‘n Dag in die lewe van ‘n “wanna be ” skrywer

Deur Sonja Brown

Elmarie swets en klap die deksel van haar skootrekenaar toe. Sy trek aan haar menthol sigaret en blaas ‘n straal rook in die plafon se rigting. “Fôkit, deadlines is nie vir my nie. Wat het my besiel om die opdrag te aanvaar?”

Sy vou weer die rekenaar oop. Niks. Daar is net niks waaraan sy kan dink om oor te skryf nie. Humoristies, sê die opdrag. Laat jou leser vir dae daarna skater.

Pieter Cloete, begin sy tik, en druk dan die backspace knoppie tot daar niks letters oor is nie. Pieter Cloete, tik sy weer, verneuk sy vrou. Dan staan sy op voordat die naarheid haar oorweldig. Sy moet uit die huis uit kom. Haar kop skoon kry. Terug kom en skryf. Haar artikel moet môre in.

Die straat is stil. Sy stap stadig met die gekraakte sypaadjie langs, diep ingedagte. ‘n Toeter ruk haar terug na die hede. En dan volg daar ‘n lang wolwefluit voordat die donkerkop man haar stip in die oë kyk en dan sy een oog knip voordat hy om die draai verdwyn.

“Gmf!” brom Elmarie maar heimlik voel sy skielik weer goed. Lewendig. Sexy. Sy drafstap huis toe.

“Pieter Cloete se moer!” sê sy hardop en trek die skootrekenaar nader.

Maar sy vrou glo in ‘n oog vir ‘n oog, tik sy verder. Sy tof haarself op so goed as wat sy kan met klein-dorpie-klere en grimering, en stap met haar nuwe maar stokou kurkhakke na die dorp se drinkplek. Dis net twee blokke van haar huis af, maar sy koop drie stukke sement, -betaal met knie-velle-, voordat sy kop omhoog by ‘n tafeltjie in die hoek gaan sit.

Die kelner bring haar dubbel whiskey op ys en sy ruik eers daaraan voordat sy ‘n proe waag. Haar oë traan toe die brand haar keel rasper maar sy weier om te wys dat sy nie asem kry nie. Haar neus loop nou en sy het nie eers ‘n tiesjoe nie…

Elmarie hou van waar die storie heen lei.

“Is dit…? Kan nie wees nie!” Pieter Cloete stap by die kroeg in, hand aan hand met… ‘n ander man!

Sy vrou loop tot by sy tafel, stel haarself aan die ander man voor. “Ek is Pieter se eks. Bly te kenne.”

“Nou net attach, en stuur,” lag Elmarie. My deadline is gemaak! Met of sonder betaling was dit die ervaring, en moeite, werd!

 

One thought on “‘n Dag in die lewe van ‘n “wanna be ” skrywer

Lewer kommentaar