Stories op KSR: 1

Hier is die stories wat deur Debbie gelees gaan word op Kalahari Stream Radio Kuier En Klets hierdie week (7 & 9 Maart). Baie geluk julle!

Die Boemelaar

Deur Ben le Roux

Oor raar dinge se beleef, kan ek so ver gaan as om te sê dat my lewe ‘n sameflansing van raar belewenisse is! So ook joune en joune en joune, let maar net op!

Nou, na sovele vrae oor my raar belewings en my hul onder die loep plasings, twyfel ek aan hul egtheid: “Bedrieg my oë en ore my, speel my brein speletjies met my….of weerhou die hedendaagse toonaangewer, naamlik die wetenskap, met sy rigiede logika, my van ‘n spontane beleef van dit wat anderkant ons tasbare grense lê?”

Anders gestel; Watse invloed had die ontrafeling van die mistieke tot die alledaagse op my instinktiewe aanvoel en aanvaar? Instink, ons rigtingwyser oor miljoene jare wantrou ons nou!Slaafse drommels soos ek, deurdink dit wat anderkant die voel en sien lê. Ervaar is verleer, dis nie meer deel van ons nie!

Ook bestaan vreemd nie meer nie, glo ons nou. Vreemd is niks en niks is nie ‘n tasbare werklikheid nie. Vreemd hoort tot die verbeelding.

Waar pas dié rylopende boemelaar, vir wie ek ‘n geleentheid gegee het, dan in? Was hy werklik of illusie? Boemelaars is nie raar nie, maar hy was. Die raaisel om hom sal ek seker nooit oplos nie maar ek weier om in hom iets anders as ‘n werklike mens te sien!

Met my naderkom, ek kon toe nog net sy gestalte in die skaduwee van ‘n boompie op ‘n snikhete dag langs die pad sien, kom hy vreemd bekend voor! ‘n Honderd meter of wat, van my af kon ek mos nie sy gelaatstrekke herken nie, tog was dit amper soos: “Haai, daar staan Piet, wonder waarheen is hy op pad?” maar al was dit Piet sou ek hom nie op dié afstand kon herken nie!

Ek hou stil: “Hoe ver gaan jy?” vra ek. “Johannesburg.” sê hy. “Klim in!” sê ek.

Die gevoel van “Vir jou ken ek maar van waar?” pla my van die eerste oomblik af maar die “van waar” plaas ek nie!

“Ek ken jou!” sê hy, die bloute uit. “Jy kom uit die Koup uit!”

“Uit die Koup-Karoo uit? Waar kom jy daaraan?” dink ek by myself sonder om toe te besef dat dit my pa se grootword wereld was.

“Ja.” sê hy. “Onthou jy nie? Ons was eenkeer saam die Swartbergpas oor op fietse, Oudshoorn toe! Tja, dit was darem al lank gelede. Ons was nog jonk!”

“Ek, die Swartbergpas oor en dit op ‘n fiets? Het die jare se drank sy brein aangetas?”wonder ek.

“Jou naam is Jopie, onthou ek nou!” gaan hy voort.

“Jopie was my pa se naam!” tref dit my. Wie is dié vreemdeling? Ek voel die hare op my kop rys. “Wag, dalk sien hy die boek oor Jopie Fourie op die agtersitplek lê, vandaar die Jopie? Vertel meer!” sê ek.

“Ja, jou broer Frikkie was saam en hy het ‘n foto van ons geneem! Dit was lank terug, lyk my jy het dit al vergeet.” “Het my pa ‘n broer Frikkie gehad? Ek weet nie!” my suster het ‘n skoendoos vol fotos wat sy by ma-hulle ge-erf het, miskien is daar iets oor die ou se vertellings in? Nou is ek nuuskierig! Daai fotos moet ek te siene kry!

“Watse lewe lê agter hom? Daar is ‘n wakker en intelligente blik op sy gesig maar ly hy aan ‘n geestesversteuring? Hoe en wanneer raak ‘n mens ‘n boemelaar? Hy is onversorgd maar nie vuil vuil nie. Sy klere is gekreukel maar nie stukkend nie, wat is in sy rugsak?” wonder ek! Hy is vriendelik met iets gemakliks en verwelkomend aan hom. Iets is bekend aan hom, bly dit aan my torring.

“Ons het nie ver van julle af geboer nie! Jy het al vergeet, sien ek. Ons was meer Ouberg se kant toe.” vertel hy verder. “Tja, tyd staan nie stil nie!”

Met die inklim sê hy wie hy is maar dit sink nie in nie, waarom sou dit? “Wat is jou naam?” vra ek nou. “Visasie, eintlik Visagie maar almal noem my Visasie! Ja, jy onthou my nie meer nie.”

“Visasie? Nee, vir jou plaas ek nie! Vertel meer, gee jou verbeelding vrye teuels, ek luister. Johannesburg lê nog ver, die pad is nog lank!”

“Jy was nogal ‘n doring op jou tyd.” gaan hy voort. “Wat het van Penny, daai Engelse onderwyseressie, wat so mal oor jou was geword?” “Engelse onderwyseressie?” vra ek. “Was sy mooi?” “Baie, en sy had net oë vir jou gehad!”

“As hy van my pa praat, sit hy die pot sleg mis! My pa – plaasseun wat hy was, kon beswaarlik Engels praat!” dink ek glimlaggend, maar vertel, ek gaan jou nou nou uitvang.

Hy wei verder uit oor hoe ‘ek’, hy en ‘n boesman met die skaap, een droogte agter weiveld aan moes trek en snags in die oopte moes slaap. “Onthou jy hoe jy na die sterre kon staar en wonder of daar nie iewers op een van hulle, ook twee skaapwagters soos ons, nou op hulle rue lê en wonder of daar nie iewers twee skaapwagters, starend in ons rigting, lê nie!” “Jip!” dink ek. “Jy ken die Karoo.” hoeveel keer staar ek nie self, in ‘n Karoonag, so na die sterre nie?

“Onthou jy ook hoe ons vir die boesman lag,” gaan hy voort “as hy dagga rook en dan sing: Diesman vanaand sny ek jou in riempies op!” en dansend met ‘n mes in die hand al nader kom, net om terug te val as ons opstaan. Die volgende dag weet hy niks daarvan af nie!

“Hy kon dié dinge beleef het.” besluit ek…. “maar iewers pas iets nie!” Hy is omtrent my portuur maar hy beskryf ‘n ander tydvak. Onderskei hy maar net nie tussen vertelling en werklikheid, nie! Boemelaars kompenseer seker maar vir die tekorte in hul lewe so! Die verwysing na my as synde Jopie en die toevalligheid dat dit my pa se naam is, is seker ook niks meer as ‘n toevalligheid nie!
Ons nader Gauteng en ek trek by ‘n ‘Ultracity’ in. Visasie slaap en ek klim uit om ‘n draai te loop. “Hy is seker vrek honger.” besluit ek…” ek sal vir hom iets te ete koop.” Terug met koffie en ‘n worsbroodjie vir hom maar hy is nerens te sien nie, die kar is gesluit!

“Het hy ‘n draai gaan loop?” ek gaan kyk. “Nee, hy is nerens nie! Seker maar besluit om iemand anders met sy stories te loop vermaak!” glimlag ek. “Maar hoe sluit hy die deure? Jy’t ‘n elektroniese sleutel daarvoor nodig!”

Ek klim in en ry, sien ek hom dalk langs die pad en hy gooi duim, laai ek hom weer op maar hy is nerens nie! Vreemd mis ek hom nou! Dit raak laatmiddag en daar lê nog ‘n entjie voor. Gauteng se verkeer vra nou my aandag en ek begin Visasie te vergeet. Hy is darem grootmens en kan vir homself sorg.

Dis ‘n paar maande later en ek kuier by my suster. “Daar is iets wat ek jou wou vra.” sê ek. “Maar vervlaks, wat was dit nou weer! O ja, daai skoendoos vol fotos van ma-hulle, kan ek hulle bekyk?” “Jae, wat laat jou nou daaraan dink?” “Gee, ek soek iets! Ek sal jou nou nou sê.”

Ek sprei die fotos op die tafel uit. Daar’s fotos van mense langs ‘n model T Fordjie met ‘n opstal in die agtergrond, fotos van ooms en tannies lank reeds dood. Wie hulle is en wat ons verwantskap is weet ek nie maar ek soek na ‘n foto van ‘n mooi meisie en ‘n foto van twee jong mans met hul fietse iewers in die Swartberge.

“Ja! Ek het hom!” opgewonde kyk ek na die pragtige jongvrou met haar kadothoedjie op. “Is dit dalk Penny?” Ek draai die foto om en daar staan dit: To Jopie with all my love, Penny. xxxx. Onder dit in ‘n ander handskrif, seker my pa sin, staan daar Miss. Penny Penberthy 1924. Ek kry koue rillings deur my lyf. “Linda.” roep ek, “weet jy meer van dié vrou af?”

“Seker ‘n ou nooi van pa.” sê sy. “Sy kon ons ma gewees het!” “Nie moontlik nie!” sê ek. “Ons sou dan ander mense wees.”

Ek soek verder: “Ja hier is hy! Twee frisgeboude jongmans met hul fietse op ‘n smallerige pad in ‘n kloof.” Agterop: Swartbergpas Jopie en Vi… die skrif is gevlek, ek kan nie die tweede naam uitmaak nie, dis ook ‘n bietjie uit fokus uit. “Seker nog met ‘n Box Brownie geneem!” dink ek.

“Sjoe, dis vreemd!” sê ek hardop. “Wat is nou so vreemd?” vra Linda. “Maak vir ons koffie dan vertel ek vir jou ‘n rare raar storie!” “Waaroor gaan dit?” vra sy. “Oor ‘n boemelaar!” sê ek.
********************************************************

SO GRAAG

Deur Sybie Kleynhans

Dit is Sondagaand en die strate in Vrededorp is redelik stil. Konstabel Ben Cronje patrolleer die straat rustig en op sy tyd. Hulle noem nie verniet hierdie tyd van die nag ‘graveyard shift’ nie.

Hy haal die groen sakboekie uit sy tuniek se bo-sak en slaan die bladsy oop om die nodige aantekeninge te maak. Ten spyte van die dik blou jas wat hy aan het, ruk die koue deur sy skraal liggaam en dam dit as ys in sy stewels op. Die straatligte skyn helder genoeg sodat hy, sonder dat dit nodig is om sy viersel flitslig aan te skakel, kan sien waar hy moet skryf.

Onwillekeurig kyk hy na die datum – 20 Junie 1968. Dit is middel-winter in die Goudstad en stukkend  en ysig koud. Hy gaan staan en druk die boekie teen die lamppaal  om die nodige inskrywing te doen.

“12.30 vm. Punt gemaak op die hoek van Krausestraat en Agstelaan. Alles is stil en in orde.”

Hy sit die sakboekie tevrede terug, draai regs en stap in Agstelaan af. Dit is doodstil met geen motor in sig nie. Selfs Fietas (Vrededorp) se brekers slaap rustig.

Hy geniet die stilte  want  dit gee hom kans om te dink. Hy dink aan Marie en aan die Polisie. Hoe trots was sy ouers darem nie gewees op sy  uitpasseringsparade Desembermaand nie. So trots op hul enigste seun daar uit Koppies se kontrei, nou ’n polisieman in Johannesburg. En dit nogal op die Blitspatrollie-eenheid ook.

Ben Cronje glimlag wrang. Blitspatrollie – en hier stap hy beat (voetrondte) in Vrededorp. En dis ook glad nie eers ’n blitsige beat nie, net ’n eensame en vrekkoue een. Dis darem ook nie sy skuld dat daar te min motors is nie. Die manne het ’n hele paar karre gister afgeskryf deur die jaagtogte in die stad. En te min motors beteken dat die manne nuttig aangewend moet word maar ook binne bereik moet wees sou daar probleme opduik.

Op Saterdagaande is die misdaad hoog en volop. Veral om ’n gesteelde motor op ’n grondpad in die buitewyke te jaag, is ʼn effense moeilike en gevaarlike taak. Maar môre-aand sit hy weer in ’n Lark of Chev Malibu. Daai tyd wat die girls darem oog vir die Bobbies gooi.

Hy stap by nommer 34 verby en steek vas. Alles is pikdonker, nie eers die stoeplig brand nie . Hy staar stip na die huis, veral na die kamer waar Marie nou rustig lê en slaap. Marie, die blom van Vrededorp. Hy het haar onder die brekers uitgesteel. Dit koshom nou wel ’n klompie gevegte asook die mag van die Polisie agter hom. Maar nou is sy sý meisie en die tange hou hulle op ’n veilige afstand.

Skaars vier huise verder af in die straat hoor hy die harde musiek , steek vas en haal sy keps af. Dit is musiek, musiek uit ’n platespeler. Hy weet dit is ’n Beatle-lied maar kan wragtig nie die naam daarvan onthou nie. Hy leer vinnig by Marie maar die Vrystaatse plaasbloed bruis nog dik deur sy are.

 

Hy stap by die geraas verby en probeer hom afsny daarva deur aan Marie te dink. Marie met die sagte warm lippe. Marie met die soepellyf as sy dig teen hom staan met haar arms om sy nek. Skielik is dit nie meer so koud nie en hy voel ’n warm tinteling deur sy lyf gaan.

Hy is op die end van Agstelaan. Hy skryf weer in sy boek die nodige aantekeninge en stap in Negendelaan op, in die rigting van Krausestraat en die begraafplaas. Dan steek hy vas, maak sy jas se knope los en dan die klap van die rewolwersak. Hy voel of die .38 Smith en Wesson glad kan beweeg. Hy merk vier manne wat aangehardloop kom vanuit die rigting van die begraafplaas.Hulle steek by hom vas en hy herken minstens twee van hulle. Die voorste een is die tang wat hy so gefoeter het. Die knaap het mos gedink Marie is sy Sheila.

“Hey, Poot!” Die voorste man praat met so fluitgeluid. Hy moet; want hy wat Ben is, het sy voorste vier tande uitgeslaan.

“Ja?” vra Ben versigtig.

“Jy beter kom tjek, Poot. Daar lê ’n ou vrek in die Graveyard, ” laat een van die vier hoor.

“Is jy seker hy is nie net dronk nie?” Ben weet, dat al is die man dalk dronk, hy hom nie daar in die koue kan laat lê nie.

“Dronk ou met ’n mes in sy rug?” Dit is Voorbok wat so smalend praat.

“Kom, stap jy voor.” Ben beduie hy moet stap.

Dit is baie donker in die begraafplaas, selfs in die lig van die viersel lyk dit al te spookagtig.

“Waar is die liggaam?” wil Ben weet.

Voorbok staan tru tot half agter Ben. “Daar!” Hy wys na ’n graf met ’n engel daarop. Ben stap nader, kyk na die engel en sien een vlerk is morsaf gebreek.

“Hoe vlieg ’n engel met net een vlerk,” wonder hy.

Hy steier vorentoe toe iets hom met ’n geweldige slag agter die linkerblad tref. Hy stut sy val, druk teen die engel vas en dié breek met ’n knarsgeluid morsaf. Ben en die stukke van die engel val agter die graf neer.

Hy probeer orent kom maar dit voel vir Ben asof daar ’n paal in sy rug is. Hande en viervoet staan hy en loer na Voorbok. “Wat de hel doen jy? Waar’s die lyk?”

“Jy is die lyk, Poot. Dit sal jou leer om my Sheila te steel.” Die stem is honend en die ander drie lag hard en prettig.

Gestut op sy regterarm en knieë voel hy agter sy rug. Hy voel-voel tot sy vingers die meshef raak vat. Dit is nat en klewerig. Die dowwe gevoel is weg en daar is nou ’n skeurende pyn in sy rug en bors.

Ben druk met sy linkerhand voor hom, vasbeslote om orent te kom. Die flits lê so ’n ent weg en in dié se lig sien hy die bloed op sy hand.

“Ek is met ’n mes in die rug gesteek, net soos ’n hond,” dink hy verdwaas terwyl alles voor hom begin wasig raak.

“Nee!” Selfs sy eie stem klink vreemd in sy eie ore.

“Marie, my liefling,  ek wou so graag … ”

***********************************************************************

OFFERLIEFDE

Deur Riana le Roux

Grond sit swart onder Marna se lang, goedversorgde naels. Vandag gee sy nie om nie. Sy plant ‘n roosboom op haar meisiekind se graf. Vier maande het al verloop na Jessica se begrafnis ‘n paar dae voor Kersfees.

Sy sug en druk die grond stywer vas om die April Moon roosboompie. Jessica was ‘n April-baba. Sy sou vandag vier jaar oud wees, as dit nie was vir die noodlottige ongeluk wat hul lewens onherroeplik verander het nie.

Die tekens van herfs is al duidelik sigbaar in die begraafplaas. Blare van die groot plataanbome, waai speels rond op ‘n ligte briesie en die gras tussen die grafte lyk al dofgroen. Sy staan op en vee tevrede ‘n haarsliert uit haar gesig. Wanneer die roosboompie in die lente begin blom, gaan die liggeel rosies die morbiede omgewing ophelder.

Net soos wat Jessica almal wat sy ontmoet het se lewens opgehelder het met haar aansteeklike persoonlikheid. “Tata my liefie. Mamma kom maak weer Vrydag ‘n draaitjie.” Marna laat rus haar hand vir ‘n oomblik op die grafsteen en begin dan stadig terugstap na waar sy haar motor gelos het.

Op ‘n bankie naby die uitgang na die parkeerarea, sit ‘n  man wat sy al ‘n paar keer vantevore hier opgemerk het. Sy knik in sy rigting, maar sy aandag is by ‘n graf ‘n paar tree voor hom. Hy is nogal aantreklik, dink sy, maar sy gesig lyk afgemat – amper onvriendelik. Nie dat ‘n begraafplaas seker ‘n plek is waar ‘n mens lus het vir lag en gesels nie, dink sy wrang.

Sy pak die sak met tuingereedskap in die kattebak en klim in haar motor. Oppad huistoe, kan sy nie die man met die hartseer gesig uit haar gedagtes kry nie. Wie besoek hy daar? Wat is sy hartseer storie? Wanneer sy by hul huis se oprit indraai, is die gedagtes egter gou iets van die verlede.

Derrick is besig om tasse in sy motor se kattebak in te laai. Marna parkeer haar motor onder die afdak en klim uit.

“Wat maak jy, Derrick?” Sy probeer ongeërg klink, maar sy weet baie goed dat die afgelope paar maande se spanning tussen hulle, nou op ‘n mespunt gekom het.

“Ek trek uit. Jy weet so goed soos ek, dat dinge nie so kan aangaan nie.” Hy gooi ‘n sak skoene op die agtersitplek en klap die deur toe. “Ek sal volgende week nog van my klere kom haal. Ons kan later praat oor die res.”

Hy het oud geword, dink sy. Jessica se dood het hom verander, net soos wat dit haar verander het. Sy het hard probeer om hom nie te verwyt nie, maar die ongeluk was sy skuld. Jessica se dood, hang soos ‘n swart wolk tussen hulle en sy weet nie of sy hom ooit sal kan vergewe nie.

“Dis reg.” Sy draai om en stap voordeur toe, sonder om hom behoorlik te groet of om te kyk.

Vrydagmiddag na werk, ry sy oudergewoonte na die begraafplaas toe. Dit was ‘n lang week en sy voel moeg. Sy slaap al maande sleg en vandat Derrick uitgetrek het, en dan spook skuldgevoelens en woede om die beurt ook nog by haar. Sy haal die groot bottel water uit die kattebak en stoot die hekkie oop.

Wanneer sy by die bankie kom, dink sy onwillekeurig aan die man wat sy gereeld daarop sien sit. Sy stap na die graf oorkant die bankie. Die grafsteen se eenvoud tref haar. Geen soetsappige geskrif wat skuldgevoelens sus nie. Net ‘n enkel langsteelroos en ‘n naam. Rebekka.

Sy stap ingedagte tot by Jessica se graf en begin dadelik die roosboompie water gee. Dit lyk effens verlep en sy is bly dat sy daaraan gedink het om die water saam te bring. Sy twyfel of daar enige instandhouding gedoen word hier. Die gras word darem nou en dan gesny, maar met die waterskaarste, word niks besproei nie.

Haar gedagtes dwaal weer na die man en die grafsteen. “Wie sou Rebekka wees?” wonder sy hardop. Sy besluit dat sy die volgende keer wat sy hom sien, ‘n geselsie gaan aanknoop.

Die naweek sloer verby. Die stilte in die huis is oorverdowend. Marna kan nog nie sover kom om deur Jessica se klere en speelgoed uitte sorteer nie. Sy stel die onvermydelike uit.

Haar kamer is nog net soos dit was die laaste keer wat sy daar uit is. Haar teddiebeer, Juno, lê nog steeds op haar bed en haar balletskoene op die mat voor haar bedkassie. Sebastiaan, hul gemmerkat, is die enigste ander asem in die huis.Asof hy besef wat gebeur het, volg hy Marna soos ‘n skaduwee en vlei hom neer op haar skoot, sodra hy die kans kry. Sy wens sy het iemand gehad wat haar net kon vashou en troos wanneer die realiteit van haar kind se dood, dreig om die asem uit haar lyf te steel. Wanneer die emosionele pyn so swaar in haar hart lê, dat dit verander in fisiese pyn. Na soveel maande het sy gedink dat daar nie meer trane oor sou wees nie, maar dit kom steeds onverwags, soos ‘n tsunamie, wat alles voor sy pad wegvee.

Sy kry die nota op haar rekenaarskerm, toe sy Maandagoggend in haar kantoor instap. Die boodskap van die Orgaan Skenker Vereniging, vang haar onkant en sy sak in haar kantoorstoel neer. Sy moes dit seker verwag het, maar die wonde is nog te rou en seer. Sy haal diep asem en sluk aan die knop in haar keel, wat dreig om haar weer in ‘n emosionele tranebui te laat uitbars.

Wanneer sy haar oë toemaak, sien sy steeds Jessica se lewelose lyfie, gekoppel aan masjiene en pype. Die impak van die ongeluk het haar deur die motor se ruit geslinger. Sy was breindood verklaar net nadat sy by Mediclinic se noodgevalle ingestoot is en hulle moes daardie vreeslike aand ‘n besluit maak oor die skenking van haar organe.

Koue rillings loop teen Marna se rug af. Die onwerklikheid van daardie dag, voel steeds soos ‘n wrede droom waaruit sy gaan wakker word. Sy sal later daarheen bel, wanneer sy genoeg moed bymekaar geskraap het.

Die hoop leêrsop haar lessenaar, het haar vir die res van die week op haar werk laat fokus. Genadiglik, het sy en Derrick ook op ‘n heel beskaafde wyse met mekaar ooreengekom, om dinge tydelik te los soos dit is. Hulle is albei nog te emosioneel om oor hul toekoms te besluit en ‘n egskeiding is vir eers nie in die kaarte nie.

Toe sy Vrydagmiddag haar motor voor die begraafplaas se hek stop, sien sy hom dadelik raak. Hy sit soos altyd op die bankie, versonke in sy eie gedagtes. Sy kyk vinnig in die truspieëltjie na haar refleksie en stap minute later met die bottel water in sy rigting.

“Middag. Ek sien u gereeld hier. Ek is Marna. Marna de Vries.” Sy steek versigtig haar hand uit en hy neem dit effens verdwaas.

“Hallo, Jean Vermooten.” Hy kyk haar ondersoekend aan en sy druk selfbewus hare agter haar een oor in. “Dit raak nou vining koud, nê. Ek kom gereeld na my dogtertjie se graf toe om die roosboom water te gee,” babbel sy senuagtig voort.

“Ek is jammer.” Sy eenvoudige woorde en die opregte simpatie wat sy in sy oë lees, vang haar effens onkant. Hy ken verlies, besef sy. Hier is iemand wat weet waardeur sy gaan. “Sterkte. Dit word makliker met tyd, maar ek sal jok as ek sê dat die verlange ooit weggaan,” sê hy en kyk in die rigting van die grafsteen, maak verskoning en verdwyn dan tussen die laning bome aan die westekant van die begraafplaas.

By die huis later, gaan sit sy met ‘n koppie koffie op die rusbank voor die TV en skakel haar skootrekenaar aan. Sy kan net nie vir Jean Vermooten uit haar gedagtes kry nie.

Sy soek op Facebook en kry sy profiel minute later. Hy is ses-en-dertig, twee jaar ouer as sy. Hy het sy eie veeartskliniek in Centurion en op een foto is daar ‘n pragtige klein dogtertjie wat hom om die nek beet het. Verder is sy profiel gesluit vir buitestaanders. Geen aanduiding of hy getroud is nie.

Sy vat ‘n sluk van haar koffie en streel Sebastiaan se rug, wat homself intussen langs haar op die bank kom tuismaak het. Wanneer sy later, na ‘n warm stort, op haar bed neerval, raak sy vir die eerste keer in weke amper onmiddellik aan die slaap.

Die volgende oggend, nadat sy ‘n kliënt vir ontbyt by ‘n koffiewinkel ontmoet het, drentel sy vir ‘n rukkie rond in die winkelsentrum. Soms is dit lekker om net tussen vreemdes te wees wat nie haar storie ken nie. Die simpatieke, amper bejammerende kyke wat sy kry by die mense op kantoor, laat haar soos ‘n uitgeworpene voel. Ongemaklike stiltes en onsimpatieke vrae, maak sommige dae amper onuithoudbaar.

Sy het egter kort na Jessica se dood besluit dat dit beter sou wees om weer terug werk toe te gaan. Haar kop moes besig bly. Enige iets was beter as die herinneringe wat soos ‘n vloedgolf gereeld oor haar gespoel het, wanneer sy alleen was. By Woolworths se ingang loop sy haar vas in Jean Vermooten.

“Hi, wat maak jy hier?” Sy voel dadelik soos ‘n idioot oor die simpel vraag. Hy het twee inkopiesakke in sy hande en glimlag effens toe hy die verleentheid op haar gesig sien.

“’n Mens moet seker eet?” Marna bloos.

“Skuus, dit was nou ‘n simpel vraag. Ek is maar net gewoond om jou eerder by die begraafplaas raak te loop, dis al.” Sy kyk selfbewus na haar horlosie. “ Ek moet by die werk kom. Ek sien jou dalk weer Vrydag?”

Sy sien die hartseer trek om sy mond wat verdiep. “Miskien. Goed gaan.” Hy loop sonder ‘n verdere woord in die rigting van die onderdak parkering.

Terug op kantoor, lui die telefoon. “Marna de Vries, hallo.”

“Mevrou de Vries, dit is Mev. Botha van die Orgaan SkenkerVereniging. Gaan dit goed?”

Marna sug. “Nie te sleg nie. Jammer ek het nog nie teruggebel nie, maar ek  . . . “

“Dis alles in die hak. Ek wil net weet of u die naam van die pasiënt wou weet wat Jessica se hart ontvang het?”

Dit is asof ‘n vuishou Marna in die gesig tref. “Nee! Ek verkies om nie te weet nie. Totsiens.” Marna sit die foon neer en lê vir ‘n oomblik op haar hande. Sy gryp haar handsak, maak verskoning vir die res van die dag en vlug huis toe.

Twee weke later, is sy soos gewoonlik die Vrydagmiddag na werk weer doenig by Jessica se graf. Sy skrik toe Jean skielik agter haar praat. Sy was so ingedagte dat sy hom nie hoor naderkom het nie.

“Hallo, hoe gaan dit?” Daar is ‘n opgewektheid in sy stem, wat haar dadelik laat opkyk.

“Middag, Jean. Goed en met jou?” Hy steek sy hand uit en help haar op. Langs hom staan die klein dogtertjie wat sy op sy Facebookprofiel gesien het. Sy is pragtig, maar baie tengerig en bleek.

“Dit is my dogtertjie, Veronica.” Vir die eerste keer sien sy hom regtig glimlag en is die hartseer in sy oë vir ‘n rukkie weg.

“Hallo, Veronica. Jinne, maar jy is pragtig!” Marna kan nie help om dadelik aan Jessica te dink nie. Veronica lyk amper so oud soos wat Jessica was.

“Ons het ‘n blom gebring vir my vrou. Veronica was siek en maande laas hier.” Veronica glimlag flouerig en wys die rooi roos vir Marna.

“So, Rebekka was jou vrou? Ek is jammer vir julle verlies.” Jean kyk vir ‘n oomblik weg, asof hy sy emosies onder beheer wil bring. “Die lewe is onregverdig met tye, maar daar is ook baie seën daarin. Tot later.” Hulle stap hand-aan-hand weg.

Teen die tyd wat Jessica se roosboom begin blom, het Marna en Jean mekaar al goed leer ken. Hy het vertel hoe sy vrou dood is aan ‘n oorerflike hartsiekte, bietjie meer as ‘n jaar gelede. Hoe hulle magteloos gewag het vir ‘n skenkerhart, wat nooit gekom het nie. Dit het Marna diep getref.  Jessica se dood, was vir haar onregverdig. Wreed. Sy kon steeds nie met die Here praat na al die maande nie. Sy het Hom verwyt vir haar verlies. Jean se storie oor die verlies van sy vrou, het egter dinge in ‘n ander lig vir haar begin stel.

Vrydagmiddae in die begraafplaas, saam met Jean en Veronica, het later ‘n instelling geword en Marna hetbegin uitgesien daarna. Dit was asof die seer wat hulle gedeel het, hulle op ‘n vreemde manier gebind het. Veronica het ‘n spesiale plekkie in haar hart oopgeskrop, met haar spontane geaardheid. Jean het steeds nie gepraat oor Veronica se siekte nie en sy wou nie krap in dinge wat hom sigbaar nog ontstel het nie.

Vroeg in Oktober, staan Marna een middag by Jessica se graf. Die roosboompie was oortrek met liggeel rose en vir die eerste keer kon sy met Jessica gesels, sonder dat trane teen haar wange afloop. Sy het vrede gemaak met wat gebeur het. Die Here gee en die Here neem. Tog leef stukkies van Jessica nog in ander voort. Sy besluit om tog vir Mev. Botha te bel. Sy wil nou graag weet wie Jessica se hart gekry het. Sy sal graag die gesin wil ontmoet. Die volgende oggend maak sy die oproep en ‘n afspraak .

Marna stryk senuagtig oor haar bene in die kantoor van Mev. Botha. Sy wonder vir ‘n oomblik of sy die regte ding gedoen het. Sy hoop net dat sy haar emosies sal kan beheer. Derrick wou nie saamkom nie, maar sy wil afsluiting kry. Miskien sal dit haar berusting gee. ‘n Klop aan die kantoordeur, ruk haar terug na die werklikheid. Mev. Botha staan op en maak die deur oop.

Marna staan ook op en toe sy omdraai, staan Jean en Veronica in die deur. “Marna, dit is Mnr. Vermooten en sy dogtertjie, Veronica. Sy is die kind wat Jessica se skenkerhart ontvang het.” Marna en Jean staan woordeloos vir mekaar en kyk. Veronica kom staan teen Marna en slaan haar arms om Marna se bene.

“Ons ken mekaar,” sê Jean en neem Marna se hande sag en vertroostend in syne. Marna slaan haar arms om Veronica en kan nie die stortvloed trane keer nie. Die keer is dit trane van dankbaarheid. Trane van blydskap. Trane van liefde. Die Here gee en die Here neem. In Veronica se hand is ‘n enkel langsteel roos. ‘n Roos vir haar.

***********************************************************************

TOKS UIT ’n BOKS!

 Elsabe de Beer

Vir oom Gert en tannie Ilze was Bernard nog altyd ’n goeie kind op wie enige ouer kan trots wees. Vorder goed op skool, neem deel aan sport. Hy speel goed krieket en is al gekies vir die Nuffield krieketspan. Natuurlik was hulle trots, maar so ’n krieket uitrusting en toer ruk ’n ouer se sak!

“Vrou, dit raak tyd dat ons bietjie minder spandeer aan Bernard . Ek het ook maar net soveel geld en ons het die ander kinders ook om aan te dink,” sê oom Gert een aand vir syvrou.

“Maar, Pa, die kind kan mos nie help as hy gekies word vir al die spanne nie; en ons kan hom mos nie sommer aan sy eie genade oorlaat nie. Die meisiekinders moet dit maar verstaan en ek verseker jou; hulle skiet nie tekort nie. Ons maak maar ’n plan met wat ons het, moenie bekommer nie,” verdedig sy haar kind se behoeftes.

 

 

Met die aanbreek van die rugbyseisoen is dit net rugby oefeninge elke dag vir Bernard. Kranige rugbyspeler ook, dié kind van hulle!

“Ma, kyk hoe lyk my toks, ek kry so skaam as ons oefen en die ander ouens het sulke grand toks aan en myne lyk soos gister se brekfis!” kla hy een oggend by sy ma.

“Nee, jy kry genoeg, ek het ’n nuwe rok nodig vir die matriekafskeid. Pa sê geld groei nie op sy rug nie,” chip sy sussie, Madre in.

“Nee wat, Madre, stop dit nou. Dis seker nie so erg nie Bernard, jou toks lyk vir my nog heeltemal goed. Ons politoer dit mos elke keer nadat jy geoefen het,” probeer sy die vrede bewaar.

“Sjees, hoe oud is daai toks van jou? Was dit nog jou pa s’n? Gaan jy daarmee speel as ons teen Grey-kollege speel? Jy gaan jou naam en ons s’n gat maak, man! Het jou pappie nie geld om vir jou nuwe toks te koop nie? Shame!” spot Theuns hom die volgende middag by die oefening.

 

 

 

 

Daardie aand slaap Bernard sleg, beraam allerhande planne om ’n nuwe paar toks in die hande te kry. Dalk moet hy met oom Dolf gaan praat. Wonder hoeveel hy hom sal betaal om daar te werk.

 

 

Oom Gert kom ’n paar dae later in oom Dolf se winkel om ’n paar skroewe te koop en sien vir Bernard daar.

“Wat maak jy hier, Seun? Moet jy nie by die rugby oefening wees nie?” vra hy verbaas.

“Nee, die mannetjie kom vra my toe mos vir ’n Joppie; toe help ek maar. Hy mis net elke tweede dag die oefening; het so met die meneer gereël. Flukse kind hierdie van jou. Hy weet van hard werk. Shame, praat van ’n paar toks wat hy wil koop,” verduidelik oom Dolf.

 

 

Die aand toe hulle gaan lê, sê oom Gert vir sy vrou:” Vrou, jy moet maar van ons spaargeld gaan trek en môre vir Bernard vat om vir hom die mooiste paar toks uit te kies wat daar in die winkel is.”

Bernard het soos ’n spogperd met sy nuwe toks by die volgende oefening en by elke wedstryd opgedaag. Die man met die mooiste, deftigste toks op die veld! Hy hou egter nie op om by oom Dolf se winkel te werk nie, dit is vir hom ’n lekker sakgeldjie en dit kan darem die las van sy uitgawes van sy pa wegvat.

 

 

Na skool slaag Bernard daarin om ’n goeie beurs te kry om te gaan studeer. Met  sy studies agter die rug: word hy ’n suksesvolle ingenieur. Trou ook later met Santie, sy skool liefde en leef goed in hulle mooi nuwe huis op die bult.

 

 

Een Saterdagoggend kom Bernard by sy pa aan en vra:” Pa, kan ek asseblief Pa se bakkie leen om tuinvullis te gaan wegry?”

“Natuurlik, my kind, jy kan dit met liefde leen,” is sy pa maar te bly om hom te help.

 

 

Teen die Dinsdag raak oom Gert vitterig oor Bernard nog nie sy bakkie teruggebring het nie. Hy bel vir Bernard:” Seun, is jy nog nie klaar met my bakkie nie? Ek het ook ’n paar dinge wat ek met hom wil doen.”

“Pa, ek is jammer, gee my net nog so ’n bietjie kans, ek is nog besig om die klomp gemors hier by my weg te gooi!” verduidelik Bernard.

 

 

“Jy weet, ek raak so vies vir die kind, mens kan ook nooit op hom staatmaak nie. Kastig gesê hy bring die bakkie Saterdagaand terug!” raas hy sommer met tannie Ilze.

“Ag,Pa,kom ons kyk maar; hy is seker maar nog besig met die bakkie. Jy ry mos met my kar as jy iewers moet heen,” keer sy.

 

 

Donderdagmiddag sit oom Gert in die sitkamer en koffie drink toe Bernard by die voordeur instap met ’n yslike glimlag op sy gesig. “Hallo, Pa, hier’s vir  Pa iets” sê hy en gooi iets in oom Gert se hempsak.

“Nou wat is dié?’ wil oom Gert verbaas weet.

“Dis iets vir Pa!” is Bernard se antwoord.

“Nou vir wat gee jy vir my dié sleutels?”

“Kom kyk buite, Pa!”

 

 

Met die uitkom op die stoep sien oom Gert ’n splinternuwe Nissan dubbelkajuitbakkie in die oprit staan.

“En dit nou, Seun? Het jy ’n nuwe bakkie gekoop?” wil oom Gert weet.

“Nee, Pa, dis nie myne nie, dis Pa s’n. Om dankie te sê vir die toks van destyds!” en Bernard slaan sy arms om sy pa terwyl sy pa onophoudelik huil.

Vandag nog sê oom Gert steeds hy is liewer vir die bakkie wat nou al vyftien jaar oud is, as vir sy vrou!

 

©  Elsabe de Beer   elsabedebeer8@gmail.com

 

 

 

 

 

One thought on “Stories op KSR: 1

Lewer kommentaar