Geluk Adéle Theron

Adéle vertel:
17264851_10212391157875706_620329735892242048_n.jpg
Ek wil iets deel, maar onthou, vir my is dit in nederigheid omdat ek glo my woorde en talent kom van God af en Hy moet al die eer kry. Tog het ek die afgelope 10 jaar hier, eers op internet se Woes-forum en later op die Afrikaanse Forum en die fb-skryfblaaie soveel geleer waarsonder ek nooit eers ‘n klein skeppie waagmoed sou hê nie.

Ek het weer die wonderlike voorreg om hierdie VLU trofee vir prosa met Saphira se mooiste gedig, “Skippie ek en Skippie jy”, vir ñ tweede jaar lank by my te geniet. Die woorde in my hart wat ek in my prosa geskryf het, was deel van my herinneringe uit droogte en oorstromings, plaasliefde en Genade uit God se kruik… skep elke dag vir julle daaruit want dit loop gou weer oor…

17201328_10212391522884831_2650905301392419362_n.jpg
Hierdie is my prosa wat ek verlede jaar op versoek vir Ventersburg se VLU geskryf het, as deel van hulle inskrywings vir die jaar se kompetisies. Ons het ‘n harde les geleer waarvoor ek baie baie dankbaar is, vir myself en ander lesers …. Punte en beoordeling hang af van die beoordelaar se siening (en seker gemoedstoestand ook, 🙂 )… ek het by die streekskongres 90% hiervoor gekry, maar by die provinsiale konferensie uitgeval met slegs 74%

Seisoene in my Lewe

Ek rondomtalie deur my somer en my winter; die wondergetye wat in vreugde en smart, in lofsange en gebed afspeel. Wie waai die wind deur my hare? Wie rig die treë van my seisoene?

Vrolik het ek in my lente-tienerjare rondgedans; geen vrees vir die toekoms nie. Opgewonde kon ek die warmte van die sonstrale opdrink en sensueel my eerste blaartjies oopvou.

Hy het my hand kom vat, my in sy arms ingetrek en na die lewe anderkant die horison toe gedra. Ons was verlief en verlore. Die wêreld het ons ingewag. Teen die hange van die berg, bokant die weiveld en graanlande, het hy ’n kliphuis gebou en daar het ons gaan bly. Soos koringlande geil gestaan het en die are rypheid bereik het, het ons liefde ook gegroei en volwasse geword.

Reënseisoene en droogtes het mekaar afgewissel; soms het die wind gekom en teen daardie huis aangewaai, maar sy fondasie was sterk gebou. Hand aan hand het ons deur die dae gestap, soms gedraf. Paadjies deur die ruigtes gekap en die kranse uitgeklouter. En saans het ons oor die Godsvrug van ons arbeid gesels en oor die toekoms gedroom. Maar ook die helderste sterre het in koors en pyn verdof.

Daardie oggend het ek vroeër as gewoonlik opgestaan en by die agterdeur uitgestap. Koel het die wind deur my hare gewaai. Met koue vingers het ek die trane van my wange afgevee en verstom na die geelbruin blaretapyt oor my hart gestaar. Wanneer het die bome dan verkleur? In die pyn van sy naderende weggaan, het ek in laberinte verdwaal.

Kaal populiere en krakende ryp op die gras het sy eie storie vertel. Dit was ‘n laatmiddag toe die aardbewing bewend deur die klipfondasie kraak. Seergeslaan het ek later voortgestrompel na die verste einders van my vreugde-dom. Here, hoekom so!

Daar het ek aan die slaap geraak tot ’n Engel my aangeraak het en met my gesels het. Kalm maar so opgewonde, het ek ’n nuwe lente in die roserooi van kleinkinders ervaar. Dankie, Vader, kniel ek neer … dat winterseisoene ook verbygaan.

©adéle theron
4 Februarie 2016 See more

One thought on “Geluk Adéle Theron

Lewer kommentaar