Ontmoet vir Hendie Grobbelaar

hendie2.jpg

Wie is jy en waar vandaan  kom jy?

Hendie Grobbelaar, gebore in Potch maar ek was in 9 skole a.g.v. my pa se werk. Ek het in Vanderbijlpark gematrikuleer, na my troue in Sasolburg, die ou Transkei en vir die afgelope 4 jaar ‘n Rustenburger.

 

Wanneer het jy begin skryf en hoekom?

Ek het in September 2015 begin skryf om depressie hok te slaan en ook om my grootword-stories neer te pen vir my seuns. Van daar af het dit gegroei.

 

Wat het jy geskryf wat ons kan lees?

In November 2016 het ek Potskerwe gepubliseer deur Malherbe Uitgewers. Daar het ook stories van my verskyn in ‘n paar van hulle gesamentlike bundels (Jy is vrou, Uit Veerpen se skatkis, die Kersfeesbundel en Intermezzo). Vrouekeur het ook ‘n storie in een van hul Februarie-uitgawes gepubliseer (Aphrodite) en twee ander volg later hierdie jaar. My moordstorie, Die Geleentheid, het onlangs in die US Woordfees se WYS 2017 bundel verskyn.

 

 

Wat is jou groot droom?

Een van my drome word in April waar wanneer ek by die gewilde Marita van den Vyver gaan leer hoe om te skryf. Die skrywersweek word aangebied op ‘n Griekse eiland, Lesbos en bekende skrywers soos Karin Brynard gaan ook deelneem.

Daarna hoop ek om my vollengte boek te kan skryf. Ek het al twee stories van 3 hoofstukke elk!

 

Wie of wat inspireer jou?

Onbekende skrywers se sukses inspireer my. Dan is ek gek oor die see en soek gereeld ‘n verskoning om by ons huisie in Gouritsmond te gaan wegbreek. Daar is werklik magiese krag in die dophou van brander na brander en seemeeue wat oor jou kop krys…

 

Behalwe vir skryf, watter ander belangstellings het jy?

Ek en my man laai ons battery op ‘n KTM motorfiets, ten minste elke tweede naweek. Ek is baie lief vir reis en die ontdek van ou geskiedenis. ‘n Nuwe liefde is die lees van Griekse mitologie-verhale. Daar’s nou ‘n paar stories hoor!

 

Gunsteling boek en skrywer en hoekom?

Marita vd Vyver bly maar ‘n gunsteling en natuurlik ook Sophia Kapp. Ek lees eintlik baie wyd en Nataniel se boeke bly ‘n tonikum. My gunsteling boek van alle tye en een wat my lewe drasties verander het is Jonathan Livingston Seagull van Richard Bach.

 

 Watter plek sal jy nog wil besoek of selfs gaan bly?

Enige plek waar ek omring is van berge en die see iewers naby kan hoor.

 

Waar en wanneer skryf jy die beste?

My stories en idees kom van oral. Soms terwyl ek skottelgoed was. Dan los ek alles en gaan skryf. As die storie en idee kom, gaan skryf ek.

 

As jy môre die lotto wen, wat sal jy doen?

Ons probeer maar soms ons geluk by die geel masjien en droom ook oor die groot wen. Ek ken so baie behoeftige mense en organisasies wat werklik in nood is dat ek dalk ‘n paar rand sal oorhe vir ‘n rooibos cappachino iewers…

 

Watter belangrike lewensles(se) pas jy in jou lewe toe?

Die lewe gee altyd ‘n keuse oor hoe jy ‘n krisis of saak aanpak.

My geliefkoosde sin is: Be kind, for everyone you meet today is fighting a battle.

 

Wat laat jou lekker lag en wat maak jou ongelukkig?

‘n Snaakse boek,  film, Youtube video of sommer net om die mannewales van kinders en honde dop te hou laat my glimlag en maak my dag. Dan het ek ‘n vriendin van meer as 30 jaar; saam kan ons die simpelste goed aanvang en oor gesels wat my laat skater tot my maag pyn.

Mense wat geen respek het vir ander, die natuur of die wette van die land nie maak my ongelukkig en woedend.

One thought on “Ontmoet vir Hendie Grobbelaar

Lewer kommentaar