Hoe begin jy om ‘n kortverhaal te skryf?

deur SA Vryskutskrywer

 

As jy ‘n redelike idee het waaroor jou kortverhaal gaan handel, is dit nodig om die res van die geraamte bymekaar te sit. Makliker gesê as gedaan? Nie regtig nie! Die belangrikste raad is om net kalm terug te sit en te begin.

 

So maklik soos dit?

 

Natuurlik! Wees gerus, jy is nie die enigste skrywer wat al ooit angstig gevoel het oor die vooruitsig om jou eerste kortverhaal te skryf nie. Dit is belangrik om te onthou dat hoewel hierdie stories kort en kragtig is, hulle nogtans ‘n begin, middel en einde moet hê.

 

As jou verhaal enigeen van hierdie elemente kort gaan dit heel moontlik misluk. Elke woord wat in jou verhaal ingaan, moet spesifiek gekies en alle onnodige ekstras uitgelaat word. Kies ‘n eenvoudige storie-idee – dit beteken dat jy eerder op een probleem of situasie moet fokus, omdat korter oningewikkelde stories minder karakters het (een hoofkarakter en miskien een of twee ondersteunende karakters (maksimum)).

 

 

WENKE

 

Ÿ Val sommer met die deur in die huis en begin jou storie dadelik met aksie, want daar is juis nie plek vir agtergrond nie. ‘n Verhaal wat in die middel van die aksie begin sal vinniger die leser se belangstelling lok. Dialoog is een manier om die leser se aandag te vestig omdat dit emosie of belangstelling kweek.

 

Ÿ Gebruik vrae heel aan die begin van jou verhaal – die leser sal die antwoord wil weet en dus verder lees.

 

Ÿ Onthou om net een tema dwarsdeur die kortverhaal te behou. Die tema skep die gevoel in die verhaal.

 

Ÿ En wat as die leser se aandag gevestig is op die verhaal? Waarheen dan? Doodeenvoudig – skep ‘n verrassende einde wat skok of ondenkbaar is. Die leser moet voel asof hy so pas van ‘n pretrit afgeklim het.

 

 

Lus om self te begin skryf? Kyk gerus na ons KREATIEWE SKRYFKURSUSSE en kom sommer dadelik aan die gang.

Lewer kommentaar