Ontmoet vir Elsabé Welman

elsabe2 crop.JPG

Wie is jy en waar vandaan  kom jy?

Ek is Elsabé Welman, ‘n plattelander van geboorte (Makwassie), en skoolgegaan in Delmas. Na skool het ek ‘n BSc (Ekonomie) graad en HOD behaal aan NWU. Ek is getroud met Anthonie, ‘n predikant in Lichtenburg. Ons het twee kinders, Anthoon en Tialet, albei in hulle twintigerjare. Voorheen was ons woonagtig in Klerksdorp, Gurue (Mosambiek) en Pretoria. Die ses jaar in Mosambiek, waar ek sonder elektrisiteit en telefone moes leef, was wonderlike jare waar ons na aan die skepping en totaal afhanklik van die Skepper moes leef, water uit ‘n put moes kry vir gebruik, gewoond moes raak aan slange wat ontydig hul opwagting maak. Ek was ʼn onderwyser en later ook dosent aan die destydse Technikon Pretoria, asook stigter en CEO van Availabed. Tans is ek voltyds werksaam by Epko in Lichtenburg.

Wanneer het jy begin skryf en hoekom?

In Junie 2014 het ons deur ʼn rowwe tyd gegaan. Ek wou ontsnap daarvan en het begin tik aan ʼn mooi storie met oulike karakters. Dit was bedoel om net ʼn vinnige ontsnap te wees. Maar my vingers wou nie stop nie, en meer verhale het daarna gevolg.

Wat het jy geskryf wat ons kan lees?

RYK ARMGAT is gepubliseer in 2015 deur Publishing World SA. Ek is besig met die redigering van FILTERVLINDER. Ek glo hy sal binne die volgende paar maande in boek- en elektroniese vorm beskikbaar wees.

Wat is jou groot droom?

Dat een van my boeke eendag verfilm word.

Wie of wat inspireer jou?

My man wat my baie aanmoedig. Lesers wat my boeke geniet en belangstel, navraag doen oor my skryfwerk. En ja, die dag toe ek die 2016 Afrikaanse Jeugfantasie kompetisie gewen het met my kortverhaal: Die Zinbalipoort. Dit was ʼn wonderlike inspuiting!

Behalwe vir skryf, watter ander belangstellings het jy?

Skilder, alhoewel die skryf en voltydse werk my tyd opneem. Andersins kyk ek saam met Anthonie iets op TV. Ek’s ook lief vir rekenaarspeletjies, as afleiding. Eintlik is ek baie avontuurlustig; het al op die wilde Zambezi ge-riverraft en ek wil nog graag valskermspring.

Gunsteling boek en skrywer en hoekom?

Ek lees baie rond en bont. Ek geniet Madeleine Rust en Chanette Paul se boeke.

Watter plek sal jy nog wil besoek of selfs gaan bly?

Ek het seker sigeunerbloed in my, want ek vind verandering opwindend. Ek sou maklik elke jaar in ʼn ander land of plek wil bly en werk.

Waar sal ek eendag wil bly as Anthonie aftree (want ek dink nie ek sal aftree nie)? Enige plek waar daar baie water is. By die see of  langs ʼn rivier of dam, of selfs in Holland langs een van die kanale.

Waar en wanneer skryf jy die beste?

Die maklikste is in my huis, en veral saans. Maar my vingers kan die sleutelbord nogal knater as die storie in my kop is, maak nie saak waar ek is nie: tussen my gesinslede of voor die TV, selfs in die kar tydens ʼn vinnige trip Kaap toe en terug (ek het ʼn deadline gehad).

As jy môre die lotto wen, wat sal jy doen?

Ek speel nie lotto nie, maar as ek BAIE geld iewers sou kry: Ek sal my werk bedank en voltyds skryf. En as daar nog iets oorbly, sal ek die wêreld vol wil reis. Ander volke se leefstyle interesseer my baie.

Watter belangrike lewensles(se) pas jy in jou lewe toe?

As jy iets wil doen, doen dit. Werk hard daarvoor, want niks kom op ʼn skinkbord na jou toe nie.

Ek is ʼn georganiseerde freak, wat glo: First plan your work, then work your plan. Dit werk goed met take, maar ongelukkig nie altyd in mens se lewensbeplanning nie. Ek pootjie nog met daai een.

Wat laat jou lekker lag en wat maak jou ongelukkig?

Iemand se verleentheid as ʼn poets op hul gebak word – ek is mal oor ʼn goeie grap. Onregverdigheid krap my om.

2 thoughts on “Ontmoet vir Elsabé Welman

Lewer kommentaar