode.

((o)) 000ooo000 ((o))

DIE NAGWA:

Op my stofdorpie het die aandklok gesorg dat die dorp agtuur toemaak en afsit. Dt het egter die tyd nader gebring waar die kinders se kattekwaad kan begin.

Twee mense was op die dorp nie die kinders se vriende nie. Die eerste was die polisieman – wie ook al op diens was – want hy het gedurig gedreig om die kinders in die tronk te gooi. Sodra die polisieman op diens iemand sien drentel in die straat of met sy fiets rondry, het hy met sy Landrover vangwa tot langs jou gery en gesê, “Julle laaities moet rigting kry of ek sluit julle op!”

Die tweede persoon op die dorp van wie die kinders nie gehou het nie, was die tegnikus. Niemand het geweet wat sy naam is nie, hy was net die tegnikus. Hy het na die Poskantoor se drade en die sentrale gekyk. Hy het ook so ‘n geel Ford Capri gery wat vreeslik gebrul het. As hy kinders op die straat sien, dan jaag hy op hulle af asof hy jou wil omry. Wat sou gebeur as jy nie uit die pad gespring het nie, die weet ek nie. Ons was nie dapper genoeg om uit te vind nie.

Met die dorp wat afgesit het, het die kinders deur die vensters uitgeglip. Ons het besluit om die polisieman ‘n les te leer. Gewapen met ‘n rol toiletpapier, het ons afgestap hoofstraat toe. Ons weet die verveelde posisieman ry so elfuur in die nag in die hoofstraat af. Dit het nie lank gevat om een enkel laag toiletpapier oor die pad te span nie. Die polisieman het dan afgery en gestop. Die papier afgeruk en dit agter in sy vangwa gegooi. Dit het ‘n daaglikse speletjie begin word. Elke aand span ons die papier, en elke aand haal hy dit af. Dit het aangehou vir tien dae. Hy het nogal baie te sê gehad oor wat hy met ons sou doen as hy ons vang.

Die tafel was gedek vir ons wraak. Ons het weer die papier gespan, maar hierdie keer was daar ‘n kind in die pad – so 100 meter van die papier, af. Net ver genoeg dat hy die figuur kan sien, maar nie sal kan uitmaak wie dit is nie. Toe sy ligte in die pad val, toe begin die outjie hardloop. Dit is hier waar die polisieman seker gedink het sy grootste droom word waar en hy versnel, ignorer die toiletpapier.

Dit was ‘n veskriklike geluid toe die vangwas die toitelpapier tref. Wat die konstabel nie geweet het nie, is dat ons hom “mak” gemaak het met die toiletpapier. Agter die toiletpapier was nr 10 staaldraad gespan. Die draad het die vangwas op die ligte getref en opgeskuif. Hier het dit oor die enjinkap gegly en die buitespieëls en ruitveëers afgeruk. Toe tref dit die lang polisieantenna en ruk dit ook af. Die konstabel het die vangwa dwars in die straat gedraai en al skuiwende tot stilstand gekom. Hy het net gesit en voor hom uitgestaar.

DIe dorp se ligte het begin aangaan. Die hele dorp het die slag gehoor. Terwyl die grootmense stadig in hulle japonne gaan kyk wat aangaan, het ons kinders huis toe gesluip en in ons beddens gaan klim. Stroopsoet en onskuldig..

(Met erkenning aan Hansie Lategan)

((o)) 000ooo000 ((o))

Indien jy meer wil weet van ons toer na blommeland in Namakwaland gedurende Augustus, stuur ‘n e-pos aan Danie by D@nie.co.za met die onderwerp – BLOMME-INLIGTING en ek sal die res doen.

((o)) 000ooo000 ((o))

DIE HONDEMAN:

Oom Sybrand sit op die stoep en suig aan sy pyp. Daar is van sy skaap gesteel gisteraand en soos hy vir Klaas ken was die weer wydsbeen gesuip en het nie die honde hoor blaf nie. Klaas staan hoed in die hand en sê “my kroon, ek het net twee biertjies gedrink en die honde het nie geblaf nie my kroon.

Oom Sybrand beduie hom om liewer te loop voor hy sy nek omdraai. Hy wil nog Kooperasie toe vanmiddag. Op die Kooperasie se stoep loop hy vir Piet Mooifontein raak. Maskas, maar ons het mekaar lanklaas gesien. Kom ons gaan eers vir koffie en Martie se melktert. Ja Piet, daar is gisteraand drie van my skape gesteel. As ek hulle net kan vastrek. Ek het vir Bez Bezuidenhout ingekry om te help sê oom Piet. Hulle noem hom hondeman. Bel Graaf Reinette se polisie en vra vir speurder sersant Bez Bezuidenhout.

Oom Sybrand het dan ook skaars die volgende dag sy probleem aan speur sersant Bez Bezuidenhout verduidelik of hy kom stop met sy blou Valiant op die erf. Hy klim uit en loop na oom Sybrand toe. Steek sy hand uit en vra baie kortaf “hoeveel werkers het u”. Die werkers staan ook al almal daar rond. Bez bezuidenhout laat hulle almal in ‘n ry staan en vat een met ‘n rooi hemp onder die arms en skud hom mooi in gelid sodat almal in ‘n reguit ry staan.

Riempie snuif aan elkeen en sit later sy poot op rooihemp. Vloeksteen!!! hier is jou skaapdief meneer Coetzee. Riempies maak nooit ‘n fout nie. Met die terugry laai hy dan ook die “beskuldigde” af met ‘n waarskuwing dat hy hom sal toesluit as hy hom ooit weer in die geweste sien. Bez Bezuidenhout glimlag. Met ‘n dankbare oom Sybrand, ‘n skapie in die kattebak so kort voor Kersfees.

(Met erkenning aan Riana Barnard Mathee)

((o)) 000ooo000 ((o))

LEEUWêRELD:

Die ou moet te voet deur ‘n gebied gaan waar daar baie leeus is en hy het nie ‘n vuurwapen by hom nie. Hy doen toe navraag by die mense wat daar woon wat hy kan doen sodat hy nie leeukos word nie. Een ou gee hom toe klokkies en blinkers om aan sy klere vas te sit, want leeus hou volgens hom nie van klokkies en blinkgoed nie. Hy maak toe so, maar voor hy die staptog aandurf wil hy darem seker wees hy sal veilig wees. Hy vra toe weer iemand en die verwys hom na die leeukenner van die gebied. Hy ontmoet hom en die kenner bied aan om hom in die veld meer van leeus te leer. So ‘n ent verder kom hulle op leeumis af en die kenner dui aan dat dit ‘n klein leeu s’n is. Die ou is baie beïndruk daarmee en hulle stap verder die veld in. Die kenner gaan staan weer stil by leeumis en dui aan dat dit die keer ‘n groot leeu s’n is. Hy vra die kenner hoe hy dit weet en kry die antwoord: dit is vol klokkies en blinkers.

Natuurlik het die ou net daar besluit om nie voort te gaan met sy staptog alleen deur die leeugebied nie. Dit het my herinner aan ‘n keer in die wildtuin toe ons laat namiddag, kort voor die kamphekke sluit ‘n laaste draai gaan ry het. Ons kry toe ‘n trop leeus wat sommer naby die pad lê. Na ons so ‘n tyd hulle doen en late bekyk het ry ons weer ‘n entjie aan en kry toe ‘n veldwerker te fiets wat in die rigting van die leeus ry. Ons stop toe langs hom waarna hy toe saam met ons ry terwyl hy die fiets langsaan regop hou en ons stadig by die leeus verbyry.

Nou wonder ek steeds of leeus van fietsklokkies hou.

(Met erkenning aan Salomon van der Wath)

((o)) 000ooo000 ((o))

TROETELDIERE IS SOOS KINDERS IN DIE HUIS:

Daar is daagliks artikels op sosiale media en in die gedrukte media waar mense hulp vra met diere wat wegraak. Selfs in winkelsentrums en op lamppale sien ons soms advertensies oor verlore diere.

‘n Troeteldier wat verlore raak kan soos dood in die familie wees want dit is presies wat dit is, ‘n troeteldier waarvoor almal baie lief word en wat baie afleiding vir die huisgesin verskaf.

Baie diere word na ‘n veearts geneem waar ‘n tjip onder die vel geplaas word. ‘n Baie goeie idee totdat die praktiese sy ondersoek word. Eerstens moet die persoon wat die verlore troeteldier kry na ‘n veearts gaan sodat die tjip geskandeer kan word. Soms het ‘n troeteldier nie ‘n tjip in nie en is dit ‘n nuttelose oefening. Dit is ook nie altyd maklik om ‘n dier wat vreemd is in ‘n voertuig te laai nie.

CrisisOnCall is sedert 2002 in die identifikasiebesigheid en het dan ook ‘n leier op die gebied geword danksy volgehoue navorsing en fokus op identifikasie-metodes wat namens iemand kan praat wanneer hy/sy self nie kan nie. Ons het oor jare ‘n goeie reputasie opgebou onder lede en die gebruikers, paramedici.

Omdat troeteldiere vir CrisisOnCall ook belangrik is, het ‘n nuwe identifikasie-metode vir troeteldiere nou die lig gesien. CrisisOnCall het ‘n skyfie wat aan ‘n troeteldier se nekbandjie geplaas kan word waarop die CrisisOnCall logo, noodnommer en ‘n unieke plaatjienommer op voorkom.

Hoe werk die stelsel?

Wanneer iemand ‘n verlore troeteldier kry skakel hy die noodnommer, wat ook CrisisOnCall se standaard noodnommer is, en gee die plaatjienommer aan die agent. Die agent sal dan die betrokke persoon koppel met die eienaar en so kan hulle ‘n reëling tref om die troeteldier weer by sy eienaar uit te bring. So maklik soos dit!

Die skyfie kos eenmalig R60 per troeteldier en die eienaar moet ook ‘n lid wees van CrisisOnCall. Die inligting van die troeteldier word op die CrisisOnCall databasis geplaas en dit word gedoen as deel van die standaard pakket. Daar is dus geen addisionele maandelikse koste vir die lid nie.

Lidmaatskap kos R99 per gesin per maand wat die volgende insluit:

Krisislyn

Identifikasie

Dra van belangrike inligting (medies sowel as ander inligting)

Reismonitering (Reisende lede en hul gesinne word met gereelde intervalle geskakel totdat hulle hul eindbestemming bereik waarna ‘n teksboodskap na ‘n genomineerde naasbestaande gestuur kan word om te bevestig dat die reis veilig verloop het.

Gratis ambulansdiens in ‘n noodgeval (Pad- en lugvervoer)

Mediese-, gesondheids- en regsadvies

Reël van padbystand (Betaal van padbystand kan opsioneel bygevoeg word.)

Padkaart bystand

Reël van noodverblyf

Troeteldierbystand

Die administrasiekoste vir EgAfrikaanse lede is vir die volgende week slegs R 100. Identifikasie-bandjies is beskikbaar teen R 40 eenmalig.

Ons nooi jou uit om vir ons ‘n e-pos te stuur sodat ons al die voordele wat ons bied aan jou bekend kan stel om jou sodoende te help wanneer ‘n noodsituasie skielik ontstaan. Klik net hier vir die e-pos – CrisisOnCall

((o)) 000ooo000 ((o))

RESEP – Heerlike sop

2 x blikkies tamatiesop
1 x blikkie hoendersop
1 x blikkie sampioensop
1 x pakkie spek, gesnipper
1 x ui, fyngekap
Melk om te verdun, indien nodig

Braai bacon en ui in ‘n kastrol. Gooi al die blikkies sop by, meng goed, bring tot kookpunt. Stel hitte laer en laat prut vir so 30 minute.

Dit klink nie “great” nie, maar glo my, dis watertand lekker

(Hester het dit ingestuur.)

((o)) 000ooo000 ((o))

WYSHEID:

Moenie gepla word deur nietighede nie. Ons het beperkte tyd in die wêreld, so spandeer dit op die werk en mense wat die belangrikste is vir jou, aan die wat jy liefhet en goed wat saak maak. Mens kan ‘n halwe leeftyd vermors met mense van wie jy nie hou nie, of om goed te doen terwyl jy elders beter af kan wees.

((o)) 000ooo000 ((o))

WENK:

DOKTER DIT REG

Sorteer julle medisynekas volgens kinders, volwassenes, salwe, pille, strope, ensovoorts. Pak ook ‘n klein noodhulpkissie wat julle op naweek-wegbreke kan saamvat.

((o)) 000ooo000 ((o))

OORDENKING – Jou Huweliksmaat – 1 Petrus 3:1-7

Is daar ‘n mooier prentjie as twee stokou gryskoppe wat liefdevol hand aan hand stap en styf teen mekaar op die parkbankie gaan sit? ‘n Halfeeu se sout het hulle saam opgeëet; saam deur swaar tye gegaan; saam kinders groot gemaak; saam oud geword, en deur al die jare het hulle liefde vir mekaar net groter en hegter gegroei.

Om ‘n huwelik te laat werk is nie maklik nie, en so dikwels sien ons dat huwelike net eenvoudig nie uitwerk nie. Die man en vrou kan doodeenvoudig nie meer mekaar verdra nie, en weldra spat die vurige liefde van weleer aan duisend skerwe. As ‘n mens egter noukeurig jou huwelik grond op dít wat in die Woord daaroor vir ons geleer word, kan baie droefheid en pyn dikwels verhoed word.

In Petrus se tyd was dit bitter moeilik vir ‘n vrou in die huwelik. Sy het nie dieselfde status as ‘n man gehad nie en is dikwels soos ‘n vloerlap behandel. Om die waarheid te sê was die vrou se posisie in die samelewing maar haglik, want sy het géén sê gehad nie. Met die koms van die Christelike Kerk het vrouens egter hulle menswaardigheid teruggekry. In die kerk het hulle ware mense geword, gelyk met enige ander mens voor God. In die huwelik het hierdie nuwe status egter baie spanning veroorsaak, want skielik sien die man dat sy vrou nie meer die slaaf is wat sy was nie, veral as hy steeds ‘n ongelowige was. Dit het egter baie wyer uitgekring: die owerhede het gesien hier kom groot moeilikheid. Hierdie nuwe Godsdienstige beweging was besig om die huishoudings te ondermyn. Vroue het nou skielik baie meer seggenskap gehad as voorheen, en dit was ‘n reuse euwel! Dit alles het die Christenvroue in ‘n baie moeilike situasie geplaas, en daarom skryf Petrus hoe hulle dit alles moes hanteer om ‘n uiters plofbare situasie te ontlont.

Ons moenie hierdie gedeelte sien as ‘n algemene riglyn oor die huwelik vandag nie, maar dit gaan eerder oor die gelowige vrou se plig teenoor haar onredelike man in ‘n samelewing waar daar bitterlik teen die vrou gediskrimineer was. As ons egter gaan kyk na ons eie situasie vandag, en in die agtergrond van ons eie kultuur, dan geld die dinge wat Petrus vir die vrou sê gewoonlik óók vir die mans van vandag.

In vers 1 kry die vrou die opdrag om onderdanig te wees aan haar man. As ons egter Efesiërs 5:21 lees, sien ons dat dit ‘n wedersydse onderdanigheid moet wees. Hulle moet aan mekaar onderdanig wees. Dit is baie belangrik. Om onderdanig aan iemand te wees beteken nie dat daardie persoon jou baas word nie, maar eerder dat jy daardie persoon wil dien uit liefde vir God. Daar moet dus ‘n wedersydse diens aan mekaar wees. As slegs een persoon gelowig is, kan dit bitter moeilik raak, want dan word dit ‘n eensydige diens en eensydige onderdanigheid. As dit jou lot is, dink dan aan Jesus wat ook so ‘n eensydige offer gebring het toe Hy vir die sondes van die ongelowige wêreld betaal het aan die kruis. Sulke eensydige onderdanigheid kan jy nie uit jou eie krag regkry nie, maar alleen uit die geestelike krag wat die Heilige Gees vir jou gee.

Gedrag, sê Petrus, is baie belangriker as woorde. “Woorde wek maar dade trek.”, lui ‘n bekende spreekwoord. Jy sal nooit jou ongelowige man/vrou oortuig deur vir hom/haar te preek nie. Jou voorbeeldige gedrag is egter ‘n reuse preek, en daardeur mag jou huweliksmaat dalk tot bekering kom.

Petrus skryf in vers 3 ‘n ding wat talle vroue al nagmerries gegee het: “Julle skoonheid moet nie bestaan uit uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie.” As jy hierdie versie op sy eie lees, gaan baie vrouens hulleself eerder in ‘n donker kamer toesluit vir die res van hulle lewens. “Eerder dood as sonder grimering!” het ek menige vrou al hoor sê. As ons dit egter binne sy konteks lees, verander die prentjie: daar is niks verkeerd met juwele en grimering en al die ander vroulike fieterjasies nie, solank as wat jy die skoonheid uitstraal wat die Heilige Gees alleen in jou kan gee. Ons praat hier van dinge soos blywende beskeidenheid en ‘n kalmte van gees (vers 4). Innerlike skoonheid is soveel belangriker as die uiterlike, maar net soos grimering slegs ‘n masker is om jou mooi te laat lyk, so kan jy dalk ook ‘n mooi geestelike masker opsit. Innerlike skoonheid moet diep uit die hart kom sonder enige toneelspel of maskers!

As jy dalk gedink het dat hierdie gedeelte net vir vrouens geskryf is, moet jy weer vers 7 lees, waar hy spesifiek vir die mans sê dat hulle verstandig met hulle huweliksmaats moet saamleef. Hierdie is “heilige diplomasie,” waar die man wat nog gedink het dat hy die baas in die huis is terdeë moet besef dat huweliksmaats gelykes in die huwelik is.

Inderdaad wys jou verhouding met jou huweliksmaat hoe jou verhouding met God lyk. As dit vir jou ‘n probleem is om te bid, moet jy dalk na jou huwelik kyk, of die probleem nie dalk dáár lê nie! En as jou huwelik wankel, mag die éintlike probleem dalk in jou verhouding met God lê.

Gebed:
Here, help my om asseblief my huwelik kerngesond te hou.

(Met erkenning aan Louis Nel)

Lewer kommentaar